Vinnige feite

  • Families wat saam met Landman getrek het, was, onder andere, Vermaak, Scheepers, Laas, Van Niekerk, Van Rooyen, Nel, Booysen en Rudolph. 1
  • Landman was een van die drie mans wat die godsdiens op die Bloedrivier-veldtog gelei het, en het dus ook die Gelofte afgelê het. 11
  • Landman was die laaste groot Voortrekkerleier van betekenis wat gesterf het. 1
  • Die Karel Landman-monument naby Alexandria in die Oos-Kaap is deur Gerard Moerdijk ontwerp, dieselfde argitek wat die Voortrekkermonument ontwerp het. 12
  • Op Landman se graf verskyn die versie uit Openbaring 14:14: “Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe.” 13

Karel Landman (1796 tot 1875) was ʼn Groot Trek-leier. Hy is veral bekend as Andries Pretorius se tweede in bevel by die Slag van Bloedrivier.

Vroeë jare

Landman is op 5 Maart 1796 in die distrik Uitenhage op die destydse Kaapse oosgrens gebore. Hy was die vierde van elf kinders van Johannes Abraham Landman en sy vrou, Martha Maria Rog. Die eerste 40 jaar van Landman se lewe het verloop soos dié van die meeste ander Oosgrensboere van sy tyd. Hy het maar min skoolopvoeding gehad en moes van jongs af in die Kaapse kommando’s veg.

Hy het op ‘n jong ouderdom begin boer en in 1817 met Agatha Jacomina Meijer, die vyfde kind van Izaak Meijer, getrou. Hulle het ten minste ses kinders gehad. 1

Sy eerste plaas was Olifantsfontein, en hy het hard gewerk om ʼn sukses van sy boerdery te maak. Hy het egter omtrent alles in die Sesde Grensoorlog (1834-1835) verloor. 1

Deelname aan die Groot Trek

Sommig van Landman se familielede was vroeë Voortrekkers, met ander woorde hulle was van die eerste mense wat aan die Groot Trek deelgeneem het. Landman het egter op die oosgrens gebly, selfs na sy verliese in die Sesde Grensoorlog. 2 Hy het gehoop dat die situasie sou verbeter. Teen 1837 het hy egter hoop verloor, en in Junie daardie jaar het hy sy plaas verkoop en gereed gemaak om te trek. 1

Sesde Grensoorlog

Landman was die leier van ʼn groep van 38 families, bestaande uit tussen 170 en 180 wit Trekkers en ʼn klompie werkers. Hulle het die waspore van die Piet Uys-trek deur die Transoranje – die gebied anderkant die Oranjerivier (ook bekend as die Garieprivier) – gevolg. 1

Piet Uys

In Februarie 1838 is ʼn groepie Voortrekkers onder leiding van die goewerneur van die Groot Trek, Piet Retief, deur Dingaan, die Zoeloeopperhoof, vermoor. Daarna het die Zoeloes die Voortrekkerlaers by Bloukrans, Moordspruit en Weenen aangeval. Honderde mans, vroue en kinders is vermoor.

Bloukrans

Landman se trek was naby aan die Drakensberge, in die omgewing van die latere dorp Bethlehem, toe hy die nuus oor die Retief-moord en die aanvalle op die laers ontvang het. 3 Hy het hom na die Trekkerleier Gerrit Maritz se laer by Maritzdam, naby Doornkop, gehaas. 3 Hier het hy in Maart 1838 die Trekkers in diepe smart aangetref. 1 Hy en sy trekgenote het hulle kort daarna by die trekke van Uys en Hendrik Potgieter aangesluit. 2

Andries Hendrik Potgieter

Daar was onenigheid onder die Trekkers oor wat hulle nou moes doen, 4 en Landman het as leier op die voorgrond getree. Sy geloof het vir hom die moed gegee om sy mense te lei. Hy het ook die nodige krygservaring gehad om die omstandighede die hoof te bied. Dit het hom gehelp om die eenheid onder die Voortrekkers te behou. 

Maritz se kommando in Namakwaland

In April 1838 het hy deelgeneem, hoewel nie as leier nie, aan die veldtog wat Piet Uys en Hendrik Potgieter onderneem het om die Zoeloes te straf vir die moord op Retief. Die veldtog was ʼn mislukking en die Zoeloes het die Voortrekkers by die Slag van Italeni verslaan. Die veldtog is daarna spottenderwys deur die Voortrekkers self die Vlugkommando genoem. Landman was een van die min mense wat met eer uit daardie stryd getree het. 1

Terug by die laers is Landman as die kommandant van een van die laers by Doornkop verkies. In Mei 1838 is hy Port Natal (vandag Durban) toe. Die Britse handelaars wat daar gewoon het kon hulself nie teen die Zoeloes kon verdedig nie. Landman het daarom namens die Voortrekkers besit van Port Natal en die omliggende landstreek geneem. 5 Hy het ʼn versterkte laer gebou by die mond van die Umgenirivier, net noord van Port Natal, gebou. 1 In Julie en Augustus 1838, toe dit regtig beroerd in die laers gegaan het, het Landman en leiers soos Hans de Lange (Hans Dons), gehelp om Zoeloeaanvalle af te weer. 6

Vlag van Republiek Natalia

Landman was een van die belangrikste leiers in Voortrekker-Natal tot en met die aankoms van Andries Pretorius. 7 Hy het noodsaaklike diens gelewer om die Voortrekkers te beveilig en hulle gehelp om veilig te vestig. 1

Andries Pretorius

Die Bloedrivierveldtog

Die Voortrekkers se tweede poging om die Zoeloes te straf staan vandag bekend as die Bloedrivierveldtog. Landman was ʼn ervare krygsman sonder ʼn bang haar op sy kop en baie mense het gevoel dat hý die Voortrekkers se aanvoerder moes wees. Die Voortrekkers het egter vir Pretorius gekies, wat mens wys hoe gewild Pretorius was. 7 Landman was wél die hoof van die Port Natalse burgers, en by die Slag van Bloedrivier op 16 Desember was hy Pretorius se tweede in bevel. 8 Toe Pretorius beseer is, het hy dus die bevel oorgeneem. 1

Die Voortrekkers se oorwinning oor die Zoeloes het vir hulle die naam Wenkommando besorg. Ná die Slag van Bloedrivier het die Wenkommando die Zoeloe-vesting uMgungundlovu beset. Hierna het die Voortrekkers besluit om beeste wat die Zoeloes vroeër by die Voortrekkers geroof het, terug te kry. 

Die Zoeloes het hulle egter in ‘n lokval gelei en by die Slag van die Wit-Mfolozirivier het dit amper noodlottig vir die Trekkers geëindig. Dit was Landman se skuld – hy het ʼn swak militêre strategie toegepas. Dit was te danke aan Hans Dons de Lange dat die kommando dit reggekry het om sonder te groot verliese te ontsnap. 1

uMgungundlovu

Vestiging in Natal

Ná die Bloedrivierveldtog het die Voortrekkers hulle eie republiek, die Republiek van Natalia, geskep. Landman het naby Port Natal gaan woon. 2 Hy het steeds ʼn leidende rol onder die Voortrekkers gespeel. Hy was ʼn Volksraadslid, met ander woorde ʼn lid van die regering, en selfs op stadiums die voorsitter van die Volksraad. Hy het ook op allerlei komitees gedien. 

Landman het namens die Trekkers met majoor Samuel Charters, die Britse bevelvoerder in Natal, onderhandel vir die regte van die Voortrekkers.1 Landman het ʼn goeie verhouding opgebou met die Engelssprekendes in Natal. 9

Britse kamp by Port Natal

Die situasie het egter verander toe Britse troepe onder leiding van kaptein T.C. Smith in 1842 daar aangekom het om Natalia namens Brittanje te annekseer. 1 Baie Voortrekkers het besluit om die Britse anneksasie teen te staan. Landman het homself egter as Britse onderdaan beskou. Hy het wel gehoop vir selfregering vir die Trekkers, maar hy wou nie gewapende opstand gebruik om hulle doelwitte te bereik nie. 10 Hy het dus geweier om teen die Britte te veg, wat baie Voortrekkers van hom laat vervreem het. 1

Port Natal

Landman het later Port Natal verlaat en naby Pietermaritzburg gaan boer. Aan die einde van sy lewe het hy by familie en vriende op die plaas Uithoek gaan woon. Dié plaas is in Noord-Natal, suidwes van die teenswoordige Glencoe. 1 Hy het op 2 April 1875 op 80-jarige ouderdom, daar gesterf. 2

Grafte van Karel Pieter Landman en sy egenoot op die plaas Uithoek, Glencoe.

Watter tipe mens was Landman?

Landman was ʼn standvastige leier. Hy was hardwerkend en uiters dapper. 7 Maar hy was nie ʼn besielende leier nie en dit was waarskynlik die rede waarom hy nie ‘n meer leidende rol gespeel het nie. Hy het egter sterk gestaan in sy geloof en idees. Hy het eenmaal vir ʼn predikant gesê: “Weerhou jou van prag en hoogmoed en eersug, wees opreg en versigtig, en bly getrou aan die eenvoudige en nederige leer van Jesus Christus.” 8

Woordbank

annekseer Om besit van ʼn gebied te neem.
argitek  Ontwerper van geboue en bestuurder van die uitvoering van die ontwerpe; boumeester. 
beroerd Baie sleg; ellendig.
beset  Met geweld oorneem/inneem; in besit neem. 
besielende Iemand vol moed/geesdrif maak.
bevelvoerder  Iemand wat beheer of gesag oor ander het. 
eersug Sterk begeerte na roem of eer.
die hoof te bied Te beveg.
gewapende opstand  Verset op groot skaal; algemene oproer, maar wanneer jy bereid is om geweld te gebruik om jou doel te bereik. 
doelwitte  Mikpunte; oogmerke; doelstellings, met ander woorde dit wat jy graag wil bereik. 
eenheid  ʼn Groep mense wat iets saam doen en mekaar ondersteun. 
goewerneur Die hoof van ’n staat.
komitees  ‘n Groep mense wat ‘n taak of opdrag moet uitvoer. 
kommandant  Die leier van ‘n laer – ‘n aantal waens wat teen mekaar getrek is in die veld om mense en diere teen ‘n vyand te beskerm. 
krygservaring  Kennis en vaardighede wat jy gekry het deur in oorloë of veldslae te veg. 
krygsman  Soldaat of vegter. 
met eer uit daardie stryd getree  Om deur jou gedrag vir jouself agting en hulde te bring. 
nederige  Wat nie dink hy/sy is belangriker as ander mense nie; nie hoogmoedig/trots nie; beskeie. 
omliggende  Nabye of naburige. 
lokval ʼn Plan/plek ontwerp om iemand/iets onverhoeds te vang.
onderdaan Inwoner van ’n land wat onderworpe is aan die regering van daardie land.
onenigheid  Toestand van twis of verdeeldheid tussen mense. 
op die voorgrond  Om aandag te trek. 
opperhoof  Heerser oor ’n uitgebreide swart groep/stam. 
selfregering  Wanneer jy jouself mag regeer. 
sonder ‘n bang haar op sy kop   Iemand wat baie dapper is. 
spottenderwys  By wyse van spot. 
standvastige  Iemand is ’n standvastige leier wanneer hy by sy standpunt/mening oor ’n saak bly staan en dit nie verander nie. So ’n leier is iemand op wie mens kan staatmaak. 
opstand Verset teen ʼn owerheid; oproer deur mense wat beswaar maak teen iets of op iets aandring.
strategie Die planne wat jy maak en die manier waarop jy te werk gaan om jou doel te bereik.
teenswoordige  Hedendaagse, soos wat dit vandag is. 
troepe Gewone soldaat sonder enige rang. 14
veldtog  ʼn Georganiseerde optrede teen iets. 
vervreem  Waneer mense wegdryf van mekaar af, of vreemd raak vir mekaar. 
vestig  In hierdie sin beteken die woord vestig dat iets wat nog nie voorheen in ’n plek bestaan het nie, daar gestig word of tot stand gebring word. 
Voortrekkerlaers  Die Voortrekkers laers was verskillende laers: ‘n aantal waens wat teen mekaar getrek is in die veld om mense en diere teen ‘n vyand te beskerm. 

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Karel Landman

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Karel Landman

Die Slag van Bloedrivier – 16 Desember 1838

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 November 2022 | Bygewerk op 7 Februarie 2024