Vinnige feite

  • Sigmund Freud se oom, Josef Freud, is in Wene tronkstraf opgelê nadat hy met vervalsde geld handel gedryf het. Daar was gerugte (stories) dat Jakob Freud en sy seuns, Emanuel en Philipp, kop in een mus was met Josef. Hulle is egter nooit aangekla nie. 27
  • Freud is met die helm gebore. Dit beteken dat ʼn gedeelte van die vrugwatersak (waarin ʼn baba in die ma se baarmoeder is) met geboorte steeds oor die baba se kop is. Die velletjie om die kop lyk amper soos ʼn valhelm (vandaar die woord “helm”). Mense glo dat iemand wat met die helm gebore is, die toekoms kan voorspel of sien. In Duits word dit ʼn gelukskappie (Glückshaube) genoem omdat daar geglo word dat só ʼn baba vir groot dinge bestem is. 28
  • Die hoërskool wat Sigmund Freud bygewoon het, is vyftig jaar ná sy dood na hom vernoem. 6
  • Freud se vrou, Martha, was 21 jaar oud toe hy haar die eerste keer gesien het. Sy was glo besig om ʼn appel te skil. Hy het gereeld vir haar rose gestuur en haar Prinses genoem. In die tyd wat sy in Hamburg en hy in Wene en Parys was, het hulle meer as 900 briewe vir mekaar geskryf. 29
  • Op universiteit het Freud onder meer navorsing oor seediere gedoen en sowat 400 palings gedissekteer (oopgesny en ontleed). 30
  • Hy was baie jaloers op ander sielkundiges. Hoewel hulle aanvanklik groot vriende was, het Freud en Carl Jung, een van sy tydgenote, se paaie later geskei omdat Jung sy eie teorieë ontwikkel het wat van Freud sʼn verskil het. 31 Freud het sy studente ook verbied om met Alfred Adler, een van die wetenskaplikes wat sy idees gekritiseer het, te praat. 32
  • Sigmund het vas geglo dat hy op 61- of 62-jarige ouderdom gaan sterf en het ʼn groot vrees vir dié getalle gehad. Hy was op ʼn keer vreesbevange toe hy in ʼn hotel in Griekeland in kamer 31 (die helfte van 62) moes slaap. 32
  • In Januarie 2014 was daar ʼn poging om Sigmund en Martha Freud se as, wat ná hul verassings in ʼn kruik gebêre is, te steel. Hoewel die as nie gesteel is nie, is die antieke Griekse vaas, wat 2 300 jaar oud was en deur prinses Marie Bonaparte geskenk is, onherstelbaar beskadig. 33
  • Op 10 Mei 1933 is Sigmund Freud en ander Joodse skrywers se boeke in 34 universiteitsdorpe in Duitsland aan die brand gesteek. Altesaam 25 000 boeke het daardie dag in vlamme opgegaan. Ander bekendes wie se boeke verbrand is terwyl studente die Nazi-saluut gedoen het, is Albert Einstein en die Amerikaanse skrywers Ernest Hemingway en Helen Keller. 34
  • Sherlock Holmes, die fiktiewe held in sir Arthur Conan Doyle se boeke, het ook kokaïen (en morfien) soos Sigmund Freud gebruik. In die Victoriaanse tyd was dit nie vreemd nie. Middels soos morfien en kokaïen was nie onwettig nie, en mense het dit veral vir pynverligting gebruik. 35
Foto: iStock

Met sy seldsame manier van dinge doen, het Sigmund Freud die wêreld anders oor die mens se kinderlewe, geheue, drome en gedagtes laat dink. Freud het ook maniere gevind om gedagtes en emosies wat ʼn mens nie eens geweet het bestaan nie, na vore te bring. Dié man, wat op 8-jarige ouderdom reeds moeilike werke van die Engelse skrywer Shakespeare gelees het, se eie lewe was propvol uitdagings en hartseer. Hoewel sommige van sy idees en teorieë dalk vreemd was, word Freud nie om dowe neute die vader van die moderne sielkunde genoem nie.

Kinderjare

Sigismund Schlomo (later tot Sigmund verkort) Freud is op 6 Mei 1856 in Freiberg gebore. Freiberg is vandag deel van die Tsjeggiese Republiek. Met sy geboorte kon sy ouers net ʼn gehuurde kamer bo ʼn ystersmid se winkel bekostig. Sy pa, Jakob Freud, was veertig jaar oud toe Sigmund gebore is en was twintig jaar ouer as Sigmund se ma, Amalia Nathanson. Jakob was ʼn wewenaar (ʼn man wie se vrou oorlede is) toe hy en Amalia getroud is, en hy het twee volwasse seuns uit sy eerste huwelik gehad. 1

Amalia Freud en Freud (16).

ʼn Seuntjie Julius word ná Sigmund gebore. In sy outobiografie vertel Sigmund dat hy só jaloers op sy boetie was, hy het gewens hy gaan dood. Ná ses maande sterf die seuntjie. Ma Amalia se twintigjarige broer (ook met die naam Julius) is ʼn maand voor klein Julius aan tuberkulose dood. Sigmund het baie skuldig gevoel omdat hy sy boetie doodgewens het, en die dood van die twee Juliuse het hom vir die res van sy lewe soos ʼn donker skaduwee gevolg. 2

Die huis waar Freud grootgeword het.

Sigmund se pa was aanvanklik ʼn wolhandelaar, maar sy onderneming in Freiburg was nie baie suksesvol nie. Amalia en Jakob besluit om saam met Sigmund en sy sussie, Anna, na Wene, Oostenryk, te verhuis. Hier het Sigmund die grootste deel van sy lewe tot met die Nazi-oorname van Wene in 1938 gewoon. Wene was ʼn groot stad en heeltemal anders as sy plattelandse geboortedorp. Sigmund het baie na sy geboortedorp en sy familie in Freiburg verlang. Hy het dié dorpie vir oulaas besoek toe hy sestien jaar oud was. 3

Sigmund as kind saam met sy pa.

Die Freuds was ʼn groot gesin. Behalwe Sigmund en sy sussie, Anna, is nog vyf kinders – Rosa, Mitzi, Dolfi, Paula en Alexander – in die vyf jaar ná hul aankoms in Wene gebore. ʼn Groot gesin is natuurlik baie duur om voor te sorg, en dit het ʼn groot finansiële las op die gesin geplaas. Een van die voorvalle (gebeurtenisse) wat ʼn blywende indruk op die jong Sigmund gemaak het, was toe sy pa op ʼn dag vertel het hoe ʼn Oostenrykse Christen verby hom geloop, sy hoed van sy kop af gestamp en die “Jood” (die Freud-gesin het aan die Joodse geloof behoort) beveel het om van die sypaadjie af te klim. Sy pa het sonder om teë te praat van die sypaadjie geklim en sy hoed opgetel. Sigmund was teleurgesteld in sy pa se reaksie. Hy wou gehad het sy pa moes die man sommer ʼn opstopper gegee het! 3

Dit was vir Jakob en Amalia van kleins af duidelik dat hul oudste seun besonders slim is. Sigmund (of “my goue Siggie” soos sy ma hom genoem het) en sy ma het ʼn besonderse noue band gehad. Hy het as kind sy eie kamer gehad (ʼn voorreg wat die ander Freud-kinders nie gehad het nie), en sy ma het selfs vir hom kos na sy kamer toe geneem. Sy sussies moes ook dadelik ophou klavier oefen as dit Sigmund se aandag afgelei het. 4

Hy het in sy outobiografie erken dat hy sy ma se witbroodjie was: “As jy ongetwyfeld jou ma se gunstelingkind is, het jy vir die res van jou lewe selfvertroue, ʼn gevoel van oorwinning, in jou.” 5

Opleiding

Dit was ook sy ma wat Sigmund leer lees en skryf het. Selfs die moeilike werk van die Engels skrywer Shakespeare was op agtjarige ouderdom vir hom kinderspeletjies. In 1865 ontvang hy vir die eerste keer formele skoolonderrig aan die Leopoldstädter Kommunalrealgymnasium. Hy blink veral uit in tale en leer om Grieks, Latyn, Engels, Frans, Spaans en Italiaans te praat (hy leer van dié tale sommer self aan). Vanaf 1869 woon hy die Öbergymnasium in Wene by en slaag op 17-jarige ouderdom sy laaste skooljaar in 1873 met lof. 6

Die natuurgedig Gesang aan die Natuur deur die Duitse digter en dramaturg Johann Wolfgang von Goethe inspireer Sigmund om medies te gaan studeer. As student aan die Universiteit van Wene neem hy aanvanklik vakke soos anatomie, fisiologie, dierkunde, plantkunde en fisika. 7

In 1882 ontmoet hy vir Martha Benays, die dogter van ʼn Joodse rabbi (soos ʼn dominee of predikant) van Hamburg, Duitsland, toe Martha by sy susters in Wene kom kuier. Sigmund was smoorverlief op dié aantreklike dame wat in kuns en literatuur belanggestel het. Twee maande ná hulle ontmoeting raak die paartjie in die geheim verloof, maar daar was nie gou sprake van trouklokke wat lui nie. Hoekom in die geheim? Wel, Sigmund was ʼn ateïs, oftewel iemand wat nie in God glo nie. 8

Hy besluit om hom as ʼn mediese dokter te bekwaam en begin in 1882 met sy internskap aan die Universiteit van Wene. Hier fokus hy op verskillende dissiplines (vakgebiede) soos chirurgie, interne geneeskunde en psigiatrie, want in daardie stadium was hy nog nie seker waarin hy eendag ʼn kenner (spesialis) wou wees nie. Danksy sy navorsing oor die menslike brein, word Freud in 1885 as ʼn dosent in neuropatologie aan die Universiteit van Wene aangestel. 9

Freud se vriend, die dokter en sielkundige Joseph Breuer, het ʼn groot invloed op Sigmund se loopbaan gehad. Hy het vir Sigmund vertel hoe hy hipnose gebruik het om ʼn pasiënt genaamd Bertha Pappenheim te genees. Sy het onder hipnose oor dinge gepraat wat sy nie kon onthou toe sy wakker was nie, en dit het haar baie beter laat voel. Dit is later geselsterapie of geselsgenesing genoem. 9

In 1885 het Sigmund Wene verlaat om sy neuropatologiese studies onder leiding van Jean-Martin Charcot in Parys, Frankryk, voort te sit. Charcot was bekend vir sy gebruik van hipnose om pasiënte veral met histerie (onbeheerste emosies soos lag- en huilbuie) te help. 9

Met sy terugkeer na Wene in 1886 open hy ʼn praktyk waar hy in brein- en senuweesteurings spesialiseer. Hipnose was nie vir Sigmund so doeltreffend nie, en hy ontwikkel ʼn nuwe manier van behandeling (“vrye assosiasie”) waar pasiënte op ʼn bank lê en ontspan, en dan oor enigiets gesels wat in hulle gedagtes opkom. Freud het alles neergeskryf en dit later ontleed (bestudeer). Hierdie metode van vrye assosiasie het pasiënte gehelp om hul onderdrukte gevoelens na die bewuste te bring. 9

In hierdie tyd begin hy met kokaïen eksperimenteer om vas te stel of daar enige mediese voordele in dié middel is. Hoewel daar wel ʼn gebruik vir vloeibare kokaïen as verdowingsmiddel in oogchirurgie gevind is, het die eksperimentering met kokaïen tragiese gevolge gehad. In daardie stadium het mense nog nie besef dat kokaïen ʼn verslawende dwelmmiddel is nie. Een van Sigmund se vriende, Ernst Fleischl von Marxow, sterf as gevolg van kokaïen (hy was ook aan morfien verslaaf), en Sigmund se reputasie ly groot skade as gevolg van hierdie eksperimente. 10

In 1896 begin Sigmund die term psigoanalise gebruik. Psigoanalise is ʼn behandeling vir geestesversteurings waartydens daar klem op ʼn pasiënt se onderbewuste gelê word. Selfs ʼn Freudiaanse verspreking (Freudian slip in Engels), iets wat ʼn persoon per ongeluk kwytraak, was vir hom betekenisvol, want hy het geglo dit verklap iets wat vir daardie persoon belangrik is. 11

In 1902 word hy ʼn professor aan die Universiteit van Wene, en Sigmund werk vir 36 jaar hier tot hy Wene in 1938 verlaat. In hierdie tyd skryf hy talle artikels en boeke oor sy navorsing en teorieë. 12

Die Freud-gesin in 1898.

Huwelik en gesin

Martha Bernays en Sigmund trou uiteindelik, ná hul geheime verlowing van vier jaar, op 4 September 1886. Hulle is eers in die hof in die eg verbind en die volgende dag in die Joodse kerk, ʼn vergunning wat Sigmund uit respek aan sy skoonfamilie gemaak het. Anders as sy eie familie en Martha se familie het Sigmund nie die Joodse geloof aangehang nie. 8

ʼn Jaar ná hulle troue is Mathilde (1887-1978) gebore. Die egpaar het vyf kinders ná Mathilde gehad: Jean-Martin (1889-1967), Oliver (1891-1969), Ernst (1892-1979), Sophie (1893-1920) en Anna (1895-1982). 8

Minna, Martha se suster, het ook ná haar verloofde se dood in 1895, ʼn permanente inwoner in die Freud-huis geword. Dit het later aan die lig gekom dat sy en Sigmund vir jare ʼn verhouding gehad het. 13

Sigmund en sy dogter Anna.

Met soveel kinders het Martha nie tyd vir enigiets anders as die bestuur van die huishouding en die versorging van haar man en kinders gehad nie. Hoewel sy geweier het dat hul kinders aan Sigmund se navorsing deelneem, het haar toewyding aan die gesin haar man in staat gestel om op sy boeke en teorieë te fokus. 8

ʼn Lewe vol tragedie

Hoewel Sigmund ander mense gehelp het om oor hul probleme te praat en genesing vir hartseer te vind, het die Freud-gesin self baie hartseer beleef. In 1920 sterf Sophie, Sigmund en Martha se vyfde dogter, onverwags aan die Spaanse griep. Spaanse griep was in daardie tyd ʼn groot pandemie, amper soos Covid-19 sedert 2020 duisende mense se lewe wêreldwyd geëis het. Sy dogter se dood het Sigmund erg geraak. Sy was net 26 jaar oud en ʼn ma van twee seuns. Terwyl Freud homself kon voorberei dat sy seuns in die Eerste Wêreldoorlog kon sterf, het hy nooit verwag dat sy dogter in die fleur (beste jare) van haar lewe sou sterf sonder dat hulle kon groet nie. 14

Drie jaar later sterf Heinz, Sophie se vyfjarige seuntjie, aan tuberkulose. Dit was ʼn dubbele slag vir die Freud-gesin, iets wat Sigmund geen ouer toegewens het nie: om ʼn kind én ʼn kleinkind te begrawe! 15

Dit was nie net die dood wat hartseer in Sigmund se persoonlike lewe gebring het nie.

Ten spyte van die feit dat sy teorieë en tegnieke mense se emosionele pyn verlig het, kon hy nie dié mense naby aan hom help nie:

  • Anna, Freud se enigste kind wat in haar pa se voetspore ʼn loopbaan in die sielkunde gevolg het, het as ʼn jong meisie aan depressie en moontlik anoreksie (ʼn eetversteuring waar mense ophou eet en baie maer word) gely. 16
  • Sigmund se suster Regina Debora (Rosa) is met ʼn advokaat getroud. Hul seun sterf in die Eerste Wêreldoorlog, en hul dogter pleeg in 1922 selfdood. 17
  • Sy suster Marie (Mitzi) is met haar neef Moritz Freud getroud. Hul seun Theodor verdrink en hul dogter neem haar eie lewe nadat háár man selfdood gepleeg het. 13
  • Sigmund se suster Aldolfina is, nadat sy verwagtend geraak het, nie net alleen deur die baba se pa agtergelaat nie, maar sy het ook die baba verloor. Adolfina het vir die grootste deel van haar lewe in ʼn inrigting vir mense met sielkundige versteurings gewoon, en Sigmund het haar elke nou en dan besoek. 18
Sigmund Freud en sy kleinseun Stephan Gabriel Freud.

Sigmund self het aan ʼn hartkondisie en mondkanker gely. In sy vroeë twintigs het hy eers sigarette begin rook en later na minstens 20 sigare per dag oorgeslaan. Hy het geglo die rokery gee sy produktiwiteit en kreatiwiteit ʼn hupstoot. Nadat dokters in 1923 ʼn groot kankergewas ontdek het, is ʼn groot deel van Sigmund se kakebeen verwyder. Oor die volgende 16 jaar het hy meer as 33 operasies gehad. Al moes hy ʼn prostese gebruik om sy sinus en kakebeen te skei, het hy tot met sy dood nooit opgehou rook nie. 19

Vlug uit Oostenryk

Nadat Hitler in Duitsland aan bewind gekom het, het baie Jode dié land begin verlaat. Albert Einstein het byvoorbeeld onmiddellik na die VSA gevlug, maar Freud wou, ten spyte van sy vriende se waarskuwings dat Hitler Oostenryk ook gaan oorneem, nie vlug nie. Dit is eers nadat Oostenryk in Maart 1938 deur Duitsland binnegeval is en sy dogter Anna deur die Gestapo (die geheime staatspolisiemag van die Nazi’s) gevange geneem en ondervra is, dat hy die erns van die saak besef het. Anna is vrygelaat, en die gesin is met die hulp van dr. Anton Sauerwald (wat vir die Nazi’s gewerk het) toegelaat om Oostenryk te verlaat. 20

Dit is nie heeltemal seker hoekom Sauerwald, ʼn chemikus wat in sy vrye tyd bomme gemaak en in die tuin gefroetel het, die Freud-gesin gehelp het nie. Navorsers vermoed dat hy Sigmund se boeke gelees het en besluit het om hom, sy hondjie en sestien mense te help om die land te verlaat. Hy het Sigmund later selfs in Londen besoek om te sien hoe dit met hom gaan. 2

Die Sigmund Freud-museum in Wene, Oostenryk.

Een van Freud se vernaamste pasiënte was prinses Marie Bonaparte. Sy was die agterkleindogter van Napoleon se broer en was getroud met prins George van Griekeland. Sy het vir almal se visas (dokumente wat dit wettig gemaak het om die land te kon verlaat) betaal, en sy reël saam met Sauerwald dat Freud se biblioteek, sy groot standbeeld- en oudhedeversameling en beroemde terapiebank (wat hy as geskenk by een van sy pasiënte gekry het) ook Londen toe gaan. 21

In Freud se laaste vyftien maande voor sy dood skryf hy nog twee boeke waarvan een ʼn opsomming van sy werk oor die jare is. Ongelukkig het sy mondkanker só erg geraak dat hy later nie meer kon eet of praat nie. Op 21 September 1939 vra die 83-jarige Freud sy Londense dokter om ʼn dodelike dosis (hoeveelheid) morfien aan hom te gee. Hy kon die pyn nie meer verdra nie en het ná die eerste toediening rustig geslaap. Twaalf uur later het die dokter hom nóg ʼn dosis morfien gegee. Hierna het hy in ʼn koma gegaan en op 23 September gesterf. 22

Sigmund se sussies was nie so gelukkig om uit die Nazi’s se kloue te ontsnap nie. Hulle is nie saam met hom Londen toe nie. Hy het nooit voorsien dat daar so ʼn geweldige aanslag op die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog sou wees nie. Vier van sy vyf susters is in Nazi-konsentrasiekampe dood. 19

Nalatenskap

Bewuste en onbewuste

Voor Freud die teorie van psigoanalise ontwikkel het, het sielkundiges en terapeute net op die gedagtes en emosies waarvan mense bewus was (die bewuste), gefokus. Die psigoanalise het die belangrikheid van die on(der)bewuste beklemtoon om persone met sielkundige probleme te help. 23

Volgens Freud is die bewuste alles waarvan ʼn mens bewus is (wat jy weet en onthou). Dit is die aspek van ons verstandelike verwerking waaroor ons rasioneel (logies en sinvol) kan dink en praat. ʼn Deel hiervan sluit ons geheue in, wat nie altyd deel van bewussyn is nie, maar maklik herroep of onthou kan word. Die onderbewuste sluit dinge in waarvan ons nie bewus is nie (amper asof ons dit vergeet het). Dit kan drome, onderdrukte gevoelens en gebeure insluit. Die verstand onderdruk hierdie gevoelens of gebeure omdat dit pynlik, hartseer of stresvol is. 6

Persoonlikheidsontwikkeling

Freud het geglo dat ʼn mens se persoonlikheid uit drie dele bestaan of deur drie fases van ontwikkeling gaan: 24

  1. Die id is die vroegste ontwikkeling van ʼn mens se persoonlikheid wat reeds tydens geboorte teenwoordig is en uit basiese instink, begeertes en behoeftes bestaan. Alle behoeftes moet onmiddellik bevredig word, soos ʼn baba wat huil vir melk.
  2. Die ego (Latyns vir die woord ek) is die tweede persoonlikheidsgedeelte wat uit die id ontwikkel. Die ego is amper soos ʼn buffer (skeiding) tussen die id en die werklikheid sodat die begeertes van die id op sosiaal aanvaarbare maniere (maniere wat nie vreemd vir ander mense is nie) uitgedruk word.
  3. Die superego is die finale stadium van persoonlikheidsontwikkeling. Dit is soos ʼn morele kompas en help ʼn persoon om tussen reg en verkeerd te onderskei. Hierdie begrippe word volgens Freud heel eerste deur ouers aan hul kinders oorgedra.
Freud se kantoor in Wene, Oostenryk.

Droominterpretasie

Sigmund Freud se bekende boek oor die interpretasie van drome (The Interpretation of Dreams) wat in 1899 verskyn het, het die wêreld anders na drome laat kyk. Volgens Freud is drome in die eerste plek ʼn vorm van wensvervulling (waar jou diepste wense bewaarheid word). Dit is ook die onderbewuste se manier om ʼn probleem op te los. Die inligting in die onderbewuste is soms deurmekaar en ontstellend, en daarom word drome gebruik om dit na die bewuste te bring. Volgens Freud is daar drome wat die toekoms voorspel, maar ook simboliese drome wat deur ʼn terapeut verklaar moet word, sodat die pasiënt kan weet wat die drome beteken. 25

In die Sigmund Freud-museum in Wene.

Psigoanalise

Die psigoanalise is sielkundige en terapeutiese tegnieke en teorieë wat deur Sigmund Freud begin is. Oor die jare is hierdie teorieë uitgebrei, hersien, hervorm of in ʼn teenoorgestelde rigting ontwikkel.

Die basiese beginsels van psigoanalise is soos volg: 26

  • ʼn Persoon se ontwikkeling word beïnvloed deur oorgeërfde (wat jy by jou ouers of familielede gekry het) persoonlikheidseienskappe en gebeure uit jou vroeë kinderjare.
  • Menslike gedrag, ervarings en gedagtes word meestal deur on(der)bewuste, irrasionele (iets wat nie verklaar kan word nie) begeertes beïnvloed.
  • Die onderbewuste probeer om hierdie drange (begeertes) na die oppervlak te bring, maar dit word deur verdedigingsmeganismes gekeer om na die bewuste te kom.
  • Konflik tussen die bewuste en onderbewuste of onderdrukte inligting kan lei tot angs, depressie, en so meer.
  • Genesing vind plaas wanneer die onderdrukte gevoelens en begeertes deur ʼn analis (soos iemand wat drome ontleed) of terapeut (ʼn sielkundige) na die bewuste gebring word.

Daar is 22 verskillende benaderings wat onder die term psigoanalise val. Freudiaanse aanhangers (sielkundiges of terapeute wat die metodes van Freud ondersteun en gebruik) probeer om vas te stel watter onderbewuste konflik die pasiënt se simptome (of gevoelens) veroorsaak. Hulle maak gebruik van droomterapie, vrye assosiasie en fantasieë (verbeeldingsvlugte) om hul pasiënte te help. 21

In 2001 het die tydskrif Time na Freud verwys as een van die afgelope eeu se invloedrykste denkers. ʼn Artikel van 2006 in Newsweek noem hom weer “die mees miskende dokter in die geskiedenis”. Hoewel sy idees die onderwerp van baie omstredenheid en bespreking is, is sy invloed op die sielkunde, terapie en die psige van die mens onmiskenbaar. Soos W.H. Auden in sy gedig In Memory of Sigmund Freud in 1973 skryf: “Al was hy soms verkeerd, en dikwels belaglik, is hy nie meer ʼn individu nie, maar ʼn hele klimaat van opinie.” 22

Woordbank

anatomie Studie van die vorm en bou van plante, diere en mense; ontleedkunde.
angs Gevoel van benoudheid/vrees/onsekerheid/onveiligheid.
assosiasie Verbinding van gedagtes/voorstellings met mekaar; om wat vroeër ervaar is, weer op te roep.
chirurgie Snykunde.
depressie ʼn Toestand waar die persoon aanhoudend hartseer en mismoedig is; neerslagtigheid/bedruktheid; geen hoop vir die toekoms nie.
fisika ʼn Afdeling van die wetenskap wat handel oor die kenmerke van materie en die dinamika wat dit beheer.
fisiologie Studie van die natuurlike lewensverskynsels van mens, dier en plant.
Gestapo Nazi-Duitse geheime staatspolisie.
gewas Geswelde groeisel; massa siek selle in ʼn mens se liggaam.
hipnose Die hipnotis praat met ʼn persoon op só ʼn manier dat hy onder hipnose gaan. Die persoon onder hipnose slaap nie, maar weet nie noodwendig wat hy gedoen of gesê het as hy “wakker” word nie.
Hitler Adolf Hitler was Duitsland se leier vanaf 1933 tot 1945. Hy was die leier van die Nazi-party en begin die Tweede Wêreldoorlog deur Pole oor te neem. Hierna het hy baie ander Europese lande soos Oostenryk beset (oorgeneem). Hy is die persoon wat opdrag gegee het dat Jode tydens die oorlog gevange geneem en in die konsentrasiekampe doodgemaak is.
instink Die natuurlike gewoonte van lewende organismes om op ʼn manier wat nie deur vorige ervaring bepaal word nie, op te tree; nie aangeleer nie.
interne geneeskunde ʼn Internis is ʼn spesialis in interne geneeskunde. Hierdie disspline van die geneeskunde fokus op die voorkoming, diagnose en behandeling van siektes in pasiënte ouer as 12 jaar sonder enige chirurgie.
interpreteer Verklaar of ontleed.
Jood Persoon wat die Joodse geloof aanhang.
kokaïen Pynstillende, verdowende middel uit die kokaplant in Suid- en Sentraal-Amerika vervaardig.
konsentrasiekampe ʼn Kamp waar gevangenes in ʼn oorlog deur die vyand aangehou word.
Nazi Aanhanger/lid van Hitler se Nasionaal-Sosialistiese Duite Arbeidersparty; volgeling van Hitler veral voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog.
morfien Verdowingsmiddel wat van opium gemaak word.
neuropatologie Patologie (siektes) van die senuweestelsel.
outobiografie Storie wat iemand oor sy of haar eie lewe skryf.
persoonlikheid Alles wat aan iemand ʼn eie, unieke karakter gee.
prostese Kunsmatige vervanger van ʼn afwesige liggaamsdeel; kunsledemaat.
psige Jou verstand en gemoed as die middelpunt (setel) van die bewussyn, wat jou diepste gevoelens, houding en gedrag bepaal.
psigoanalise Sielkundige teorie en terapie gemik op die behandeling van geestelike en emosionele afwykings deur die wisselwerking tussen die bewuste en on(der)bewuste van die psige.
sielkunde Leer van die wese en die eienskappe van die menslike siel/gees; psigologie.
terapie Behandeling van bepaalde liggaamlike of geestelike siektes.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die enigste opname van Sigmund Freud se stem

ʼn Animasierolprent om jou emosies te verstaan

Raak ontslae van negatiewe gedagtes

Wil jy sien hoe lyk een van die hondjies waaroor Freud so mal was? In hierdie video weet hy nie hy word afgeneem nie. Sy dogter vertel die storie.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Julie 2022 | Bygewerk op 15 April 2024