Vinnige feite

  • Die term vigs is die eerste keer in 1982 deur wetenskaplikes gebruik en die oorsaak van vigs, naamlik MIV, is in 1983 ontdek (MIV is eers HTLV-III/LAV genoem). 13
  • Daar is sowat 1,2 miljoen Amerikaners wat met MIV leef, maar een uit elke vyf van dié mense weet nie dat hulle MIV-positief is nie. 14
  • Van die geraamde 40 miljoen mense wat wêreldwyd met MIV leef, is 2,58 miljoen kinders tussen 0 en 19 jaar. Elke dag in 2022 het ongeveer 740 kinders met MIV besmet geraak en ongeveer 274 kinders het weens vigsverwante oorsake gesterf, meestal weens onvoldoende toegang tot mediese sorg. 16
  • Nagenoeg 630 000 mense is in 2022 in die wêreld aan vigsverwante siektes dood, en 1,3 miljoen nuwe mense het in dié jaar positief vir MIV getoets. 16
  • Mense met vigs wat geen behandeling (medisyne) ontvang nie, sal net sowat 3 jaar lank met die siekte kan oorleef. 17

Foto: iStock

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is menslike immuniteitsgebreksvirus of MIV (HIV in Engels) ’n baie ernstige siekte waaraan meer as 40 miljoen mense al dood is. Teen die einde van 2022 was daar meer as 39 miljoen mense in die wêreld met MIV, waarvan meer as 25 miljoen in Afrika woon. 1

Ongeveer 8,45 miljoen mense in Suid-Afrika leef met MIV (sowat 14% van die bevolking). Nagenoeg 24% van Suid-Afrikaanse vroue tussen die ouderdomme 15-49 jaar is MIV-positief. 

Volgens die WGO raak baie meer mense egter bewus van dié siekte en hoe om te keer dat dit versprei (van een mens na ’n ander oorgedra word). Al is daar nog nie ’n geneesmiddel (medisyne wat dit 100% gesond kan maak) nie, gebruik al meer mense medisyne wat keer dat die siekte erger word. Maar wat is MIV en vigs presies?

Wat is MIV?

MIV staan vir menslike immuniteitsgebreksvirus, en dit is ’n virus wat die mens se immuunstelsel aanval. Die immuunstelsel is soos ons liggaam se eie weermag wat ons teen kieme beskerm. Wanneer ons immuunstelsel swak is, is dit moeilik vir dié soldate om infeksies en sekere soorte kanker te keer. Die meeste mense wat MIV opdoen en vroeg reeds medisyne hiervoor begin gebruik, lewe lang en gesonde lewens, maar daar is nog nie medisyne beskikbaar wat mense heeltemal gesond kan maak nie. 2

Wat is vigs?

Vigs staan vir verworwe immuniteitsgebreksindroom. Mense wat vir ’n lang tydperk MIV het en wie se immuunstelsel baie verswak het, kan vigs opdoen. Wanneer iemand vigs het, is dit moeilik vir die immuunstelsel om teen infeksies te veg en word dié persoon baie siek. Daar is medisyne beskikbaar wat kan keer dat iemand met MIV só siek word dat vigs intree. 3

Waar kom dié siekte vandaan?

Daar word geglo dat MIV oorspronklik van ’n sjimpansee in Sentraal-Afrika af kom. Die diervorm van die virus word Simiaanse immuniteitsgebrekvirus (SIV) genoem en is waarskynlik aan mense oorgedra wat die sjimpansees vir hulle vleis gejag en in kontak met besmette bloed (bloed met SIV in) gekom het. Studies toon dat die virus reeds baie jare terug van dié diere na mense oorgedra is, maar ons het eers in die 1980’s die eerste keer van mense met MIV/Vigs gehoor. 4

Hoe kan iemand MIV kry?

Sommige kinders word met MIV gebore, omdat dié virus van ‘n ma na haar ongebore baba (in die baarmoeder) of deur borsmelk oorgedra kan word.

Jy kan ook MIV opdoen deur: 5

  • seks met ʼn persoon wat MIV het;
  • spuitnaalde te deel (byvoorbeeld waar mense dwelms gebruik of tatoeëermerke kry);
  • jou per ongeluk met ’n besmette (vuil) naald raak te steek (soos ’n dokter of verpleegster wat inspuitings vir mense gee); of
  • in kontak te kom met die bloed van iemand wat MIV het (byvoorbeeld deur ’n bloedoortapping of as jy ’n stukkende of seerplek het en aan besmette bloed raak).

Jy kan nie MIV kry nie deur:

  • urine, spoeg, trane of sweet (solank daar geen bloed in is nie) 6
  • hoes of nies
  • hande vashou of drukkies gee
  • eetgerei met iemand te deel (soos messe, vurke, borde en glase)
  • handdoeke of beddegoed te deel
  • muskiete of ander insekte

Wat veroorsaak MIV?

MIV vernietig CD4-selle (of T-selle) in die liggaam. Dié selle is deel van ons immuunstelsel, en hulle is die soldate wat help om kieme en siektes te beveg. Dokters stel vas of iemand MIV het (’n mens noem dit iemand is MIV-positief) deur bloed te trek. ’n Volwassene het gewoonlik ’n CD4-telling (die hoeveelheid van dié soldate of selle in jou bloed) van tussen 500 en 1 500. Wanneer die telling tot minder as 200 daal, word dit as vigs beskou. 7

Wat is die simptome van MIV?

Iemand wat MIV opdoen, kan baie sweet (veral in die nag) en gewig verloor, asook koors, geswelde kliere, ’n uitslag, moegheid, ’n seer keel, diarree (as jou maag baie werk of loperig is) en spierpyne ondervind. As ’n mens hierdie simptome toon, beteken dit nie noodwendig dat jy MIV-positief is nie, want baie ander siektes het dieselfde simptome. ’n Mens kan slegs deur ’n bloedtoets bepaal of iemand MIV-positief is. 8

Daar is twee tipes MIV, naamlik MIV-1 en MIV-2. MIV-1 kom die algemeenste voor (amper 95% van alle MIV-gevalle is dié tipe), terwyl MIV-2 hoofsaaklik in Wes-Afrika voorkom. MIV-1 versprei die maklikste en vinnigste van die twee soorte. 9

Infeksies (of siektes) wat dikwels met MIV/Vigs verband hou:

Wanneer die liggaam nie sterk genoeg is om infeksies te keer nie, word ’n mens makliker siek.

Mense met MIV/Vigs kry en sterf dikwels aan siektes soos:

  • longontsteking
  • tuberkulose
  • nier- of lewersiekte
  • sekere kankersoorte
  • meningitis 10

 

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

MIV/Vigs: Waarskuwingstekens, simptome, oordrag, oorsake en patologie

MIV/Vigs: Oorsake, simptome, behandelingsmoontlikhede en meer

Die wetenskap agter MIV/Vigs

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 September 2021 | Bygewerk op 6 Maart 2024