Vinnige feite

  • Die dorp Dewetsdorp is na Christiaan de Wet se pa vernoem. 5
  • De Wet kon in die donker rigting hou sodat hy nooit verdwaal het nie en hy het ook enige tyd van die nag geweet hoe laat dit was. 5
  • De Wet se perd se naam was Fleur. Hy het sy seun Kotie ’n maand voor die Anglo-Boereoorlog gevra om die perd vir hom te koop. 5
  • Al was sy voorgeslagte boere, was De Wet self nooit ’n baie suksesvolle boer nie. 5
  • Op 30 en 31 Mei 1902 het hy as president van die Vrystaat waargeneem toe President M.T. Steyn siek was. 3
  • Ná die oorlog moes De Wet en sy seuns hul plaas Rooipoort, wat deur die Britte vernietig is, weer opbou. 5

’n Man van die daad eerder as van die woord – dít is die soort man wat Christiaan de Wet was. Hy was ’n kenner van die veld en ’n baie goeie leier van sy burgers. Sy goeie kennis van oorlogvoering het hom tot in die buiteland beroemd gemaak!

Familie en gesin

Christiaan Rudolph de Wet is op 7 Oktober 1854 op die plaas Leeukop tussen Dewetsdorp en Smithfield in die Vrystaat gebore. 1

Sy pa was Jacobus Ignatius de Wet en sy ma Aletta Susanna Margaretha de Wet. Hy was die sesde van 14 kinders. 2

De Wet was 19 jaar oud toe hy in 1873 met Cornelia Margaretha Kruger getroud is. Hulle het uiteindelik 16 kinders gehad – 8 seuns en 8 dogters. 3

Jeugjare

Soos dit met meeste kinders gegaan het in hierdie tyd, het De Wet vir net ongeveer drie maande skoolopleiding gekry. Dit was net genoeg om hom te leer lees en skryf en somme doen. Hy het reeds as 11-jarige seun sy eerste ondervinding van oorlog gekry toe hy in 1865 saam met sy pa na die Tweede Basotho-oorlog toe is. 1

Mev. de Wet en kroos

Eerste Vryheidsoorlog

De Wet was een van die vrywilligers wat op versoek van generaal Piet Joubert teen die Majuba-berg opgeklim het om die Britse soldate bo-op die kop aan te val. Die Slag van Majuba op Sondag 27 Februarie 1881 was een van die grootste militêre oorwinnings wat die Afrikaners behaal het. Generaal George Colley wat die Britse soldate se bevelvoerder was, is dood asook 92 Britse offisiere en soldate. Daar is ook 134 Britte gewond. Aan die Boere se kant is net een dood en vyf gewond. 4

In gesprek met ‘n Britse offisier
Colley geskiet

Anglo-Boereoorlog (ook Tweede Vryheidsoorlog genoem)

Toe die Vrystaatse regering sy burgers oproep vir die oorlog, het De Wet en drie van sy seuns aangemeld. Hulle was deel van die kommando van Heilbron. In Oktober 1899 is hy reeds as waarnemende kommandant aangestel en twee maande later, op 9 Desember 1899, tot veggeneraal bevorder. In Februarie 1900 het hy hoofkommandant van die Vrystaatse mag geword. Hy het hierdie amp gedurende die res van die oorlog gehou. 3

Reeds op 30 Oktober 1900 het De Wet die eerste oorwinning van die oorlog aan die Natalse front behaal. Hy het met net 300 burgers die Britte weggedryf by Nicholson’s-nek in die Slag van Ladysmith (KwaZulu-Natal). 2

Paardekraal, klipstapel
Klipstapel, De Wetsnek, Magaliesberg

In hierdie oorlog het Christiaan de Wet ’n legende in sy eie tyd geword. Sy naam en prestasies was ook in die buiteland nuus. Saam met hom het sy perd, met die naam Fleur, ook bekendgeword.

By Paardekraal het De Wet met ’n gewaagde plan probeer om generaal Piet Cronjé te bevry waar hy deur die Britse soldate omring was. Hy wou ’n boodskap na Cronjé toe deurkry om sy plan te gee oor hoe hy en sy manne kon deurbreek. Die dapper Danie Theron, kommandant en spioen, het deur die Britse linies gekruip om die boodskap te gee en dieselfde nag weer teruggekruip. 4

Generaal Piet Cronje
Danie Theron

Op 22 Februarie skiet De Wet ’n pad oop waardeur kommandante Potgieter en Froneman en hul mense kon uitjaag, maar omdat Cronjé nie sy walaer wou agterlaat nie, het hy en sy mense nie saam ontsnap nie. 5

Burgers en Britse soldate bymekaar tydens die wapenstilstand op 26 Desember

Op 27 Februarie het Cronjé met sy ongeveer 4 000 burgers oorgegee. Dit was ’n swaar slag vir die Boere. 4

Op 17 Maart het die Boere in Kroonstad ’n krygsraadsvergadering gehou. Van die persone wat teenwoordig was, was onder andere presidente Kruger en Steyn asook generaals Joubert, De la Rey en De Wet. Hulle het besluit om voort te gaan met die oorlog maar om geen waens meer te gebruik nie, slegs perde. Dit sou beteken dat die Boerekommando’s vinniger kon beweeg. 4

De Wet by Ferreirastasie op pad na Vereeniging

Nadat Cronjé oorgegee het, het De Wet hoofkommandant geword. Hy wou sy burgers kans gee om te rus en het gevra dat hulle op 25 Maart by die kommando moet terugwees. Generaal Joubert was ontevrede hieroor en het nie gedink dat die burgers gaan terugkeer nie. Maar De Wet het vir hom gesê: “U kan nie met onwillige honde ’n haas vang nie.” De Wet se mensekennis het hom nie in die steek gelaat nie – op 25 Maart was sy burgers terug. 4

Boere buite Ladysmith skep water vir hulle oggendkoffie

Derde fase van die oorlog: Guerillaoorlogvoering

Dit was in hierdie fase van die oorlog waar De Wet veral bekend geword het. Hy het baie goed daarin geslaag om guerillataktiek te gebruik teen die Britte. Terwyl die Britse soldate hul bes probeer het om hom te vang, het hy elke keer weggekom en die hele tyd gesorg dat die vyand baie van hul voorraad verloor het. 6

By Norvalspont, Moordkamp

As hoofkommandant het De Wet die Boere in die Vrystaat gelei. Hy het die guerrillafase van die oorlog begin deur verrassingsaanvalle op die Britte uit te voer. Die eerste teken dat die guerrillafase begin het, was toe De Wet op 31 Maart 1900 ’n oorwinning by Sannaspos behaal het. Sannaspos was oos van Bloemfontein.

Op 7 Junie het De Wet weer toegeslaan. Hy het wéér ’n verrassingsaanval uitgevoer, hierdie keer by Roodewalstasie wat noord van Kroonstad was. Hier het hy ’n baie groot voorraad voedsel en ammunisie van die Britte afgeneem. Dit was die grootste buit van die oorlog. 7

De Wet het op ‘n ammunisietrein en 2000 possakke beslag gelê, 1900
Vrystaatse burgers op die gevegsfront

Buitery is niks anders as stelery nie, maar mens moet hier onthou dat die Boere nou al vir baie lank in die veld was, besig om oorlog te maak. Omdat die Britse soldate byna al die plase afgebrand het, was daar geen kos vir die Boere op die plase nie. Hulle was dus afhanklik van kos, klere en ammunisie wat hulle by die Britse soldate kon afneem.

Die aand voor Kersdag 1901 het De Wet en sy burgers teen Groenkop (tussen Bethlehem en Harrismith) uitgeklim en die Britse soldate op die kop verras en oorrompel. Kitchener het hierna nog harder probeer om De Wet te vang, maar hy en sy burgers het elke keer weggekom. 4

Boere offisiere wat by die beleg van Ladysmith betrokke is

De Wet, meester van die gevegskuns

Die skrywer en historikus Leopoldt Scholtz het ’n studie gemaak van 22 gevegte waarin De Wet die leier was. Daaruit het hy bewys dat De Wet byna elke keer die regte ding gedoen het in alles waaraan mens ’n leier se optrede kan meet. Dit sluit in dinge soos verrassing, konsentrasie, beheer, eenvoudigheid, snelheid en inisiatief. 1

De Wet het daarin geslaag om met net 2 000 burgers (en nog 500 wat hulle later by hom aangesluit het) die Britse weermag van 50 000 soldate vir ’n maand lank keer op keer te ontduik. Hierdeur is sy status as ’n legende nog verder versterk. 2

Die regering: Uitvoerende Raad van die ZAR

Die Vrede van Vereeniging

Terwyl president Steyn siek was, het De Wet as president waargeneem. Dit was in hierdie tyd dat hy ook een van die ondertekenaars van die Vredesverdrag was wat op 31 Mei 1902 in Pretoria onderteken is. Met hierdie ooreenkoms moes die twee Boererepublieke hul onafhanklikheid afgee. Die twee republieke het as Transvaal en die Oranjerivierkolonie deel van die Britse Ryk geword.

Kort na die oorlog

Die leiers het op 2 Junie vanaf Vereeniging vertrek. Hulle het die moeilike taak gehad om aan hul kommando’s te gaan sê dat hulle moet oorgee en hul wapens moet neerlê. De Wet was op 5 Junie by die eerste wapenneerlegging (die burgers moes hul wapens agterlaat) naby Vredefort en op 7 Junie by die dorp Reitz waar die kommando’s van dorpe soos Harrismith, Heilbron, Vrede en Bethlehem hul wapens moes neerlê. Dit was vir hom so moeilik dat hy elke keer vertrek het voor die burgers hul wapens neergelê het. 4

Generaals Jan Smuts en Christiaan Beyers by die vredessamesprekings

Ná die oorlog het generaals Botha, De Wet en De la Rey per skip na Nederland, België, Parys en Berlyn gegaan om hulp vir die Boere te kry. Hulle het ongeveer 125 000 Britse pond ingesamel. 2 Onthou, voor 14 Februarie 1961 was die geldeenheid van Suid-Afrika die Britse pond.

Tydens die vaart na Europa het De Wet ’n boek oor sy oorlogsherinneringe geskryf met die titel De strijd tusschen Boer en Brit (Omdat Afrikaans nog nie in hierdie tyd as skryftaal gebruik is nie, is die boek in Nederlands geskryf). Dit is in Engels gepubliseer onder die titel Three Year’s War. Die boek is ook in ’n aantal ander tale vertaal, een daarvan is Russies. 2

Melrosehuis, waar die vredesverdrag onderteken is

Die Rebellie

In 1914 het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Die regering van die Unie van Suid-Afrika, onder leiding van generaals Louis Botha en Jan Smuts het besluit om Brittanje te steun deur Duitswes-Afrika (vandag Namibië) in te val. Verskeie leiers in Suid-Afrika het nie hiermee saamgestem nie en met ’n Rebellie te begin – De Wet was een van hulle. 3

De Wet en sy ses seuns het aan die Rebellie deelgeneem. Sy een seun, Danie, is tydens die Rebellie deur regeringsoldate doodgeskiet. 5

De Wet se vrypas

Die weermag het uitgevind waar De Wet is en het hom op 30 November op die plaas Waterbury, noord van Vryburg gevang. Hy is aan hoogverraad skuldig bevind. Sy vonnis was ses jaar tronkstraf en 2 000 pond. 9 Sy ondersteuners het die geld vir die boete ingesamel en hy is uiteindelik ná ses maande vrygelaat. Een voorwaarde was dat hy nooit weer aan politiek mog deelneem nie.

Generaal De Wet, Rebellie oorgawe
In gevangenis

Ná die tronkstraf het dit egter nie goed gegaan met sy gesondheid nie. Hy het op ’n plaas naby Edenburg gaan woon en later getrek na ’n plaas naby Dewetsdorp waar hy op 3 Februarie 1922 oorlede is. 3

Watter soort mens was de Wet?

De Wet was bekend daarvoor dat hy ’n vinnige humeur gehad het. Dit het aan die begin van die oorlog soms gebeur dat hy die burgers met ’n sambok gedissiplineer het (gedwing het om na sy opdragte te luister).

Aan die ander kant was dit bekend dat hy vir gewondes, ook vir gewonde Britse soldate, water sou aandra. 4

De Wet was ’n dinamiese leiersfiguur. Hy was ook sy lewe lank ’n vurige nasionalis. Soms was hy ook wisselvallig en wispelturig. Dit kan mens sien uit die baie kere wat hy deur sy hele lewe verhuis het. 1

Christiaan de Wet

Hoe word Christiaan de Wet onthou en vereer?

Die Britte het De Wet bewonder vir alles wat hy reggekry het. Hulle het hom beskou as “die grootste militêre genie wat die oorlog opgelewer het”. 4

Jan Smuts aan die woord by De Wet se begrafnis

In Bloemfontein is daar ’n ruiterstandbeeld van De Wet.

In Johannesburg is ’n primêre skool en in Dewetsdorp ’n hoërskool wat na de Wet vernoem is.

Hy is by die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.

De Wet se begrafnis

Daar is strate wat sy naam dra in onder andere Roodepoort, Vanderbijlpark en Vereeniging.

Die welbekende digter Jan F.E. Celliers het ’n gedig oor de Wet geskryf wat met hierdie strofe begin:

Generaal De Wet
Stil, broers,
daar gaan ‘n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed. 10

Program van De Wet se begrafnis

Woordbank

buit Iets wat geroof of verower is – dikwels op ’n gewelddadige manier.
front Die voorste punt waar daar in ’n oorlog geveg word.
genie Iemand met buitengewone begaafdheid of skeppingskrag.
guerillataktiek Wanneer ’n oorlog gevoer word deur klein groepies mense met strooptogte of sabotasie of hinderlae.
krygsraad Wanneer leiers in oorlogstyd vergadering hou om te besluit hoe hulle verder moet oorlog maak.
legende Iemand wat beroemd is en bewonder word.
nasionalis Iemand wat sy of haar volk en land liefhet.
ontduik Om weg te kom voor die vyand jou kan vang.
oorrompel Iemand onverwags oorval.
Rebellie Die teenkanting van burgers van die Unie van Suid-Afrika teen die besluit van die Unie-regering om Brittanje in die Eerste Wêreldoorlog te help deur Duitswes-Afrika in te val.
wispelturig Onstandvastig of veranderlik, wanneer iemand maklik van plan verander. 11

Hier kan jy kyk na foto’s en ’n kort rolprent oor Christiaan de Wet

’n Kort rolprent (60 sekondes) met agtergrond oor De Wet. Jy kan ook sien hoe hierdie merkwaardige generaal gelyk het.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 September 2022 | Bygewerk op 22 April 2024