Vinnige feite

  • In 1908 is Churchill met Clementine Hozier getroud en die egpaar het vyf kinders gehad – Diana, Randolph, Sarah, Marigold en Mary.
  • Gedurende Churchill se 55 jaar in die parlement (1900-1955), het hy onder ses Britse monarge gedien: koningin Victoria; konings Edward VII, George V, Edward VIII en George VI; asook koningin Elizabeth II. 34
  • Churchill is die enigste persoon wat tydens albei Wêreldoorloë ʼn lid van die Britse regering was. Hy was ook die laaste persoon (wat nie ʼn lid van die Britse koninklike familie is nie) wat ʼn staatsbegrafnis ontvang het.
  • Ondanks sy vurige toesprake het Churchill ʼn sagte hart gehad en hy’t glo gereeld ʼn traan in die parlement gepink. 36
  • Die akteur Benedict Cumberbatch (Doctor Strange) en die sanger James Blunt (“You’re Beautiful”) is deel van ʼn rits bekende mense wat dieselfde seunskool (Harrow School) as Churchill bygewoon het. Dié skool in die noordweste van Londen bestaan reeds sedert 1572. 37
  • Prins William die Britse troonopvolger nadat sy pa, Charles III, koning geword het die afsterwe van sy ouma, koningin Elizabeth II en sy broer, prins Harry, het ook hul weermagopleiding by die Britse koninklike militêre akademie by Sandhurst ontvang. 38
  • Die Amerikaanse regering vereer buitelanders op verskeie maniere met, onder meer, die presidensiële medalje van vryheid (Medal of Freedom). Een van die mees gesogte en minder bekende toekennings is ereburgerskap van die VSA. Winston Churchill was op 9 April 1963 die eerste persoon om met dié toekenning (deur die destydse Amerikaanse president John F. Kennedy) vereer te word. Net agt mense in die geskiedenis het al dié toekenning ontvang. 39
  • Churchill was omtrent soos ʼn kat met nege lewens. Toe hy jonk was, het hy (as deel van ʼn speletjie) van ʼn brug afgespring, harsingskudding opgedoen en ʼn nier beskadig. Later jare het hy byna in ʼn meer verdrink, sy skouer ontwrig toe hy van ʼn skip afgeklim het, gereeld van perde afgeval, sy vliegtuig het neergestort én hy is in die VSA deur ʼn motor raakgery. 40
  • Churchill was ʼn groot sigaarliefhebber en het tot tien per dag gerook. Hy’t selfs ʼn spesiale silwer asbakkie gehad wat hy oral met hom saamgeneem het. Vandag kry ʼn mens ʼn verskeidenheid Churchill-sigare (wat ʼn spesifieke grootte en dikte is) wat vir langer as ʼn uur brand. 41

“Ons sal ons eiland verdedig, ongeag die koste… Ons sal veg op die strande, ons sal veg op die landingsplekke, ons sal veg in die veld en in die strate, ons sal veg op die heuwels; ons sal nooit oorgee nie.” 1

Dié woorde uit een van Winston Churchill se bekende toesprake is wat hom as een van die grootste leiers van die 20ste eeu onderskei; ʼn kanniedood wat Brittanje deur een van die moeilikste tye in die geskiedenis gelei het. Dié voormalige eerste minister van Brittanje was nie net ʼn besonderse staatsman tydens veral die Tweede Wêreldoorlog nie, maar ook ʼn formidabele spreker, vernuftige skrywer en vlytige skilder wat selfs ʼn draai in Suid-Afrika gemaak het!

Tydens die Tweede Wêreldoorlog

Geboorte en vroeë lewe

Winston Leonard Spencer Churchill is op 30 November 1874 in die Blenheim-paleis in Oxfordshire, Engeland, gebore. Sy pa lord Randolph Churchill was ʼn ryk en vername politikus en sy ma Jennie Jerome was oorspronklik van die Verenigde State. 2

Churchill, wat in Dublin, Ierland grootgeword het, se ouers was sosiale vlinders (socialites) en het die jong Churchill baie afgeskeep. Sy oppasser, Elizabeth Ann Everest, het gevolglik ʼn baie groot rol in sy kinderdae gespeel en hy was baie geheg aan “Woomany” – een van sy troetelname vir haar (afgelei van ‘woman’). 3

Churchill was ʼn opstandige leerder (rebel) en hy het nie baie goed presteer in die twee privaat skole wat hy bygewoon het nie. In April 1888 verruil hy Ierland vir Londen waar hy ʼn koshuisleerder by Harrow School word. Binne weke ná sy aankoms by dié seunskool sluit Churchill by Harrow se skietklub aan en begin hy dit sterk oorweeg om by die weermag aan te sluit. 4

Om aan ʼn skietklub te behoort, is een ding, maar om tot die gesogte Britse koninklike militêre akademie (British Royal Military Academy Sandhurst of RMAS) toegelaat te word, is ʼn perd van ʼn ander kleur. Churchill druip die toelatingseksamen twee keer en kry eers met sy derde probeerslag keuring. Hy is egter só gemaklik in sy kamoefleerdrag dat hy uitstekend vaar en eindelik 20ste uit sy klas van 130 gradueer. 5

Sy weermageenheid (ʼn kavallerie-eenheid genaamd 4th Hussars) 6 word in 1895 in Kuba gestasioneer (waar sy lewenslange liefde vir Kubaanse sigare posvat) waarna hy, onder meer, in Indië en Soedan uitgeplaas word om met die geweer as soldaat en pen as oorlogskorrespondent (koerantverslaggewer) diens te doen. 7

Oorlogsgevangene in Suid-Afrika

In 1899 werk die 24-jarige Churchill as korrespondent vir die koerant The Morning Star en doen verslag oor die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in Suid-Afrika. Op 15 November 1899 word die trein waarop Churchill gery het, deur die Boere in ʼn lokval gelei. Churchill word gevange geneem en in ʼn kamp vir krygsgevangenes in Pretoria opgesluit. Hy slaag egter in Desember 1899 daarin om te ontsnap. Danksy die hulp van ʼn Engelse mynbestuurder skuil Churchill eers in ʼn myn en daarna in verskeie goederetreine totdat hy Mosambiek (wat toe Delagoabaai genoem is) bereik. 8

In gevangeneskap

Van hier af is hy per stoomskip na Durban waar hy ʼn heldeontvangs kry (sy ontsnapping was groot nuus in Suid-Afrika en oorsee). Vir die volgende paar maande werk hy (weer) as ʼn korrespondent in Natal, wat toe onder Britse beheer was, maar keer in 1900 terug na Brittanje met ʼn knapsak vol planne om die politieke verhoog te betree. In dieselfde jaar skryf Churchill die boek London to Ladysmith via Pretoria oor sy wedervaringe in Suid-Afrika. 9

Winston Churchill (regs) as gevangene van die Transvaalse magte

Churchill die politikus

In 1900 sluit Churchill by die Konserwatiewe Party aan. In Oktober dié jaar wen hy die setel van Oldham en word ʼn lid van die parlement (LP) in die Laerhuis (House of Commons). Oor die jare sou hy gereeld van party verander – dán was hy ʼn lid van die Konserwatiewe Party en dán weer van die Liberale Party (na gelang van met wie se beleid hy saamgestem het).

In sy lang politieke loopbaan van meer as 60 jaar was hy die LP van drie verskillende distrikte: Manchester-Noordwes (1906-08), Dundee (1908-22) en Woodford (1924-64). Hy’t deur die jare ook verskeie uiteenlopende posisies in die Britse kabinet beklee, onder meer, minister van handel, minister van binnelandse sake asook wapens (munisie), oorlog en die lugmag. Van 1924 tot 1929 was hy minister van finansies, ʼn pos wat ook voorheen deur sy pa beklee is, en hy was ook by twee geleenthede hoof van die Britse vloot. 10

Maatskaplike hervorming, waar daar na die belange van arm mense omgesien word, was vir Churchill baie belangrik. Hoewel hy groot teenstand gekry het, het hy noemenswaardige wetgewing hieroor deurgevoer gekry, waaronder ’n minimumloon, ’n werksdag van maksimum agt uur vir mynwerkers, hoër belasting vir rykes, ouderdomspensioen, asook werkloosheidsversekering en siektevoordele. Hierdie hervormingsmaatreëls het die grondslag van Britse maatskaplike beleid geword en bestaan tot vandag toe. 11

Eerste Wêreldoorlog (1914-1918)

In 1911 verskuif Churchill sy aandag weg van die binnelandse politiek af toe hy die hoof van die Britse vloot word. Churchill het opgemerk dat Duitsland sy vere vir ’n oorlog begin regskud, en hy begin om Brittanje op ʼn moontlike oorlog voor te berei: Hy het die Royal Naval Air Service gestig, die Britse vloot (skepe) gemoderniseer en gehelp om een van die vroegste tenks te ontwikkel. 12

Ten spyte van Churchill se voorgevoel én voorbereiding, het hy nie baie lof ontvang vir sy aandeel in die Eerste Wêreldoorlog nie. In die Eerste Wêreldoorlog het die Geallieerdes (Frankryk, Brittanje, Rusland, Italië, Japan en – vanaf 1917 – Amerika) teen die Sentrale Magte (Duitsland, Oostenryk-Hongarye en Turkye) geveg. 13

Sy een rampspoedige militêre veldtog was die 1915-inval van die Dardanelle- en Gallipoli-skiereiland in Turkye. Dié skiereiland was die verbinding tussen die Middellandse See en die Swart See, en ʼn oorwinning hier sou Rusland baie gehelp het. Churchill het gehoop dat hierdie offensief (aanval) Turkye uit die oorlog sou verdryf, maar die Turkse weerstand was baie strawwer as wat hy verwag het. Ná nege maande en 250 000 sterftes het die Geallieerdes stert tussen die bene aan die gebied onttrek. Hoewel die Geallieerdes die Eerste Wêreldoorlog gewen het, het Churchill se reputasie skade gely en lê hy die tuig neer as hoof van die vloot. 14

Tweede Wêreldoorlog (1939-1945)

Nadat Adolf Hitler se Nazi’s in 1933 in Duitsland aan bewind gekom het, waarsku Churchill sy landgenote oor die gevare van Duitse nasionalisme. Die Britte was egter moeg vir oorlog maak en wou nie weer by internasionale sake betrokke raak nie. Ook die Britse regering het Churchill se waarskuwings geïgnoreer en wou net uit Hitler se pad bly.

In 1938 het Neville Chamberlain, toe die Britse eerste minister, selfs ʼn ooreenkoms onderteken (die Munich-ooreenkoms) wat ʼn deel van Tsjeggo-Slowakye aan Duitsland gegee het in ruil vir ʼn belofte van vrede. “Gooi ʼn klein staat vir die wolwe!” het Churchill geskel.

ʼn Jaar later het Hitler sy belofte van vrede verbreek en Pole binnegeval. Brittanje en Frankryk verklaar oorlog, “die vredemaker” Chamberlain word uit sy amp ontslaan, en in Mei 1940 word Churchill eerste minister. 15

“Ek het niks om te bied nie, behalwe bloed, moeite, trane en sweet,” het Churchill (wat ook die Britse Bulhond genoem is) in sy eerste toespraak as eerste minister gesê.

“Ons het baie, baie lang maande van stryd en lyding voor ons. Wat is ons beleid? Dit is om oorlog te voer, op die see, land en in die lug, met al ons krag en met al die krag wat God ons kan gee; om oorlog te voer teen ʼn monsteragtige tirannie. Wat is ons doel? Oorwinning. Oorwinning ten alle koste, hoe lank en moeilik die pad ook al is; want sonder oorwinning is daar geen oorlewing nie.” 2

Tweede Wêreldoorlog

Net soos Churchill voorspel het, was die pad na oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog lank en moeilik: Frankryk is in Junie 1940 deur die Nazi’s verslaan en in Julie het Duitse vegvliegtuie vir drie maande lank verwoestende lugaanvalle op Brittanje uitgevoer.

Hoewel die toekoms somber gelyk het, het Churchill alles in sy vermoë gedoen om die Britte moed in te praat. Hy het roerende toesprake in die parlement en oor die radio gehou. Hy het ook die Amerikaanse president Franklin D. Roosevelt oorreed om oorlogsvoorrade – ammunisie, gewere, tenks en vliegtuie – aan die Geallieerdes te verskaf, lank voordat Amerika in Desember 1941 tot die oorlog toegetree het (nadat Japan Pearl Harbor gebombardeer het). 16

Hoewel Churchill een van die hoofargitekte van die Geallieerdes se oorwinning was, was die Britse kiesers vuisvoos ná die oorlog. Net twee maande ná Duitsland se oorgawe in 1945 word die Konserwatiewe Party (en Churchill as eerste minister) uit die kussings gelig. 17

Churchill het die volgende paar jaar spandeer om die Britte en Amerikaners te waarsku oor die gevare van die Sowjetunie (vandag staan dit as Rusland bekend). In 1946 lewer hy ʼn toespraak waarin hy die “groeiende gevaar vir die Christelike beskawing in Europa” as ʼn “Ystergordyn” beskryf. Dié term is gou deur almal gebruik om die “kommunistiese bedreiging” te beskryf. 18

Winston Churchill

In 1951 word die 77-jarige Winston Churchill vir die tweede keer as eerste minister verkies en hy probeer hard (ongelukkig onsuksesvol) om spanning tussen die Ooste en die Weste te ontlont. Sy gesondheid begin al hoe meer agteruitgaan en Churchill tree in April 1955 as eerste minister uit. Hy is egter nog tot in 1964 ʼn lid van die parlement. 19

Churchill die spreker

Churchill was ʼn uitstekende redenaar (openbare spreker) wat die Britse volk en soldate voortdurend geïnspireer en opgebeur het. Anders as die politici van vandag het Churchill nie ʼn span mense gehad wat sy toesprake vír hom geskryf het nie; hy het elke woord self haarfyn beplan en neergepen. 20

Churchill het egter, net soos sy pa, gesukkel om “s”- en “z”-klanke uit te spreek. ʼn Mens noem dié spraakprobleem of -gebrek lispel. Dit is as jy sekere klanke met ʼn gesis (of onduidelik) uitspreek. 21 Die “s”-klank word byvoorbeeld as “sh” uitgespreek. 22

Churchill het in 1897 by sir Felix Semen, ʼn spesialis in spraakprobleme, om hulp aangeklop. Volgens Semen het Churchill se lispel nie ʼn mediese oorsaak gehad nie, en hy het aanbeveel dat Churchill stemoefeninge doen om dié probleem te oorkom. 23 Churchill het hard geoefen deur sinne soos “Die Spaanse skepe kan ek nie sien nie, want hulle is nie in sig nie” (“The Spanish ships I cannot see for they are not in sight”) herhaaldelik hardop te sê. Hy het ook baie lank aan sy toesprake voorberei, en selfs antwoorde op vrae wat hy moontlik kon ontvang, geoefen. Hy het later trots gesê: “My gebrek is nie ʼn struikelblok nie.” 24

Al beweer sommige mense dat Churchill gehakkel het, was dit nie die geval nie. As ʼn mens na sy toesprake luister, is dit duidelik dat hy probeer het om woorde wat met ʼn “s” begin, te vermy. Hy sou partykeer vir ʼn oomblik wag en dink voordat hy verder praat, wat verkeerdelik met hakkel verwar kan word. Wanneer hy wel woorde met ʼn “s” gebruik het, was dit ʼn bekoorlike deel van sy intonasie en redenasie. Trouens, hy het sy lispel tot sy voordeel gebruik om dele van sy toesprake te beklemtoon. Hy het tot groot vermaak van baie mense byvoorbeeld van “Narzees” pleks van “Nazi’s” gepraat. 25

Churchill en sy vrou, Clementine

Tien treffende Churchill-aanhalings

  1. “Dít is die les: Moet nooit toegee nie, nooit, nooit, nooit, nooit – aan niks nie, reusagtig of klein, groot of gering – moet nooit toegee nie, behalwe aan oortuigings van eer en goeie verstand. Moet jou nooit oorgee aan geweld nie; gee nooit toe aan die oënskynlik oorweldigende mag van die vyand nie.”
  2. “Vrees is ʼn reaksie. Waagmoed is ʼn besluit.”
  3. “Ek het niks om te bied nie, behalwe bloed, moeite, trane en sweet.”
  4. “Die nasie het die hart van ʼn leeu gehad. Ek was bloot gelukkig om opgeroep te word om die brulgeluid te maak.” 26
  5. “Sukses is nie finaal nie, mislukking is nie noodlottig (fataal of dodelik) nie; dit is die moed om voort te gaan, wat tel.”
  6. “Het jy vyande? Goed so. Dit beteken jy het opgestaan vir iets in jou lewe.”
  7. “Deurlopende inspanning – nie krag of intelligensie nie – is die sleutel om ons potensiaal te ontsluit.”
  8. “Houding is ʼn klein dingetjie wat ʼn groot verskil maak.”
  9. “Sukses is die vermoë om van een mislukking na die volgende te beweeg, sonder om entoesiasme te verloor.”
  10. “As ons ʼn rusie tussen die verlede en die hede toelaat, sal ons vind dat ons die toekoms verloor het.” 27

Churchill die skrywer en skilder

Churchill is nie net bekend vir sy skerpsinnige sêgoed (aanhalings) nie, maar hy was ook ʼn bekroonde skrywer van meer as 40 boeke (bestaande uit sowat 70 volumes). 28 Churchill het dikwels onder die naam Winston S. Churchill geskryf om homself van ʼn Amerikaanse romanskrywer met dieselfde naam te onderskei. Hy het meestal niefiksieboeke geskryf, soos biografieë, memoires en artikels. Die enigste roman (fiksie) wat hy geskryf het, was Savrola: A Tale of the Revolution in Laurania (1900).

Die agting (respek) wat mense vir sy skryfwerk gehad het, blyk duidelik uit die feit dat hy van 1946 tot 1952 (behalwe in 1947) jaarliks vir die Nobelprys vir Letterkunde benoem is. Hy het dié gesogte toekenning in 1953 gewen en 24 ander genomineerdes uitgestof. Volgens die Nobelpryskomitee het Churchill dié eerbewys ontvang “vir sy bemeestering van historiese en biografiese beskrywing asook vir briljante redevoering in die verdediging van verhewe menslike waardes.” 29

Camara de Lobos, Madeira. In die agtergrond is Churchill se hoek, waar hy baie tyd deurgebring het aan skilderwerk

Hoewel hy eers in sy veertigs begin skilder het, het Churchill meer as 500 skilderye oor ʼn tydperk van bykans 50 jaar geskep. Sy bewondering van kunstenaars soos Édouard Manet, Claude Monet en Paul Cézanne kan duidelik in sy werk gesien word. Hy was baie lief daarvoor om landskappe (skilderye of tekeninge van die omgewing of natuurtonele) en stillewes (skilderye van lewelose voorwerpe wat gerangskik word, soos blomme of vrugte) met olieverf te skilder. 30

Gedurende die lente en somer van 1959 het die Royal Academy ‘n uitstalling van baie van sir Winston Churchill se skilderye in sommige van sy kamers by Burlington House aangebied. Dit was ‘n reusesukses, met meer as 3 000 besoekers op die openingsdag, wat ‘n rekord vir ‘n eenmanvertoning was. Teen die tyd dat die uitstalling gesluit het, het meer as 14 000 mense dit besoek. 31

Churchill het agt beroertes deur sy lewe gehad – die laaste een was op 15 Januarie 1965, waarna hy in ʼn koma verval het. 32 Hy is op 24 Januarie 1965 oorlede en by die Blenheim-paleis, die plek waar hy 90 jaar tevore gebore is, begrawe. 33

Woordbank

aanhaling Woordelik(s)e weergawe van iets wat iemand gesê/geskryf het. 42
biografieë Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word; lewensbeskrywing. 40
eerste minister Hoof van ʼn verkose regering of van ʼn kabinet in sekere regerings. 40
fiksie Literatuur, veral prosa, wat ʼn beskrywing van denkbeeldige mense, dinge en gebeure gee; denkbeeldige voorstelling; verdigsel; versinsel (het dus nie regtig gebeur nie, die mense en plekke bestaan nie werklik nie). 40
geallieerdes ʼn Groep lande bestaande uit Brittanje, Frankryk, Rusland (die Sowjetunie) en die VSA wat saam teen Duitsland en Japan tydens die Tweede Wêreldoorlog geveg het. 43
hakkel Met rukke en stote praat/lees omdat sekere klanke onwillekeurig herhaal of weens ʼn spraakgebrek nie maklik uitgespreek kan word nie; stamel; stotter. 40
intonasie Modulasie (verandering) van die stem; stembuiging. 40
kanniedood Iemand wat oor ’n groot uithouvermoë beskik. 40
kavallerie Soldate te perd; ruitery. 40
kommunisme Totalitaristiese regeringstelsel waarin die staat eienaar is van die vernaamste nywerhede, en deur middel van een party die ekonomiese, maatskaplike en kulturele lewe van die volk beheer. 40
korrespondent Iemand wat van ʼn bepaalde plek af vir of oor ʼn bepaalde onderwerp vir ʼn koerant/TV-stasie/ens. oor belangrike nuus verslagdoen. 40
krygsgevangenes Soldaat wat tydens ʼn oorlog in die vyand se hande geval het en gewoonlik in ʼn kamp opgesluit word. 40
lispel Sekere klanke, veral die [s] en [z] met ʼn gesis uitspreek; onduidelik uitspreek; fluister. 40
lokval Plan/plek ontwerp om iemand/iets onverhoeds te vang. 40
memoires Geskrif waarin iemand sy/haar belewenisse opgeteken het sodat dit nie vergeet moet word nie; gedenkskrif. 40
monargie Staat/regeringsvorm met ʼn monarg (vors soos ʼn koning, koningin of keiser) aan die hoof. ʼn Monarg het nie politieke mag nie (kan nie wette maak of sê hoe ʼn land regeer moet word nie); die monargie vervul meestal ʼn seremoniële en raadgewende rol. 44
nasionalisme Liefde vir die eie volk/nasie/vaderland. 40
niefiksieboeke Letterkunde (skryfwerk) wat nie in die verbeelding geskep is nie, maar die werklikheid weergee, soos wetenskaplike werke, geskiedskrywing (ware historiese gebeure), biografieë (ware verhale oor ʼn persoon se lewe). 40
redenaar Iemand wat ʼn rede/toespraak hou/lewer; begaafde spreker. 40
sosiale vlinders ʼn Persoon wat bekend of gewild is in die samelewing en lief is vir sosiale aktiwiteite en vermaak. 45
spesialis ʼn Dokter wat meer van ʼn bepaalde soort siekte/behandeling weet as ander dokters; mediese spesialis. 40
gestasioneer Op ʼn bepaalde plek geplaas of daar ʼn plek hê. 40

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Luister na Winston Churchill se “Ons sal nooit oorgee nie”-toespraak

Dokumentêre rolprent “A Giant in The Century”

Winston Churchill spreek die Britse nasie toe nadat Duitsland in 1945 verslaan word

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Mei 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024