Vinnige feite

  • Die landbousektor is die grootste verbruiker van vars water, naamlik 70%. 
  • Sowat 2 miljard mense in die wêreld het nie toegang tot veilige drinkwater nie en nagenoeg 4 miljard mense beleef minstens een maand per jaar ’n groot waterskaarste. 
  • Water reguleer die aarde se temperatuur. As dit nie vir water was nie, sou die aarde onbewoonbaar gewees het. 
  • Sowat 60% van die menslike liggaam bestaan uit water. Water vervoer nie net noodsaaklike voedingstowwe soos vitamiene en minerale na ons organe nie, maar help ook om skadelike stowwe weg te neem sodat dit uitgeskei kan word. 
  • Hoewel water nie kan “opraak” nie en ’n hernubare hulpbron is, kan besoedeling veroorsaak dat ons al minder water het wat geskik is om te drink of vir byvoorbeeld besproeiing te gebruik. 6
Foto: iStock

Daar is twee soorte water in die wêreld – soutwater en vars water. Het jy al ooit in die see geswem en per ongeluk van die water ingesluk? Dit het sout gesmaak, nè? As jy die water in ’n meer of ’n dam sou insluk, sal dit nie so sout proe nie. Hierdie watermassas met lae soutvlakke, gewoonlik minder as 1%, word vars water genoem.

Water is van kritieke belang vir die voortbestaan ​​van alle lewende organismes. Net meer as 70% van die aarde se oppervlak is met water bedek en 97% van dié water is soutwater. Minder as 3% van alle water is vars water en die res is gevries in gletsers, ys en sneeu. Die atmosfeer bevat ongeveer 0,04% water.

As die wêreld se vars water 100 liter was, sou die bruikbare hoeveelheid vars water slegs ongeveer ’n halwe teelepel vol wees. 1

As ons die term “vars water” gebruik, verwys ons gewoonlik na water wat in mere, strome, damme, riviere, sneeu en ys voorkom. Dit beteken ook water wat mense kan drink. Vars water wat veilig is om te drink, word drinkbare water genoem. Ontsouting kan soutwater in drinkbare water omskep.

Die Malaspina-gletser in Alaska beslaan 3 000 vierkante kilometer en die reusagtige Lambert-gletser by Antarktika het ’n oppervlak van ’n miljoen vierkante kilometer. Sowat 70% van die aarde se vars water is in Antarktika-ys vasgevang.

Die hoeveelheid water op die aarde bly konstant en is onderhewig aan die deurlopende watersiklus van verdamping, reën of sneeu, afvloei en opgaring in damme, mere en die see, vanwaar die proses weer van voor af begin. Die son is die krag agter die watersiklus.

Vars water is nie altyd veilig nie

Mense kan nie alle vars water sommer net drink nie, want dit kan moontlik besmet wees. Die water kan skadelike bakterieë bevat of giftig wees as gevolg van chemikalieë wat van nywerhede, fabrieke en boerderye af vloei en in die water beland.

Sommige mense besoedel ons varswaterbronne met vullis en gebruik dit selfs om in te bad of wasgoed te was. Daarom is nie alle natuurlike varswaterbronne veilig vir menslike gebruik nie.

Water wat uit ons krane kom, is getoets en behandel sodat dit veilig is om te drink. Dit geld vir die meeste lande, maar in talle lande kan ’n mens nie eens kraanwater drink sonder om die water eers te kook om die kieme dood te maak nie. 2

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het een uit elke drie mense in die wêreld nie toegang tot veilige drinkwater nie.

Sommige plante en diere kan wel soutwater gebruik, maar baie organismes, waaronder die meerderheid plante en die meeste soogdiere, moet toegang tot vars water hê om te kan oorleef. Sommige soogdiere, veral woestyndiere, oorleef skynbaar sonder om te drink, maar hulle neem wel water in deur spesifieke plantsoorte te eet en is ook spesiaal aangepas om met baie min water oor die weg te kom. Dink byvoorbeeld aan hoe die Drommedaris-kameel aangepas is vir woestyntoestande.

Katsedam

Waar kom vars water vandaan?

Die bron van byna alle vars water is neerslag uit die atmosfeer in die vorm van mis, reën, hael en sneeu. Vars water wat as mis, reën of sneeu val, bevat stowwe wat in die atmosfeer met die waterdeeltjies gemeng en in wolke deur die lug beweeg het. 3

Het jy geweet sneeu wat 10 cm diep is, bevat ongeveer dieselfde hoeveelheid water as 10 mm reën? Water is die enigste stof op aarde wat natuurlik in al drie vorme voorkom: vloeistof, vaste stof (ys) en gas (waterdamp). Vars water vries teen 0°C, maar seewater vries eers teen -1,9°C oor al die opgeloste soute daarin.

’n Ander bron van vars water is grondwater. Dit is water wat deur poreuse materiale dieper in die grond insak of vloei. Dit vul porieë (openings) en breuke in lae ondergrondse gesteentes. Fonteine stel vars water uit die grond spontaan beskikbaar en baie van dié grondwater word as natuurlike water gebottel.

Van hierdie grondwater lê egter te ver onder die aarde se oppervlak om teen ’n bekostigbare prys te onttrek. Soms is dit moontlik om met diep boorgate (tot 250 m diep) van dié ondergrondse water uit te pomp.

Nie alle neerslag bied vars water nie

In geïndustrialiseerde gebiede is reën tipies suur as gevolg van opgeloste oksiede soos swael en stikstof wat ontstaan ​​uit die verbranding van fossielbrandstowwe in motors, fabrieke, treine en vliegtuie wat deur lugbesoedeling in die atmosfeer opgeneem is. In sommige gevalle lei hierdie suurreën tot besoedeling van mere en riviere.

In kusgebiede kan vars water beduidende konsentrasies sout uit die see bevat as winderige toestande druppels seewater in die wolke opneem en dit weer as reën op die aarde val. Dit kan lei tot verhoogde konsentrasies natrium, chloried, magnesium en sulfaat.

In woestyngebiede, of gebiede met arm of stowwerige grond, kan reëndraende wind ook sand en stof opneem. Dit kan veroorsaak dat vars water besmet word deur onoplosbare vaste stowwe, maar ook deur die oplosbare bestanddele van daardie grond. Aansienlike hoeveelhede yster kan op hierdie manier vervoer word, soos byvoorbeeld die oordrag van ysterryke reënval in Brasilië wat afkomstig is van sandstorms in die Sahara-woestyn in Noord-Afrika.

Varswaterhabitats

Riviere, spruite, mere, damme en strome is almal varswaterhabitats. Daar is vleie en moerasse met houtagtige plante en bome, en moerasse wat geen bome het nie, maar baie grasse en riete. Hoewel vars water minder as 3% van die wêreld se water uitmaak, is dit die woonplek (habitat) van meer as 100 000 spesies plante en diere. 4

Ongeveer 40% van die wêreld se visse leef in varswateromgewings. Dié varswaterhabitats bied ’n groot biodiversiteit: daar woon ook slakke, wurms, skilpaaie, paddas, moerasvoëls, weekdiere, krokodille, bewers, otters, slange en insekte. Sommige ongewone diere, soos die rivierdolfyn en die duikspinnekop, is varswaterdiere. Plante soos alge, katstertjies, waterlelies en wilgerbome help om die water skoon te hou deur hul wortelstelsels wat besoedeling en oortollige voedingstowwe uit die water filtreer.

Die grootste varswaterhabitat ter wêreld is die Everglades, ’n vleiland van 6 miljoen hektaar in die suide van Florida in die VSA. Die Amasonerivier in Suid-Amerika begin in die Andesgebergte en strek oor meer as 6 900 km tot by die Atlantiese Oseaan. Dit vloei deur ses lande, waaronder Peru en Ecuador. Die Baikalmeer in Siberië (foto onder) 5, ’n streek in Rusland, is die grootste meer ter wêreld. Hierdie Noord-Asiatiese watermassa bevat ’n vyfde van al die vars water op die planeet.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Varswaterbronne

Waarom vars water belangrik is en waar vind ons dit?

Varswaterbiome

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 Januarie 2022 | Bygewerk op 6 Maart 2024