Vinnige feite

  • Baie mense verwys na Ngoyi as “Ma Ngoyi”, ʼn teken van respek. 1
  • Toe sy in 1952 gearresteer is, was sy besig om ʼn telegram te skryf aan doktor D.F. Malan, die eerste minister, wat gelees het: “Dr. Malan, sal jy asseblief jou wette onttrek? Suid-Afrika was ʼn vreedsame land. As jy dit nie gaan doen nie, onthou wat het met Hitler in Duitsland en Mussolini in Italië gebeur.” 6
  • Gedurende die Struggle is ‘n ANC-nedersetting in Tanzanië na haar vernoem. Vandag is daar strate na haar vernoem in onder meer in Pretoria en Johannesburg. 4
  • Die vroueoptog van 1956 word vandag as Nasionale Vrouedag, ʼn nasionale vakansiedag op 9 Augustus, herdenk.

“Vryheid gaan nie na jou toe aangestap kom nie. Dit moet gewen word.” 1 Hierdie woorde was die motto van die vryheidsvegter, aktivis en Struggle-leier Lilian Ngoyi (1911-1980), wat bekend is as die “moeder van swart weerstand” in Suid-Afrika. 2

Vroeë jare

Lilian Masediba Ngoyi is op 24 September 1911 in Pretoria gebore. 2 Haar pa was Isaac Mmankhatteng, ʼn mynwerker en later pakker in ʼn winkel, en haar ma, Annie Modipadi, was ʼn huishulp. 1 Die familie was baie arm. 3 Ngoyi was op laerskool by die Kilnerton-instituut. Sy het gehoop om ʼn onderwyser te word, maar ná sy standerd 6 (graad 8) klaargemaak het, moes sy skool verlaat om haar familie te onderhou. 4

Kilnerton-instituut

Vroeë loopbaan

Sy het ʼn leerlingverpleegster geword – een van Suid-Afrika se eerste swart verpleegsters – by die City Deep Mine-hospitaal in Johannesburg. 3 In ʼn stadium het sy daardie pos verlaat om as huishulp te werk, maar sy het dié werk verafsku en net drie maande gehou. 4 Sy het later weer verpleegkunde opgegee, dié keer permanent. Sy het na Soweto verhuis en in 1945 ʼn pos as masjinis by ʼn klerefabriek aanvaar. Sy het daar gewerk tot in 1956. 2

Toetrede tot die politiek

Terwyl sy by die klerefabriek gewerk het, het sy by die Garment Workers’ Union (GWU), onder leiding van Emil Solomon (Solly) Sachs, aangesluit. 2 Die GWU was ʼn vakbond wat hom vir die regte van werkers, soos ordentlike werksomstandighede, beywer het. 1 Sy het onder meer deelgeneem aan ʼn protesoptog teen die verbanning van Sachs, 5 en het gou ‘n leiersfiguur in die GWU geword. 2

In die laat 1940’s het African National Congress (ANC) leiers soos Walter Sisulu, Oliver Tambo en Nelson Mandela nuwe energie in die Struggle ingeblaas. Ngoyi was beïndruk hierdeur en het  gedurende die Ongehoorsaamheidsveldtog (In Engels: “Defiance Campaign”) van 1952 by die ANC aangesluit. Sy is in hegtenis geneem omdat sy ʼn telegram wou stuur in ʼn poskantoor wat slegs deur wit mense gebruik mag word. 2

Ngoyi word ʼn leier van die weerstandstryd

Ngoyi het vinnig opgang in die ANC gemaak. Sy was ʼn energieke en brawe politikus, en ʼn briljante openbare spreker. 1 Binne ʼn jaar ná sy by die ANC aangesluit het, is sy as president van die ANC-vroueliga gekies. 2 Sy het hierdie pos tussen 1953 en 1963 beklee. 1 In 1953 is sy in hegtenis geneem vir haar rol in ʼn veldtog teen ongelyke wette, maar sy is na kort aanhouding weer vrygelaat. 4

In 1954 is die Federation of South African Women (FEDSAW) gestig. Dit was ʼn multirassige organisasie wat geveg het vir die gelykheid en opheffing van vroue. 2 Ngoyi was die eerste visepresident en leier van die Transvaalse tak. 2 Haar betrokkenheid by FEDSAW het onder meer tot ʼn lewenslange vriendskap met die vryheidsvegter Helen Joseph gelei. 3

Oorsese toer

In 1955 is Ngoyi genooi en geborg om ʼn konferensie van die International Democratic Federation of Women by te woon. Dit was gehou in Lausanne, Switserland. 4 Na afloop van die konferensie het Ngoyi ‘n propagandatoer van kommunistiese lande meegemaak, soos die Sowjet-Unie, China en Oos-Duitsland besoek, maar ook niekommunistiese lande soos Brittanje en Italië. 5

Sy het sonder ʼn paspoort op die skip na Switserland geklim en tydens die toer protesvergaderings in groot stede, soos Trafalgar-plein in Londen, toegespreek. Hierdie aksies het vir haar wêreldwyd bekendheid verwerf. 2 Die toer was ʼn keerpunt in Nogyi se lewe. Sy het opnuut besef hoe belangrik dit is om vir vryheid te veg, ongeag wat dit haar sou kos. 1

Die hoogtepunt van haar politieke loopbaan: die middel van die 1950’s

Die jare 1955 tot 1961 was vir Ngoyin besige tyd. Sy het voltyds gewerk, en haar politieke aktiwiteite het al haar vrye tyd in beslag geneem. In 1955 is sy verkies as lid van die ANC in Transvaal se uitvoerende raad. 2 Sy het gereeld proteste, veral antipasveldtogte  bygewoon. In April 1956 het sy ʼn groep vroue in Winburg toegespreek. Sy het hulle so geïnspireer dat hulle in ʼn groot seremonie hulle passe verbrand het. 5

Die vroueoptog van 1956

Op 9 Augustus 1956 het FEDSAW – onder leiding van Ngoyi, Helen Joseph, Rahima Moose, Albertina Sisulu en Sophia Theresa de Bruyn – ʼn antipasoptog vir vroue na die Uniegebou gelei. Dit was een van die grootste optogte in Suid-Afrika se geskiedenis, en daar het moontlik soveel as 20 000 mense deelgeneem. 1 Ngoyi was die leier van die optog. Sy het die petisies by haar gehad en was die een wat aan Hans Strijdom, die eerste minister, se deur geklop het om die petisies te oorhandig. 2 Die optog was nie suksesvol nie, maar het die prestige van vroue in die ANC en van veral Ngoyi self, baie verhoog. 5

ʼn Paar dae ná die vroueoptog is sy tot die leier van FEDSAW verkies. In Desember van dieselfde jaar het sy die eerste vrou ooit geword om verkies te word tot die ANC se nasionale uitvoerende raad. 2

Vroue tydens die optog

Hoogverraadhofsaak

In Desember 1956 was Ngoyi een van die 156 mense wat deur die regering in hegtenis geneem is en aangekla is van verraad in die sogenaamde Hoogverraadsaak (“Treason Trial”). 2 Die hofsaak het uiteindelik vier jaar geneem, en Ngoyi (soos almal anders) is onskuldig bevind. 4 Een van die gevolge van haar inhegtenisname was egter dat sy haar werk verloor het. 3

In 1960 na afloop van die Sharpeville-menseslagting  het die Suid-Afrikaanse regering op 21 Maart 1960 ʼn noodtoestand afgekondig. As deel van die noodtoestand het die regering ʼn 90-dae-aanhoudingswet aangeneem, waarvolgens die regering enigiemand vir 90 dae in die tronk kon hou sonder om hulle van iets aan te kla. Ngoyi was een van die eerste mense wat onder hierdie wet aangehou is. 4 Sy was vir vyf maande in die tronk, waarvan 71 dae in afsonderlike aanhouding, waar sy alleen, apart van ander gevangenes, aangehou is. 5

Verbanning

In Oktober 1962 het die regering vir Ngoyi vir vyf jaar verban en ingeperk. Sy is nóg twee keer vir vyf jaar verban, in 1967 en weer in 1975, wat beteken dat sy vir 16 van haar laaste 18 jaar op aarde – van 1962 tot met haar dood in 1980 – ingeperk was. 4

Die reëls van die inperking was dat sby haar huis in Orlando in Soweto moes bly. Sy mag glad nie in die media aangehaal word nie. 4 Sy mag geen byeenkomste bygewoon het nie, en mag nie meer as drie mense op ʼn slag ontmoet het nie. Sy kon glad nie praatjies, flieks of familiebyeenkomste, soos troues of begrafnisse, bywoon nie. Sy is ook verbied om enige kontak met ander verbanne persone te hê. 3

Haar inperking was ʼn finansiële ramp. Sy kon nie werk om ‘n inkomste te kry nie, en het van die huis af probeer om geld te maak as kleremaker. 5 Die sekuriteitspolisie het egter gereeld klopjagte op haar huis uitgevoer, wat haar kliënte afgeskrik het. Sy was nie getroud nie, en het dus nie ʼn man gehad wat vir haar kon geld stuur nie. Sy is ook nie deur die organisasies wat politieke gevangenes gehelp het, ondersteun nie. 3

Sy het probeer om deurentyd ʼn positiewe ingesteldheid te behou. Een ding wat haar plesier verskaf het, was om tuin te maak. Sy het oor haar tyd as balling opgemerk: “My gees is nog nie geknak nie. Ek sien uit na die dag wat my kinders in ons pragtige Suid-Afrika se rykdom kan deel hê.” 6

Persoonlike lewe

Ngoyi het haar volwasse lewe, soos baie ander jong, swart vroue van haar tyd, begin: Sy was swanger op 19 en getroud op 23. Sy het haar broer se kind opgepas ná dié se vrou dood is, en ook van jongs af na haar ouers omgesien. 3

Daar is onduidelikheid oor of haar man, John Ngoyi, jonk dood is en of hulle net geskei het. Sommige bronne sê hulle is kort ná die geboorte van haar tweede kind geskei, 5 en ander sê dat hy gesterf het toe sy 26 was. 3 Sy was wel vir seker ʼn weduwee teen die ouderdom van 40. 1 Daar is ook onsekerheid oor hoeveel kinders sy gehad het: Sommige bronne sê twee en ander drie: Edith Mosime, Memory Chauke en Eggart. 4

Ngoyi het hartsprobleme gehad en is op 13 Maart 1980, op die ouderdom van 69 jaar, in Orlando oorlede. 1

Evaluasie

Ngoyi was ʼn uitstekende leier. Sy het ʼn reguit, eenvoudige manier gehad. Sy was charismaties en energiek. 6 Haar sterk persoonlikheid en bereidheid om haar emosies te wys, het vir haar ʼn groot persoonlike gevolg onder swart vroue gegee. 5

Omdat sy brandarm grootgeword het en self ʼn werker, vrou en moeder was, het haar politieke idees gekom uit dinge wat sy self beleef het. 6 Sy het uitgelig hoe beperkings en rasseskeiding swart vroue, werkers en families beïnvloed het en die toekoms van swart kinders vernietig het. 7 As slagoffer van geslags- en rassediskriminasie was sy egter ook ʼn bewys dat sulke beperkings tot ‘n mate oorkom kan word. 6

Ngoyi was ʼn buitengewoon goeie openbare spreker. 5 Die bekende skrywer Es’kia Mpahlele het geskryf: “Sy kon ʼn gehoor om haar pinkie draai.” Winnie Madikizela-Mandela het gesê: “Sy was ʼn gewone fabriekswerker wat die taal van die werkers gepraat het. Wanneer sy gesê het waarvoor sy staan, het sy emosies ontlok wat geen ander mens kon ontlok nie.” 3

Ngoyi het nooit die uiteindelike sukses van haar stryd gesien nie. Sy het ook nie in haar leeftyd, of ná haar dood, die erkenning gekry wat haar toegekom het nie. Die beroemde anti-apartheidsaktivis aardsbiskop Desmond Tutu het by haar begrafnis gesê dat wanneer die ware geskiedenis van Suid-Afrika eendag geskryf word, haar naam in “goue letters” sal verskyn. 3

Woordbank

aktivis Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale/politieke verandering te weeg te bring.
antipasveldtogte
Aksies om te protesteer teen die dra van passe, ‘n Dokument wat jy moet dra wat jou die reg gee om in sekere plekke in te gaan. 
balling Iemand wat uit sy/haar land verban (weggestuur) word.
beywer Jou inspan/ten doel stel om iets te doen. 
geborg Iemand wat die verantwoordelikheid aanvaar vir iemand anders se geldelike verpligtinge.
gees Die mens se onstoflike deel, oftewel jou gesindheid en karakter. 
geknak Om iets te breek of beskadig, gewoonlik ‘n pyn wat lank aanhou. 
geïnspireer Om iemand selfvertroue te gee en aan te moedig om iets te doen. 
in beslag geneem Opneem of vat; gewoonlik negatief bedoel. 
in hegtenis geneem Om iemand gevange te neem. 
charismaties As jy charisma het, het jy ʼn natuurlike vermoë om mense na jou toe aan te trek, hulle in jou te laat belang stel en hul bewondering af te dwing.
ingeperk Iemand se vryheid (in ʼn mate) ontneem.
ingesteldheid ’n Houding of gevoel teenoor iemand of iets. 
keerpunt Tydstip wanneer daar ’n beslissende verandering plaasvind. 
klopjagte  ʼn Onverwagte besoek of soektog deur byvoorbeeld die polisie om iets/iemand op te spoor. 
kommunistiese ʼn Politieke stelsel waarin die regering die produksie en vervaardiging van alle voedsel en goedere beheer en niemand sy/haar eie eiendom (mag) besit nie.
masjinis Iemand wat ʼn masjien beheer.
media Al die verskillende vorme (koerante, tydskrifte, radio, televisie, die internet, ens.) waardeur nuus en inligting versprei word.
motto  ’n Kort sin of frase wat gekies is om die oortuigings of ideale van ’n individu, gesin of instelling in te sluit. Slagspreuk of leuse. 
nedersetting  Woonplek. 
noodtoestand  ’n Situasie van chaos, vernietiging en groot onveiligheid in ’n bepaalde streek of land wat ’n owerheid eers moet erken voordat hul hulp kan verleen. 
onderhou  Van die nodige kos, klere en skuiling voorsien om te oorleef. 
petisies ʼn Geskrewe versoek, gewoonlik geteken deur ʼn aantal mense, wat vra dat iemand met gesag iets moet doen of verander.
prestige ʼn Goeie reputasie en/of eer deur prestasie verwerf.
protesoptog  Wanneer jy erens heen marsjeer om jou ongelukkigheid oor iets te wys. 
sekuriteitspolisie  Polisie wat vir die regering werk en vyande van die regering dophou en waar nodig in hegtenis neem. 
Struggle  Die stryd teen Apartheid. 
vakbond ʼn Vereniging van mense wat dieselfde vak beoefen om na die belange (hul voorregte/werksomstandighede/lone/ens.) van die lede om te sien.
Ongehoorsaamheidsveldtog  ʼn Georganiseerde optrede teen iets. 
opgang  Sukses behaal. 
verafsku Niks van iemand/iets hou nie; iemand/iets afskuwelik vind.
verbanning Iemand dwing om ʼn land/plek vir goed te verlaat en op ʼn ander plek te gaan woon. 8

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Lilian Ngoyi

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Lilian Ngoyi

Hoekom vier Suid-Afrika Nasionale Vrouedag?

Geskiedenis van Lilian Ngoyi

Vrouedaghuldeblyk

Foto: iStock
Gepubliseer op: 8 Maart 2023 | Bygewerk op 17 Mei 2024