Vinnige feite

  • Die eerste diere wat aspris in die ruimte ingestuur is, was vrugtevlieë. Hulle is op 20 Februarie 1947 deur ’n Amerikaanse vuurpyl net meer as 100 km in die lug ingestuur. 9
  • Die eerste hond in die ruimte, Laika, het nie lewendig teruggekom nie. Op 19 Augustus 1960 het twee honde, Belka en Strelka, die wentelbaan inbeweeg. Ná 24 uur het hulle met ’n valskerm veilig terug aarde toe gedaal. Hierdie honde is ná hul dood opgestop en kan vandag in die Cosmonautics Memorial Museum in Moskou gesien word. 5
  • Die Amerikaner Alan Shepard het op die maan gholf gespeel. Hy het ’n gholfklub ingesmokkel en twee balle geslaan. 10

Die geskiedenis van die tweede helfte van die twintigste eeu is oorheers deur die Koue Oorlog: ’n oorlog wat nie regtig ’n oorlog was nie. Die twee teenstanders – die Verenigde State van Amerika (VSA) en die Sowjet-unie – het nooit teen mekaar geveg het nie!

Hulle het eerder vir invloed en status meegeding. Een van die gebiede waarop hulle meegeding het, was om eerste die ruimte te ontdek.

Wat was die ruimtewedloop?

Die ruimtewedloop was ’n kompetisie waarin die twee supermoondhede wou bewys dat hulle lugvaartvermoëns, soos satelliete, ruimteverkenningsvlugte en menslike ruimtevlug, beter as die ander s’n was. 1

Die twee lande het die wedloop verskillend benader:

  • In die Sowjet-unie was die ruimteprogram deel van hulle militêre burokrasie. Hulle lanserings is nie voor die tyd aangekondig nie, en net hul suksesse is bekendgemaak.
  • In die VSA was die ruimteprogram burgerlik, nie militêr nie. Die publiek was toeskouers vir elke sukses en terugslag. 2

Die ruimtewedloop was simbolies van die ideologiese en politieke wedywering tussen die supermoondhede. 3

Oorsake van die ruimtewedloop

Teen die middel van die 1950’s was die Koue Oorlog goed op dreef. Kenmerke van die Koue Oorlog, soos die kernwedloop, spioenasie en ideologiese polemiek, was alreeds in plek. 3

Op 29 Julie 1955 het die Amerikaanse regering aangekondig dat hulle beplan om ’n satelliet te lanseer.

Die Amerikaners het dit nie besef nie, maar hulle het die geweerskoot afgevuur wat die ruimtewedloop aan die gang gesit het. Op 2 Augustus 1955 het die Sowjet-unie aangekondig dat hulle óók in die nabye toekoms ’n satelliet sou lanseer. 4

Die voorloper van die ruimtewedloop is aanvanklik bepaal deur eerstes: die eerste satelliet, die eerste soogdier in die ruimte, die eerste mens in die ruimte, die eerste vrou in die ruimte, en die eerste ruimtewandeling. Die Sowjet-unie het aan die begin skoonskip gemaak. 1

Sputnik I

Op 4 Oktober 1957 het die Sowjet-unie ’n interkontinentale ballistiese missiel genaamd Spoetnik 1 (in Engels: Sputnik 1; Russies vir “reisiger”) gelanseer. Dit was die wêreld se eerste mensgemaakte satelliet, en die eerste mensgemaakte voorwerp in die aarde se wentelbaan. 3

Die lansering is sonder groot fanfare gedoen. Die sukses is eers die volgende dag afgekondig.

Die internasionale reaksie was oorweldigend. Dit het gevoel asof daar ’n nuwe era in die mens se geskiedenis begin het: die era van ruimte-ontdekking. Enigiemand met ’n radio kon na die gepiep van die satelliet luister en hom met ’n verkyker aanskou. 5

Sputnik 1 het tot op 4 Januarie 1958 in die wentelbaan gebly, en was vir altesaam 21 dae in die ruimte. 1

Sputnik 1

Amerikaanse reaksie

Vir die Amerikaners was Spoetnik se sukses ’n uiters onaangename verrassing. 1 Sommige van hulle het gedink dat die volgende stap sou wees om kernwapens op satelliete te plaas. 5

Daar was boonop nog altyd die idee dat die ruimte die volgende grens was wat oorgesteek moes word. Omdat die VSA ’n tradisie van uitbreiding en ontdekking gehad het, wou hulle eerste die grens oorsteek. 3

Intussen het die Sowjet-unie op 3 November 1957 Spoetnik 2 gelanseer. 6 Dit het die eerste lewendige soogdier, ’n hondjie genaamd Laika, die ruimte in gestuur. 7

Laika

Explorer I en NASA

Ná twee mislukte pogings het die VSA hul eerste satelliet, Explorer 1, 1 op 31 Januarie 1958 gelanseer. 6

In dieselfde jaar het president Dwight D. Eisenhower ’n ruimtevaartwet onderteken wat tot die stigting van die National Aeronautics and Space Administration (NASA) gelei het. Dit is ’n agentskap wat aan die ontdekking van die ruimte, en tegnologie wat dit moontlik maak, gewy is. 3

Explorer 1

Eerste op die maan: Luna

In 1959 het die Sowjet-unie nog ’n eerste gehad: Op 3 Januarie 1959 het Luna 1 (of Lunik 1) die eerste ruimteverkenningstuig geword wat ’n suksesvolle verbyvlug van die maan gedoen het. 6

Luna 1

Amerika se eerste ruimteverkenningstuig wat op 4 Maart 1959 ’n suksesvolle verbyvlug van die maan gedoen het, was Pioneer 4. 7

In September 1959 het Luna 2 (of Lunik 2) die eerste mensgemaakte voorwerp geword wat die maan getref het. ’n Maand later het Luna 3 (of Lunik 3)  die eerste verkenningstuig geword wat foto’s van die donker kant van die maan geneem het. 5

Luna 2

Mense in die ruimte

Op 12 April 1961 het die Rus Joeri Gagarin die eerste mens geword wat die ruimte betree het, aan boord die Vostok 1. 3 Hy was ook die eerste mens wat volledig om die aarde gewentel het. Sy vlug was 89 minute lank, en hy het weer veilig op die aarde geland. 8

Vostok 1

Die naam van die Amerikaners se projek om ’n mens die ruimte in te stuur, was Mercury. 3 Hulle het die vlug eers op 31 Januarie 1961 met ’n sjimpansee genaamd Ham getoets. 6 Op 5 Mei 1961, ’n maand ná Gagarin, het Alan Shepard die eerste Amerikaner in die ruimte geword. Hy het egter nie om die aarde gewentel nie. Die eerste Amerikaner wat dít reggekry het, was John Glenn, in Februarie 1962. 3

Die Apollo-program

Tot in 1961 was die Sowjet-unie die voorloper in die ruimtewedloop. Die Amerikaners het al hoe sterker gevoel dat hulle die Sowjet-unie moes inhaal en verbysteek. 1

Op 25 Mei 1961 het John F. Kennedy, die president van Amerika, aangekondig dat hulle voor die einde van die 1960’s ’n mens op die maan sou laat land. 6 Dit was ’n dapper uitspraak vir Kennedy, want tot op daardie oomblik was die Amerikaners maar nog altesaam in die ruimte vir 14 minute. 1

John F. Kennedy

Hierdie toespraak het vir die Amerikaners hoop gegee en iets gegee om na uit te sien: Hulle gaan ’n maanlanding voor die Sowjet-unie doen.

Teen die einde van 1962 was die Apollo-program, Amerika se maanlandingsprojek, op die been.

Die Sowjet-unie het ook ’n maanlandingsprogram gehad. Hulle het hulself egter nooit met oortuiging daartoe verbind nie. Dit was deels omdat daar ’n debat binne die Sowjet-unie was oor of dit die moeite werd was, en hulle hoofruimtevlugingenieur het bowendien in Januarie 1966 gesterf.

Die VSA het op 21 Desember 1968 Apollo 8 lanseer. Dit was die eerste bemande ruimtevlug wat om die maan gewentel het. 3

Nog eerstes vir die Sowjet-unie

Terwyl die VSA naarstig aan die Apollo-program gewerk het, het die Sowjet-unie nog twee eerstes gehad:

  • Op 16 Junie 1963 het Valentina Tereshkova die eerste vrou in die ruimte geword. Sy het 48 keer in amper drie dae om die aarde gewentel.
  • Op 18 Maart 1965 het die Sowjet-ruimtevaarder Alexei Leonov die eerste ruimtewandeling gedoen. Hy het, vas aan ’n vyf meter lange tou, vir 12 minute in die ruimte rondgedryf. 6
Valentina Tereshkova

Die maanlanding

Die wêreld se eerste suksesvolle maanlandingspoging, Apollo 11, het op 16 Julie 1969 lanseer. Die drie Amerikaanse ruimtevaarders aan boord was Neil Armstrong, Buzz Aldrin en Michael Collins.

Dit was suksesvol, en op 20 Julie het Armstrong die eerste mens geword om op die maan te loop. Hy het die beroemde woorde geuiter: “That’s one small step for man, one giant leap for mankind.” 3

Wie het die ruimtewedloop gewen?

Die VSA het met die maanlanding hul doel bereik en dus gevoel dat hulle die wedloop gewen het. Die Amerikaanse publiek het bowendien hierna belangstelling in die ruimtewedloop verloor. 3

In die Sowjet-unie het die wedloop nie onmiddellik geëindig nie. 1 Hulle het tussen 1969 en 1972 vier mislukte maanlandingspogings gehad. Daarna het hulle egter oorgegee. 3

Ná die maanlanding het die twee nasies se ruimteprogramme in verskillende rigtings ontwikkel. Beide het wel ander planete begin ontdek, maar dit was nie meer mededingend nie.

  • Die VSA het begin kyk na moontlikhede van nedersettings in die ruimte.
  • Die Sowjet-unie het begin werk aan permanente teenwoordigheid in die ruimte, in die vorm van ruimtestasies in wentelbane. 1

Handdruk in die ruimte

Tussen 15 en 24 Julie 1975 het die VSA en die Sowjet-unie ’n gesamentlike ruimtesending, die Apollo-Sojoes-toetsprojek, van stapel gestuur. Drie Amerikaanse ruimtevaarders op ’n Apollo-ruimtetuig het in die ruimte aan ’n Sowjet-ruimtetuig gekoppel. 3 Die aanvoerders van die twee sendings, Tom Stafford van die VSA en Alexei Leonov van die Sowjet-unie, het in die ruimte vir mekaar ’n handdruk gegee. Dit het die verbetering in verhoudings tussen die VSA en Sowjet-unie in die laat Koue Oorlog-era gesimboliseer. 6

Daar is vandag steeds samewerking, soos byvoorbeeld op die Internasionale Ruimtestasie (ISS), ’n permanent bewoonde ruimtestasie wat om die aarde wentel. 1

Tom Stafford en Alexei Leonov

Evaluasie en nalatenskap

Die ruimtewedloop was ’n duur kompetisie.

Vir die Sowjet-unie was die koste daarvan ’n reuselas. Dit het bygedra tot hulle ekonomiese agteruitgang, een van die hoofredes waarom die Sowjet-unie in 1991 ineengestort het. 7

Indien daar nie ’n wedloop was nie, sou Kennedy waarskynlik nooit die Apollo-program aangekondig het nie. Toe hy hulle egter daartoe verbind het, kon hulle nie kop uittrek nie. Dit het op die ou end tot reuse- tegnologiese vooruitgang gelei. 6

Sonder die ruimtewedloop sou ons waarskynlik vandag baie minder van die ruimte, ons aarde en die heelal geweet het.

Woordbank

agentskap ’n Organisasie wat verantwoordelik is vir iets.
benader Om iets op ’n bepaalde manier te ondersoek of bekyk.
burgerlik Niemilitêr.
burokrasie Al die staatsamptenare van ’n land, met ander woorde almal wat vir die regering werk.
debat Bespreking op ’n vergadering van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisseling of ’n rede, byvoorbeeld in ’n parlement.
fanfare Om ’n groot ophef van iets te maak.
gevorderd Vooruitgegaan, ’n taamlike hoë trap bereik.
goed op dreef As iets mooi aan die gang is.
ideologiese Wat te doen het met die idees en sienings wat die basies vorm van ’n politieke en ekonomiese bestel.
ingesmokkel Om iets op ’n geheime of onwettige manier êrens heen te vat.
interkontinentale ballistiese missiel ’n Missiel wat ’n gedeeltelike omwenteling van die aarde maak.
kernwapens Wapens waarin kernkrag gebruik word; atoomwapens. Wapens wat kernenergie kan vrystel en grootskaalse vernietiging en sterftes veroorsaak.
lanserings Die afskiet van ’n torpedo/vuurpyl.
lugvaartvermoëns Hoe goed jy is met alles wat saamhang met beweging of vervoer deur die lug.
naarstig Ywerig en baie fluks en vinnig.
nedersettings Woonplekke of vestigings.
permanente Altyd; die eienskap dat dit nie weggaan nie.
polemiek As twee mense ’n stryd voer met woorde, gewoonlik in die media.
ruimtestasies Groot bemande satelliete wat in ’n wentelbaan om die aarde beweeg en as basis ruimtenavorsing dien.
ruimteverkenningstuie Onbemande tuie wat in die ruimte beweeg.
ruimtevlugingenieur Iemand wat in die veld van ruimtevaart dinge ontwerp, bou en aan die gang hou.
ruimtewandeling Wanneer ’n ruimtevaarder buite ’n ruimtetuig in die ruimte beweeg.
satelliete Kunsmatige, mensgemaakte byplanete wat om die aarde wentel.
simbolies Wat as ’n teken of gebaar van iets anders dien.
skoonskip As jy alles wen.
spioenasie Die daad om ’n land, persoon of organisasie se geheime te probeer uitvind.
status ’n Land se posisie tussen ’n groep lande – as ’n land hoë status het, word daardie land bewonder.
supermoondhede Baie invloedryke en welvarende lande.
tegnologies Nuwe masjiene, toerusting en maniere om dinge te doen wat op moderne kennis van die wetenskap en rekenaars gegrond is.
tradisie Oorgelewerde maniere van dinge doen.
van stapel gestuur Begin of aan die gang sit.
verbyvlug Wanneer jy verby ’n ruimteliggaam beweeg met die wete dat jy nie gaan terugkom nie.
wedywering Probeer/strewe om ’n ander te oortref; kompeteer.
wentelbaan Vaste pad of baan waarin ’n satelliet of ruimtetuig om die aarde beweeg.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die ruimtewedloop

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die ruimtewedloop

Alexei Leonov se eerste ruimtewandeling

Wat was die ruimtewedloop?

Die storie van Laika, die eerste hond in die ruimte

Gepubliseer op: 12 April 2024 | Bygewerk op 18 April 2024