Vinnige feite

  • Sy een broer was T.L. Schreiner, ʼn Uniesenator, en sy een suster was die bekende romanskrywer Olive Schreiner. 1
  • Schreiner het ʼn senior juris in die Cambridge Law Tripos geword. 1
  • Schreiner was die eerste en enigste Suid-Afrikaans gebore eerste minister van die ou Kaapkolonie. 6
  • Schreiner was ʼn geesdriftige sportman en ʼn uitmuntunde rotshengelaar. 1
  • Schreiner was ʼn Vrymesselaar (“Free Mason”), ʼn wêreldwye organisasie wat liefdadigheidswerk doen en by die gemeenskap betrokke is. 1

William Philip Schreiner (1857-1919) was ʼn prokureur, staatsman en premier van die Kaapkolonie tussen 1898 en 1900. Soos sy meer bekende suster, Olive Schreiner, was hy ‘n humanis en liberalis – iemand wat geglo het aan menslike waardigheid en vryheid, wat nierassigheid en die regte van swart mense voorgestaan het, en wat bereid was om ander mense se idees te aanvaar en respekteer. 1 In hierdie opsig was hy járe voor meeste van sy tydgenote.

Vroeë jare

W.P. Schreiner is op 30 Augustus 1857 op die Wittenbergen-sendingstasie in die Kaapkolonie gebore, die vyfde seun van die Duitse sendeling Gottlob Schreiner, en sy Engelse vrou, Rebecca Lyndall. 2 Schreiner het in 1874 met lof gematrikuleer aan die South African College in Kaapstad, en drie jaar later die hoogste punte gekry in sy Letterkunde- en Wetenskapeksamens aan die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop. In 1878 het hy na Brittanje vertrek, waar hy aan die Universiteit van Londen en toe by Downing College, Cambridge, regte gestudeer het. 1

Olive Schreiner.

Vroeë professionele lewe

Nadat hy in 1882 in Brittanje as prokureur gekwalifiseer het, het hy teruggekeer Kaapstad toe. Hy is toegelaat tot die Kaapse hooggeregshof, en het ʼn prokureurskantoor in Adderleystraat gevestig. Deur harde werk het hy gou ʼn winsgewende praktyk gehad. 1 Hy was ook buite sy praktyk bedrywig: In 1885 het hy die opsteller van wetsontwerpe (daardie weergawe van die wet wat eers in die parlement bespreek word voor dit aanvaar word) geword, in 1887 die goewerneur se regsadviseur, en in 1889 die regsadviseur van die De Beers-mynmaatskappy in Kimberley. Teen 1892 was hy ʼn senior advokaat. 1

Politieke loopbaan

Schreiner het van jongs af by die politiek betrokke geraak. In 1889 was hy op ʼn regeringsending Swaziland toe, en in Maart 1890 het hy ʼn vergadering bygewoon waar hy die Britse Hoë Kommissaris, sir Henry Loch, president Paul Kruger van die Zuid-Afrikaanse Republiek en die toekomstige Kaapse premier, Cecil John Rhodes, ontmoet het. Hy het die eerste Swazilandse Konvensie van 1890 opgestel – waarmee Brittanje aan Swaziland selfregering gegee het. In 1891 het die Britte hom vir sy dienste in Swaziland beloon deur hom tot ridder van die Orde van St. Michael en St. George te slaan. 1

Cecil John Rhodes.

In Mei 1892 word Schreiner vir die eerste keer ʼn lid van die Kaapse regering toe Rhodes hom die prokureur-generaalskap in sy kabinet aanbied. 1

In hierdie tyd is hy ook verkies tot die parlement. Tydens die verkiesingsveldtog het hy belowe om hom te beywer vir die politieke en ekonomiese ontwikkeling van wat in daardie dae Bantoereservate genoem is – daardie gebiede waar die swart mense gewoon het. Die Afrikanerbond, ʼn Afrikaner politieke party onder J.H. (“Onze Jan”) Hofmeyr, het hom hierin gesteun, en dit is hier waar die bondgenootskap of samewerking tussen hulle ontstaan het. 1

Schreiner het ten nouste met Rhodes saamgewerk. Die Jameson-inval van 1895 was vir Schreiner ʼn nare skok, 1 en hy het uit sy pos as Rhodes se prokureur-generaal bedank. 3 Hy was lid van die komitee wat Rhodes ondersoek en aan onbehoorlike gedrag skuldig bevind het. Hy het ook in Londen gaan getuienis – verklarings oor sy gedrag – gee teen Rhodes. Die gevolg van die Jameson-inval was dat Schreiner meer anti-imperialisties – met ander woorde, meer teen die uitbreiding van Britse mag in Suid-Afrika – geword het. Dit was in teenstelling met baie Engelssprekende Suid-Afrikaners, wat méér imperialisties geword het. Hy het ook nóg nouer met die Afrikanerbond begin saamwerk. 1

Die Jameson-inval.

Eerste minister

Soos Schreiner het die meeste Kaapse Afrikaners tot in 1895 vir Rhodes ondersteun. Daarna het hulle hul rug op hom gedraai en die Afrikanerbond begin ondersteun. 3 Daarom kon die Afrikanerbond en sy bondgenote, wat bekend gestaan het as die Suid-Afrikaanse Party, dit regkry om die verkiesing van 1898 te wen. Schreiner is gevra om eerste minister te wees en ʼn kabinet saam te stel. Bekendes in sy kabinet was die toekomstige eerste minister John Merriman as tesourier-generaal en Richard Solomon as prokureur-generaal. 1

Die Slag van Majuba.

Die Anglo-Boereoorlog

Teen 1898 het die oorlogswolke in die Transvaal gedreig. Schreiner het hard probeer om oorlog af te weer, onder meer deur die Kaapse én die Britse regering se verhouding met die Transvaalse regering te probeer verbeter. 2 Saam met Merriman en die hoofregter, sir John de Villiers, het hulle dit reggekry om ʼn ontmoeting tussen Paul Kruger en die Britse Hoë Kommissaris, lord Alfred Milner, op 31 Mei 1899 in Bloemfontein te reël. Hy het ook pogings van Hofmeyr en die Afrikanerbond ondersteun om voorwaardes (bepalings wat vir Brittanje aanvaarbaar sou wees) met Kruger af te spreek om die oorlog te verhoed. Maar dit was alles tevergeefs. 1

Pres. F.W. Reitz en pres. Paul Kruger voor die presidentswoning in Bloemfontein.

Met die uitbreek van die oorlog, het hy oplaas probeer om die Kaap neutraal te hou – dat die Kaap nie die Boererepublieke of Brittanje ondersteun nie – maar omdat die Kaap ʼn Britse kolonie was, wou die Britse regering dit nie toelaat nie. 4

Gedurende die Anglo-Boereoorlog het Schreiner met Afrikanerbondkomitees en predikante van die NG kerk saamgewerk om ʼn anti-Britse rebellie (opstand teen die regering) onder die Afrikaanse Kapenaars te verhoed. In ruil daarvoor het Milner beloof dat Kaapse troepe nie aan die oorlog sou deelneem nie. Dié ooreenkoms het egter net gehou terwyl Schreiner nog eerste minister was, dus tot in Junie 1900. 1

Daar was nie ʼn rebellie nie, maar daar was wel Kaapse burgers, en dus Britse onderdane, wat aan die Boere se kant in die oorlog gaan veg het. Hulle het amptelike verraad teen die Kaapse regering gepleeg, dit beteken dat hulle dislojale gedrag getoon het. Die Kaapse regering was in twee geskeur oor hoe hulle gestraf moes word. Regeringslede soos Merriman, wat simpatie met die Boererepublieke gehad het, wou hê dat slegs die voorbokke gestraf word, en dat daar amnestie – amptelike bevel (kwytskelding) dat hulle nie gestraf sou word nie – aan die res verleen word. Schreiner en Solomon, met die steun van die Britse regering, wou spesiale howe stig om die rebelle te verhoor, waar die minimum straf sou wees dat die rebelle hul stemreg vir vyf jaar sou verloor. Daar was soveel verdeling oor hierdie saak dat die regering uitmekaargespat het, en Schreiner het as eerste minister bedank. 1

Schreiner het in hierdie saak van die Afrikanerbond verskil, en hier het sy bondgenootskap met die Afrikanerbond tot ʼn einde gekom. 1

‘n Gedeelte van die Boere se loopgrawe by Magersfontein.

Publieke lewe ná 1900

Schreiner het na die regte teruggekeer. Hy het onder meer die regsadviseur van die Kaapse regering en die British South Africa Company (BSAC) geword. Hy het weer probeer om tot die parlement verkies te word, maar kon eers in 1908 ʼn setel wen. 1

In hierdie tyd het Merriman, toe die eerste minister, vir Schreiner versoek om die Kaapkolonie by die Nasionale Konvensie, waar Uniewording bespreek en ʼn Uniegrondwet opgestel sou word, te verteenwoordig. Schreiner het dit egter van die hand gewys omdat hy reeds die Zoeloe-opperhoof, Dinizulu, belowe het dat hy sy verdediging sou waarneem. Dinizulu was daarvan aangekla dat hy aan ʼn rebellie in 1906 deelgeneem het. Schreiner het daarin geslaag om hom van 18 van die 21 aanklagte vry te laat spreek. 1

Die Zoeloe-opperhoof Dinizulu.

Hoewel hy nie by die konvensie betrokke was nie, sou hy waarskynlik ʼn federasie – waar die provinsies feitlik volle selfregering behou, eerder as ʼn unie met sterk sentrale mag – voorgestaan het. Sy menings oor rasseverhoudings, moontlik onder die invloed van sy suster, Olive Schreiner, het al hoe meer liberaal geword. 1 Hy het self hierna verwys as ʼn “bekering”. 5

In die Kaapse parlement het hy ʼn moedige stryd gevoer ten gunste van die sogenaamde “nieblankes” se politieke regte. Hy het voorgestel dat nieblankes verkies kon word tot die parlement en dat die Unie nie mense se regte moes kon wegvat op grond van ras of kleur nie. Hy het ook aangedring dat stemreg vir nieblankes in die Unieparlement én die Kaapse parlement verskans moes word, wat beteken dat net ʼn tweederdemeerderheid dit sou kon verander. 1

Toe geen van hierdie voorstelle in die Uniegrondwet opgeneem is nie, het hy in 1909 ʼn afvaardiging van nege swart en bruin verteenwoordigers na Londen gelei. Die afvaardiging het die bekende kleurlingleier dr. Abdullah Abdurahman en eerwaarde W.B. Rubusana, een van die stigters van South African Native National Convention (SANCC), wat later die African National Congress (ANC) geword het, ingesluit. 1  Hulle wou by die Britse parlement beswaar maak oor die uitsluiting van swart en bruin mense in die Uniegrondwet. Hulle was egter onsuksesvol. 2

Die Suid-Afrikaanse Party in Londen, 1909.

Rol in die Unieregering

In 1910 is hy deur die eerste minister, generaal Louis Botha, genooi om ʼn lid van die Senaat te word (Die Unieparlement het twee huise gehad – die Senaat en die Volksraad). Hy was daar om in die belang van nieblankes te praat. Schreiner was natuurlik gekant teen die rasseskeiding wat al meer in die regering se beleid tot uiting gekom het. Hy het as senator verskeie wetsontwerpe teengestaan, insluitende die Naturellegrondwetsontwerp van 1913. 1

In 1914 is hy Duitsland toe om te gaan herstel van ʼn hartkwaal en uitputting as gevolg van oorwerk. Dit was nie die eerste keer wat sy gesondheid ingegee het nie, en sy dokters het hom gemaan om minder te werk. Schreiner het homself echter deurgaans gedryf, dikwels weens finansiële behoeftes. 1

Sy gesondheid het herstel, en enkele dae voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, het hy in Londen aangekom. In September 1914 is hy ʼn posisie aangebied in die Suid-Afrikaanse appèlhof, maar hy het dit van die hand gewys. Pleks daarvan het hy die pos as hoë kommissaris (soos ‘n ambassadeur) van die Unie na Londen toe aanvaar. 1

In hierdie veeleisende pos het hy sy hooftaak die versorging van Suid-Afrikaanse troepe wat vir oorlogdiens in Europa was, gemaak – iets wat nie regtig deel van sy pligte was nie.

Sy gesondheid is deur die spanning van die werk en die tyd ondermyn, maar hy het aanhou werk tot aan die einde van die oorlog. Dit was egter te veel vir sy gestel, en hy het op 28 Junie 1819 gesterf, dieselfde dag wat die Verdrag van Versailles onderteken is. Hy was 61 jaar oud. 1

Hoërskool Templeton.

Persoonlike lewe

Schreiner is op 3 Januarie 1884 met Frances Hester Reitz getroud. Sy was die suster van F.W. Reitz, wat later die president van die Oranje-Vrystaat (OVS) was. Daar is drie dogters en twee seuns uit hul huwelik gebore. 1

Hy was vasbeslote om sy kinders ʼn goeie opvoeding te gee. Hy het ook sy bejaarde moeder, wat tot haar dood in ʼn Grahamstadse klooster gewoon het, onderhou. Omdat sy eie opvoeding slegs moontlik gemaak is deur studiebeurse en die vrygewigheid van vriende en familie, het hy gereeld geld vir die opvoeding van neefs, niggies en ander behoeftiges gegee. Dit het hom soms finansieel in die knyp gelaat. 1

Schreiner was ʼn begaafde man, een van die suksesvolste advokate van sy tyd, asook die leier van die Kaapse balie (die organisasie vir Kaapse advokate). Hy was ʼn vooraanstaande parlementslid, maar nie briljant nie. Sy fokus op detail het ander parlementslede geïrriteer, en sy toesprake was soms te ingewikkeld. Hy het ook probeer om matig op te tree in ʼn tydperk van uiteenlopende politieke idees, en dit het hom polities gekniehalter – oftewel sy politieke ambisie aan bande gelê. 1

Schreiner was egter gulhartig en onbaatsugtig, soos toe hy gekies het om vir koning Dinizulu te verdedig, omdat hy bang was dat reg nie andersins sou geskied nie. 1 Sy persoonlikheid was hartlik, simpatiek, en opreg. Hy was alom gewild en is deur die mense rondom hom hoog geag. 1

Woordbank

amnestie ʼn Amptelike bevel deur ʼn regering dat iemand wat iets verkeerds gedoen het, nie vir sy/haar dade gestraf of vervolg sal word nie.
balie Die organisasie van advokate.
bondgenootskap Vereniging of verbond tussen mense/volke.
getuienis ʼn Verklaring van ʼn getuie in ʼn hof wat gebruik word om te besluit of iemand skuldig of onskuldig is.
humanis Iemand wat menslike waardigheid, vryheid en die waarde van die persoonlikheid vooropstel, en godsdiens as minder belangrik ag.
imperialisties ʼn Voorstander van die uitbreiding van sy/haar land se mag oor ander lande.
gekniehalter Iemand aan bande lê; iemand se planne belemmer.
liberalis Iemand wat bereid is om ander mense se idees te aanvaar en te respekteer.
neutraal Nie kant kies nie; onpartydig wees.
rebellie ʼn Georganiseerde poging om met geweld ʼn land se regering te verander of ʼn nuwe leier aan te stel.
tydgenote Iemand wat in dieselfde tyd leef as iemand anders.
verskans Dele van die Grondwet wat alleen deur spesiale maatreëls, byvoorbeeld met ʼn tweederdemeerderheidstem van die parlement, gewysig word.
voorwaardes ʼn Beperking/bepaling wat gestel word, voordat iets aanvaar word.
wetsontwerp Weergawe van ʼn wet wat parlementslede in komitees bespreek en waaroor hulle in die raadsaal debatteer, voordat die parlement dit aanneem.

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Oktober 2022 | Bygewerk op 8 Mei 2024