Vinnige feite

  • Die Vredefortkoepel is die oudste impakkrater wat al op die aarde gevind is.
  • Die impak het nie langer as 10 minute geduur nie, maar dit het grootskaalse verwoesting gesaai. 6
  • Die koepel is eintlik net die sentrale deel van die krater. Dit word ʼn koepel genoem omdat die rotslae 90 km reg oor die impakgebied in die vorm van ʼn onderstebo bak gebuig is.
  • Die krater is geoloë se droom, want daar is baie gesteentes om te ontdek! Daar is granofiere, wat rotse is waarin ander stukke rots ingesmelt het. Daar is ook skokkegels, ʼn mens kry hierdie geologiese formasies gewoonlik waar meteoriete geval het. 7
  • ʼn Impakkrater word ook soms ʼn “astrobleem” genoem. Dit kom van die Engelse astrobleme, wat van die Griekse term astron blema afkomstig is. Dit beteken “sterwond” en is ʼn letsel wat deur ʼn hemelliggaam veroorsaak word. 8
  • Nadat die meteoriet die aarde getref het, het die hitte die aardkors gesmelt, en ʼn see van magma of gesmelte rots het die nuwe krater gevul. ʼn Wetenskaplike genaamd Desmond Moser glo hy het al bewyse hiervan gekry, hoewel almal in die wetenskaplike gemeenskap nie saamstem nie. 9
  • Daar is slegs bewyse van 130 kraters op die aarde. 9
  • Daar is verskeie aktiwiteite in die omgewing van die Vredefortkoepel, soos riviervlotvaarte, bergfietsry, perdry, hengel, lugballonritte, vierwielmotorfietsry, valskermspring en selfs ʼn dubbele glykabel. 7

Meer as 2 000 miljoen jaar gelede het daar ʼn massiewe gloeiende bal in die hemelruim verskyn en blitsvinnig op die aarde afgepeil. Kan jy dink hoe vreesaanjaend dit moes gelyk het? Dié meteoriet was omtrent so groot soos Tafelberg en het teen ʼn spoed van sowat 10 km per sekonde die gebied getref. Dit was ʼn reusemeteoriet met ʼn deursnee van sowat 10 km.

Die impak het ʼn krater van ongeveer 300 km in deursnee geskep in die omgewing wat vandag as Vredefort in die Vrystaat bekendstaan. Vredefort is sowat 100 km suidwes van Johannesburg. 1

As daar mense destyds op aarde was, sou die gevolge tragies gewees het, want niemand sou oorleef het nie. Volgens wetenskaplikes was daar toe net een lewende organisme, en dit was ʼn soort alge, amper soos die grillerige groen slyk wat ʼn mens in damme sien.

Hierdie impakkrater is die grootste en oudste van sy soort op aarde, maar as jy dink dat jy dit mooi gaan kan sien of ʼn selfie van jou met die krater in die agtergrond kan neem, gaan jy teleurgesteld wees. Eens op ʼn tyd was dit wel massief en het dit gelyk soos die tipiese kraters wat ons op die maan sien, maar dinge verander. Dit het as gevolg van erosie verweer. Mense het eers agtergekom presies wat die omvang van die krater is nadat satellietfoto’s daarvan geneem is. 2

Baie wetenskaplikes het al hierdie gebied besoek om navorsing te doen, en die Vredefortkoepel is in 2015 tot ʼn Wêrelderfenisgebied verklaar. Dit beteken dat mense internasionaal besef hoe belangrik en kosbaar só ʼn gebied is.

Wat presies het gebeur?

Soos die meteoriet die aarde getref het, was daar ʼn enorme ontploffing, nes die ontploffings wat ʼn mens gewoonlik in flieks sien! Die meteoriet het ontplof in ʼn vuurbal van 20 000 °C en was helderder as die son. 2

Dit was ʼn ongelooflike hoeveelheid energie wat vrygestel is, en daar word beraam dat dit ongeveer 5 000 keer kragtiger was as die atoombom wat Hirosjima tydens die Tweede Wêreldoorlog verwoes het. Dit sou glo omtrent 14 op die Richterskaal (die skaal wat die krag van aardbewings meet) gemeet het of 100 keer kragtiger as die ergste aardbewing wat nog ooit opgeteken is! 3

Alles wat daar was, soos klip, stof en rots, het in die lug opgeskiet, maar die druk het ook veroorsaak dat rots onder die krater met geweld afwaarts gedruk is. Dit het later weer teruggebuig en só is die Vredefortkoepel gevorm.

Die krater was onstabiel en het oomblikke ná impak ineengestort en toe ander vorms begin aanneem. Die krater het die vorm van ʼn vlak bak ingeneem wat van Pretoria tot in Welkom strek, en dit is steeds identifiseerbaar deur ʼn reeks konsentriese riwwe. Soos die walle begin ineenstort het, het die middel van die krater begin uitlig. Dit het veroorsaak dat graniet deur die jonger rotslae bo dit gedring het. Die landskap het mettertyd verander en word nou as ʼn komplekse krater gesien, maar eintlik is slegs die sentrale hoër gedeelte die Vredefortkoepel. 4

Ten tyde van die impak was die grondvlak baie hoër as vandag, maar erosie het ʼn groot rol gespeel om die voorkoms daarvan te verander. Die enigste stuk van die koepel wat eintlik nog daar is, is ʼn halfsirkel van parallelle riwwe tussen Potchefstroom en Parys. ʼn Mens kan dit mooi op lug- en satellietfoto’s sien, en ons verwys daarna as die Koepelbergland. 4

Wanneer is dit ontdek?

Wetenskaplikes het al so vroeg soos 1878 besef dat die omgewing iets besonders is. Hulle het gesien dat die rotse en gesteentes anders is as op ander plekke en dat daar iets groots moes plaasgevind het. Die wetenskap was egter nog nie so goed gevorder soos vandag nie, en vir baie lank het mense nie saamgestem oor wat presies daar gebeur het nie.

Baie wetenskaplikes het geding dat daar ʼn vulkaniese ontploffing onder die aarde se oppervlak plaasgevind het. Daar was immers allerlei interessante gesteentes, soos omgekeerde rotslae, gesmelte rots en antieke graniet. Daar was egter ander kenmerke wat hulle in hul teorie laat twyfel het.

In die jare twintig en dertig het wetenskaplikes begin debatteer oor die kraters op die maan en die aarde, en die verband tussen hulle. Hulle het begin dink dat die krater die gevolg van meteoriete kon wees. Die Vredefortkoepel was uiteraard deel van die debat, en teen 1940 het die idee al hoe gewilder geword. ʼn Lys van impakkraters is gevolglik in 1946 gepubliseer, en hierdie kraters het meteorietstukkies bevat. Kort voor lank was die vulkaanteorie iets van die verlede en is daar algemeen aanvaar dat ʼn meteoriet vir die krater verantwoordelik was.

Het jy geweet?

ʼn Meteoriet is ʼn steenagtige massa wat uit die hemelruim op die aarde val. 4 ʼn Asteroïed is weer ʼn klein liggaam wat om die son wentel. ʼn Krater is ʼn ronde gat in die grond, wat veroorsaak word deur iets wat daar geval het.

Suid-Afrika se Wêrelderfenisgebiede

Wêrelderfenisgebiede is terreine wat vir die hele wêreld van belang is. Hier is ʼn lys van die tien gebiede in Suid-Afrika: 5

  1. ǂKhomani- kulturele landskap, Noord-Kaap
  2. Barberton Makhonjwaberge, Mpumalanga
  3. Die Wieg van die Mensdom, Gauteng
  4. iSimangaliso-vleilandpark, KwaZulu-Natal
  5. Kaapse fynbosstreek, Wes-Kaap
  6. Maloti-Drakensbergpark, KwaZulu-Natal en Lesotho
  7. Mapungubwe- kulturele landskap, Limpopo
  8. Richtersveld– kulturele en botaniese landskap, Noord-Kaap
  9. Robbeneiland, Wes-Kaap
  10. Vredefortkoepel, Vrystaat

Woordbank

asteroïed ʼn Klein liggaam wat om die son wentel.
atoombom Dis ʼn bom met ʼn verwoestende krag wat deur die splitsing van atome veroorsaak word.
erosie Die verbrokkeling en slytasie van grond of rots deur water, ys en wind.
gesteentes Harde minerale, ʼn gesamentlike rotsformasie.
graniet Harde, grys klip.
krater ʼn Ronde gat in die grond, veroorsaak deur iets wat daar geval het.
magma ʼn Baie warm, vloeibare vulkaangesteente.
meteoriet ʼn Steenagtige massa wat uit die hemelruim op die aarde val.
verbrokkeling Afbreek of ineenstorting.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die oudste impakkrater

Vredefortkoepel, ons Wêrelderfenisgebied

Meer oor die Vredefortkrater

 

Foto: iStock
Gepubliseer op: 18 Julie 2022 | Bygewerk op 17 September 2024