Vinnige feite

  • Die Tour de France se wenner het in 2023 €500 000 (meer as R10 miljoen, met November 2023 se wisselkoers) gekry. 14 Die 2023-wenners by Wimbledon het elk €2,35 miljoen (byna R48 miljoen) gekry. 15
  • Die Tour de France se bynaam is Le Grande Boucle, wat beteken ‘Die groot lus’.
  • Vroue neem nie aan die Tour de France deel nie. Ná ’n paar probeerslae wat nie regtig gewerk het nie, het die Tour de France vir die eerste keer amptelik in 2022 ’n wedren vir vroue gehou – die Tour de France Femmes.
  • Dit is tradisie in Frankryk dat inwoners van die plaaslike dorpies waardeur die roete loop, langs die pad staan en die deelnemers aanmoedig. 16

Le Tour de France (‘Die toer van Frankryk’) en uitgespreek “lû toor dû frôhs” met die r’e so ’n bietjie gebrei en die laaste ô genasaleer) is ’n wêreldbekende fietswedren wat elke jaar in Frankryk aangebied word. Daar is drie sulke “groot” (Engels: “grand”) fietswedrenne in die wêreld: Giro d’Italia in Italië, Vuelta a España in Spanje, en die Tour de France in Frankryk. Die Tour de France is die oudste en bekendste van al die groot fietswedrenne.

Ontstaan en geskiedenis

Die Tour de France is vir die eerste keer in 1903 aangebied. Dit is geskep deur ’n Fransman, Henri Desgrange (1865-1940), wat ’n koerant met die naam L’Auto besit het. Die koerant het gesukkel om geld te maak, want al hoe minder mense het dit gekoop. Desgrange was self ’n kranige fietsryer, en hy het gedink dit sal goeie bemarking vir sy koerant wees as die koerant die fietswedren borg. As mense dwarsdeur Frankryk van die fietswedren weet, sal hulle ook van sy koerant hoor. Die Tour de France is sedertdien elke jaar aangebied, behalwe gedurende die twee Wêreldoorloë (1915-1918 en 1940-1946). 1

Aanvanklik het die organiseerders die roete vir die wedren oor die platste moontlike terrein laat loop sodat die fietsryers die moordende afstand kon aflê. Maar dit het nie die gewone mense of publiek se verbeelding aangegryp en hulle betrokke laat word nie. Daarom het die organiseerders besluit om bergpasse by die roete in te sluit. Sulke opdraandes sou die wedren moeiliker maak en mense sou meer respek vir die wedren en die fietsryers hê. 2

Die eerste “bergskof”, die Ballon d’Alsace, is in 1905 bygevoeg. Kort daarna is Alphonse Steines, Henri Desgrange se assistent, gestuur om die Col du Tourmalet te gaan verken sodat dit ook moontlik by die roete gevoeg kon word. Die sneeu daar was so diep dat hy van sy fiets moes afklim en dit moes stoot, hy het verdwaal, en hy het in ’n ravyn geval waaruit die polisie hom moes gaan red. Ten spyte daarvan het hy die organiseerders laat weet dis ’n goeie idee om dié pas by die Tour de France in te sluit. Nog drie pieke in die Pireneë, ’n baie hoë bergreeks op die grens tussen Frankryk en Spanje, is in 1910 by die roete gevoeg: die Peyresourde, Aspin en Aubisque. Hierdie vyf pieke het saam ’n 326 km-lange bergroete gevorm wat in fietsrykringe as die ‘Kring van die dood’ bekend staan. Vir baie mense is 1910 die ware begin van die Tour de France. 2

Nog ’n ontwikkeling in die Tour de France is vandag nog tradisie in die fietsrywêreld. In 1919 is die geel trui vir die eerste keer bekend gestel. Die geel trui word aan die einde van elke dag vir die algehele voorloper gegee, en dié ryer dra die trui dan die volgende dag. Die draer van die geel trui is nie noodwendig die wenner van die skof nie, dit is die ryer wie se algehele tyd vir al die skofte die laagste is. Op dié manier kan toeskouers makliker sien waar die voorloper trek. Die trui is geel, want die papier waarop L’Auto in daardie tyd gedruk is, was geel. 1

Die Tour de France vandag

Die Tour de France is ’n ultrafietswedren, soos wat die Comrades ’n ultramarathon is. Dit beteken die wedren is langer as gewoonlik, en die mense wat daaraan deelneem, is ultrapresteerders. Selfs om net die wedren klaar te maak, is al ’n enorme prestasie. ’n Ryer wat ’n skof wen, of wat die algehele wenner is, is iemand met buitengewone talent.

Die formaat van die Tour de France is gewoonlik elke jaar dieselfde, maar die roete verskil. Dit beteken die manier waarop die wedren gery word, is elke jaar dieselfde, maar die kaart wat die deelnemers volg, is elke jaar anders.

Die wedren is gewoonlik opgedeel in 21 skofte, dit duur normaalweg 23 dae (3 weke) en die afstand wat die ryers moet aflê, is elke jaar min of meer 3 500 km. (Dit is verder as van Kaapstad af tot in Polokwane en weer terug Kaapstad toe.) Ryers se tye vir die skofte word bymekaar getel en die ryer met die kortste tyd, is die algehele wenner.

Daarteenoor verskil die roete vir die Tour de France elke jaar. Die grootste deel van die wedren vind wel elke jaar in Frankryk plaas, maar partykeer maak die roete draaie in ander lande. Daar was selfs geleenthede waar die Grand Départ (die wegspring) in ander lande as Frankryk plaasgevind het. In 1954 het die wedren byvoorbeeld in Amsterdam (Nederland) begin, in 1987 in die destydse Wes-Berlyn (Duitsland), in 1992 in San Sebastián (Spanje) en in 2007 in Londen (Groot-Brittanje). In 2022 was die wegspring in Kopenhagen in Denemarke en in 2023 spring die jaers in Bilbao in Spanje weg. 3

Sedert 1975 eindig die wedren elke jaar wel op dieselfde plek – in Frankryk se bekendste straat, die Champs-Élysées in Parys. Die dag se skof begin gewoonlik aan die buitewyke van die stad en dit word ’n volbloedjaery oor die laaste tien kilometer. As ’n mens in gedagte hou dat die Champs-Élysées met keistene geplavei is, kan hierdie laaste skof van die rit nogal ongemaklik raak op ’n fiets! 4

Bekende en berugte deelnemers

As jy op hierdie skakel klik, sal jy by die lys uitkom met die name van al die wenners van die Tour de France.

Al kyk jy sommer net vinnig na die lys, sal jy sien daar is ’n paar name wat ’n hele paar keer op die lys voorkom. Dit is ryers wat legendes geword het omdat hulle gedurende hul loopbane soveel keer die Tour de France kon wen.

Die volgende manne was bekende wenners:

  • Louison Bobet, die eerste ryer wat die Tour de France drie keer in ’n ry kon wen. 5
  • Jacques Anquetil, wat nie net die Tour de France vyf keer gewen het nie, maar ook die eerste ryer was wat al drie groot fietswedrenne kon wen – die Giro d’Italia twee keer en die Vuelta a Espana een keer. 6
  • Eddy Mercx, een van die beste fietsryers ooit, wat nie slegs die Tour de France vyf keer gewen het nie, maar ook die Giro d’Italia vyf keer en die Vuelta a Espana een keer verower het. 7
  • Bernard Hinault, wat die Tour de France vyf keer gewen het, en een van net ses fietsryers ooit is wat al drie die groot fietswedrenne gewen het. 8
  • Miguel Indurain, die vierde man wat die Tour de France vyf keer in ’n ry gewen het. 9

Ongelukkig sal jy in die lys wenners ook sewe jaar (1999-2005) sien waar daar nie ’n wenner aangedui is nie. Die ryer wat in daardie jare die sport oorheers het, was Lance Armstrong. Wat sy prestasies in daardie tyd nog meer merkwaardig gemaak het, is dat daar in 1996 kanker by Armstrong gediagnoseer is. Sy dokters het gewonder of hy gaan leef, laat staan nog deelneem aan so ’n uitmergelende wedren soos die Tour de France. Toe hy boonop soveel keer gewen het, het hy ’n superster dwarsoor die wêreld geword. Dit was dus baie onaangenaam toe ander deelnemers aan die Tour de France hom van die gebruik van opkikkers begin beskuldig het. Hy het lank bly sê dat dit nie waar is nie, maar in 2012 het die internasionale fietsryvereniging hom van sy titels ontneem. In 2013 het hy erken hy het die middels gebruik. 10

Suid-Afrikaanse deelnemers

Geen Suid-Afrikaner kon al die Tour de France wen nie, maar ’n paar Suid-Afrikaanse fietsryers kon dit darem al klaarmaak. Twee Suid-Afrikaners kon skofte wen: Robert Hunter (skof 11 in 1997) 11 en Daryl Impey (skof 9 in 2019). 12 Suid-Afrika se beste presteerder is Louis Meintjes, wat al drie keer in die toptiengroep geëindig het. Hy was in 2022 sewende. 13

Hierdie skakel neem ’n mens na ’n bladsy waar jy ’n opsomming kan sien van alle Suid-Afrikaners se prestasies by die Tour de France.

Woordbank

aanvanklik Aan die begin.
bergpasse ’n Pad oor ’n berg.
borg Finansieel ondersteun.
 verbeelding aangegryp Mense betrokke laat word.
inpalm Wen.
keistene ’n Klein, vierkantige steentjie, gewoonlik met die hand gekap en dus nie heeltemal plat nie, wat vroeër as plaveiselstene vir paaie gebruik is.
kranige Toegewyde en entoesiastiese.
legendes Letterlik: ’n storie; figuurlik: ’n baie bekende persoon.
lus Sirkel in ’n tou.
merkwaardig Belangrik; wat waardig is om op te merk.
moordende So erg dat dit voel soos moord.
onaangenaam Sleg om te ervaar.
oorheers So goed wees dat die persoon omtrent elke wedren wen.
opkikkers ’n Dwelm, medisyne of ander middel wat sportsterre help om beter te presteer, en hulle ’n onregverdige voorsprong bo ander deelnemers gee.
Pireneë ’n Baie hoë bergreeks in die suide van Frankryk waar Frankryk en Spanje aan mekaar grens.
publiek Gewone mense.
ravyn Diep kloof.
skof In ’n fietswedren, ’n bepaalde afstand wat elke dag afgelê word.
uitmergelende Vermoeiend; wat ’n mens baie moeg maak.

Lees hier meer oor die Tour de France

Kyk hier na video’s oor die Tour de France

Hier is ’n opsomming van die Tour de France waarin hulle verduidelik hoe die wedren werk

Hierdie video gee ’n kort geskiedenis van die eerste Tour de France in 1903

Hier is ’n kort onderhoud met Louis Meintjes, Suid-Afrika se beste presteerder in die Tour de France

Gepubliseer op: 16 Mei 2023 | Bygewerk op 22 November 2023