Vinnige feite

  • Danie Theron het die rang van kaptein gekry toe die Verkennerskorps gestig is. In Julie 1900 het hy die rang van kommandant gekry. 3
  • Hy was ’n suksesvolle prokureur en het ’n praktyk in Krugersdorp gehad. 2
  • Hy was net 28 jaar oud toe hy deur Engelse soldate doodgeskiet is. 2
  • In 1888 slaag hy die School Higher Examination-sertifikaat in die eerste klas. Daarmee verower hy ’n beurs en gaan na die Normaalkollege in Kaapstad. In 1890 het hy onderwyser op die plaas Nooitgedacht geword. 13
  • Die beeld van Danie Theron by Fort Schanskop is deur die beeldhouer Charl Engela gemaak. 14
Foto: iStock

Wie sou nou kon raai dat Boereverkenners in die vroeë 1900’s hul werk kon doen terwyl hulle met fietse rondry? Dit is presies wat Danie Theron in die Anglo-Boereoorlog (ABO) bewerkstellig (gedoen) het. Daar is baie oor Danie Theron en al die dapper dinge wat hy in die oorlog gedoen het om die Boeresoldate te help, in geskiedenisboeke geskryf.

Kom ons kyk waarom mense so ’n groot bewondering vir hom gehad het en hom vandag steeds onthou.

Standbeeld van Danie Theron

Jeugjare

Daniel Johannes Stephanus Theron (bekend as Danie) is op 9 Mei 1872 in Tulbagh gebore. Sy ouers was Willem Wouter Theron en Anna Helena Margaretha Theron. Danie was die negende van hul kinders. 1

Danie het by sy stiefbroer, wat ook ’n onderwyser was, sy skoolopleiding gekry. Hy het vir ’n ruk in die Vrystaat gebly voordat hulle – toe hy 10 jaar oud was – na Transvaal (vandag Gauteng) toe getrek het. 2

’n Staaltjie uit Danie Theron se lewe

Die redakteur van ’n destydse koerant The Star, was ene mnr. Moneypenny. Hy was in daardie stadium nog maar net twee maande in Suid-Afrika – toe nog bekend as die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Moneypenny het artikels in die koerant geskryf waarin hy president Kruger en die Boere sleggesê en verneder het. Danie het na Moneypenny gegaan en hom gevra om sy woorde terug te trek. Toe Moneypenny weier, het Danie hom ’n loesing gegee. Danie moes in die hof verskyn en het ’n boete gekry. Sy ondersteuners wat saam in die hof was, het vinnig geld ingesamel en het die boete betaal. 3

Danie Theron-huis, Tulbagh

Danie se jong liefde

In 1897 vestig hy hom in Krugersdorp as prokureur. Gedurende hierdie tyd het Danie vir Hannie Neethling ontmoet. Haar pa, Christiaan Neethling, het die plaas Eikenhof besit. Hier het die twee jongmense gereeld onder een van die eikebome gekuier wat Hannie se pa op die plaas geplant het.

Hannie was baie musikaal en het tydens hierdie besoeke dikwels die orrel in hul huis gespeel en dan het almal saam liedere gesing.

Dit was nie lank nie of die twee jongmense het verloof geraak. Maar ongelukkig, voordat hulle kon trou, het Hannie en haar suster in Augustus 1898 albei longontsteking gekry en is binne ’n paar dae albei oorlede. Mens moet onthou dat daar in die 1800’s nog nie medikasie soos antibiotika was waarmee longontsteking behandel kon word nie.

Albei die susters is in die familiekerkhof op die plaas begrawe en Danie het sipresbome rondom Hannie se graf geplant. Hy het die graf dikwels besoek en selfs later tydens die Anglo-Boereoorlog steeds daarheen gegaan. 2

Die Wielrijders Rapportgangers Corps en die Anglo-Boereoorlog

Danie en sy vriend, Koos Jooste, wat ’n kampioenfietsryer was, het aan die regering voorgestel dat fietse vir verkenningswerk gebruik moet word in plaas van perde. 4

Danie het die regering probeer ompraat (om iemand te probeer oortuig) om sy voorstel te aanvaar om die volgende redes: Fietse word nie so maklik raakgesien soos perde nie; fietse het nie weiding, skuiling en slaap nodig nie; en fietse skop en baklei nie!

Kaptein Danie Theron
Koos Jooste

Hy het ook vertel van hul planne om te voorkom dat die fietse pap wiele kry deur stukke leer tussen die binne- en buitebande van hul fietse te sit.

Die regering wou dit nie dadelik aanvaar nie, veral omdat die Boere sulke goeie perderuiters was. Danie het toe voorgestel dat hulle ’n resies hou tussen ’n fiets en ’n perd. Die resies was oor ’n afstand van 75 km tussen Pretoria en die Krokodilrivier. Op die fiets was Koos Jooste en op die perd ’n Boer met die naam Martiens. En natuurlik het die fiets het gewen!

So het die legendariese Wielrijders Rapportgangers Corps in Maart 1900 tot stand gekom (wanneer iets begin) met 108 verkenners en Kaptein Danie Theron as hoof.

Hulle het van die begin af baie waardevolle werk vir die Boeremagte gedoen. Hulle het nie alleen inligting ingesamel oor waar die Engelse soldate rondbeweeg het nie, maar kon ook vooraf inligting gee oor waar daar water en weiding vir die Boere se perde was. 5

Later het die verkenners wel perde begin gebruik en die naam van die groep is toe verander na die Theron Verkennerskorps (TVK).

Wat het die Theron Verkennerskorps (TVK) gedoen?

Theron en sy verkenners (of spioene) het dwarsdeur die oorlog besig gebly met verkenningswerk, met die afneem van die Engelse se voorraad, die vrylating van Boere uit die Britse tronke en die vernietiging van treinspore om te keer dat die Britse soldate hul voorraad per trein ontvang.

Burgers begrawe een van hulle gevalle kamerade in die veld

Hierdie is enkele voorbeelde van die soort werk wat hulle gedoen het: 

  • In Julie 1900 het hulle ’n treinspoor noord van Kroonstad, wat deur die Engelse soldate gebruik is, beskadig. Hulle het in Julie ook by plekke soos Leeuwspruit treinspore beskadig.
  • In Augustus is telefoonlyne wat deur die Engelse gebruik is, vernietig. Hulle het ook die treinbrug tussen Wolwehoek en Heilbron beskadig.
  • Toe die Britse magte as gevolg van al die aanvalle, die treinspoor noord van Kroonstad begin bewaak, het Theron op 2 Augustus die treinspoor suid van Kroonstad opgeblaas en voorraad op die trein gekonfiskeer. 6
  • Op 26 Augustus 1900 het Danie 69 Boere wat gevangenes van die Britte was, uit die Kliprivier-gevangenis bevry. Hierdie gevangenis was naby Eikenhof, die plaas waar Hannie en haar mense gebly het. 4

Die bedrywighede van Theron en sy verkenners, het veroorsaak dat die Britse lord Roberts ’n losprys op sy kop geplaas het. Hierdie losprys sou betaal word of hy dood of lewend aan die Britte oorgelewer word. Gedurende Julie 1900 wou die Britte hom so dringend vang, dat hy en sy verkenners deur generaal Broadwood en 5 000 Britse soldate aangeval is. In die geveg is agt van die verkenners en vyf van die Britse soldate dood. 2

Danie Theron-monument

Een van die grootste waagstukke en heldedade in die oorlog

Danie Theron het ’n baie belangrike en gevaarlike heldedaad in die oorlog verrig.

Dit het gebeur toe generaal Cronjé in Februarie 1900 saam met 4 000 burgers deur die Britse soldate by Modderrivier vasgekeer is. Generaal de Wet het ’n plan beraam (gemaak) om vir Cronjé en sy manne te laat ontsnap, maar daar was geen manier waarop hy ’n boodskap met dié plan by Cronjé kon uitkry nie omdat Cronjé deur Britse soldate omring was.

De Wet se kommando trek deur ‘n spruit

Toe die dapper spioen, Danie Theron, in de Wet se laer opdaag, was die oplossing vir die probleem daar. De Wet het hom gevra of hy kans sien om die boodskap na die vasgekeerde Cronjé te neem. Theron het dadelik ingestem.

Toe dit skemer word, het hy na die Britse linies begin kruip. Sy hande en knieë was stukkend van die dorings en skerp klippe waardeur en waaroor hy vir honderde meter in die donker moes kruip. Hy het daarin geslaag om Cronjé se laer te bereik, die boodskap oor te dra en weer al die pad terug te kruip. Ongelukkig was al die moeite verniet en het Cronjé om verskeie redes op 27 Februarie hom en al sy 4 000 burgers aan die Engelse oorgegee. 5

Pretoria – krygsgevange Britse offisiere word van die offisiere word van die Staatsmodelskool af na Waterval oorgeplaas

Danie Theron sterf

Op 4 September 1900 was Theron naby Fochville in die gebied van Gatsrand. Hy het beplan om die Britse soldate onder leiding van generaal Hart aan te val en het probeer om presies uit te vind waar hulle was. Hy het ’n Britse patrollie teëgekom en drie van hulle doodgeskiet en vier gewond. Daarna het hy teen ’n koppie op ontsnap.

Die groter groep Britse soldate het egter die skote gehoor en begin om die koppie te bestook. Theron het in die aanval gesterf.

Die Britse soldate het hom daar in ’n vlak graf begrawe.  Elf dae later het sy verkenners hom kom haal en hom op ’n plaas by Elandsfontein herbegrawe.

Drie jaar ná sy dood – in 1903 – is hy weer herbegrawe langs sy geliefde Hannie Neethling. Hy het altyd gesê dat hy naby haar begrawe wil wees indien hy in die Anglo-Boereoorlog sterf. 2

Kort ná Danie se dood, het Britse soldate by Eikenhof opgedaag en die plaas gekonfiskeer. Hannie se familie is op waens na ’n konsentrasiekamp weggeneem.

Hannie se neef Christiaan Neethling, wat toe nog ’n jong seun was, het vertel dat hulle op die waens op hul rit weg van die plaas gesange gesing het, soms ook Engelse gesange. Toe hulle “What a friend we have in Jesus” sing, het een van die Engelse soldate wat langs die wa geloop het, met trane in sy oë saamgesing. 2

Generaals getuig van Danie Theron se karakter

Generaal Louis Botha: “Hy was ’n soldaat wat altyd gehoorsaam en lojaal was. As offisier was hy vreesloos en bekwaam. Hy was ’n held. Ek het nooit voorheen iemand ontmoet wat meer vasberade was en moeilike take met meer geesdrif aangepak het nie. Hy het nooit ‘nee’ gesê vir ’n opdrag nie. Niemand was dapperder as hy nie”. 7

Generaal De Wet: “Danie Theron, daardie bobaasverkenner, het die vorige dag met versterkings aangekom. Ek het hom gevra of hy ’n mondelinge boodskap aan generaal Cronjé sou neem – ek durf nie ’n geskrewe een stuur nie, anders het dit in die hande van die Engelse beland. Trots en beslis het die antwoord dadelik gekom – die enigste antwoord wat ‘n held soos Danie Theron kon gegee het: “Ja, generaal, ek sal gaan”. 8

Hoe word Danie Theron onthou?

  • Die huis waar hy in Tulbagh gebore is, is nou ’n historiese museum.
  • In Tulbagh is daar ook ’n borsbeeld van Danie Theron.
  • Daar is strate wat na Danie Theron vernoem is in plekke soos Pretoria-Noord, Despatch, Secunda en Fochville.
  • In Kiblerpark, Johannesburg is die Laerskool Danie Theron. Die Laer Gedenkskool Danie Theron is in Carletonville.
  • Die Suid-Afrikaanse weermag het in 1967 ’n krygskool in Kimberley begin en dit het in 1969 die naam Danie Theron Krygskool gekry. In 1988 is dit na Potchefstroom geskuif. 9
  • Die Danie Theron-medalje is vir getroue diens in kommando’s. Dit is vanaf 1970 tot 2003 toegeken. 10
  • Op die pad tussen Johannesburg en Potchefstroom, net buite Fochville, op ‘n koppie nou bekend as Theronskop, is ’n monument vir Danie Theron opgerig. Die hoof van die Laer Gedenkskool Danie Theron in Carletonville, dr. JJ van Tonder, het reeds in 1935 voorgestel dat so ‘n monument opgerig moet word op die plek waar Fourie aanvanklik begrawe is en 50 m van waar hy gesneuwel het. Die argitek van dié byna 25 m hoë gedenknaald wat in 1950 onthul is, was Coenraad Hillebrands van Krugersdorp. 11
  • In 2002 is ’n nuwe monument vir Danie Theron deur president Nelson Mandela by Fort Schanskop onthul. In sy toespraak het hy ook in Afrikaans gepraat, iets wat hy nie dikwels in die openbaar gedoen het nie. Hy het onder meer gesê dat hy Danie se dapperheid, sy eerlikheid en sy vasberadenheid om die regte ding te doen, bewonder. Hy het ook gesê dat Suid-Afrika meer mense soos Danie Theron nodig het vir die uitdagings wat ons in die land het. 12

Woordbank

bestook Om aanhoudend in ’n rigting na iets of iemand te skiet.
bewerkstellig Tot stand bring, uitvoer.
gekonfiskeer Om beslag te lê op items, om items by iemand af te neem, veral wanneer dit iets is wat die persoon nie mag besit nie.
legendariese Iemand wat baie beroemd is en deur ander mense bewonder word.
loesing ’n Pak slae.
losprys Bedrag geld wat gevra word om iemand vry te laat maar ook ’n bedrag geld wat beloof word om iemand te vang.
spioen ’n Persoon wat in die geheim, sonder dat ander daarvan weet, inligting oor vyande van die regering moet kry.
staaltjie ’n Grappige/interessante oorvertelling van iets wat regtig gebeur het.
tot stand gekom Iets verrig, uitvoer, regkry, volvoer, begin.
verkenningswerk Om inligting oor ’n plek of ’n gebied in te samel. 15

In hierdie video’s kan jy meer leer oor Danie Theron

’n Rolprent wat die storie van Danie Theron uitbeeld (90 min).

’n Kort biografiese film oor Danie Theron (23 min). John Stevens het in die sewentigerjare van die navorsing vir hierdie film gedoen.

 

Foto: iStock
Gepubliseer op: 5 September 2022 | Bygewerk op 2 Mei 2024