Vinnige feite

  • Wimbledon is die oudste tennistoernooi in die wêreld. 20
  • Die eerste televisie-uitsending van ’n wedstryd by Wimbledon was op 21 Junie 1937. 20
  • Die langste wedstryd by Wimbledon was in 2010 tussen die Amerikaner John Isner en die Fransman Nicolas Mahut. Die wedstryd het 11 uur en 5 minute geduur en is oor drie dae gespeel. 20
  • Omtrent 250 baljoggies tree elke jaar by die toernooi op. Hulle kry intensiewe opleiding oor hoe om die balle tydens die wedstryd vir die spelers aan te gee. 20
  • 54 250 balle word altesaam by die toernooi gebruik. Balle word net vir ’n sekere aantal potte gebruik, dan word hulle vervang. Die balle wat nie gebruik word nie, word in yskaste gebêre. 20
  • Een van die werknemers by die Wimbledon-kompleks is Rufus die valk. Sy werk is om die bane vry te hou van duiwe, wat die spelers se aandag kan aftrek. Rufus het selfs sy eie ID-kaart! 21
  • Die speler wat die meeste kishoue (in Engels: aces) in ’n enkele kampioenskapstoernooi gespeel het, was die einste Goran Ivanisevic wat die toernooi in 2001 gewen het. Hy het daardie jaar 212 kishoue geslaan. 21
  • Die vinnigste afslaan ooit is afgestuur deur Taylor Dent. Hy het in 2010 ’n bal afgeslaan wat teen 238 km/h oor die net getrek het. 21

Die Wimbledonse tenniskampioenskapstoernooi, of sommer net kortweg “Wimbledon”, is die oudste tennistoernooi in die wêreld. 1 Dit is ook een van die vier vernaamste tennistoernooie wat elke jaar gespeel word. Hierdie tenniskampioenskapstoernooi word in die voorstat Wimbledon in Wes-Londen, Engeland gespeel. Die ander drie kampioenskapstoernooie is die Amerikaanse Ope, die Australiese Ope en die Franse Ope. Die Engelse bynaam vir hierdie vier groot toernooie is die Grand Slam. 2

Ontstaan en geskiedenis

Die eerste kampioenskapstoernooi het in 1877 plaasgevind by die All England Lawn Tennis and Croquet Club in Wimbledon. Wimbledon is ’n voorstad van die Britse hoofstad Londen, en die All England Lawn Tennis and Croquet Club was eintlik sommer net ’n uitspanplek vir ryk Londenaars. Aanvanklik was croquet (uitgespreek “krou-kie”) ’n spel waar ’n bal met ’n soort houthamer deur ’n bogie gekap word, die enigste sport wat die lede buite op die klub se grasperk kon speel, maar tennis het teen die tweede helfte van die 1800’s gewild geword. 1

Toe die eerste toernooi in 1877 gespeel is, was die spel nog in sy kinderskoene. Die eerste rakette was swaar en handgemaak, en het amper soos sneeuskoene gelyk. 3 Tog is baie van die reëls en regulasies wat deur die All England Club se komitee in 1877 gemaak is, vandag nog deel van die sport. 1

Die eerste toernooi was net vir mans, en die wenner was Spencer William Gore, wat sy opponent, William Marshall, in net agt-en-veertig minute verslaan het. Daardie jaar was daar 200 toeskouers. 3

In 1884 het vroue aan die toernooi begin deelneem. In dieselfde jaar het die eerste dubbelspelwedstryde plaasgevind. 1 Maud Watson, die dogter van ’n predikant, was die eerste vrouewenner. Sy het in die eindstryd teen haar suster, Lilian, gewen. 3

Binne tien jaar het die getal toeskouers gegroei na 3 000 mense. 3 Die toernooi is elke jaar gehou, buiten 1915-1918 en 1940-1945 toe eers die Eerste en later die Tweede Wêreldoorlog gewoed het, en in 2020 toe die hele wêreld in die greep van die Covid-19-pandemie was. 1

Wimbledon vandag

Grasbane van 1877 af tot vandag toe

Die eerste toernooi van 1877 is gehou by die klub wat toe in Worple-straat in Wimbledon geleë was. In 1922 het die klub die tennisbane oorgeskuif na ’n nuwe terrein in Church-straat, ook in Wimbledon. Op 26 Junie van daardie jaar het die Britse koning, George V, in die koninklike losie (in Engels: royal box) verskyn, drie keer op ’n ghong geslaan en verklaar dat die nuwe terrein oop is. 4

Die belangrikste eienskap wat van die klub in Worple-straat oorgehou is, is dat die toernooi vandag nog op grasbane gespeel word. Die Amerikaanse en Australiese Ope word op binnenshuise (harde) bane gespeel, en die Franse Ope vind plaas op die kleibane van Roland Garros in Parys, Frankryk. 5

Omdat gras ’n plant is, het dit sonlig nodig, wat beteken dat ’n mens nie ’n dak bo-oor die bane by Wimbledon kan bou nie. In Brittanje se klimaat met die baie reën, is dit ’n groot probleem, want selfs al hou dit op reën, kan spelers nie op nat bane speel nie. Die bane word droog gehou met seile, maar in 2009 is daar ’n dak wat kan oop- en toeskuif oor die hoofbaan, Centre Court, gebou. Al neem dit agt minute vir die dak om toe te skuif, kan die wedstryd op die baan ten minste voortgaan. 6

Die terrein waar die toernooi plaasvind, bestaan uit 18 toernooibane en 14 oefenbane, waar die deelnemers kan oefen. Wanneer die toernooi verby is, is die Wimbledon-kompleks weer die tuiste van die lede van die klub. 7

Deelnemers – van amateurs tot beroepspelers

Toe die eerste wedstryde gespeel is, was die deelnemers almal amateurs. Dit beteken nie een van die spelers het tennis gespeel vir ’n inkomste nie – dit was sommer net klublede wat vir die lekkerte gespeel het. Vir baie jare was dit ’n reël in baie sportsoorte dat net amateurs – mense wat die sport vir die pret daarvan beoefen – aan sekere sportgeleenthede kon deelneem. Teen die 1950’s het dit duidelik geword dat talentvolle sportsterre hul sport voltyds sou moes beoefen om daarin te kan uitblink. Sport, veral sportsoorte met groot prysgeld, was vir hulle nie net meer ’n stokperdjie nie, dit was nou hul beroep. 8

Wimbledon se organiseerders wou eers nie beroepspelers toelaat om deel te neem nie, maar hulle het ook gesien as hulle dié reël aanhou toepas, kan die talentvolste spelers nie meer deelneem nie. Daarom het Wimbledon in 1968 “oop” geword (vandaar die naam “ope” wat vir baie sporttoernooie gebruik word), en beroepspelers kon van toe af deelneem. 8

Die spelers wat uitgenooi word om aan Wimbledon deel te neem, is die 112 topspelers op tennis se wêreldranglys. Afgesien van hierdie 112 topspelers, is daar 16 loslootjies (in Engels: wild cards). Dit is spelers wat nie onder die 112 topspelers in die wêreld is nie, maar wat volgens die organiseerders sulke goeie tennis speel, dat hulle uitgenooi word om ook deel te neem. In 2001 het só ’n speler wat met ’n loslootjie ingekom het, Goran Ivanisevic (vandag Novak Djokovic se afrigter), die toernooi gewen. 9

Kleredrag

Een van Wimbledon se strengste tradisies is die wit klere wat die spelers moet dra. Wit klere vir sportdrag is nie net in tennis tradisie nie, krieketspelers wat aan vyfdagtoetse deelneem en rolbalspelers dra ook byvoorbeeld wit klere. Dit kom van ver af: In die 1880’s toe hierdie tradisie ontstaan het, was mense baie meer begaan oor goeie maniere en wat “fatsoenlik” is. In daardie tyd was sweetvlekke onder ’n mens se arms nie “fatsoenlik” nie, en daarom het mense wat aan sport deelgeneem het, wit klere gedra. Die wit klere wys sweetvlekke nie so maklik soos gekleurde klere nie. 10

Deelnemers aan Wimbledon moet vandag nog baie streng reëls oor die wit kleredrag volg. Al die klere wat hulle dra vandat hulle uit die kleedkamer kom, moet heeltemal wit wees. Hulle sweetpakke, kepse, sweetbande en skoene moet ook wit wees. Selfs die tennisskoene se sole en veters moet wit wees. Die klere mag verkieslik ook nie enige groot logo’s (borge se handelsmerke) op hê nie, en as daar ’n gekleurde randjie aan enige kledingstuk is, moet hierdie randjie minder as 1 cm breed wees. 11

Spelers het al in die moeilikheid gekom omdat hulle nie hierdie reëls getrou gevolg het nie. Die bekende Andre Agassi het van 1988 tot 1990 geweier om aan Wimbledon deel te neem, juis omdat hy bekend was vir sy kleurvolle tennisuitrustings. Maar selfs hy het ingegee en in 1991 daar opgedaag met wit klere. 11

Aliaksandra Sasnovich in 2015 in aksie.

Trofees

Die trofee vir die manswenner by Wimbledon is ’n silwer beker wat met goud oorgeblaas is. Die trofee het vir die eerste keer in 1887 ’n wisseltrofee geword, toe die organiseerders besef het dit gaan hulle te veel kos om elke keer ’n trofee vir die wenner te koop. Sedertdien word die wisseltrofee by die wennersplegtigheid oorhandig, en die wenner kry ’n kleiner replika van die trofee om huis toe te neem. Tot 2009 is die wenners se name op sy voetstuk gegraveer. Daarna het die plek opgeraak, en die wenners se name is sedertdien op ’n silwer band om ’n swart voetstuk gegraveer. 12

Die trofee vir die vrouewenners is ook ’n silwer wisseltrofee wat met goud oorgeblaas is, en die wenner kry ook ’n replika vir haar versameling. Die vrouetrofee is ’n skinkbord vol mitologiese figure, en dit staan bekend as die Rosewater Dish, of die Venus Rosewater Dish. 12

Daar is ook silwer bekers, almal wisseltrofees, vir die mansdubbelspelkampioene, die vrouedubbelspelkampioene, en die gemengde dubbelspelkampioene. Al die wisseltrofees word deur die res van die jaar uitgestal in die museum wat deel is van die Wimbledon-sportkompleks. 12

Prysgeld

So ’n groot toernooi wat soveel toeskouers (by die bane self) en kykers (op televisie) lok, gaan natuurlik ’n groot klomp geld vir die wenners beskikbaar kan stel. In 2023 was die prysgeld vir die wenners van die enkelspeltoernooi £2 350 000 elk (sowat R56 542 400!). Al die deelnemers, selfs dié wat in die eerste ronde uitgeskakel word, kry prysgeld. 13

Die prysgeld by Wimbledon is dieselfde vir mans en vroue. Dit was nie altyd so nie. Tradisioneel word die vrouedeelnemers aan sportgeleenthede heelwat minder as die mans betaal. Die Amerikaanse Ope was die eerste van die Grand Slam-toernooie wat in 1973 die vrouewenner dieselfde as die manswenner betaal het.

Wimbledon was die laaste van die vier – eers in 2007 is die vrouewenner en die manswenner dieselfde betaal. 14

Verbintenis met die koninklike familie

Van daardie dag in 1922 toe koning George V die ghong by die nuwe Wimbledon-kompleks in Church-straat geslaan het, is daar ’n noue verbintenis tussen die toernooi en die koninklike familie.

Die koninklike losie het 74 sitplekke, en mense kan net daar sit as hulle deur die voorsitter van die All England-klub uitgenooi word. Lede van die Britse koninklike familie sit daar, en ander belangrike gaste, soos lede van koninklike families van ander lande, politici, mense wat ’n belangrike rol in tennis gespeel het, lede van die weermag, en borge wat groot bedrae geld vir die toernooi skenk. 15

’n Hele paar koninklikes het oor die jare die wenners en naaswenners se trofees oorhandig: koningin Elizabeth II, Elizabeth se pa, George VI, die huidige koning se suster, prinses Anne en die huidige koning se tante, prinses Margaret. Die hertog van Kent, ’n neef van koningin Elizabeth II, was vir meer as 5 dekades die president van die All England Lawn Tennis and Croquet Club, en hy het in daardie tyd die manswenners en -naaswenners se trofees oorhandig. Sy vrou, die hertogin van Kent, het die vrouewenners en -naaswenners se trofees oorhandig. 16 Catherine, die prinses van Wallis en vrou van die Britse troonopvolger, prins William, neem nou die oorhandiging waar en is self ‘n kranige tennisspeler.

Aarbeie en room

Een van die bekendste tradisies by Wimbledon is dat ’n mens aarbeie en room daar eet. Dié happie is al sedert 1509 gewild toe ’n Britse staatsman, biskop Thomas Wolsey, dit by ’n banket as nagereg vir Hendrik VIII voorgesit het. Dit is in 1877 by die heel eerste Wimbledon-toernooi bedien omdat aarbeie toe volop was, en sedertdien is dit tradisie.

Daar word beraam dat daar elke jaar 10 000 liter room en 28 000 kilogram aarbeie by Wimbledon verkoop word! 17

Die uitblinkers

’n Volledige lys met die name van die manswenners en -naaswenners is by hierdie skakel beskikbaar. Jy kan ook die tellings daar sien. Die inligting vir die vrouewenners kan jy hier nagaan.

Die volgende persone is om verskeie redes ekstra merkwaardig: 18

  • Martina Navratilova is die speler met die meeste Wimbledon-titels in die ope-era: nege altesaam.
  • Ná haar is die vroue met die meeste titels Steffi Graf en Serena Williams, elk met sewe.
  • Roger Federer is die man met die meeste Wimbledon-titels: agt.
  • Ná hom is dit Novak Djokovic en Pete Sampras, elk met sewe titels.
  • Die jongste speler wat ooit ’n Wimbledon-titel kon wen, was Lottie Dod. Sy was 15 toe sy die titel in 1887 verower het.
  • Martina Hinges is die jongste wenner van die moderne era – sy was 16 toe sy in 1997 gewen het.
  • Boris Becker was die jongste manswenner. Hy was 17 toe hy in 1985 gewen het.

Suid-Afrikaanse deelnemers

Suid-Afrika het natuurlik al ’n hele paar deelnemers aan Wimbledon opgelewer.

Die volgende Suid-Afrikaanse spelers het die beste by Wimbledon gevaar: 19

  • Die beste Suid-Afrikaanse presteerders by Wimbledon was Frew McMillan en Bob Hewitt, wat drie keer die mansdubbelspeltitel verower het – in 1967, 1972 en 1978.
  • Kgothatso Montjane het in 2021 tot by die eindstryd van die vroue-enkelspel van die rolstoeltennistoernooi gevorder, en in 2021 en in 2023 in die eindstryd van die gemengde dubbels van die rolstoeltennistoernooi gespeel.
  • Kevin Anderson het in 2018 in die manseindstryd gespeel, waar hy teen Novak Djokovic verloor het.
  • Kevin Curran het in 1985 in die manseindstryd teen Boris Becker verloor.
  • Sandra Reynolds het in 1960 in die vroue-eindstryd teen Maria Bueno verloor.
  • Danie Visser en Pieter Aldrich het in 1990 in die mans dubbeleindstryd verloor.
  • Donald Ramphadi het in 2023 tot by die halfeindstryd van die mansrolstoeltennistoernooi gevorder.
  • Gary Muller het in 1988 en 1993 in die kwarteindronde van die mansdubbelspel verloor.
  • Johan Kriek het in 1982 en 1983 die kwarteindronde gehaal.
  • Wayne Ferreira het in 1994 tot by die kwarteindronde gevorder.
  • Amanda Coetzer kon in 2000 die kwarteindronde van die gemengde dubbelspel haal.

Woordbank

afslaan In tennis, die eerste hou van ’n pot; die hou wat die spel begin.
amateurs Gewoonlik iemand wat nie eintlik formele opleiding gekry het om iets te doen nie en dit net doen vir die lekkerte daarvan. In sport is ’n amateur iemand wat nie geld verdien om aan die sport deel te neem nie. Kyk ook ons verklaring vir beroepspeler.
baljoggies Die personeel, gewoonlik jong lede van die tennisklub, wat die balle tydens wedstryde optel en aangee.
banket ’n Baie deftige ete met belangrike gaste.
beroepspelers Iemand wat aan sport deelneem en daarmee geld verdien. Die speler doen met ander woorde die sport as ’n beroep.
croquet ’n Sport wat op ’n grasperk gespeel word waar deelnemers probeer om ’n balletjie met ’n soort houthamer deur ’n bogie te kap.
dubbelspel In tennis, ’n wedstryd met twee spelers aan ’n kant.
fatsoenlik ’n Ou woord wat min of meer “ordentlik” en “volgens aanvaarbare sosiale voorskrifte” beteken.
ghong ’n Instrument, gewoonlik van brons, wat ’n harde geluid maak wanneer dit met ʼn hamer (’n soort slagklopper met ’n groot, viltkop [soort materiaal) geslaan word. Dit lyk ’n bietjie soos ’n groot simbaal. Omdat die klank ver trek en lank aanhou, en dit is dit eeue lank gebruik om mense in die omgewing te laat weet dat iets belangriks gaan gebeur.
Grand Slam Die bynaam vir die vier groot tenniskampioenskapstoernooie: die Amerikaanse Ope, die Australiese Ope, die Franse Ope en Wimbledon; letterlik: “groot hou”.
gegraveer Op metaal uitkrap.
in sy kinderskoene ’n Figuurlike uitdrukking wat ons gebruik om te sê iets het nog nie kans gehad om te ontwikkel nie.
kampioenskapstoernooi ’n Sportgeleentheid wat in rondes georganiseer is, en waar elke wedstryd ’n uitklopronde is. ’n Speler of span neem met ander woorde deel tot hy of sy verloor. Uiteindelik speel die twee spelers/spanne teen mekaar wat geen wedstryde verloor het nie. Ons onderskei tussen ’n kampioenskapstoernooi en ’n toernooi, waar die spelers/spanne op grond van punte op ’n ranglys vorder. Kyk ook na ons verklaring vir die woord toernooi.
kishoue In tennis, ’n afslaan wat so goed is dat die opponent glad nie die bal kan terugslaan nie.
logo Die prentjie waarmee ’n maatskappy of ander besigheid uitgeken word.
losie ’n Afgeskorte gedeelte in ’n stadion of teater. Losies kan deur maatskappye of mense gehuur of gekoop word, en dan is die losie net vir hulle en hulle gaste se gebruik.
loslootjies ’n Geleentheid vir ’n speler wat nie vir ’n toernooi of kampioenskapstoernooi kwalifiseer nie om op uitnodiging van die organiseerders deel te neem.
mitologiese Die mites, gewoonlik van Antieke beskawings, waarmee mense probeer het om die wêreld en die lewe te verklaar voordat die wetenskap vir ons verklarings daarvoor kon gee.
mitologies Wat te doen het met die mitologie.
opponent Teenstander, veral in sport.
potte ’n Afdeling van ’n tenniswedstryd.
replika Presiese namaaksel.
toernooi ’n Sportgeleentheid wat in rondes georganiseer is, en waar die span of speler tydens elke wedstryd punte kry op grond van hulle prestasie. ’n Span of speler neem met ander woorde deel totdat al die rondes klaar is. Die span of speler met die meeste punte is die wenner. Ons onderskei tussen ’n toernooi en ’n kampioenskapstoernooi, waar die spelers/spanne uitgeskakel word as hulle ’n wedstryd verloor. Kyk ook ons verklaring vir die woord kampioenskapstoernooi.
tradisies ’n Gebruik wat jare gelede ontstaan het en steeds nagevolg word al weet mense nie altyd meer waarom dit so gedoen word nie.
wêreldranglys ’n Lys met die name van al die spelers in die wêreld wat aan ’n bepaalde sportsoort deelneem, wat aandui hoe goed hulle in die sport presteer. Iemand wat nommer een op so ’n lys is, is op daardie oomblik die beste in die wêreld.
werknemers Iemand wat vir ’n ander persoon of besigheid werk.
wisseltrofee ’n Trofee wat by ’n prysuitdeling aan ’n wenner oorhandig word, maar ná die tyd weer teruggegee word aan die organisasie wat die prys uitdeel.

Lees dié om meer te wete te kom

Kyk dié video’s om meer te leer

Op YouTube is daar ’n hele reeks video’s vir kinders beskikbaar wat deur Wimbledon self vervaardig is. Soek na “Blade and Bounce” of klik op die skakel.

Rufus, die valk

Het jy geweet honde kan ook tennis speel?

Gepubliseer op: 17 Augustus 2023 | Bygewerk op 15 April 2024