Vinnige feite

Groen gedenkplaat opgerig deur London Borough of Haringey op 17 Oktober 2007 by 51 Alexandra Park Road, Muswell Hill, Londen.
  • Tambo se derde naam, Kaizana, kom van keiser Wilhelm II van Duitsland, wat teen die Britte geveg het in die Eerste Wêreldoorlog. Dit was Tambo se pa se manier om weerstand te wys teen Brittanje. Toe hy skool toe is, het sy pa vir hom ʼn skoolnaam gegee: Oliver. 2
  • Die Ledeke Metodisteskool was so 16 km van sy huis af. Hy het skool toe gestap, soms met sy pa se perd skool toe gery en soms by families naby die skool gewoon. 2
  • Tambo se ouers kon nie Holy Cross se skoolgeld bekostig nie. Twee wit Engelse susters, Joyce en Ruth Goddard – wat vreemdelinge was – het vir hom betaal. Sy een broer, wat ʼn trekarbeider was, het ook gehelp. 2
  • In 1961 het hy vir Albert Luthuli en sy vrou na die Nobelprys-oorhandiging in Stockholm vergesel. 2
  • As leier van die ANC tussen 1967 en 1991 was hy die ANC se langsdienende president. 3
  • Tambo was ʼn groot voorstaander van vroueregte. Hy het ʼn gedragskode vir die ANC opgestel sodat vroueregte gerespekteer kon word en probeer om mishandeling van vroue stop te sit. 2
  • In 2005 is die grootste lughawe in Afrika, die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg, na hom vernoem. 2

Oliver Tambo (1917-1993) was ʼn anti-apartheidsaktivis (stryder of vegter teen apartheid) en president van die ANC tussen 1967 en 1991. Omdat hy opgestaan het vir dít waarin hy geglo het, was hy vir dertig jaar in ballingskap. 1 Sy epitaaf (die woorde op iemand se grafsteen) som sy lewe en vryheidstrewe goed op: “Dit is ons verantwoordelikheid … om ʼn land te skep waar daar nie wit of swart sal wees nie, maar Suid-Afrikaners, vry en verenig in diversiteit.” 2

‘n Standbeeld van O.R. Tambo in die internasionale aankomssaal by O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg.

Kinderjare

Oliver Reginald Kaizana (O.R.) Tambo is op 27 Oktober 1917 in Mbizana (Bizana) in Mpondoland, in vandag se Oos-Kaap, gebore. 3 Sy pa was Mzimeni Tambo, ʼn boer en assistentverkoopsman by die plaaslike winkel, en sy ma se naam was Julia. 4

Tambo was op laerskool in die Ledeke Metodisteskool en toe die Holy Cross-sendingskool in die Oos-Kaap. 2 Daarna is hy aanvaar by die St. Peters College in Rosettenville, Johannesburg, 3 waar hy matriek met onderskeiding (vroeër jare genoem “eerste klas”) voltooi. 2 St. Peters was ʼn bekende skool vir swart leerders, en hy het hier vir die eerste keer in kontak gekom met kinders van ander swart kulture, asook segregasie en rassisme. 4

Op 16-jarige ouderdom het Tambo saam met vriende die Bizana-studentevereniging (BSA) gestig, met die doel om vir studente aktiwiteite gedurende skoolvakansies te reël. 2

Omdat hy so goed op skool presteer het, het die Bhunga, ʼn Oos-Kaapse organisasie van hoofmanne, vir hom ʼn beurs aangebied om verder te studeer. 4

Universiteitsjare

Tambo wou medies gaan studeer, maar daar was nie in daardie stadium universiteite in Suid-Afrika wat swart studente vir medies aanvaar het nie. Hy het toe wetenskap studeer, en ná drie jaar ʼn graad in wiskunde en fisika aan die Universiteit van Fort Hare verwerf. 4 Hierna voltooi hy ʼn diploma in hoër onderwys. 2

By Fort Hare het hy by politiek begin betrokke raak. 3 In 1942 is hy verkies tot die voorsitter (leier) van die verteenwoordigende studenteraad van sy koshuis, Anglican Beda Hall. 4 Hy het begin om massa-aksies te reël teen gedrag van die universiteitsowerhede wat nie vir hulle aanvaarbaar was nie. 2 As gevolg van een só ‘n aksie is hy geskors en kon hy nie sy honneursgraad voltooi nie. 3

Oliver Tambo House by die Universiteit van Fort Hare.

Vroeë werkjare

Ná sy skorsing het hy eers gesukkel om werk te kry, 2 maar hy is uiteindelik by sy ou skool, St. Peters, ʼn pos as wiskunde- en wetenskaponderwyser aangebied. 1

Ná die Nasionale Party (NP) in 1948 aan bewind gekom en begin het om diskriminerende wette deur te voer, het Tambo besluit om deur korrespondensie (deur die pos) regte te studeer. Hy het in 1952 by Nelson Mandela se regspraktyk aangesluit, 4 die eerste swart regspraktyk in Suid-Afrika. 1 Hulle het geveg vir die regte van armes en slagoffers van apartheidswette. Baie van hul kliënte was te arm om die regskoste te betaal. 3 Die firma het baie bekend geword, en mense het van ver af vir hulle dienste gekom. 2

‘n Jong Nelson Mandela.

Vroeë politieke loopbaan

Johannesburg was in die 1940’s ʼn opwindende plek vir opkomende jong Afrikane. Tambo het vriende gemaak met bekende aktiviste soos Walter Sisulu, Anton Lembede en Mandela. Hulle het gereeld aan huis van dokter A.B. Xuma, die destydse president van die African National Congress (ANC), gekuier. 3

Tambo het by die ANC aangesluit en gou opgang gemaak. 1 Hy het die idee gehad om ʼn groep te stig vir jong ANC-lede, 2 en saam met Lembede en Mandela het hulle in 1944 die ANC-jeugliga gestig. Die doel was om die ANC ná ʼn dooie tydperk te laat herleef deur dit meer toeganklik vir jong mense te maak. 4 Tambo was die eerste sekretaris van die ANC-jeugliga. 3

Die Jeugliga het ʼn program van aksie geskep wat taktiek (om dinge te organiseer sodat ʼn bepaalde doel bereik kan word) soos stakings en massa-aksie gebruik het om teen apartheid te protesteer. Hierdie program is uiteindelik ook deur die ANC aanvaar. 2

Eerste Minister Van Agt (CDA) het Oliver Tambo, voorsitter van die African National Congress, in die Catshuis ontvang.

Politieke aktiwiteite in Suid-Afrika

In 1946 is Tambo verkies tot die Transvaalse uitvoerende raad van die ANC, en in 1948 tot die nasionale uitvoerende raad. Hy het deelgeneem aan die Ongehoorsaamheidsveldtog (“Defiance Campaign”) van 1952 teen die paswette. 3  In 1953 is hy aangestel as die ANC se nasionale sekretaris, en in 1954 as sekretaris-generaal van die ANC. 2

Tambo was betrokke by die komitee wat die Vryheidsmanifes (“Freedom Charter”) opgetrek het in voorbereiding vir die Volkskongres (“Congress of the People”) van Junie 1955. Omdat die regering hom ingeperk (forseer om op sekere plekke te bly) het, mag hy nie die Volkskongres bygewoon het nie, maar hy het dit vanuit ʼn wegkruipplek dopgehou. 2

Tambo was een van die aktiviste wat in hegtenis geneem is vir die sogenaamde 1956-hoogverraadsaak (“Treason Trial”). Hy is weer in 1957 vrygelaat. 1

In 1958 is Tambo verkies as die ANC se visepresident. 1 In 1959 is hy saam met die meeste van sy kollegas vir vyf jaar ingeperk. 3

Tambo was hoof van die kommissie wat vir die ANC ʼn grondwet (reëls wat bepaal hoe ʼn organisasie moet optree) moes opstel. Hy het voorgestel dat die ANC nierassigheid – dat lidmaatskap oop sal wees vir mense van alle rasse – en die Vryheidsmanifes as deel van hul beleid aanvaar. Dit is só gedoen, en die grondwet wat aanvaar is, het as die Tambo-grondwet bekendgestaan. 2

ANC-president Oliver Tambo en Thera Wolf, president van die Universiteitsraad, Amsterdam.

Ballingskap

Ná die Sharpeville-menseslagting op 21 Maart 1960 het die NP-regering die ANC verban. 1 Albert Luthuli, toe die president van die ANC, het vir Tambo landuit gestuur as leier van die ANC se “ballingskapsending”. Tambo moes ʼn buitelandse hoofkwartier opstel – wat hy in Tanzanië en later Zambië gedoen het – om internasionale steun vir die ANC te werf, 5 en ander lande oortuig om die apartheidsregering te isoleer (van ander lande te skei). 6

Albert Luthuli.

Tambo het in sy dertig jaar van ballingskap verskeie lande besoek en internasionale leiers ontmoet. Hy was onder meer in Brittanje, Denemarke, Egipte, Ethiopië, Ghana en Tunisië. Hy het ook die Verenigde Nasies toegespreek. 2 In samewerking met Afrika-regerings het hy ANC-sendings in Brittanje, Egipte en Marokko gestig. Teen 1990 het die ANC in 27 lande sendings gehad. 3

Hy was een van die stigters van die Suid-Afrikaanse Verenigde Front, wat die buitelandse sendings van ʼn klomp verbanne partye, soos die ANC, die Pan Africanist Congress (PAC) en die Suid-Afrikaanse Indiese Kongres, met gemengde resultate laat saamwerk het. 3

Ná die stigting van Umkhonto we Sizwe (MK), die gewapende eenheid van die ANC, was Tambo verantwoordelik vir MK-opleidingskampe in Tanzanië en Zambië. 3 In 1964 het hy die leier van MK geword toe die res van die MK-leiers gearresteer is. In later jare het hy die kampe besoek en ʼn gedragskode opgestel om orde te probeer handhaaf. 2

In 1967 is Tambo, ná Albert Luthuli se dood, as waarnemende leier van die ANC verkies. 1 Ná kritiek teen die ANC-leierskap het Tambo die beroemde konferensie van ANC-lede in Mogorogo in Tanzanië byeengeroep, 2 waar hy in 1969 as leier van die ANC bevestig is. 5 Hy is ook hier verkies tot voorsitter van die ANC se revolusionêre raad, wat die ANC se gewapende stryd in erns moes voortsit. 3

Tambo het ook deurentyd fondsinsameling vir die ANC gedoen, toesprake gehou teen apartheid, insluitende by die Verenigde Nasies, 2 en ANC-bannelinge gehelp, veral toe daar ná die Soweto-opstande van 1976 ʼn nuwe vloed van hulle was. 3

Ná 1976 was Tambo en die ANC instrumenteel in die daarstelling van massa-organisasies, soos vakbonde en die United Democratic Front (UDF), wat die apartheidsregering teengestaan het. 3 [Lees meer oor vakbonde.]

Teen 1985 was Tambo een van die mees gerespekteerde swart Suid-Afrikaanse leiers in die wêreld. Hy het die ANC se internasionale prestige (goeie reputasie of aansien) en status hoog gehou. Hy is gereeld ontvang met die protokol (reëls en etiket wat voorskryf hoe leiers en diplomate moet optree) wat slegs vir staatshoofde gereserveer was. 3 Hy het ook begin om Suid-Afrikaanse leiers en sakelui te ontmoet om te praat oor die toekoms as die ANC uiteindelik Suid-Afrika se regering sou oorneem. 5

In 1985 het hy ʼn toespraak gelewer wat op radio’s in Suid-Afrika uitgesaai is, met die boodskap: Maak Suid-Afrika onregeerbaar. 7 Dit was in ʼn poging om die NP-regering te dwing om apartheid af te skaf.

Die ontbanning van die ANC

In Februarie 1990 het pres. F.W. de Klerk die ANC se verbanning gelig. 2 Tambo het ʼn ernstige beroerte gehad in 1989, en was aan die herstel toe Mandela en die ander leiers vrygelaat is. 4 Hy het in Desember 1990 na Suid-Afrika teruggekeer, en op 13 Desember 1990 het hy die eerste konferensie van ANC-lede in 30 jaar bygewoon. 1

Hy het deelgeneem aan die onderhandelings oor Suid-Afrika se nuwe grondwet, 1 maar as gevolg van sy gesondheid nie vir enige posisie gestaan nie. 2 Die ANC het vir hom ʼn posisie as nasionale voorsitter van die ANC geskep. 2 Hy is ook verkies tot voorsitter van die ANC se bevrydingskommissie, wat moes werk vir die bevryding van vroue. 3

Oudpres. F.W. de Klerk.

Siekte en dood

Tambo was deurentyd onder druk, en dit het sy gesondheid beïnvloed. Hy het reeds in 1982 ʼn ligte beroerte gehad, waarna hy nie genoeg gerus het om behoorlik te herstel nie. 1 Teen die advies van sy dokters het hy aanhou werk, en in 1989 het hy ʼn ernstige beroerte gehad, waarna hy onder meer sy spraakvermoë verloor het. 2 Hy het hierna intensiewe mediese behandeling ontvang. 3

Op 24 April 1993, in die ouderdom van 75 jaar, het hy aan ʼn beroerte gesterf. 3 Hy het ʼn staatsbegrafnis ontvang. 4

Persoonlike lewe

Tambo se pa het vier vroue en tien kinders gehad, en was ongeletterd. Sy ouers was Christene, en Tambo is in die Anglikaanse kerk gedoop. 2

Van driejarige ouderdom af het hy beeste opgepas. 8 As kind het hy dit geniet om voëls te jag, stokgevegte te hou met sy maatjies, asook om modeldiertjies te bou. 2

Hy was ʼn uitstekende sportman en het op skool deelgeneem aan krieket, sokker, atletiek en tennis. Hy het ook in die koor gesing. 2

Tambo het op 16-jarige ouderdom alkohol opgegee, en daarna nooit weer gedrink nie. 2 In dieselfde tyd is albei sy ouers binne ʼn jaar van mekaar oorlede. 4

Op universiteit het hy van sy eerste jaar af Sondagskool gegee. Hy was ook deel van ʼn sanggroep. Musiek was ʼn aktiwiteit wat hy baie geniet het en dit het lewenslank ʼn stokperdjie gebly. 2

Tambo het sy vrou, Adelaide Tsukudu, by ʼn ANC-jeugligavergadering ontmoet. Sy was ook ʼn aktivis en het as verpleegster by die Baragwanath-hospitaal gewerk. Hulle is in Desember 1956 getroud. 4 Die troue is amper uitgestel omdat hy 17 dae voor die troue vir hoogverraad in hegtenis geneem is. Hy is egter op borgtog vrygelaat en die huwelik kon voortgaan. 2

Hulle het drie kinders gehad: Thembi, Dali en Tselane. Tambo se familie het saam met hom landuit gevlug. Hulle het in Londen gewoon, waar Adelaide as verpleegster gewerk het. Sy was basies ʼn enkelouer omdat Tambo baie besig was en nie ʼn groot salaris verdien het nie. 2

Nalatenskap

Die ANC se oorwinning in 1994 is net soveel aan Oliver Tambo as aan Nelson Mandela te danke. Hy het dit reggekry om die ANC in ʼn baie moeilike tyd bymekaar te hou. In ʼn tydperk waarin die NP-regering sy bes gedoen het om die ANC te kniehalter, het hy die ANC opgebou as die organisasie wat die algemeen aanvaarde stem van swart Suid-Afrikaners geword het. 1 Dít was ook ten spyte van kritiek van lede van sy eie party en ander weerstandspartye. 2 Tambo het seker gemaak dat die ANC die middelpunt van die weerstandsbeweging teen apartheid was, 3 en só die ANC se oorwinning in die verkiesing van 1994 verseker.

Die ANC se vlag.

Woordbank

aktivis Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale en/of politieke verandering te weeg te bring.
ballingskap Wanneer iemand gedwing is om sy/haar land te verlaat en op ʼn ander plek te woon (gewoonlik om politieke redes).
beleid ʼn Program vir die bestuur van iets.
epitaaf ʼn Kort stukkie wat geskryf is op iemand se grafsteen (die plek waar hy/sy begrawe is).
gedragskode Kode waarvolgens die lede van ʼn bepaalde beroep/groep hulle moet gedra.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ʼn staat regeer word, hoe magte verdeel word en oor watter regte burgers beskik.
ingeperk Iemand se vryheid (in ʼn mate) ontneem.
isoleer Wanneer een mens/groep/ding van ander geskei is.
korrespondensie Die proses van briewe/e-posse stuur en ontvang.
prestige ʼn Goeie reputasie en/of eer deur prestasie verwerf.
protokol Al die gebruiklike voorskrifte en reëls van diplomatieke verkeer.
taktiek Die vermoë om iets so te doen of mense/dinge so te organiseer dat ʼn bepaalde doel bereik word.
vakbonde ʼn Vereniging van mense wat in ʼn besondere vak werk, gestig om na die belange van die lede (hul voorregte/werksomstandighede/lone/ens.) om te sien.
verban Iemand dwing om ʼn land/plek vir goed te verlaat en op ʼn ander plek te gaan woon.
voorsitter Die persoon wie se werk dit is om ʼn vergadering of organisasie te lei. 9

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Apartheid: 46 jaar in 90 sekondes

Die lewe van O.R. Tambo

Die lewe en nalatenskap van ʼn onbekende leier: Oliver Tambo teen apartheid

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Februarie 2023 | Bygewerk op 8 Mei 2024