Vinnige feite

  • Wêreldgesondheidsdag word jaarliks op 7 April gevier, die dag waarop die WGO se grondwet in 1948 in werking getree het. 24
  • Oor die jare het mense en organisasies baie vreemde gesondheidswenke uitgedeel. Die skrywer Mark Twain het gewaarsku dat mense nie te veel gesondheidsboeke moet lees nie. “Jy kan doodgaan as gevolg van ʼn spelfout,” het hy gesê. In 1996 het ʼn gids in Australië oor veiligheid in die werksplek verskyn. Een van die reëls was dat ʼn persoon nooit sy voet in die bek van ʼn krokodil moet sit nie. 25
  • Die WGO hou sy lede op hoogte van die jongste inligting oor kankernavorsing, ontwikkeling van medikasie, voorkoming van siektes, beheer van dwelmverslawing, gebruik van entstowwe en die gesondheidsgevare van chemikalieë en ander middels. 10
  • Volgens die WGO is die grootste oorsaak van sterftes wêreldwyd hartsiektes. Daarna volg beroertes, longsiektes, lugwegsiektes, toestande wanneer babas gebore word, lugpyp-, en longkankers, Alzheimer se siekte en demensie, siektes wat met diarree verband hou, diabetes en niersiektes. 27
  • Sowat 70% van gesondheidsorgwerkers en maatskaplike werkers wêreldwyd is vroue. Verpleegsters en vroedvroue verteenwoordig ʼn groot persentasie hiervan. 25
  • Data deur die WGO wys dat byna almal in die wêreldwye bevolking (99%) lug wat die WGO se maatreëls oor die beperking van lugbesoedeling oorskry, inasem. 28

In 2020 het ʼn gesondheidskrisis ontstaan wat ʼn mens hoop nooit in jou leeftyd gebeur nie. Covid-19, ʼn dodelike siekte waarvoor daar in daardie stadium geen medisyne was nie, het wêreldwyd uitgebreek. Vir maande lank moes mense weens streng inperkings tuis bly. Ons ouers kon nie werk toe gaan nie (baie kon darem van die huis af werk), reise na ander provinsies en vakansies oorsee was iets van die verlede, en Zoom en Microsoft Teams het byna oornag die nuwe skoolklaskamers geword. Uiteindelik is ʼn entstof ontwikkel en het sterftes weens covid-19 begin afneem.

In 1918 was die wêreld nie so gelukkig nie. Tydens die laaste maande van die Eerste Wêreldoorlog het die Spaanse griep uitgebreek (dit is só genoem hoewel dit in China uitgebreek het). Dit was die ergste pandemie wat die wêreld nóg getref het. Binne twee jaar het een uit elke drie mense op aarde dié siekte gehad en meer as 50 miljoen mense daaraan gesterf. 1

As daar in 1918 ʼn organisasie soos die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) was, sou daar waarskynlik nie so baie mense gesterf het nie. Dié organisasie kon gekeer het dat die siekte versprei deur seker te maak dat daar ʼn entstof ontwikkel word, dat mense in afsondering bly en dat die kos vir die soldate beter was, want dit is presies wat die WGO vandag oor die hele wêreld doen.

Tydens die Covid-19-pandemie het die WGO ʼn huishoudelike naam geword. Dié organisasie was gerat om wêreldwyd gevalle en sterftes in verskillende lande te monitor. Die WGO het al verskeie suksesse behaal sedert sy totstandkoming in 1948, waaronder die uitwissing van pokke, ook danksy ʼn inentingsveldtog. 2

Met sy hoofkantoor in Switserland, ses streekskantore, 149 kantore in verskeie lande en sowat 8 000 personeellede 3 het die WGO groot drome vir die wêreld se gesondheid. 4

Stigting van die WGO

Toe verteenwoordigers van verskillende lande (diplomate) in 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog vergader het om die Verenigde Nasies (VN) op die been te bring, het verteenwoordigers van Brasilië en China voorgestel dat daar ʼn internasionale gesondheidsorganisasie gestig moet word. Daar is gevoel dat menselewens, soos tydens die Spaanse griep in 1918, gered kon word as lande met mekaar saamwerk deur byvoorbeeld inligting uit te ruil. 5

Op 15 Februarie 1946 het die ekonomiese en maatskaplike raad van die VN, aan die direkteur-generaal van die VN opdrag gegee om ʼn konferensie te reël waartydens afgevaardigdes van verskillende lande sou gesels om te besluit of ʼn internasionale gesondheidsorganisasie nodig is. Tussen 18 Maart en 5 April 1946 is ʼn vergadering gehou waartydens daar besluit is wat die reëls van só ʼn organisasie sou wees. Hierdie reëls, wat ook ʼn konstitusie of grondwet genoem word, is op 22 Julie tydens ʼn internasionale gesondheidskonferensie (ʼn samekoms waar kenners oor gesondheidsake praat) voorgestel. Die Wêreldgesondheidsorganisasie se grondwet word deur 51 VN-lede en 10 ander lande tydens daardie konferensie aanvaar en onderteken. 6

Omdat die WGO ʼn spesiale afdeling van die VN is, moes ten minste 26 lidlande van die VN ook die grondwet van die WGO goedkeur. Op 7 April 1948 word dit deur die 26ste lid goedgekeur. Die eerste vergadering van die WGO word in Genève, Switserland, deur 53 van die destydse 55 lede van die VN bygewoon, waar daar besluit word dat die werk van die WGO vanaf middernag op 31 Augustus 1948 sou begin. 6

Struktuur van die WGO

Die WGO, met sy hoofkantoor in Genève, Switserland, bestaan uit drie verskillende dele, naamlik die Wêreldgesondheidsvergadering, die uitvoerende raad en die sekretariaat met ʼn direkteur-generaal as leier van die sekretariaat.

Wêreldgesondheidsvergadering

Omdat die WGO ʼn onderafdeling van die VN is, is alle lande wat deel is van die VN ook deel van die WGO indien hulle die grondwet van die WGO aanvaar. Lande wat nie deel is van die VN nie, kan egter deel wees van die WGO as die meerderheid van die lidlande daarvoor stem. 6

Die Wêreldgesondheidsvergadering bestaan uit kenners van al die lidlande van die WGO. Die lidland besluit wie die land op die WGO verteenwoordig. Hoewel drie afgevaardigdes (mense wat die lidlande gekies het) van elke land die vergadering kan bywoon, het elke land net een stem. 7

Al hierdie kenners vorm saam die Wêreldgesondheidsvergadering wat jaarliks in Mei vir drie weke vergader. Met hierdie byeenkoms vind daar gesprekke plaas oor mediese onderwerpe wat vir die hele wêreld belangrik is. Op hierdie manier kry lidlande die kans om hul navorsing met ander lande te deel. 8

Met dieselfde geleentheid moet die Wêreldgesondheidsvergadering ook besluite neem oor die WGO se geldsake, werksaamhede en belangrike gesondheidsake.

Die WGO kan byvoorbeeld reëls oor die volgende vasstel: 8

  1. higiëniese (skoon of sanitêre) en kwarantynregulasies (afsondering of inperking), asook enige ander prosedures om internasionale pandemies soos covid-19 te voorkom;
  2. benoeming van siektes op ʼn manier wat gewone mense dit ook verstaan;
  3. standaarde vir prosedures wat gevolg moet word om siektes te herken;
  4. standaarde vir die veiligheid, suiwerheid en doeltreffendheid van biologiese, farmaseutiese en soortgelyke produkte wat wêreldwyd verkoop word; en
  5. standaarde vir die adverteer en etikettering (die name wat op ʼn etiket van medisyne gebruik word) van mediese produkte vir internasionale handel.

Regulasies (reëls) soos wat hier bo genoem word, moet met ʼn tweederde meerderheid (66% van die mense wat die vergadering bywoon) aanvaar word. Regulasies is op alle WGO-lande van toepassing, selfs al het ʼn land nie vir die regulasie gestem nie. Indien ʼn land nie die regulasie aanvaar nie, of met sekere voorwaardes die regulasie aanvaar, moet die lidland die WGO laat weet van die besluit wat geneem is. 8

Die uitvoerende raad

Die uitvoerende raad van die WGO bestaan uit 34 lede wat kenners op verskillende gebiede van gesondheid is. Die termyn (hoe lank hulle op die raad gaan dien) van die lede is drie jaar. Die raad vergader twee maal ʼn jaar by die hoofkantoor van die WGO in Genève, Switserland. 8

Die eerste vergadering is elke jaar in Januarie. Tydens hierdie vergadering word daar besluit wat op die agenda van die Wêreldgesondheidsvergadering in Mei moet wees. Enige belangrike besluite wat oor wêreldgesondheid gemaak moet word, word deur die uitvoerende raad bepaal.

In Junie, net ná die Wêreldgesondheidsvergadering se jaarlikse byeenkoms in Mei, ontmoet die uitvoerende raad vir ʼn tweede keer. Tydens hierdie vergadering moet hulle seker maak dat al die besluite en beleide wat tydens die Wêreldgesondheidsvergadering geneem is, wel uitgevoer word. Die uitvoerende raad gee ook advies (raad) aan lidlande indien nodig. 9

Die sekretariaat

Die WGO se sekretariaat moet die werk van die WGO elke dag doen. Die sekretariaat bestaan uit personeel, kenners en veldwerkers (mense wat op die plek is waar byvoorbeeld ʼn siekte uitgebreek het) wat by die hoofkantoor in Genève of by een van die WGO se ses streekskantore oor die wêreld werk. 9

ʼn Direkteur-generaal is aan die hoof van die sekretariaat. Hy of sy word deur die uitvoerende raad genomineer terwyl die Wêreldgesondheidsvergadering die direkteur-generaal aanstel. Die persoon word bygestaan deur ʼn adjunk-direkteur-generaal en verskeie ander assistent-direkteur-generale wat elkeen spesialiseer in verskillende onderwerpe soos vrouegesondheid, kindergesondheid of openbare gesondheid. 10

Finansiering van die WGO

Die WGO kry op twee maniere geld: Ongeveer 20% van die WGO se geld kom van verpligte ledegeld wat elke lidland van die WGO moet betaal, af. Hierdie bedrag word vasgestel deur elke land se relatiewe rykdom en aantal mense in die land (bevolking) in ag te neem. 10 Die res van die geld kom van vrywillige donasies (skenkings) van lande en organisasies. 11

Werksaamhede van die WGO

Die WGO is toegewyd daaraan om ʼn wêreld te skep wat vry is van siekte en om maatskaplike omstandighede wat ʼn invloed op mense se gesondheid en welstand het, te takel. 12

Die WGO fokus op die volgende:

Gee leiding oor wêreldwye gesondheid

Ander gesondheidsorganisasie beskou die WGO as die wêreldleier oor gesondheidsake. Met die covid-19-pandemie is die aanbevelings van die WGO deur die meeste lande gevolg. 13

Verskaf ʼn standaard van gesondheidsdienste oor die wêreld heen

Die WGO werk saam met kenners, regerings en politici om ʼn standaard te bepaal, byvoorbeeld oor ʼn land se gesondheidsdienste (mediese dienste wat ʼn land verniet aan die inwoners moet verskaf). ʼn Land se mediese dienste word gemeet aan die standaard wat die WGO meen ʼn land moet hê. 14

Doen navorsing oor gesondheid

Navorsing is een van die belangrikste funksies van die WGO, want dit is net deur kennis wat lewens wêreldwyd gered kan word. Hierdie navorsing en inligting word op verskillende maniere na mense oor die hele wêreld versprei. 14

Stel ʼn voorbeeld vir ander lande en organisasies

Omdat die WGO in soveel lande werk, is die manier hoe die WGO se personeel hul werk doen, ʼn voorbeeld vir die inwoners van daardie gebied. Hul werksaamhede moet as ʼn standaard dien vir ander organisasies. 14

Monitering van gesondheidsgevare

Dit is baie belangrik dat die WGO gesondheidstoestande oor die wêreld dophou en assesseer. Tydens die covid-19-pandemie het die WGO byvoorbeeld elke dag inligting oor die situasie in elke land gedeel. 15

Verskaf hulp aan lande

Die WGO probeer soveel as moontlik hulp en inligting aan gemeenskappe gee waar byvoorbeeld wanvoeding (te min of verkeerde kos) voorkom of siektes wat verhoed kan word, soos byvoorbeeld hartsiektes. 15

Grootste suksesverhale

Oor die dekades het die WGO baie suksesse behaal wat mense se lewens verbeter het. Hier onder word van die grootste suksesverhale uitgelig.

Die uitwissing van pokke

In 1950 het pokke die lewens van 2 miljoen mense oor die wêreld geëis. Dit was hoogs aansteeklik, en dit is van mens na mens oorgedra. Die simptome het naarheid, kopseer, koors en maagpyn ingesluit. Soos die persoon se liggaamstemperatuur daal, het hul gesig, arms en bors ʼn erge uitslag gekry. Die WGO het bepaal dat 80% van die wêreld se bevolking teen die siekte ingeënt moes word om dit uit te roei. Die WGO se inentingsprogram het gewerk, en op 8 Mei 1980 het die WGO verklaar dat pokke uiteindelik wêreldwyd uitgeroei is. 2

Die stryd teen tropiese siektes

Tropiese siektes is siektes wat voorkom in plekke naby die ewenaar waar daar nie ʼn groot verskil in die temperature tussen dag en nag is nie. Geelkoors, malaria en cholera is voorbeelde van tropiese siektes. 16

Oor die jare het die WGO baie gedoen om spesifiek twaalf aansteeklike tropiese siektes, wat die grootste invloed op arm mense het, te teiken. Een uit elke ses mense in die wêreld en sowat 875 miljoen kinders word deur tropiese siektes geraak. Die WGO probeer lewens red deur dokters en verpleegsters van daardie lande op te lei en mense in te lig oor byvoorbeeld hoe die siektes versprei. Die WGO verskaf ook medisyne en mediese toerusting om hierdie siektes te bekamp.

Goedkoper hepatitis C-medisyne

Hepatitis C is ʼn siekte wat die lewer verswak, en volgens die WGO het 80% van mense wat aan hepatitis C ly, nie die geld om medisyne vir die siekte te koop nie. In 2014 is die medisyne Solvadi in Frankryk beskikbaar gestel. Die prys van Solvadi vir ʼn enkele pasiënt was €40 000, en die Franse regering moes hiervoor betaal. Toe ʼn generiese weergawe later beskikbaar gemaak is, was die prys baie goedkoper, maar nog steeds onbekostigbaar vir baie mense in die wêreld. Nadat die WGO gevra het dat lande hepatitis C-medisyne goedkoop genoeg vir almal moet maak, het lande soos Pakistan en Indië dit heeltemal verniet of baie goedkoop gemaak. 2

Inenting teen malaria

Malaria, ʼn siekte wat deur muskiete oorgedra word, is een van die dodelikste siektes op aarde. Oor die jare het miljoene mense al hieraan gesterf. 17 Hoewel malaria teen die 1970’s grootliks uitgeroei is in ontwikkelde lande soos die VSA, Duitsland, Brittanje, Japan, ensovoorts, is malaria steeds ʼn groot probleem in Afrika. In 2020 is 95% van alle malariagevalle in Afrika aangemeld, en 96% van malariasterftes het hier voorgekom. Kinders jonger as vyf het sowat 80% van alle malariasterftes in Afrika verteenwoordig. 18 Die medikasie wat wel beskikbaar was, het nie meer gehelp nie. Meer as een miljoen kinders word deesdae met ʼn nuwe malaria-entstof ingespuit. Die WGO glo 40 000 tot 80 000 lewens kan jaarliks met hierdie entstof gered word. 19

Ten spyte van die covid-19-pandemie wat die wêreld vanaf 2020 moes hanteer, het die WGO nie net 87 ander gesondheidskrisisse hanteer nie, maar ook ander welslae behaal: 18

  • Die rook van tabak en sigarette het in 150 lande verminder nadat die WGO maatreëls oor die gebruik daarvan voorgestel het.
  • Die leiding van die WGO het die oordrag van MIV en/of sifilis (ʼn geslagsiekte) tussen ma en kind in 15 lande verminder.
  • Verpligte reëls oor die gebruik van vetsuur in kos wat kardiovaskulêre siektes (hartsiektes) veroorsaak, is in 58 lande aangeneem. Die eetgewoontes van 3,2 miljard mense kan hierdeur verbeter word sodat minder mense aan hartsiektes en cholesterol ly.

Kritiek teen die WGO

Al doen die WGO wêreldwyd soveel goeie werk, het die organisasie oor die jare heen ook die wind van voor gekry.

Tussen 2009 en 2010 het meer as 1,4 miljoen mense varkgriep gekry en ongeveer 18 500 mense het daaraan gesterf. Die WGO is daarvan beskuldig dat hulle die siekte oorskat het omdat hulle beïnvloed is deur mense wat geld uit medisyne en inentings vir die siekte kon maak. 20

Nog een van die gevalle was tydens die ebolakrisis in 2014 waar dit eers vyf maande ná die eerste gevalle aangemeld is, as ʼn krisis verklaar is. 21 Die siekte het vir twee jaar 11 000 lewens in lande van Wes-Afrika teen ʼn sterftekoers van meer as 50%, geëis. Die WGO het in 2015 erken dat daar nie goeie samewerking tussen die hoofkantoor in Switserland en die kantore in Afrika was nie. 21

Hoewel die WGO beslis as ʼn wêreldleier van gesondheid tydens die covid-19-pandemie na vore getree het, is daar mense wat voel dat die WGO nie betyds gereageer het om dit ʼn wêreldwye pandemie te verklaar nie. Die WGO het aan die begin die erns van die virus onderskat. 21

Woordbank

advies (Skriftelike of mondelingse) raad/mening oor ʼn saak. 22
agenda Lys van sake wat op ʼn vergadering behandel/bespreek moet word; sakelys. 22
assesseer Skatting van skade. 22
cholesterol Vetagtige stof, sonder smaak of reuk, wat in die selle van gewerweldes voorkom en beskou word as oorsaak van aarverkalking; galvet. 22
diplomate Verteenwoordiger van ʼn staat by/in ʼn ander staat, bv. ʼn ambassadeur/gesant. 22
donateur Persoon wat geld/goed skenk om iemand of ʼn organisasie te help; skenker. 22
entstof Preparaat van ʼn mikroörganisme/virus wat in die liggaam opgeneem word om die produksie van antiliggame te stimuleer sodat die liggaam onvatbaar (immuun) kan word vir besmetting; vaksien. 22
farmaseutiese Wat betrekking het op die bereiding van geneesmiddels. 22
generiese Medisyne wat die ekwivalent is van ander en in elke opsig gelyk is (dieselfde is) aan die oorspronklike, vervaardig nadat die patent(e)reg op die oorspronklike verval het. 22
grondwet Wet wat in hooftrekke die regeringsvorm van ʼn staat, die funksies van staatsorgane en die verpligtinge en regte van die burgers bepaal. 22
konferensie Groot, formele vergadering waar baie mense ʼn paar dae lank byeenkom om belangrike sake op die gebied van politiek/ekonomie/wetenskap/ens. te bespreek. 22
maatreëls Handeling met ʼn bepaalde doel om sake te reël. 22
monitor Om ʼn aktiwiteit/situasie dop te hou om te sien hoe dit verander/ontwikkel, of om seker te maak dit verloop regverdig. 22
genomineer Benoem; voorstel.
pandemie Siekte wat baie gou oor ʼn hele land of groter gebied versprei.
pokke Epidemiese siekte waarby die hele liggaam met etterpuisies bedek is.
sifilis Infeksiesiekte wat deur intieme aanraking, veral deur geslagsgemeenskap, van mens tot mens oorgedra word en die hele liggaam aantas.
simptome Verskynsel van ʼn siekte.
spesialiseer Jou studie/tyd tot hoofsaaklik een vakgebied/aktiwiteit beperk.
uitslag Puisies of rooierige vlekke op die vel.
varkgriep Respiratoriese (wat asemhaling affekteer) infeksie wat deur ʼn griepvirus veroorsaak word; word van mens tot mens versprei.
Verenigde Nasies Die VN is ʼn internasionale organisasie wat deur verskillende lande op 24 Oktober 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog gestig is. Die VN beywer hom veral vir wêreldvrede en die onderlinge samewerking tussen verskillende lande. 23
vetsuur Suur wat in vet voorkom.
vroedvrou Vrou wat help met babas se geboorte.

Kyk na hierdie artikels en dokumente om nog meer te leer oor die WGO

Kyk hierdie video’s om meer te leer oor die WGO

Die ergste siektes wat die wêreld se geskiedenis verander het

Die meeste kinders het al waterpokkies gehad: Hoekom sterf mense nie as gevolg daarvan nie?

Die WGO fokus die afgelope paar jaar baie meer op nieaansteeklike siektes. Kyk die onderstaande video om te sien hoekom.

Baie lewens kan gered word as daar ʼn entstof teen MIV/vigs is.

Gepubliseer op: 13 Junie 2022 | Bygewerk op 15 April 2024