Vinnige feite
- Stéphanie Frappart van Frankryk het in 2022 die eerste vrou in Wêreldbeker-sokkergeskiedenis geword om die fluitjie in die manstoernooi te blaas. Sy is boonop in die Groep E-wedstryd tussen Duitsland en Costa Rica in Katar se Al Bayt-stadion deur nóg twee vroue bygestaan, Neuza Back van Brasilië en Karen Diaz van Mexiko. Kathryn Nesbitt van die VSA het in dieselfde wedstryd as onkantspesialis in die video-ontledingspan opgetree. Vat so! Vier voorvattervroue in een wedstryd! 29
- Die vinnigste Wêreldbeker-doel het slegs 10,89 sekondes ná die afskop plaasgevind en is in 2002 deur Hakan Sukur van Turkye teen Suid-Korea aangeteken. 30
- Die duurste Wêreldbeker-sokkertoernooi tot dusver, was die 2022-toernooi in Katar. Die koste om dié toernooi aan te bied, het sowat $220 miljard beloop! Die uitgawes het nuwe stadions ingesluit, maar die meeste van die geld is aan nuwe infrastruktuur soos hotelle, lughawens en ’n metrostelsel (spoorwegstelsel en treine) bestee. Kaartjies was ook die duurste ooit: sokkeraanhangers het gemiddeld $340 (meer as R6 200) per wedstryd betaal, ongeveer 40% meer as vir die 2018-toernooi. 31
- Sokkerspelers draf nie net vir die liefde van die saak op die veld nie. Die wenspan van die Wêreldbeker-toernooi het in 2022 ’n stewige wentjek van $42 miljoen (sowat R770 miljoen) ontvang. Deur net vir die toernooi te kwalifiseer, ontvang ’n span $1,5 miljoen (ongeveer R27,5 miljoen). Die totale prysgeld vir die 2022-toernooi het $440 miljoen (meer as R8 miljard) beloop. Hierteenoor het die totale prysgeld in die vrouetoernooi in 2023 maar ’n skamele $60 miljoen (nagenoeg R1,1 miljard) beloop. 32
- FIFA word gereeld deur gerugte van korrupsie en omkopery geteister as dit by die toekenning van gasheerlande kom. Nie dat dié sokkerbeheerliggaam enige omkoopgeld nodig het nie! FIFA lag al die pad bank toe en het sy hande stewig op die geldkoffers – van uitsaairegte (die reg om die toernooi op televisie uit te saai) tot kaartjie-inkomste word deur FIFA beheer. Dié organisasie het $7,5 miljard vir die 2022-toernooi in sy sak gesteek en verwag om tot $11 miljard uit die 2026-toernooi te verdien! 33
- Die 2022-toernooi was die eerste wat in die winter (20 November tot 18 Desember) aangebied is, omdat die somertemperatuur in Katar ’n gemiddeld van 45 °C is! Tog kan die kwik in die Midde-Oosterse winter steeds tot bykans 30 °C styg. 34
- Sokker se oorsprong lê glo in China (tussen ongeveer 206 v.C. en 220) toe ’n spel genaamd Tsu-Chu (wat “skop die bal” beteken) in die Han-dinastie posgevat het. 35
- Suid-Afrika het nog net in drie Wêreldbeker-sokkertoernooie meegeding, naamlik 1998, 2002 en 2010, maar kon nog nooit verder as die eerste ronde vorder nie. Ons kon boonop nie vir die laaste drie toernooie in 2014, 2018, 2022 kwalifiseer nie. 36 Al is ’n rekordgetal van nege spanne uit Afrika gewaarborg om aan die toernooi in 2026 deel te neem, is sokkerkenners nié vreeslik optimisties oor Bafana-Bafana se kanse nie. 37
- In 1950 het Indië aan die Wêreldbekertoernooi onttrek omdat FIFA geweier het dat hul span kaalvoet speel. 38
- Groenland is een van slegs ’n paar lande wat nie in die Wêreldbeker-sokker kan meeding nie. Ten spyte van sy naam kan Groenland nie genoeg gras kweek vir ’n sokkerveld waarop spelers kan oefen en speel nie. Sokker is egter een van die gewildste sportsoorte in hierdie land, en mense speel dit steeds vir die pret. 39
Die Wêreldbeker-sokkertoernooi is naas die Olimpiese Spele die sportgeleentheid wat die gewildste onder sportliefhebbers reg oor die wêreld is. Meer as 3 miljoen mense het die jongste Wêreldbeker-sokkertoernooi, wat in 2022 in Katar in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) aangebied en in ’n spannende uitspeeldoelskopstryd (penalty shoot-out) deur Argentinië gewen is, bygewoon. Boonop het nagenoeg 5 miljard mense in 2022 die Wêreldbeker-sokker op televisie of selfone gevolg! 1
Net so geesdriftig soos ons oor die Springbokke is en die Suid-Afrikaanse vlag trots laat wapper as die manne in groen en goud teen ander lande te staan kom, net so stroom duisende sokkerondersteuners na stadions om hul land by die vierjaarlikse FIFA- Wêreldbeker-sokkertoernooi te ondersteun.
Meer kleur en emosie kry ’n mens nie sommer langs ’n veld as tydens ’n sokkerkragmeting nie! Suid-Afrika was boonop gelukkig genoeg om dié sportskouspel in 2010 aan te bied. Wie sal ooit die geblaas van honderde vuvuzelas vergeet soos almal van Standerton tot Soweto ons Bafana-Bafana-span aangemoedig het?
Die vuvuzela, of kleurvolle plastiek-Afrikatrompette wat tydens die 2010-Wêreldbeker-sokkertoernooi soos soetkoek verkoop het, het egter nie almal ewe gaande (opgewonde) gehad nie. Die geluid was só hard dat mense gekla het dat dit die spelers se aandag afgelei en die kommentators se stemme uitgedoof (onhoorbaar gemaak) het. Volgens ’n studie deur akademici van Tukkies (die Universiteit van Pretoria), was die geraasvlakke soms tot 144,2 dB (desibel). Dis baie hard as ’n mens dink dit is dieselfde volume as wanneer ’n vegvliegtuig opstyg! 2
Die 2010-toernooi was ongetwyfeld een vir die Suid-Afrikaanse geskiedenisboeke met die plaaslike musiekgroep Freshlyground en internasionale popster Shakira wat vir “Waka Waka (This Time for Africa)”, een van die gewildste sokkertemaliedjies tot nog toe, gesorg het. En wie sal die kleurvolle gelukbringer, die luiperd Zakumi met sy groen Justin Bieber-styl hare, ooit kan vergeet? 3
Suid-Afrika was in 2010 die eerste (en tot dusver die enigste) Afrikaland om die toernooi aan te bied. Daar is dié jaar 64 wedstryde tydens die maand lange toernooi in 10 stadions aangebied, waarvan vyf splinternuut was en vyf opknappingswerk ondergaan het. 4
Sokker is nie net die sportsoort wat deur die meeste mense ondersteun (gekyk) word nie – hetsy langs die veld of op die televisie – maar dis ook die sport wat deur die meeste mense beoefen word. Volgens die sokkerbeheerliggaam FIFA is daar nagenoeg 265 miljoen mense wat dié sportsoort beoefen én meer as 5 miljoen skeidsregters. Dit is gelykstaande aan bykans 4% van die wêreld se bevolking! 5
Interessant genoeg word sokker eintlik meestal voetbal (“football”) genoem, behalwe in lande soos die VSA en Kanada waar daar reeds só ’n sportsoort bestaan (dit lyk baie soos rugby, maar die spelers dra helms en enorme lyfharnasse om hulle in dié gevaarlike sport te beskerm). Die woord sokker het glo sy ontstaan in Engeland gehad. Dit het as “association football” bekend gestaan, wat later afgekort is as “assoc football” en eindelik “soccer” geword het. 6
Geskiedenis, groei en gasheerlande
Die wêreld se eerste internasionale sokkerwedstryd was ’n uitdaagwedstryd wat in 1872 tussen Skotland en Engeland in Glasgow gespeel is. Die eerste internasionale toernooi, die Britse tuiskampioenskap (British Home Championship), het in 1884 plaasgevind en wedstryde tussen Engeland, Skotland, Wallis en Ierland ingesluit. 1
Soos sokker aan die begin van die 20ste eeu in ander dele van die wêreld in gewildheid toegeneem het, is dit as ’n demonstrasiesport sonder medaljes by die Olimpiese Somerspele van 1900 en 1904 gehou (die Internasionale Olimpiese Komitee het egter terugwerkend hul status opgegradeer na amptelike geleenthede). Sokker het in 1908 by die Olimpiese Somerspele ’n amptelike Spelesport geword. 1
In 1914 het FIFA ingestem om die Olimpiese toernooi as ’n “wêreld-sokkerkampioenskap vir amateurs” te erken en verantwoordelikheid vir die bestuur van die byeenkoms geneem. Dit het die weg gebaan vir die wêreld se eerste interkontinentale (tussen lande van verskillende kontinente of vastelande) sokkerkompetisie by die Olimpiese Somerspele van 1920, waarin Egipte en 13 Europese spanne meegeding het, en deur België gewen is. 1
Uruguay het die volgende twee Olimpiese sokkertoernooie in 1924 en 1928 gewen. Dit was ook die eerste twee oop wêreldkampioenskappe, aangesien 1924 die begin van FIFA se professionele era was, en is die rede waarom Uruguay toegelaat word om vier sterre op sy spantruie te dra (as jy die Wêreldbeker-sokker wen, mag jy ’n ster vir elke oorwinning op jou trui dra). 1
Van die Olimpiese Spele gepraat, dit is juis omdat sokkerspelers professioneel wou begin speel (betaling wou ontvang om sokker as ’n heeltydse werk of beroep te beoefen), en dít teen die gees van die Olimpiese Spele se amateurbepalings ingedruis het, dat die Federation Internationale de Football Association (FIFA) op 26 Mei 1928 amptelik op sy kongres in Amsterdam, Nederland, verklaar het dat die eerste internasionale sokkertoernooi van sy soort, wat eindelik die FIFA Wêreldbeker-sokkertoernooi sou word, in 1930 sou plaasvind. 7
Dertien spanne het in 1930 aan die eerste Wêreldbeker-sokkertoernooi in Montevideo in Uruguay deelgeneem. Tot en met 1978 is die toernooi tussen 16 spanne beslis. In 1982 is die getal deelnemende spanne tot 24 vermeerder en in 1998 is nóg 8 spanne bygevoeg (tot 32).
In 2017 is die besluit geneem om 48 spanne toe te laat om vanaf die 2026-toernooi deel te neem. Die nuwe toernooiformaat sal dus uit 16 groepe van drie spanne elk bestaan. 1
Uruguay was nie net die eerste gasheerland nie, maar ook die eerste wenners. Hulle het hierdie prestasie in 1950 in Brasilië herhaal toe hulle dié gasheerland in die eindstryd met 2-1 geklop het. 8
Brasilië is die enigste land wat aan ál 22 Wêreldbeker-sokkertoernooie deelgeneem het en spog ook met die meeste oorwinnings, naamlik vyf in onderskeidelik 1958, 1962, 1970, 1994 en 1998. Brasilië het sy titel twee keer suksesvol in opeenvolgende toernooie verdedig. Duitsland en Italië is kort op Brasilië se hakke, met vier titels elk, gevolg deur Argentinië met drie titels en Frankryk wat met twee trofees spog. Uit 80 lande wat al aan die Wêreldbeker-sokker deelgeneem het, het nog net agt lande in die toernooi se geskiedenis van meer as 90 jaar koning gekraai. 9
Italië is die enigste ander span wat sy titel suksesvol kon verdedig, naamlik in 1934 en 1938.
Drie van Duitsland se titels was eintlik as Wes-Duitsland, toe die land ná die Tweede Wêreldoorlog in Oos- en Wes-Duitsland verdeel was. Die val van die Berlynse muur (wat aanvanklik opgerig is om Oos- en Wes-Duitsland te skei) op 9 November 1989 het die einde van die Koue Oorlog ingelui asook die voormalige Sowjetunie (vandag Rusland) se besetting van Oos-Duitsland (of die Duitse Demokratiese Republiek). 10
Die volgende Wêreldbeker-sokkertoernooi vind in 2026 in 16 stede in drie Noord-Amerikaanse lande plaas (die eerste keer ooit dat die toernooi in drie lande gehou word): 11
- Die Verenigde State van Amerika (VSA): New York/New Jersey, Philadelphia, Boston, Atlanta, Miami, Houston, Dallas, Kansas City, Seattle, San Francisco en Los Angeles.
- Kanada: Vancouver en Toronto.
- Mexiko: Mexikostad, Guadalajara en Monterrey.
Mexiko sal in 2026 die enigste land word wat al drie keer as gasheerland opgetree het. Die ander twee keer was in 1970 en 1986.
Die gasheerlande vir die 2030-toernooi is Marokko, Portugal en Spanje. Dit sal ’n baie spesiale toernooi wees, omdat dit presies ’n eeu ná die eerste toernooi sal plaasvind. Uruguay, Argentinië en Paraguay sal ook elkeen ’n wedstryd huisves, wat beteken die 20230-toernooi sal drie vastelande en ses lande verenig.
Die negende FIFA Vrouewêreldbekertoernooi is van 20 Julie tot 20 Augustus 2023 in Australië en Nieu-Seeland aangebied, met Suid-Afrika se vrouespan, Banyana-Banyana, wat nie die kwarteindrondte kon haal nie. Spanje het Engeland eindelik in die finaal met 1-0 gewen 13
Suid-Afrika het sy visier daarop om op die sukses van die 2010-toernooi voort te bou deur die vrouetoernooi in 2027 aan te bied, nadat die land sy bod vir die 2023-toernooi onttrek het. 14
Suid-Afrika word egter deur strawwe mededinging in die gesig gestaar van lande soos Nederland, België en Duitsland wat reeds ’n gesamentlike bod vir die 2027-toernooi ingedien het. Die VSA het ook laat blyk dat hy in die 2027- óf 2031-toernooi belangstel. 15
Soos met die Olimpiese Spele, moes die Wêreldbeker-sokkertoernooi ook weens die Tweede Wêreldoorlog halt roep. Die toernooi het twee keer (naamlik in 1942 en 1946) nie plaasgevind nie. 1
Die trofee
Die oorspronklike Wêreldbeker-trofee is in 1929 deur die Franse beeldhouer Abel Lafleur ontwerp en van vergulde silwer en lapis lazuli (’n halfedelgesteente met ’n diep blou kleur) gemaak. Dit het die antieke Griekse godin van oorwinning, Nike, uitgebeeld, en is eers “Victory” genoem en later na die derde president van FIFA, die Fransman Jules Rimet, wat ’n sleutelrol in die totstandkoming van die Wêreldbeker-sokkertoernooi gespeel het, vernoem. 16
Op ’n dag, 20 Maart 1966 om presies te wees, het dié trofee voete gekry! Omdat Engeland in 1966 as gasheerland vir die toernooi sou optree, is die trofee vier maande voor die afskop in Central Hall Westminster in die hartjie van Londen as die pronkstuk van ’n seëluitstalling ten toon gestel. Niemand kon hul oë glo toe die trofee op die tweede dag van die uitstalling verdwyn nie! ’n Week later is die trofee, toegerol in koerantpapier, toevallig deur die viervoetige Pickles uitgesnuffel toe ’n man genaamd David Corbett met sy hond in die suide van Londen gaan stap het. 17
Dit was egter nie die laaste rooftog nie. Met die aanvang van die toernooi in 1930 het FIFA ingestem dat, sou enige land drie toernooie wen, dié land die trofee kon hou. Ná Brasilië die Italianers in die 1970-eindstryd in Mexiko geklop het, is die trofee aan die Brasiliaanse Sportkonfederasie (CBD), nou die Brasiliaanse Sokkerkonfederasie (CBF), oorhandig. 18
Die 35 cm hoë trofee is op die derde verdieping van die CBF-kantore in Rio se Rua da Alfandega uitgestal. Op die aand van 19 Desember 1983 is die gebou se nagwag deur ’n groep diewe oorval wat met die trofee onder die arm uitgestap het. Tot vandag toe weet niemand wat van die trofee geword het nie. Daar word vermoed dat die diewe die trofee laat smelt en die goud verkoop het. 18
Die trofee wat ons vandag ken en sedert 1974 gebruik word, staan bloot as die FIFA Wêreldbeker-trofee bekend. Kenners van FIFA, afkomstig van sewe lande, het 53 voorgestelde modelle vir ’n nuwe trofee ontvang en uiteindelik die ontwerp van die Italiaanse ontwerper Silvio Gazzaniga gekies. Dit beeld twee atlete (of sokkerspelers) uit wat die wêreld “vashou”. Die trofee is 36 cm hoog, gemaak van soliede 18 karaat goud en weeg 6,175 kg. 1
Anders as die trofee(s) tot en met 1974, hou die wenners nie die trofee tot die volgende toernooi nie. Hulle mag dit vir ’n oomblik vashou tydens die oorwinningsfeesvieringe, maar moet dit dan dadelik aan FIFA teruggee. Die wenlande ontvang wel ’n vergulde replika wat hulle mag hou om mee te spog. 1
Alle lede (spelers, afrigters en bestuurders) van die drie topspanne ontvang medaljes (goud, silwer of brons) met ’n kenteken (wapen) van die Wêreldbeker-trofee. Voor die 1978-toernooi is medaljes slegs aan die spelers op die veld aan die einde van die eindstryd en die wedstryd om die derde plek toegeken. In November 2007 het FIFA egter aangekondig dat alle lede van die Wêreldbeker-wenspanne tussen 1930 en 1974 terugwerkend wenmedaljes sou ontvang. 1
Sedert 2006 het wenners van die toernooi ook die reg om die FIFA Kampioenkenteken (wapen) te dra, tot wanneer die wenner van die volgende toernooi bepaal word. 19
Die spanne
Dit is duidelik dat die Suid-Amerikaanse en Europese lande die Wêreldbeker-sokkertoernooi reeds vir bykans ’n eeu oorheers. Spanne uit Europa spog met 12 titels, terwyl spelers van dié kontinent reeds in 29 einstryde en 54 halfeindstryde uitgedraf het. Hierteenoor het die Suid-Amerikaners 10 keer oorwinning gesmaak, en in 15 eind- en 23 halfeindwedstryde gespeel. 20
Wes-Duitsland (1982-1990) en Brasilië (1994-2002) is die enigste twee lande wat in drie opeenvolgende eindwedstryde van die toernooi kragte gemeet het.
Om die gasheerland te wees, beteken natuurlik dat baie van dié land se sokkergeesdriftiges langs die veld gaan wees om hul spelers aan te moedig, en dit sit sommer ekstra woema in hul skopskoene!
Gasheerlande het altesaam ses keer as toernooiwenners uit die stryd getree. 20
Nederland word as baie ongelukkig geag omdat dié land se span in drie toernooie met die tweede plek tevrede moes wees en nog nooit kon wen nie. Duitsland spog op sy beurt nie net met vier trofees nie, maar was ook al vier keer in die tweede plek. 21
Só is sake oor die jare uitgespook
Jaar | Wenners | Telling | Naaswenners | Totale doele tydens toernooi | Gasheerland |
1930 | Uruguay | 4-2 | Argentinië | 70 | Uruguay |
1934 | Italië* | 2-1 | Tsjeggo-Slowakye | 70 | Italië |
1938 | Italië | 4-2 | Hongarye | 84 | Frankryk |
1942 |
|
Nie gehou nie as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog |
|
|
|
1946 |
|
Nie gehou nie as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog |
|
|
|
1950 | Uruguay | 2-1 | Brasilië | 88 | Brasilië |
1954 | Wes-Duitsland | 3-2 | Hongarye | 140 | Switserland |
1958 | Brasilië | 5-2 | Swede | 126 | Swede |
1962 | Brasilië | 3-1 | Tsjeggo-Slowakye | 89 | Chili |
1966 | Engeland* | 4-2 | Wes-Duitsland | 89 | Engeland |
1970 | Brasilië | 4-1 | Italië | 95 | Mexiko |
1974 | Wes-Duitsland | 2-1 | Nederland | 97 | Wes-Duitsland |
1978 | Argentinië* | 3-1 | Nederland | 102 | Argentinië |
1982 | Italië | 3-1 | Wes-Duitsland | 146 | Spanje |
1986 | Argentinië | 3-2 | Wes-Duitsland | 132 | Mexiko |
1990 | Wes-Duitsland | 1-0 | Argentinië | 115 | Italië |
1994 | Brasilië** | 0-0 | Italië | 141 | VSA |
1998 | Frankryk | 3-0 | Brasilië | 171 | Frankryk |
2002 | Brasilië | 2-0 | Duitsland | 161 | Japan |
2006 | Italië** | 1-1 | Frankryk | 147 | Duitsland |
2010 | Spanje* | 1-0 | Nederland | 145 | Suid-Afrika |
2014 | Duitsland* | 1-0 | Argentinië | 171 | Brasilië |
2018 | Frankryk | 4-2 | Kroasië | 169 | Rusland |
2022 | Argentinië** | 3-3 | Frankryk | 172 | Katar, VAE |
2026 | – | – | – | VSA, Kanada & Mexiko |
* Gewen in bykomende (ekstra) speeltyd. ** Gewen ná ’n uitspeeldoelskopstryd (“penalty shoot-out”).1
Spanne met die meeste topvierposisies
Span | Oorwinnings | Naaswenner | Derde plek | Vierde plek | Topvierposisies |
Brasilië | 1958, 1962, 1970, 1994 en 2002 | 1950 en 1998 | 1938 en 1978 | 1974 en 2014 | 11 |
Duitsland | 1954, 1974, 1990 en 2014 | 1966, 1982, 1986 en 2002 | 1934, 1970, 2006 en 2010 | 1958 | 13 |
Italië | 1934, 1938, 1982 en 2014 | 1970 en 1994 | 1990 | 1978 | 8 |
Argentinië | 1978, 1986 en 2022 | 1930, 1990 en 2014 | – | – | 6 |
Frankryk | 1998 en 2018 | 2006 en 2022 | 1958 en 1986 | 1982 | 7 |
Uruguay | 1930 en 1950 | – | – | 1954, 1970 en 2010 | 5 |
Engeland | 1966 | – | – | 1990 en 2018 | 3 |
Spanje | 2010 | – | – | 1950 | 2 |
Nederland | – | 1974, 1978 en 2010 | 2014 | 1998 | 5 |
Hongarye | – | 1938 en 1954 | – | – | 2 |
Tsjeggiese Republiek | – | 1934 en 1962 | – | – | 2 |
Swede | – | 1958 | 1950 en 1994 | 1938 | 4 |
Kroasië | – | 2018 | 1998 en 2022 | – | 3 |
Die spelers
Vyf spelers deel die rekord vir deelname aan die meeste Wêreldbeker-toernooie: Mexiko se Antonio Carbajal (1950-1966) en Rafael Márquez (2002-2018); Duitsland se Lothar Matthäus (1982-1998); Argentinië se Lionel Messi (2006-2022); en Portugal se Cristiano Ronaldo (2006-2022) het almal in vyf toernooie gespeel met Ronaldo wat ook die eerste en enigste speler was wat doele in ál vyf toernooie aangeteken het. Messi het die meeste Wêreldbeker-wedstryde algeheel gespeel, met 26 verskynings op die veld. 1
Die rekord vir die meeste doele in ’n enkele Wêreldbeker-sokkertoernooi behoort aan die Franse doelskieter (die persoon wat die doel aanteken, oftewel die bal in die net plaas) Just Fontaine, wat 13 doele in ses wedstryde by die 1958-toernooi in Swede aangeteken het. Dit was die enigste Wêreldbekertoernooi ooit waarin hy gespeel het, maar hy het beslis die meeste van dié geleentheid gemaak! 22
Ewe indrukwekkend is Gerd Müller, wat vir die destydse Wes-Duitsland uitgedraf het, se 14 doele in net twee Wêreldbeker-sokkertoernooie. Hy het die rekord vir die meeste Wêreldbeker-doele vir 32 jaar gehou voordat Ronaldo hom in 2006 verby gesteek het. Müller het 10 doele in 1970 en 4 doele in 1974 aangeteken.
Miroslav Klose van Duitsland, wat tans die eerste posisie beklee, het sy 16 doele in 24 wedstryde tydens vier toernooie aangeteken (2002-2014). Ronaldo spog op sy beurt met 15 doele.
Die Portugese sokkerheld Ronaldo was aan die begin van 2023 die wêreld se hoogs betaalde sokkerspeler én sportpersoon! Dit is danksy ’n kontrak wat hy tot Junie 2025 met die Saoedi-Arabiese klubspan Al-Nassr gesluit het. Ronaldo sou glo minstens $200 miljoen (oftewel R3,6 miljard) in sy sak steek (dit sluit ander borgskappe en ooreenkomste in). 23
’n Mens kan natuurlik glad nie oor sokker gesels sonder dat die legendariese Pelé (1940-2022) se naam in die gesprek opduik nie. Dié Brasilianer was op 17-jarige ouderdom nie net die jongste speler ooit in ’n Wêreldbekertoernooi nie, maar is die enigste speler wie se span drie keer die trofee kon wen! Hy het meer as 1 200 doele in sy lang en luisterryke loopbaan aangeteken, en word as ’n ware sokkerlegende beskou. 24
As ambassadeur van dié sport (en van die Verenigde Nasies en Unesco), sakeman en buitengewone minister van sport in Brasilië, het hy grense verskuif en ’n liefde vir sokker by mense reg oor die planeet laat posvat. Tydens sy besoek aan Nigerië in 1967 het hy selfs ’n burgeroorlog tot stilstand laat kom (’n skietstilstand of wapenstilstand is verklaar) en in 1997 is Pelé deur wyle Koningin Elizabeth II tot ridder geslaan. 25
Topdoelskieters (totale getal doele in Wêreldbekertoernooie aangeteken)
Speler | Doele | Span |
Miroslav Klose | 16 | Duitsland |
Cristiano Ronaldo | 15 | Portugal |
Gerd Müller | 14 | Wes-Duitsland |
Just Fontaine | 13 | Frankryk |
Lionel Messi | 13 | Argentinië |
Pelé | 12 | Brasilië |
Kylian Mbappé | 12 | Frankryk |
Sandor Kocsis | 11 | Hongarye |
Jurgen Klinsmann | 11 | Duitsland |
Helmut Rahn | 10 | Duitsland |
Gary Lineker | 10 | Engeland |
Gabriel Batistuta | 10 | Argentinië |
Teofilo Cubillas | 10 | Peru |
Thomas Muller | 10 | Duitsland |
Grzegorz Lato | 10 | Pole 26 |
Die skares
Die aantal toeskouers by die Wêreldbeker-sokkertoernooi het oor die jare drasties toegeneem. Altesaam 590 000 mense het die eerste toernooi in 1930 bygewoon, terwyl dié syfer in 2022 tot ’n totaal van 3,4 miljoen toeskouers toegeneem het! Bykans 44 miljoen toeskouers het die Wêreldbeker-sokkertoernooie tot dusver bygewoon. 1
Só is die toernooi oor die jare bygewoon
Jaar | Gasheerland | Getal stadions | Totale toeskouers | Gemiddelde getal toeskouers | Meeste toeskouers by enkele wedstryd |
1930 | Uruguay | 3 | 590 549 | 32 808 | 93 000 – Halfeindwedstryd in die Estadio Centenario-stadion in Montevideo |
1934 | Italië | 8 | 363 000 | 21 353 | 55 000 – Eindwedstryd in die Stadio Nazionale in Rome |
1938 | Frankryk | 10 | 375 700 | 20 872 | 58 455 – Kwarteindwedstryd in die Olympique de Colombes-stadion in Parys |
1942 |
|
Nie gehou nie as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog |
|
|
|
1946 |
|
Nie gehou nie as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog |
|
|
|
1950 | Brasilië | 6 | 1 045 246 | 45 511 | 173 850 – Eindstryd in die Maracanã-stadion in Rio de Janeiro |
1954 | Switserland | 6 | 768 607 | 29 582 | 63 000 – Eindstryd in die Wankdorf-stadion in Bern |
1958 | Swede | 12 | 819 810 | 23 423 | 50 928 – Groepwedstryd in die Ullevi-stadion in Gothenburg |
1962 | Chili | 4 | 893 172 | 27 912 | 68 679 – Halfeindstryd in die Estadio Nacional-stadion in Santiago |
1966 | Engeland | 8 | 1 563 135 | 48 848 | 98 270 – Eindstryd in die Wembley-stadion in Londen |
1970 | Mexiko | 5 | 1 603 975 | 50 124 | 108 192 – Groepwedstryd in die Estadio Azteca-stadion in Mexikostad |
1974 | Wes-Duitsland | 9 | 1 865 753 | 49 099 | 83 168 – Groepwedstryd in die Olympia-stadion in München |
1978 | Argentinië | 6 | 1 545 791 | 40 679 | 71 712 – Groepwedstryd in die Estadio Monumental-stadion in Buenos Aires |
1982 | Spanje | 17 | 2 109 723 | 40 572 | 95 500 – Openingswedstryd in die Camp Nou-stadion in Barcelona |
1986 | Mexiko | 12 | 2 394 031 | 46 039 | 114 600 – Eindwedstryd in die Estadio Azteca-stadion in Mexikostad |
1990 | Italië | 12 | 2 516 215 | 48 389 | 74 765 – Groepwedstryd in die San Siro-stadion in Milaan |
1994 | VSA | 9 | 3 587 538 | 68 991 | 94 194 – Eindwedstryd in die Rose Bowl-stadion in Pasadena, Kalifornië |
1998 | Frankryk | 10 | 2 785 100 | 43 517 | 80 000 – Eindwedstryd in die Stade de France-stadion, Saint-Denis |
2002 | Japan | 20 | 2 705 197 | 42 269 | 69 029 – Eindwedstryd in die Internasionale Stadion in Jokohama |
2006 | Duitsland | 12 | 3 359 439 | 52 491 | 72 000 – Kwarteindwedstryd in die Olympia-stadion in Berlyn |
2010 | Suid-Afrika | 10 | 3 178 856 | 49 670 | 84 490 – Eindwedstryd by Soccer City (nou die FNB Stadion) in Johannesburg |
2014 | Brasilië | 12 | 3 429 873 | 53 592 | 74 738 – Eindwedstryd in die Maracanã-stadion in Rio de Janeiro |
2018 | Rusland | 12 | 3 031 768 | 47 371 | 78 011 – Eindwedstryd in die Luzhniki-stadion in Moskou |
2022 | Katar, VAE | 8 | 3 404 252 | 53 191 | 88 966 – Eindwedstryd in die Lusail-stadion in Katar |
Die Wêreldbeker-sokker vir vroue
Soos die Wêreldbeker-sokker vir mans, word die Wêreldbeker vir vroue deur FIFA beheer en vind elke vier jaar plaas. Die deelnemende lande aan die Wêreldbeker-toernooi vir vroue word bepaal deur verskeie internasionale uitdunrondes wat in die jare voor die Wêreldbeker beslis word. Soos met die manstoernooi, kwalifiseer die gasheerland se span outomaties. 1
Die eerste vrouetoernooi, wat in 1991 aangebied is, is deur die VSA gewen. Die VSA het die Wêreldbeker-sokker ’n rekordaantal van vier keer gewen en Duitsland kon al twee keer koning(in) kraai. Die aanvanklike toernooi, asook die een in 1995, het 12 spanne ingesluit. Dit is vermeerder na 16 spanne in 1999, na 24 spanne in 2015, en 32 lande se vlae was in 2023 te siene. 27
Só het die vrouespanne oor die jare presteer
Jaar | Gasheerland | Wenner | Naaswenner | Telling | Derde plek |
1991 | China | VSA | Noorweë | 2-1 | Swede |
1995 | Swede | Noorweë | Duitsland | 2-0 | VSA |
1999 | VSA | VSA* | China | 0-0 | Brasilië |
2003 | VSA | Duitsland | Swede | 2-1 | VSA |
2007 | China | Duitsland | Brasilië | 2-0 | VSA |
2011 | Duitsland | Japan* | VSA | 2-2 | Swede |
2015 | Kanada | VSA | Japan | 5-2 | Engeland |
2019 | Frankryk | VSA | Nederland | 2-0 | Swede |
2023 | Australië & Nieu-Seeland | Spanje | Engeland | 1-0 | Swede 28 |
* Gewen ná ’n uitspeeldoelskopstryd (“penalty shoot-out”).
Woordbank
akademici | Persoon wat akademies gevorm/gesind is, dikwels iemand wat aan ’n universiteit klas gee. |
amateur | Iemand wat ’n vak/sport/kuns uit liefhebbery beoefen sonder om daarvan ’n beroep te maak of veel geld mee te verdien. |
beeldhouer | Kunstenaar wat beelde uitkap/uitsny/vorm uit marmer/klip/metaal/hout. |
besetting | Met geweld oorneem/inneem; in besit neem. |
bod | Veral vir die reg om ’n groot sportgeleentheid aan te bied. |
borgskappe | Persoon/maatskappy wat vir die advertensietyd van ’n produk betaal of, as ’n vorm van advertensie, ’n persoon/groep se koste dek. |
desibel | Eenheid vir die meting van die luidheid van klanke. |
dinastie | Regerende stamhuis; vorstehuis. |
doele | Stel pale waardeur of hok waarin die bal moet trek om punte te behaal. |
geesdriftig | Met/vol geesdrif; opgewonde, entoesiasties. |
gerugte | Onseker/onbevestigde berig/praatjie/storie. |
halfedelgesteente | Waardevolle steen wat as versiersel gebruik word, maar van minder waarde as die meer suiwer edelgesteente, bv. agaat, rooskwarts en tieroog. |
ingedruis | In stryd wees met; onverenigbaar. |
kommentators | Iemand wat kommentaar lewer soos by ’n sportbyeenkoms. |
kontrak | Ooreenkoms waarby wedersydse verpligtinge aangegaan word; formele ooreenkoms tussen twee of meer partye, waarin neergeskryf word wat elkeen moet doen. |
korrupsie | Oneerlike/onwettige gedrag of optrede, veral deur iemand met mag/gesag. |
sokkerkragmeting | Ontmoeting/byeenkoms om te bepaal wie die sterkste/beste is; wedywering. |
legendariese | Wat baie beroemd is en bewonder word. |
luisterryke | Groot en opwindend/interessant; glansryk; skitterend. |
medaljes | Plat stukkie metaal in die vorm van ’n muntstuk/kruis/ens. wat toegeken word aan iemand wat op een of ander gebied presteer het. |
omkopery | Met geld of ’n geskenk oorhaal/ompraat om iets slegs/onwettig te doen. |
onkant | Gesê van die posisie van ’n speler wat op die oomblik dat die bal geskop word, voor die bal is en nie minstens twee opponente tussen hom en die opposisie se doelgebied het nie. |
professioneel | Met betrekking tot ’n beroep; vir betaling. |
replika | Namaaksel van die oorspronklike; presiese kopie; duplikaat. |
rooftog | Diefstal met geweld. |
skeidsregters | Persoon wat by ’n wedstryd sorg dat ’n speler of span nie uit oortreding van die spelreëls voordeel trek nie. |
skietstilstand | Ooreenkoms om vyandelikhede te staak; wapenstilstand. |
sportskouspel | Aanskoulike vertoning/gebeurtenis. |
stadions | Groot sportterrein, meestal onbedek, met oplopende rye sitplekke daaromheen. |
toeskouers | Iemand wat na ’n vertoning/wedstryd staan/sit en kyk. |
Tweede Wêreldoorlog | ʼn Wêreldwye militêre konflik wat van 1939 tot 1945 geduur het. |
Verenigde Nasies | Die VN is ʼn internasionale organisasie wat deur verskillende lande op 24 Oktober 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog gestig is. Die VN beywer hom veral vir wêreldvrede en die onderlinge samewerking tussen verskillende lande. |
Unesco | Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation) is ʼn onderdeel van die Verenigde Nasies wat 195 lande se samewerking op kulturele, opvoedkundige en wetenskaplike terrein bevorder. |
volume | Klanksterkte. |
Lees dié om meer te leer
- Daar is baie bespiegelings (stories) en teorieë oor die Wêreldbeker-trofee(s), diefstalpogings en moontlike replikas (nabootsings)
- Benewens die Wêreldbeker-sokker spits FIFA hom toe op die ontwikkeling van sokker wêreldwyd. Lees meer oor dié organisasie se werk én loer sommer waar lê Suid-Afrika se spanne op die wêreldranglys
- Alles wat jy oor die geskiedenis van sokker moet weet
- Kyk wat word die wêreld se topsportlui betaal
- Toets jou Wêreldbeker-sokkerkennis met dié vasvra
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Pelé kon met ’n sokkerbal toor. Hier is tien van sy (talle) skitterende doele
Tien van die beste doele in die geskiedenis van Wêreldbeker-sokker
Die groot en geskiedkundige oomblik toe Suid-Afrika se naam gelees is as gasheerland vir die 2010-toernooi
Shakira en Freshlyground sing “Waka Waka” tydens die openingseremonie van die 2010-toernooi
Katar het ’n stadion uit 974 skeepsvraghouers (974 is ook die internasionale telefoonskakelkode vir Katar) gebou vir die 2022-toernooi wat heeltemal uitmekaar gehaal en geskuif kan word