Vinnige feite

  • Die wêreld se eerste verkeersboete is in 1902 uitgereik aan ’n motoris wat 72 kilometer per uur (km/h) gery het. Die grootste boete wat nog ooit uitgereik is, was vir €1 miljoen (sowat R20 miljoen) aan ’n man van Swede wat 180 km/h gery het. In dié land word boetes bepaal volgens die salaris wat jy verdien! 4
  • Daar word jaarliks meer as 85 miljoen motors vervaardig. Meer as 1 miljard motors word tans oor die wêreld heen gebruik. 5
  • Die Guinness-wêreldrekord vir die motor wat die meeste kilometer afgelê het, behoort aan Irvin Gordon van Alaska in die VSA wat teen 1 Mei 2014 altesaam 4,8 miljoen kilometer met sy 1966 Volvo 1800S gery het. 6
  • Hoewel daar honderde verskillende spoedrekords bestaan (gegrond op onder meer verskillende enjingroottes, voertuiggewig en -vorm), is die amptelike landspoedrekord steeds 1 227,985 km/h wat op 15 Oktober 1997 deur die Brit Andy Green in die Black Rock-woestyn in Nevada, VSA, opgestel is. 7
  • Terwyl miljoene mense daagliks van spoedbeheer (“cruise control”) gebruik maak, weet min mense dat dit deur die blinde ingenieur Ralph Teetor uitgevind is. 8
  • Om ’n motor se enjin te versien (te herstel), is nie ’n maklike taak nie. Dit is verstommend om te dink dat ’n motor uit tot 30 000 dele kan bestaan. Op 21 November 1985 het vyf lede van die Royal British Marines ’n wêreldrekord opgestel deur die motor van ’n Ford Escort binne net 42 sekondes te verwyder en vervang! 9
  • Die eerste ruitveër (wat nog met die hand beheer moes word) is in 1902 deur Mary Anderson gepatenteer. Dit was nadat sy in ’n motor gery en die bestuurder elke keer moes uitklim om sneeu met sy hand van die motor se ruit af te vee. 10
  • Altesaam 75% van die motors wat al ooit deur Rolls-Royce vervaardig is, word vandag nog op paaie aangetref. 11
  • Enzo Ferrari is op ’n dag glo deur die boer Feruccio Lamborghini beledig toe hy gesê het Ferrari-sportmotors is te raserig (lawaaierig) vir die pad. Die woedende Ferrari het vir Lamborghini gesê dat hy nie sulke opmerkings van ’n middeljarige trekkerboer waardeer nie. Die beledigde boer het besluit om self ’n sportmotor te maak en een van die “coolste” motorhandelsmerke in die geskiedenis is gebore. 12
Foto: iStock

Dit is heerlik om ver te gaan stap, te draf of fiets te ry, maar dit is darem baie gerieflik (en lekker warm in die winter of as dit reën) om in ‘n motor te kan ry. ’n Motor is ’n voertuig wat wiele het, ’n klein aantal passasiers kan vervoer en deur ’n enjin of motor aangedryf word om te beweeg. Vragmotors en busse is ook motorvoertuie, maar is baie groter as motors en kan baie passasiers en swaar vragte vervoer.

Dit is moeilik om te dink hoe die lewe was voordat daar motors was. Motors en ander voertuie maak dit moontlik om binne ’n stad of selfs oor ’n hele vasteland te reis! Waar mense vroeër jare naby hul werkplek moes woon omdat hulle werk toe moes stap of fiets ry, woon mense nou ver van die werk af en reis maklik daagliks heen en weer tussen hul werk- en woonplek.

Ongelukkig het die koms van motors ook nadelige gevolge. Tienduisende mense sterf jaarliks of word beseer in verkeersongelukke. Stede is dikwels vol verkeersknope weens die baie motors wat daar is en petrol is ’n beperkte bron (niehernubare energiebron) wat die atmosfeer besoedel as dit as brandstof verbrand word.

Deur die geskiedenis

Die eerste motor was ’n masjien met drie wiele wat deur stoom aangedryf is. Dit is in 1769 deur die Fransman Nicolas-Joseph Cugnot gebou. Dit was swaar en het baie stadig beweeg. Baie vervaardigers het gedurende die laat 1890’s en vroeë 1900’s stoomaangedrewe motors vervaardig. ’n Nadeel van stoom was dat water tot kookpunt gebring moes word voordat die motor kon ry. 1

‘n Gedenkplaat ter ere van Cugnot se stoomaangedrewe motor.

Gedurende dieselfde tydperk het ander vervaardigers motors gemaak wat deur elektriese motors aangedryf is. Elektriese motors het glad geloop en was maklik om te bestuur. Hulle het egter nie goed teen hoë snelhede gevaar nie en moes ook hul batterye ongeveer elke 80 km laai. Interessant genoeg word elektriese motors vandag weer baie gewild.

Die Belgiër Étienne Lenoir het in 1860 ’n petrolaangedrewe binnebrandenjin ontwikkel. In 1876 het die Duitser Nikolaus Otto ’n verbeterde petrolenjin gebou. Petrolenjins was baie meer betroubaar. Die broers Charles E. en J. Frank Duryea het die eerste suksesvolle petrolaangedrewe motor in die VSA in 1893 gebou. Kort voor lank het verskeie mense fabrieke opgerig om motors te vervaardig.

Talle mense reken dat Karl Benz die moderne motor uitgevind het. Hy het ’n vierslagbinnebrandenjin (“four stroke internal combustion engine”) gebruik om sy Benz Patent-Motorwagen in 1886 aan te dryf. Hy het baie motors in ’n fabriek begin vervaardig en in 1888 in Duitsland begin verkoop. 2

Karl Benz

Die Amerikaner Henry Ford het sy eerste motor in 1896 in Detroit in die Verenigde State van Amerika (VSA) gemaak. Ford het boonop die monteerbaan in 1913 bekendgestel. Dit het dit baie maklik gemaak om baie motors baie vinnig te vervaardig, want werkers bly op een plek en doen slegs een taak terwyl die onderdele op ’n vervoerband verbygaan. Ford het gou miljoene motors verkoop. Die Model T-weergawe was baie gewild en teen 1916 was 55% van alle motors in die wêreld Ford Model T’s.

Ford se Model T-motor van 1921.

In die tydperk ná die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) het motors makliker geword om te bestuur en was ook baie geriefliker. Staalbakwerke en verwarmers het algemeen geword.

Henry Ford het sy eerste motor in 1896 in Detroit in die VSA vervaardig.

Ná die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) het motorvervaardigers kragstuur, kragremme en outomatiese kontroles vir vensters en sitplekke begin gebruik. Lugversorging het ook sy verskyning gemaak.

Aan die einde van die 1950’s het Europese kompakte motors soos die Volkswagen Beetle ’n sensasie veroorsaak. Motorvervaardigers in die VSA het vanaf 1959 hul eie kompakte motors begin bou.

Teen die 21ste eeu het motorvervaardigers voertuie begin vervaardig wat van alternatiewe energiebronne gebruik maak. Sommige gebruik biobrandstof (soos etanol) of batterye. Die suksesvolste alternatiewe motors word hibriede genoem. Dit werk met ’n kombinasie van petrol en elektriese krag.

Het jy geweet?

Die dra van ’n veiligheidsgordel het eers in die vroeë 1980’s volgens wet verpligtend geword in die VSA. Dit het amper ’n paleisrevolusie ontketen. ’n Gallup-peiling het in Julie 1984 getoon dat 65% van Amerikaners teen die dra van ’n sitplekgordel gekant was.

Hoewel dié “veiligheidsharnas vir motors” reeds in 1885 deur Edward J. Claghorn gepatenteer is, was veiligheidsgordels tot 1968 nog ’n “ekstra” wat op bestelling én teen ’n ekstra koste in motors geïnstalleer is. Vandag kan ’n mens jou nie indink om sonder ’n gordel in ’n motor te ry nie. 3

‘n Antieke motor wat rondom 1910 op die pad te sien was.

Woordbank

hibriede Voertuig wat van meer as een aandryfstelsel gebruik maak, gewoonlik om energie te bespaar of ekologies vriendeliker te wees.
monteerbaan
‘n Band of ander vervoerstelsel waarop onderdele outomaties van een punt na ‘n ander beweeg.
sensasie Iets wat ‘n opskudding of groot opgewondenheid veroorsaak.
sitplekgordel Veiligheidsgordel aangebring aan ‘n motor- of vliegtuigsitplek.
verkeersknope Opeenhoping van voertuie wat weens ‘n versperring of bloot weens te veel voertuie terselfdertyd op die pad nie kan voortbeweeg nie.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die interessante geskiedenis van die motor

 

Hoe is motors uitgevind? Geskiedenis van dié vervoermiddel

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Januarie 2022 | Bygewerk op 5 Maart 2024