Vinnige feite

  • Die bronne oor haar lewe verskil baie van mekaar. Sommige plaas haar geboorteplek in Fort Beaufort in die Oos-Kaap, en ander in Middledrift in die Kaapkolonie. Dit is as gevolg van verwarring met haar suster of man se geboorteplekke. 2
  • Charlotte se geboortename is Sesotho of Sepedi, maar sy het haar lewe lank in isiXhosa geskryf, omdat sy in die Oos-Kaap grootgeword het. 2
  • Maxeke het alreeds op hoërskool haar klasmaats in tale en wiskunde getutor. 4
  • Sy is uitgenooi om in die African Jubilee Choir te sing omdat sy in Kimberley in die stadsaal gesing het en haar opvoering so goed was dat sy onmiddellik ʼn plek in die koor aangebied is. 5
  • Toe die koor in Engeland vir koningin Victoria ʼn vertoning gelewer het, moes hulle Victoriaanse uitrustings dra. Maxeke was blykbaar nie gelukkig hiermee nie. 2
  • Daar is verskeie dinge na Maxeke vernoem. Dit sluit in ʼn duikboot, ʼn hospitaal in Johannesburg, en strate in Bloemfontein (vantevore Maitlandstraat) en Pretoria (tevore Mitchellstraat) in. Die eerste twee is snaakse opsies omdat sy nooit by militêre of gesondheidskwessies betrokke was nie. 6

Charlotte Maxeke (1874-1939) was die eerste swart vrou in Suid-Afrika se geskiedenis wat ʼn graad by ʼn universiteit voltooi het! As geloofsleier, sosiale werker en politieke aktivis het sy ʼn uitsonderlike bydrae gelewer tot die geveg vir swart vroue en werkers se regte, vir vrede en geregtigheid. Haar onbaatsugtige diens en liefde het daartoe gelei dat sy bekend staan as die “moeder van swart vryheid in Suid-Afrika”. 1

Vroeë jare

Charlotte Makgomo Maxeke (née Mannya) is op 7 April 1874 in Ramokgopa, naby Pietersburg (vandag se Polokwane), gebore. Haar familie het kort ná haar geboorte Oos-Kaap toe getrek. Haar ma was ʼn onderwyser en haar pa ʼn voorman van ʼn werksbende wat paaie gebou het, asook ʼn lekeprediker. 2 Maxeke was in Uitenhage in die laerskool. Sy het gehoop om musiek en onderwys te studeer, 3 en daarom is sy vir hoërskool alleen – sonder haar familie – Port Elizabeth toe, om by die Edwards Memorial-sendingskool ʼn hoë kwaliteit hoërskoolopvoeding te ontvang. 2

Maxeke het uitstekend op skool presteer. Sy het uitgeblink in tale, musiek en wiskunde en het skool in rekordtyd voltooi met die hoogste punte in haar klas. 4

Jare in Bloemfontein

As gevolg van die ontdekking van diamante het haar familie Kimberley toe getrek opsoek na beter werk. 2 Maxeke het hier begin tutor: Suid-Afrika se inheemse tale aan buitelanders en Engels aan Suid-Afrikaners wat op die myne werk gesoek het. 4 Haar groot liefde was egter musiek. Sy en haar suster, Katie, het by die African Jubilee Choir aangesluit het. 4

Kimberley markplein 1888

Oorsese reise en studiejare

In 1891 het die African Jubilee Choir deur Engeland gaan toer. In Brittanje het hulle onder meer in die Royal Albert Hall vir koningin Victoria gesing. Die koor was baie gewild, en die toer was ʼn reusesukses. 5

koningin Victoria

In die middel van die 1890’s het die koor weer op toer gegaan – hierdie keer na die VSA. 2 Die toer het egter rampspoedig geëindig toe die koororganiseerder sonder waarskuwing die koor verlaat het en die koorlede sonder geld, paspoorte of ʼn heenkome gelos het. 6

Die African Methodist Episcopal Church (AMEC) het gehoor van die koorlede se penarie en het vir Maxeke ʼn beurs aangebied om by hulle universiteit, die Wilberforce-universiteit in Cleveland, Ohio, te studeer. 1

By Wilberforce het haar opvoeding daarop gefokus op haar voor te berei om ʼn sendeling in Afrika te word. 2 Sy het haar B.Sc.-graad in 1901 ontvang, die eerste swart Suid-Afrikaanse vrou om ʼn graad by ʼn universiteit te voltooi. 7

Wilberforce-universiteit

Vroeë loopbaan

Ná haar terugkeer het Maxeke in Dwarsrivier naby Pietersburg by haar familie gaan woon. 2 Sy het skoolgehou en saam met haar man, Marshall Maxeke, ʼn opleidingskool geopen. Dit was nie ʼn sukses nie, waarskynlik omdat die vlak van onderwys onder swart mense so swak was. 1 Daarna het hulle Johannesburg toe getrek.

AMEC het steeds ʼn groot invloed op haar lewe gehad. Sy het die eerste plaaslike sendingtak van AMEC in Johannesburg gevestig, 4 en in 1920 die organiseerder van AMEC se vrouesendinggenootskap, die Women’s Mite Missionary Society, geword. 2 In dié rol het sy in 1928 ʼn reis na Amerika onderneem om ʼn konferensie oor sendingwerk by te woon. 6

Maxeke en haar man het Wilberforce-instituut, ʼn laer- en hoërskool in Evaton op die Witwatersrand, gestig. 6 Hierdie skool het van krag tot krag gegaan. 1 Terselfdertyd het hulle ʼn weduweehuis en buitelandse sendinggenootskap gestig, en sendingwerk dwarsoor Suid-Afrika gedoen. 2 Hierdie organisasies het armesorg gedoen, duisende jong swart mense opgevoed, en gereël vir beurse en befondsing vir jong mense om in die VSA en Brittanje te studeer. 4

Wilberforce-instituut

Maxeke en haar man het opheffingswerk in die Transkei gedoen en ook daar probeer skole stig.  Daar was egter nie genoegsame fondse nie. 2 In 1926 het sy ʼn pos by Hoërskool Lota in Idutywa in die Oos-Kaap aanvaar. Sy het die hoof van die skool geword, maar ná haar man in 1928 oorlede is, het sy permanent teruggetrek Johannesburg toe. 6

Politieke loopbaan

Maxeke het met die verloop van tyd al hoe meer daarin begin belangstel om swart mense, spesifiek vroue en werkers, nie net op sosiale vlak op te hef nie, maar ook op politieke vlak op te hef.

Sy het die opening van die Suid-Afrikaanse Naturellekongres of The South African Native National Congress (SANNC) – die organisasie wat later die ANC sou word – in 1912 bygewoon en was een van dié organisasie se eerste vroulike lede. 4

Sy was ʼn vurige teenstander van passe vir swart vroue en het gehelp om ʼn antipasbeweging in Bloemfontein in 1913 te organiseer. 2 Sy was die dryfveer agter die stigting van die Bantoevroueliga (BVL), 1 die voorganger van die ANC-vroueliga. As leier van die BVL het sy ʼn onsuksesvolle afvaardiging na Louis Botha, die eerste minister, gelei om die kwessie van passe vir swart vroue te bespreek. 4

As ANC-lid het sy baie van die ANC se vroeë leesstof, soos pamflette, geskryf. Sy het ook toesprake gehou. In die woorde van ʼn SANNC-leier was haar toesprake: “elektries, passievol en vurig, maar nie aanhitsend nie. Charlotte het uit haar hart gepraat, en álmal het geluister. Daar kan van haar gesê word dat sy groot deernis vir die hele mensdom gehad het.” 4

Sy was betrokke by verskeie protesaksies, soos een teen lae lone op die Witwatersrand. In 1920 het sy aan die stigting van ʼn vakbond, die Industriële en Kommersiële Werkersunie (ICU) deelgeneem. 4

Ná sy in 1928 die sendingkonferensie in die VSA bygewoon het, het sy al hoe meer besorgd geraak oor die welsyn van swart vroue in Johannesburg. 1 Daarom het sy ʼn organisasie gestig om hulle te help om werk te kry. 2

In Desember 1935 was die BVL onder Maxeke se leiding die enigste vroue-organisasie wat na die All-African Convention (AAC) in Bloemfontein genooi is. Die AAC was ʼn konferensie wat probeer het om ál die organisasies wat hulle teen die wit regering wou verset, saam te laat werk. Maxeke is gevra om een van die sprekers by die konferensie te wees. Gedurende die AAC het vroue van verskeie organisasies die Nasionale Raad vir Swart Vroue gestig en Maxeke as eerste president verkies. 1

Sy was ook betrokke by multirassige bewegings. Sy het die Women’s Reform Club, ʼn organisasie vir wit Engelse vroue wat hul vir vrouestemreg beywer het, in Pretoria toegespreek en by die Raad van Europeërs en Afrikane, wat samewerking tussen verskillende rasse wou bevorder, aangesluit. 1

Soos wat Maxeke se bekendheid gegroei het, het sy al hoe meer publieke toesprake gehou en is uitgenooi na konferensies. 3 Sy was die eerste swart mens – man of vrou – wat uitgenooi is om voor die wit regering oor swart opvoeding te getuig. Haar getuienis voor die kommissie was so indrukwekkend dat dit gelei het tot verskeie werksaanbiedings. Sy het werk by die regering aanvaar: ʼn dubbele pos as parool– en welsynbeampte vir minderjarige misdadigers in Johannesburg. In hierdie pos het sy na jong swart mense wat pas uit die tronk vrygelaat is, omgesien. 4

Persoonlike lewe

Maxeke het haar toekomstige man, Marshall Maxeke, ontmoet terwyl sy by Wilberforce studeer het. Hulle het daar verloof geraak. 2 Hulle het waarskynlik in 1903 (of miskien vroeër) in die Pietersburg-distrik getrou. Hy was ʼn dominee van die AMEC. 1

Marshall Maxeke het in 1928 gesterf. Hulle het ʼn seun gehad, maar soos haar man is haar seun ook voor haar oorlede. 1

Maxeke het op 16 Oktober 1939 op die ouderdom van 65 in Johannesburg gesterf. By haar begrafnis het iemand in ʼn lofrede gesê: “Sy was almal se vriend en niemand se vyand nie.” 4

Evaluasie

Maxeke het studeer en ʼn graad aan ʼn universiteit voltooi in ʼn tyd toe selfs min wit vroue studeer het. Sy het dit gedoen op die enigste manier wat aan haar beskikbaar was: buite Suid-Afrika se grense. Daar was geen universiteit in Suid-Afrika wat haar toelating sou gee nie. 7

Sy het hard gewerk om aandag te vestig op die toestand van swart vroue en die uitdagings wat hulle moes trotseer. 4 Sy was ʼn rolmodel vir die vroue wat na haar gekom het. Maxeke was hoogs gerespekteer deur almal wat haar geken het – wit én swart. Die welsynorganisasies wat sy gestig het, het die lewens van duisende mense in die townships verbeter. 4

Charlotte Maxeke-hospitaal

Woordbank

aktivis Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale/politieke verandering te weeg te bring.
dryfveer Die oorsaak/rede wat iemand iets laat doen.
vrouesendinggenootskap  ʼn Vereniging waarvan die lede dieselfde doel het, in hierdie geval bestaande uit vroue wat sendingwerk doen, oftewel die Christelike geloof probeer uitbrei.
getuig ʼn Bewys van iets wees; wys/sê dat iets so is.
heenkome Blyplek of woonplek.
lekeprediker Iemand wat as prediker optree alhoewel hy/sy nie amptelik deur ʼn kerk daartoe gemagtig is nie.
onbaatsugtige Vir ander mense omgee en dink aan hul behoeftes en wense voor jy aan jouself dink.
parool Toestemming dat ʼn gevangene ʼn tronk mag verlaat voordat hy/sy sy/haar gevangenisstraf klaar uitgedien het, omdat hy/sy hom-/haarself daarbinne goed gedra het en op voorwaarde dat hy/sy hom hom-/haarself vir ʼn sekere tydperk aan geen verdere oortreding skuldig maak nie.
passe Dokument wat swart mense tydens apartheid moes dra om hulle die reg te gee om in sekere plekke in te gaan.
penarie ʼn Onaangename/moeilike/benoude toestand/situasie.
rampspoedig Met baie ellende, teenspoed en rampe.
vakbond ʼn Vereniging van mense wat in ʼn besondere vak werk, gestig om na die belange van die lede (hul voorregte/werksomstandighede/lone/ens.) om te sien.
welsyn Gesondheid; voorspoed. 8

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Charlotte Maxeke

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Charlotte Maxeke

Herinnering aan Charlotte Maxeke

Wat is ʼn sendeling?

Gepubliseer op: 8 Maart 2023 | Bygewerk op 8 Mei 2024