Vinnige feite
- Op 2 Februarie 1837 het Piet Retief ’n manifes in die Grahamstown Journal laat publiseer waarin hy verduidelik het waarom hy en ander uit die Kaapkolonie wou wegtrek.
- Piet Retief was die eerste goewerneur van die Voortrekkers.
- Piet Retief het vee van Dingaan wat deur Sekonyela se mense gesteel is, vir hom teruggegee en sou in ruil daarvoor grond vir die Voortrekkers kry.
Piet Retief was een van die Voortrekkerleiers wat aan die Groot Trek deelgeneem het. Hy word die beste onthou vir die manier waarop hy en sy groepie manskappe deur die Zoeloe-koning Dingaan doodgemaak is.
Retief se volle name was Pieter Mauritz Retief en hy is op 12 November 1780 in die Wagenmakersvallei (vandag bekend as Wellington) in die Kaapprovinsie gebore. Hy was die vyfde van 10 kinders van Jacobus, ‘n boer, en sy vrou, Debora Retief. Sy voorvaders was van Provence in Frankryk.
Piet Retief het by sy ouers gewoon tot hy 27 was, waarna hy die plaas verlaat en hom op Stellenbosch gevestig het. Daar het hy verskillende soorte werk gedoen: as ’n winkelklerk, bouer en drankverkoper. Hy was ook ’n boer.
Retief is in 1814 met ’n weduwee, Magdalene Johanna (Lenie) Greyling, getroud en hulle het vier kinders gehad. 1
Retief was ’n geleerde persoon soos ‘n mens uit sy briewe kan sien. Hy was ook bekend as ’n verfynde mens wat eerlik en goedhartig was. Danksy sy betrokkenheid in talle kommando’s het hy goeie leierseienskappe aangeleer. Hierdie eienskappe het van hom ’n goeie keuse gemaak om ook in die Voortrekkergemeenskap ’n leier te word. 1
Daarby het hy bekendgestaan as ’n persoon met ondernemingsgees en een wat groot vertroue in sy medemens gehad het. 2
Sover navorsers weet, is daar geen foto van Retief beskikbaar nie. Onthou dat kameras in daardie jare nog nie algemeen gebruik is nie. Daar is wel ’n identikit van Retief wat saamgestel is deur Eric Stockenström. Hy het dit gedoen deur te kyk na die gesigte van Retief se broer en suster. Mense wat hom geken het, het gesê dat hy ’n gemiddelde lengte gehad het. Sy vel was effens donker en hy het ook swart hare en ’n swart baard gehad. 3
Aanloop tot die Groot Trek
Terwyl Retief in die omgewing van die Groot Winterberg geboer het, het die Kaap ’n Britse kolonie geword.
Brittanje het allerlei nuwe wette gemaak waarmee die boere nie tevrede was nie. Slawehandel is afgeskaf en later ook onwettig verklaar. Die vergoeding wat deur die regering gegee is vir slawe wat vrygestel is, was baie min. Indien mense daaroor wou kla, moes hulle dit in Londen in Brittanje gaan doen. Dit was natuurlik baie onprakties en nie moontlik nie. Meeste van die boere het baie geld só verloor. In hierdie tyd het Retief leiding geneem en as tussenganger tussen die Afrikaanse boere en die Britse regering opgetree om die probleme te probeer oplos. 1
Hy het twee belangrike briewe geskryf – een aan plaaslike stamme se leiers en een aan die Britse regering. In hierdie briewe kan ‘n mens sien hoe goed hy kon redeneer en sy standpunte stel.
Op 18 Julie 1837 skryf hy ’n brief aan die kapteins (leiers) van plaaslike stemme. Daarin verduidelik hy hoe die Voortrekkers voel oor die beginsel waarop verskillende groepe mense (mense van Europese oorsprong en mense van nie-Europese oorsprong) in vrede naby mekaar kan woon.
Drie dae later skryf hy ’n brief aan die Britse goewerneur waarin hy sê dat die Voortrekkers as ’n vry en onafhanklike volk erken wil word. Hiermee het hy vir die eerste keer die Afrikaners se begeerte om ’n eie republiek te vorm, op ’n internasionale vlak genoem.
Navorsers wat Retief bestudeer het, beskou hierdie briewe as baie belangrike dokumente. Dit het die Nederlands/Afrikaanse emigrante laat glo dat hulle nie net ’n klomp individue was wat rondgeswerf het nie, maar dat hulle ’n volk gevorm het wat een doelwit en een bestemming gehad het. 4
Toe die laaste brief nie help nie, het Retief begin help aan die voorbereiding vir boere wat na die noorde van die land wou trek – die Groot Trek.
Op 2 Februarie 1837 het Retief ’n manifes in die plaaslike koerant, die Grahamstown Journal, laat plaas.
Hierdie manifes was soos ’n verklaring van onafhanklikheid deur die Voortrekkers. Retief het hierin onder meer gesê dat die Voortrekkerboere na ’n blyplek soek waar daar vrede vir hulle en hul kinders kan wees en waar daar ware vryheid sal wees. Dit moes ook ’n plek wees waar daar behoorlike wette sou wees. 2
Retief se rol in die Groot Trek
Retief het al sy besittings in die Sesde Grensoorlog verloor. Ten spyte daarvan wou hy nie dadelik aan die Groot Trek deelneem nie. Maar nadat sy onderhandelings met die luitenant-goewerneur, Andries Stockenström, niks gehelp het nie, het ook hy besluit om te trek.
Retief en sy groep mense het vroeg in 1837 uit die Kaapkolonie getrek. Hulle het in Maart 1837 by Buffelsvlei (vandag Aliwal-Noord) oor die Oranjerivier beweeg. Hul bestemming was Thaba Nchu waar daar reeds ongeveer 300 ander Voortrekkers bymekaar was.
Voordat Retief en sy Trek by Thaba Nchu aangekom het, het Gerrit Maritz na hom toe gery en vir hom gesê dat die Trekkers hom as hul leier wil hê. Hy het ingestem en op 17 April 1837 is Retief as goewerneur van die Voortrekkers gekies. Maritz is as magistraat gekies. 2
Hierdie leiers is op 6 Junie 1837 formeel beëdig. Retief het toe sy posisie en werk as politieke en ook militêre leier begin doen. Daar is op daardie oggend ’n seremonie deur die Voortrekkers gehou.
Erasmus Smit, wat as predikant sou optree, het gebid, en J. Scholtz het ’n resolusie met nege artikels voorgelees wat deur die Voortrekkers aangeneem is. Hulle moes ook besluit op ’n naam vir hul nuwe land. Erasmus Smit het ’n lang naam voorgestel en dit is so aanvaar: “De Vrije Provincie van Nieuw Holland in Zuid-Oost-Afrika”. (Onthou dat die Voortrekkers in hierdie tyd nog nie die Afrikaans gepraat het wat ons vandag praat nie.) 2
Verdeeldheid onder die Voortrekkers
Die groot groep Voortrekkers het in ’n oostelike rigting getrek.
Almal was nie tevrede met Erasmus Smit as predikant nie. Daar was ’n meningsverskil tussen Erasmus Smit en Sarel Cilliers wat negatief was teenoor Retief se Trek, wat ook sy groep Trekkers verdeel het. 2
Piet het ook geweier om Retief as leier te aanvaar. Omdat hy, Piet Uys, reeds met Dingaan kontak gemaak het, het hy waarskynlik gedink dat hy die leier moes word. Hy wou hê dat daar ’n demokratiese verkiesing van leiers moet wees sodra die Trekkers in Natal aankom. 3
Op 13 September 1837 is ’n volksvergadering gehou, maar die verskille kon ook nie tydens dié vergadering opgelos word nie. 2
Natal as die Voortrekkers se eindbestemming
Retief het van die begin af besluit dat Natal (vandag KwaZulu-Natal) die bestemming van die Groot Trek moet wees. Potgieter het nie hiermee saamgestem nie. Hy was bekommerd omdat daar reeds Engelse handelaars in Natal gebly het. Dit het hom laat dink dat Brittanje later hul gesag na Natal sou uitbrei. Daarom wou hy nie na Natal trek nie.
Retief en Maritz het boonop verskil oor die roete wat na Natal geneem moes word. Maritz het gedink dat dit beter sou wees om rondom die Drakensberg te probeer trek. Retief wou op sy beurt óór die Drakensberg trek.
Potgieter, Maritz en Uys het reeds vroeër besluit dat hulle eers teen Silkaats (Mzilikazi) moet optree om die deel van die land wes van die Drakensberg veilig te maak.
Om hierdie rede het die groot groep Voortrekkers dus verdeel. Op 16 September 1837 het eers Potgieter en sy groep noord getrek en op 18 September het Maritz se groep hulle gevolg. Uys se groep het ook noord getrek en slegs Retief en sy mense het oos na Natal getrek. 2
Retief se skakeling met Dingaan
’n Entjie voordat die Retief-trek by die Drakensberg gekom het, het hy ’n groep mans vooruit gestuur en hulle op 6 Oktober gevolg. Dit het hulle 90 uur te perd geneem om by Port Natal aan te kom.
Retief het op 5 November 1837 na Dingaan se woonplek, Umgungundlovu, gegaan. Hy wou met hom gesels oor ’n woonplek vir die Voortrekkers. Voor hierdie besoek het Retief reeds op 19 Oktober ’n brief aan Dingaan geskryf waarin hy, onder meer, gesê het dat die Voortrekkers baie graag in vrede met die Zoeloes wil saamleef.
Toe Retief op 6 November deur Dingaan ontvang is, het hy gesê dat die Voortrekkers die Zoeloes se vee gesteel het. Retief het vir hom gesê dat die vee deur die Tlokwastam van Sekonyela gesteel is. (Dingaan het dit eintlik self geweet.)
Dingaan het beloof om die grond tussen die Tugela- en Umzimvuburivier vir die Voortrekkers te gee as hulle die gesteelde vee vir hom terugbring. Retief het ingestem om dit te doen en het die ooreenkoms in ’n brief met die datum 18 November bevestig.
Retief het op 27 November 1837 weer by sy trek aangekom. Terwyl hy weg was, het sy mense solank aanbeweeg en op 14 November 1837 het die eerste waens reeds teen die Drakensberg begin afbeweeg.
Retief se dogter, Deborah, het op 12 November 1837 haar pa se naam teen ’n rots geverf naby die plek wat vandag Harrismith genoem word.
Retief en sy kommando was op 11 Januarie 1838 terug van waar hulle die gesteelde vee by Sekonyela gaan terugkry het. 2
Retief se dood
Toe Dingaan se vee teruggevind is, kon Retief verder gaan met sy onderhandeling met die Zoeloe-koning.
Die Voortrekkers het op 16 Januarie 1838 ’n Volksvergadering gehou om te besluit wie namens hulle met Dingaan moet gaan onderhandel.
Oor hierdie tweede besoek van Retief aan Dingaan het Retief van Gerrit Maritz en Sarel Cilliers verskil. Maritz en Cilliers het die Zoeloe-koning nie vertrou nie. Retief se mening was dat hy self weer moes gaan. Hy wou 200 mans saam met hom neem op die besoek. Maritz het rondgegaan om mense af te raai om saam met Retief te gaan omdat hy bekommerd was oor hul veiligheid. Hy het ook gesê dat Retief die hoofleier van die Voortrekkers was en hom nie in gevaar moes stel deur weer na Dingaan te gaan nie. Maar Retief het gesê dat Dingaan hulle mag wantrou as iemand anders opdaag om verder te onderhandel.
Uiteindelik het Retief met ongeveer 60 mans vertrek. (Sommige bronne sê dat daar 100 mans saam met Retief vertrek het.) 5
Daar was ook ander mense wat Dingaan nie vertrou het nie. Daar was ’n Engelse smous met die van Thompson wat die Voortrekkers teen verraad deur Dingaan gewaarsku het.
Op Saterdag 3 Februarie 1838 het Retief by Dingaan se vesting aangekom. Die volgende dag is die ooreenkoms tussen Dingaan en Retief gesluit. Daarvolgens sou Dingaan grond aan die Voortrekkers gee. Hierdie grond was die plek wat Port Natal ingesluit het, asook die grond tussen die Tugela- en Umzimvubu-rivier. Hierdie ooreenkoms was in Engels en was 4 Februarie 1838 gedateer.
Retief wou die Maandag vertrek, maar Dingaan het hom genooi om die volgende dag eers ’n dansvertoning van sy soldate by te woon. Tydens hierdie geleentheid het Dingaan skielik sy mense beveel om die Voortrekkers aan te val en almal is doodgemaak. Die datum was 6 Februarie 1838.
Die sendeling Francis Owen het reeds vanaf Augustus 1837 in die omgewing gewoon en sendingwerk gedoen. Uit sy dagboek kon die nageslag leer presies wat tydens die moord op Retief en sy mense gebeur het. 2
Moontlike redes vir Dingaan se optrede
Dingaan was waarskynlik bang vir ’n groot groep bure wat sterk was en ook sterk wapens in die vorm van vuurwapens gehad het. Die feit dat van die Voortrekkers reeds oor die Drakensberg begin trek het voor die onderhandeling afgehandel was, was sekerlik ook ’n rede. Hy het ook geweet dat die Voortrekkers reeds vir Sekonyela en Silkaats verslaan het en dit sou hom ook versigtig gemaak het. 2
Die tragedie van Retief se dood
Piet Retief kan beskou word as een van die tragiese figure in Suid-Afrika se geskiedenis. Dit was juis die groot geloof wat hy in sy medemens gehad het wat tot sy dood gelei het. Hy het ongelukkig nie geglo dat Dingaan nie sy ooreenkoms sou nakom nie. Hy sal onthou word as een van die belangrikste vryheidshelde in Suid-Afrika se verlede. 2
Die ooreenkoms tussen Retief en Dingaan
Hierdie ooreenkoms, wat dikwels ’n traktaat genoem is, is in 1923 deur die Suid-Afrikaanse geskiedkundige George Cory betwyfel. Hy was nie seker dat dit wel ’n wettige dokument was nie. Navorsing deur, onder andere, Cory en dr. Gustav Preller het egter bewys dat die handtekeninge op die dokument wel eg was.
Die oorspronklike dokument is later deur die Voortrekkers ontdek op die plek waar Retief en sy mense vermoor is. 6
Hoe word Piet Retief onthou?
Die dorp Piet Retief in die destydse Transvaal, nou Mpumalanga, is na hom vernoem. Pietermaritzburg is vernoem na beide Piet Retief en Gerrit Maritz.
Sommige navorsers se mening is dat die hele naam na Piet Retief verwys en dat die “maritz”-deel verwys na sy tweede naam, “Mauritz”. 3 Daar is ’n granietstandbeeld van Piet Retief op die noordoostelike hoek van die Voortrekkermonument in Pretoria. Dit is een van die monument se vier hoekwagte. 3
Daar is strate in baie dorpe wat na Piet Retief vernoem is. Dalk het jy al so ’n straat gesien?
In Pietermaritzburg is daar skole wat na Piet Retief vernoem is.
Woordbank
manskappe | ’n Ander woord vir soldate. |
identikit | ’n Skets of foto van ’n persoon wat geteken word sonder dat die kunstenaar die persoon self gesien het. Só ’n kunstenaar luister na ooggetuies wat die persoon geken of gesien het en maak die skets volgens die inligting wat hulle gee. |
kommando | Die woord wat gebruik word vir ’n groep soldate. |
kolonie | ʼn Land wat deur ʼn groter land oorgeneem is, word ʼn kolonie van die groter land genoem. |
manifes | Die dokument waarin standpunte of ’n beleid van ’n leier in die openbaar bekend gemaak word. |
resolusie | ’n Ander woord vir ’n besluit of ’n beslissing of ’n oplossing. |
traktaat | ’n Ooreenkoms tussen state of groepe. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Retief se volledige manifes
- Die ooreenkoms tussen Retief en Dingaan soos dit uit Engels na Afrikaans vertaal is
Kyk na dié foto’s om meer te wete te kom
- Die rots waarop Retief se oudste dogter, Debora, haar pa se naam geverf het naby waar die dorp Harrismith vandag is. Sy was toe 22 jaar oud en haar pa 57. Die groen woorde op die klip kan vandag nog gelees word. Dit word deur ’n glaskas beskerm wat bo-oor vasgemaak is. Klik hier.
- Só het Piet Retief gelyk