Vinnige feite

Daar is vier produksiefaktore:

  • Arbeid
  • Kapitaal
  • Natuurlike hulpbronne
  • Entrepreneurskap

Die produksieproses vind plaas wanneer besighede grondstowwe gebruik om produkte – waarvoor daar ‘n behoefte in die mark is – te produseer. Tydens hierdie proses word grondstowwe en ander insette dus verwerk om nuttige produkte vir die verbruikers te vervaardig. 1

Die produksieproses verwys na die aktiwiteite wat deur die produksie-afdeling (vervaardigingsafdeling) van die onderneming verrig word. 2

Die materiale wat die vervaardigers in die produksieproses gebruik, word insette genoem. Uitsette is die items wat uit die produksieproses verkry word. Alle uitsette wat verkry word, is nie noodwendig voltooide produkte wat alreeds deur die verbruikers aangekoop kan word nie.

Produktiwiteit

Produktiwiteit is ‘n maatstaf van hoeveel ‘n mens uitkry uit die moeite of insette wat jy met iets doen. Dit is ook die vervaardiging van produkte en die hoeveelheid wat vervaardig word, in ‘n bepaalde tydsperiode. Indien die produktiwiteit vrugte afwerp sal dit tot wins lei. 2

Produksiefaktore

Produksiefaktore word deur die produksieproses gebruik om goedere en dienste te produseer. Daar word ook na produksiefaktore verwys as die insette in die produksie proses.

Daar is vier produksiefaktore:

Arbeid

Arbeid verwys na die intellektuele en fisieke insette van mense wat vir die produksie van goedere en dienste aangewend word. Dit is dus die werk wat werknemers verrig om produkte te produseer. Dit is ook een van die belangrikste faktore in die produksieproses. Werknemers is ‘n waardevolle bate vir die besigheid; sonder die fisieke en intellektuele arbeid van werknemers sou geen van die ander produksiefaktore bymekaar kon kom om goedere of dienste te vervaardig nie. Die sukses van ‘n besigheid hang af van die werknemers se prestasie.

Daar is verskillende arbeidkategorieë:

Ongeskoolde arbeid

Ongeskoolde arbeid is werk wat gedoen word deur werkers wat geen vaardigheidsopleiding of ervaring in ‘n bepaalde werksomgewing nodig het nie, byvoorbeeld huiswerkers of plaasarbeiders.

Halfgeskoolde arbeid

Halfgeskoolde arbeid verwys na werk wat uitgevoer word deur individue met meer opleiding en vaardighede as ongeskoolde arbeiders, maar minder opleiding as geskoolde werkers. ’n Halfgeskoolde werker kan ’n eenvoudige taak uitvoer met behulp van eenvoudige gereedskap en masjinerie.

Geskoolde arbeid

Geskoolde arbeid dui op werk wat verrig word deur enige werkers met ‘n spesiale vaardigheid, kennis of wat ‘n spesiale vermoë in sy werk opgedoen het. Geskoolde werkers het gewoonlik ‘n vorm van naskoolse opleiding by ‘n kollege of universiteit ontvang of spesiale vaardighede by die werk opgedoen. 3

Kapitaal

Kapitaal is die bates wat in die produksieproses gebruik word. Dit sluit masjinerie en toerusting in, byvoorbeeld vragmotors waarmee hout en meubels vervoer word, die masjiene soos sae en ander houtgereedskap om meubels mee te maak, asook die rekenaars waarmee kommunikasie gedoen word en rekeninge gestuur word. 1

Die volgende soorte kapitaal kan onderskei word:

Geleende kapitaal

Dit is enige geld wat ‘n entrepreneur of sake-eienaar vir die doel van die vestiging en bedryf van ‘n besigheid leen. Geld word meestal by ‘n bank of belegger wat vertroue in die toekomstige winsgewendheid van die besigheid het, geleen.

Eie kapitaal

Dit verwys na enige geld wat uit die entrepreneur of eienaar se persoonlike spaargeld – wat hulle in die besigheid belê het – kom.

Natuurlike hulpbronne

Natuurlike hulpbronne, is die hulpbronne wat natuurlik op die aarde voorkom en gebruik word om goedere en dienste te vervaardig.

Dit sluit in: grondstowwe, minerale en voedingstowwe, water, natuurlewe en plantegroei op die aarde se oppervlak en in die lug.

Sommige besighede benodig meer hulpbronne as ander. ‘n Besigheid wat houtmeubels maak, het baie natuurlike hulpbronne – soos hout – nodig. ‘n Besigheid wat rekenaars herstel, het daarenteen minder natuurlike hulpbronne nodig. 3

Entrepreneurskap

Entrepreneurskap is die ondersoek na en ontdekking van nuwe en innovasiegeleenthede wat tot die vorming van nuwe ondernemings lei. ‘n Entrepreneur is iemand wat ‘n onderneming begin of planne bedink om  wins te maak, wat soms risiko’s kan inhou. 2

Entrepreneurskap is die produksiefaktor wat al die ander produksiefaktore bymekaar bring en hulle in werking stel. ‘n Entrepreneur is dus die dryfveer agter die produksieproses, iemand wat inisiatief neem en innoverend is. Dit is iemand wat bereid is om kanse te vat en die vermoë het om ander te inspireer. Entrepreneurs het ook baie deursettingsvermoë en kan sake goed bestuur.

Nywerheidsektore

‘n Sektor is ‘n afdeling of gebied van iets of die manier waarop besigheidsaktiwiteite gegroepeer kan word. 2

In die ekonomie is daar drie hoofsektore:

Primêre sektor

Hier vind die ontginning van grondstowwe – meestal in landelike gebiede – plaas. Voorbeelde hiervan is boerdery, visserye, bosbou, mynbou en jag.

Sekondêre sektor

Dit is hoofsaaklik die vervaardigingsproses wat in die industriële areas voorkom. In hierdie sektor word die grondstowwe uit die primêre sektor gebruik om produkte vir menslike gebruik te verwerk of te vervaardig. Voorbeelde hiervan is voedsel- en klere fabrieke, motorfabrieke, skeepsbouwerke, vliegtuigvervaardigers en enige bouwerk.

Tersiêre sektor

Dié ekonomiese sektor word deur dienslewering gekenmerk. Voorbeelde hiervan is skole vir opvoedkundige dienste, hospitale vir gesondheidsorg, banke en geldbestuursdienste, regsfirmas, restaurante en die toerisme- en vermaaklikheidsbedrewe, asook handelaars. 1

Nog voorbeelde:

Primêre sektor

Sekondêre sektor

Tersiêre sektor

Mielieboerdery Fabriek waarin mielieprodukte vervaardig word.

 

Handelaars soos kruidenierswinkels wat mieliemeel verkoop
Myne Staalwerke, platinum vervaardigers, diamant snyers. Juwelierswinkels, staal wat na konstruksiemaatskappye gaan vir bouwerk.

 

Houtkappers Saagmeule, meubelfabrieke. Handelaars, soos meubelwinkels. Meubels word aangewend in huise, skole en besighede. Skole wat ‘n opvoedkundige diens verskaf, wend skoolbanke en stoele aan wat verkry is vanaf die meubelfabrieke.

 

Skaapboerdery Slaghuise en materiaalfabrieke Handelaars, soos kruidenierswinkels en klerewinkels, asook restaurante wat ‘n diens aan die publiek lewer. 6

 

Menslike impak op natuurlike hulpbronne

Die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne is noodsaaklik vir ‘n effektiewe produksieproses. Menslike aktiwiteite het ‘n groot invloed op die beskikbaarheid en kwaliteit van natuurlike hulpbronne. Voertuie en fabrieke gebruik groot hoeveelhede ru-olie produkte daagliks. Ongeveer 40% van die wêreld se elektrisiteit is van steenkoolgedrewe kragstasies afkomstig. Die gebruik van soveel fossielbrandstowwe kan tot die uitputting van hierdie bron lei, en die gasse – wat weens die verbranding van hierdie stowwe vrygelaat word – kan verder tot die vrylating van toksiese materiale in die lug, water en grond lei.  Dit plaas baie druk op regerings om die vrylating van hierdie toksiese materiale in die atmosfeer te verminder, aangesien dit bydra tot aardverwarming.

Selfs hernubare natuurlike hulpbronne moet versigtig bestuur word om die misbruik daarvan te voorkom. Ontbossing, myne en grondontwikkeling het baie ekosisteme vernietig en water en grond besoedel of beskadig. Die bou van damme en oewerwalle saam met die gebruik van water vir besproeiing het ‘n groot effek op die kwaliteit van water en verspreiding in sekere areas. 4

Die mens het ‘n groot verantwoordelikheid om die natuurlike hulpbronne met die nodige respek en versigtigheid te bestuur en te hanteer. Die bewaring van die aarde se natuurlike hulpbronne is ‘n belangrike brandpunt waaraan dringend aandag gegee word. Daar is vordering met projekte wat byvoorbeeld meebring dat ongeveer 18% van die wêreld se elektrisiteit met hernubare energiebronne soos die wind, sonpanele en waterkrag verskaf kan word. Wetenskaplikes en ingenieurs is voortdurend besig om nuwe metodes te probeer vind om produkte te vervaardig wat minder besoedeling en afvalstowwe veroorsaak. Intussen moet elke mens so bedagsaam moontlik wees om by te dra tot die verantwoordelike gebruik en bewaring van die aarde se natuurlike hulpbronne. 5

Natuurlike hulpbronne kan verdeel word in hernubare en nie-hernubare hulpbronne:

Hernubare hulpbronne

‘n Hernubare hulpbron in ‘n natuurlike hulpbron wat nie uitgeput (of op gebruik) kan word nie. Dit kan dus vervang word, byvoorbeeld lug, water, grond, plante en diere. 5

Nie-hernubare hulpbronne

‘n Nie-hernubare hulpbron is ‘n natuurlike hulpbron wat nie vervang kan word nadat dit gebruik is nie. Dit beteken dat daar slegs ‘n bepaalde hoeveelheid van hierdie hulpbronne op die aarde beskikbaar is. Rots, minerale, metale, uraan en fossielbrandstowwe soos ru-olie, steenkool en natuurlike gas is voorbeelde van nie-hernubare hulpbronne. 4

Die betekenis van ekonomiese groei

Ekonomiese groei is wanneer die totale produksie van goedere en dienste van een tydperk na ‘n ander toeneem. Dit word gemeet as ’n persentasie verandering in ’n ekonomie se bruto binnelandse produk (BBP). BBP is die totale waarde van al die produkte en dienste wat die land oor ’n spesifieke tydperk produseer.

Vir ’n land se ekonomie om te groei is dit belangrik dat werkloosheidsyfers laag moet wees en dat die bevolking van daardie land gesond, opgevoed en geskoold moet wees om produktief te kan werk. 1

Die rol van tegnologie in die produksieproses

Besighede gebruik tegnologie om die produksieproses vinniger en doeltreffender te maak. Masjiene en rekenaars word gebruik om handprosesse te outomatiseer om dit te bespoedig en effektiewer te maak.

Tegnologie hou die volgende voordele in:

  • Dit werk vinniger as mense en kan meer foute uitskakel.
  • Waar mense kan moeg word of hul aandag afgelei kan word van ‘n bepaalde taak, kan tegnologie ongesteurd voortgaan met die produksie van goedere, selfs deur die nag.
  • Om tegnologie – soos spesifieke masjinerie – aan te koop, is ‘n eenmalige uitgawe en nie ‘n maandelikse uitgawe – soos werknemers se salarisse – nie.
  • Dit vereis nie gereelde opleiding, soos die geval is met werknemers, nie. (Behalwe vir die instandhouding aan die masjinerie.)

Woordbank

hulpbronne Enigiets wat tot nut van die mens is, veral met betrekking tot bestaansmiddele.
wins Die ekstra geld wat jy maak deur iets te verkoop of sake te doen, nadat jy al jou onkoste betaal het. 2
Grafika: Sandra AdendorffFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 September 2021 | Bygewerk op 26 Maart 2024