Vinnige feite

  • Die Taj Mahal is in 1983 tot ’n Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar. Unesco is die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie. Wêrelderfenisgebiede word gesien as plekke wat beskerm en bewaar moet word.
  • Mense kon nie die monument tussen 1984 en 2004 besoek het nie weens vrese dat die monument die teiken van terroriste-aanvalle kon wees.
  • Die akoestiek binne die hoofkoepel is só goed dat ’n enkele fluitnoot vyf keer vibreer!
  • Shah Jahan se volle name was Shahab-ud-din Muhammad Khurram Shah Jahan en hy is op 5 Januarie 1592 in Lahore, Indië, gebore. Hy het op 22 Januarie 1666 in Agra gesterf. Hy was 74 jaar oud.
  • Die Taj Mahal se minarette (dun torings) is op só ’n manier geplaas dat dit ’n optiese illusie aan besoekers bied. Soos jy by die hek ingaan, lyk dit asof die monument naby en massief is, maar soos jy naderloop, vertoon dit weer kleiner. Dit is as gevolg van die ligging van die minarette en omdat dit nie heeltemal reguit is nie, maar effens uitwaarts kantel.
  • Die monument verkleur deur die dag en aand, maar dit is nie as gevolg van ligte nie, maar eerder die sonlig en maanstrale wat teen die marmer van die gebou weerkaats word. Wit Makrana-marmer is gebruik. 9
  • Dit het ongeveer 32 miljoen Indiese roepees gekos om die monument te bou. In vandag se geldwaarde is dit ongeveer $827 miljoen. 10
  • ’n Indiese sakeman het vir sy vrou haar eie Taj Mahal gebou! Hulle bly vandag in ’n huis wat nes die ware Jakob lyk, maar dis baie kleiner as die oorspronklike. Die man, Anand Prakash Chouksey, het die huis as ’n geskenk vir sy vrou in die stad Burhampur in Madhya Pradesh laat bou. Dit het sowat 20 miljoen Indiese roepees (sowat R4 miljoen) gekos om te bou. Hy is egter nie die eerste om ’n replika van die gebou te bou nie. In 2013 het nog ’n man van die Noord-Indiese deelstaat Uttar Pradesh ook een ter nagedagtenis van sy vrou opgerig. 11
  • Daar is baie maatskappye wat al vir kinders en grootmense Taj Mahal-stelle beskikbaar gestel het. Daar is legkaarte, 3D-legkaarte en selfs Lego-stelle van die Taj Mahal.
  • Ongeveer sewe tot agt miljoen mense besoek jaarliks dié besonderse monument.

Daar is baie geboue en monumente oor die wêreld heen wat só uitsonderlik is dat mense van oraloor kom om daarna te kom kyk. Die Taj Mahal, wat al die trots van Indië genoem is en as een van die mooiste monumente op aarde bestempel word, is ʼn sprekende voorbeeld. Dit word ook as Tadj Mahall gespel en beteken “kroon van paleise”.

Die Taj Mahal is een van die Nuwe Sewe Wonders van die Wêreld. Eeue gelede het mense ’n lys van sewe plekke opgestel wat die Sewe Wonders van die Wêreld genoem is. Hierdie manjifieke plekke was die Kolos van Rhodos, die Groot Piramide van Giza, die Hangende Tuine van Babilon, Zeus se standbeeld by Olympus, die Tempel van Artemis by Efese, die Mausoleum van Halikarnassus en die Vuurtoring van Alexandrië. 1

Ongelukkig het daar nie veel van die sewe oorgebly nie, want vier is deur aardbewings platgevee, twee is in brande vernietig en slegs een daarvan kan steeds besoek word, en dit is die Groot Piramide van Giza.

Dit is juis daarom dat daar in die jaar 2000 besluit is om sewe nuwe wonders te soek en mense het wêreldwyd daarvoor gestem. Die finale resultate is in 2007 aangekondig en die Nuwe Sewe Wonders is die Groot Muur van China, die Christus die Verlosser-standbeeld, Chichén Itzá, Petra, Machu Picchu, die Colosseum en die Taj Mahal. 2

Agtergrond

Die Taj Mahal is op die regteroewer van die Yamuna-rivier in die Agra-distrik van die Uttar Pradesh-staat in Indië geleë en is sekerlik Indië se bekendste gebou. Dis ’n groot trekpleister vir toeriste.

Die Taj Mahal is ’n mausoleumkompleks in ’n tuin van nagenoeg 17 hektaar en is deur die Mogol-keiser Shah Jahan as ’n huldeblyk aan sy oorlede vrou, Mumtaz, laat bou. Keiser Shah Jahan was van 1628 tot 1658 die Moslem-regeerder van die Mogol-ryk in Indië. Hy en sy vrou, Mumtaz, is in 1612 getroud en sy is in 1631 tydens die geboorte van hul 13de kind oorlede. Die keiser was só lief vir sy vrou dat sy hare en baard glo binne ses maande spierwit geraak het van skok oor haar dood! Shah Jahan het die Taj Mahal ’n jaar ná haar dood laat bou as ’n eerbetoon aan haar en sodat almal haar kon onthou. 3

Die keiser het nog verdere planne gehad en hy wou ook vir homself ’n mausoleum in swart marmer oorkant die Taj Mahal laat bou het. Die monument sou sy lyk gehuisves het en dit sou dan deur ’n brug met die Taj Mahal verbind geword het. Sy seun, Aurangzeb, het egter sy eie planne gehad en het die ryk oorgeneem deur sy pa in hegtenis te neem en hom vir die res van sy lewe in huisarres te plaas. Sodoende is Jahan se mausoleum nooit gebou nie, maar hy is ná sy dood ook in die Taj Mahal langs sy vrou begrawe. 4

Daar word gereken dat die Taj Mahal een van die beste voorbeelde van Mogol-argitektuur is – ’n vermenging van Indiese, Perse en Islamitiese style. Daar is in 1632 aan die Taj Mahal begin bou en die mausoleum is teen 1648 voltooi. Die moskee, gastehuis en hoofingang is teen 1653 voltooi. Gelukkig is daar vele inskripsies wat gehelp het om die tydlyn van die monument te bepaal en daarom weet ons vandag dat daar omtrent 22 jaar daaraan gebou is en dat ongeveer 20 000 werkers daaraan help bou het! 3

Soos jy kan dink, was daar nie net bouers nie, maar vele ander vakmanne en kunstenaars, soos skilders, messelaars, kalligrawe en beitelaars wat by die bouwerk betrokke was. Hierdie mense het nie net van Indië afgekom nie, maar ook van Persië, die Ottomaanse ryk en Europa. Die werk was só groot dat daar ’n span argitekte was, maar die hoofargitek se naam was Ustad Ahmad Lahori. 4

Die Taj Mahal word as die grootste argitektoniese prestasie in die Indo-Islamitiese argitektuur beskryf. Dis juis so besonders, want daar is allerlei slim truuks gebruik om die gebou indrukwekkend te laat lyk en dis nogal verstommend as ’n mens dink dat dit eeue gelede sonder die moderne tegnologie van vandag gebou is. 5

Dis perfek simmetries gebou, behalwe vir die graftombes. Die graftombe vir die man is groter as die een vir die vrou. Die mausoleum is ook byvoorbeeld aan die einde van die tuin (wat in kwarte verdeel is) in plaas van in die middel van die tuin, geplaas. Dit gee diepte aan die uitsig op die monument. Die vier minarette (dun torings) by die hoeke van die vierkantige platform bied ook verdere dimensie aan die argitektuur. Die monument het vele simbole en betekenisse, en die tuin en waterpoel het ook simbole. Die tuin verteenwoordig glo die perfeksie en skoonheid van hemel op aarde, terwyl die waterpoel diegene wat dit besoek, se visie reinig. 6

Feite oor die kompleks

  • Die kompleks bestaan uit vyf hoofelemente. Daar is die hoofingang, ’n tuin, ’n moskee, jawāb (’n gebou wat ’n replika van die moskee is) en ’n mausoleum met vier minarette (dun torings).
  • Die tuin is in vier kwarte deur twee hoofpaadjies verdeel. Elke kwart word verder verdeel deur smaller voetpaadjies. Daar is waterpoele wat die geboue pragtig weerspieël.
  • Die mausoleum rus op ’n vierkantige marmerbasis wat 7 m hoog is. Die gebou is min of meer vierkantig en elkeen van die vier aansigte van die gebou het ’n groot boog wat ongeveer 33 m hoog is. Die mausoleum het ’n groot koepelvormige dak. Die dak se hoogste punt is 73 m en dit word deur vier kleiner koepels omring.
  • Die binnekant van die mausoleum is ’n groot vertrek wat monumente aan Jahan en sy vrou bevat. ’n Marmerskerm omring dit en onder die monumente rus die eintlike graftombes van Jahan en sy vrou. Dis ook pragtig versier. 7
  • Die mausoleum het twee identiese geboue aan weerskante daarvan. Dit is die moskee, wat na die ooste kyk, en sy jawāb, wat na die weste kyk. Die jawāb is gebou om balans te skep en is eintlik ’n spieëlbeeld van die moskee.
  • Die suidelike kant van die kompleks het ’n rooi sandsteeningang met ’n boog wat twee verdiepings hoog is. Daar is wit marmerpanele op die boog wat inskripsies uit die Koran en blomontwerpe bevat. Die noordelike en suidelike aansigte van die ingang het dun minarette. Die minarette is 30 meter hoog.
  • Edelstene en Arabiese kalligrafie is regdeur die kompleks as versiering gebruik. Hulle noem die inleg van halfedelstene “pietra dura”. Verskeie kleure en halfedelstene, soos lasuriet, niersteen, kristal, turkoois en ametis, is gebruik om geometriese en blomontwerpe mee te skep.

Bewaring

Die Taj Mahal is vir eeue afgeskeep en daar is eers in die 20ste eeu groot restourasiewerk verrig. Dit is onder die leiding van Lord Curzon, ’n Britse onderkoning in Indië, gedoen.

Ongelukkig het die gebou intussen verder agteruitgegaan, want lugbesoedeling bly ’n groot bedreiging. Die wit marmer lyk deesdae groenbruin as gevolg van verkleuring weens besoedeling. ’n Studie in 2015 het bevind dat stof en besoedeling deur fabrieke en voertuie die grootste oorsake van die skade is. Die Yamuna-rivier bied ook verdere bedreigings, want die water bevat riool en chemiese afval van fabrieke. Die rivier wat al hoe droër word, is nóg ’n tameletjie, want dit beïnvloed die struktuur van die fondasie. Dit kan daartoe lei dat die monument in die grond insink!

Vandag is daar ’n lugversorgingstelsel in die gebou, wat die luggehalte monitor. Daar mag ook nie voertuie binne 500 m van die monument af stop nie. Indië het ook in 1999 fabrieke in Agra, wat tot die besoedelingsprobleem bydra, gesluit. Dit het daartoe gelei dat meer as 2 000 fabrieke in die omgewing besluit het om nie meer steenkool te gebruik nie. Daar is ook besluit om nie meer as 40 000 toeriste per dag toe te laat nie. 8

Woordbank

beitelaars Iemand wat met ’n beitel – ’n stuk gereedskap met ’n plat staalpunt – werk.
dimensie Grootte of omvang van iets.
eerbetoon Wat mense doen om respek vir iemand te wys.
geometriese Met lyne en/of vorms soos driehoeke, sirkels en vierkante in patrone gerangskik.
graftombes ’n Grafmonument wat van steen gebou is.
huldeblyk Dit is ’n bewys van hulde of hoë agting; iets wat jy doen of sê om aan iemand te bewys dat jy baie van hom of haar dink.
kalligrawe Iemand wat in sierskrif spesialiseer.
kalligrafie ’n Kunstige skrif; sierskrif.
koepelvormige In die vorm van ʼn boog; boogvormig.
manjifieke Asemrowend, groots, indrukwekkend, onbeskryflik, pragtig.
mausoleum ’n Graf wat versier is.
messelaars Iemand wat met sement of klei werk.
minarette ʼn Dun toring wat op ʼn moskee aangetref word.
monumente ’n Standbeeld of gebou wat opgerig is om ‘n persoon of gebeurtenis te herdenk.
moskee ’n Moslemtempel.
optiese illusie Om iets te sien wat nie bestaan nie of anders lyk as wat dit is.
replika Nabootsing van die oorspronklike; duplikaat.
restourasiewerk Opknapping, herstel na hoe dit oorspronklik gelyk het.
roepees Indiese geldeenheid, -muntstuk.
simmetries Iets wat goed gebalanseerd is, presies ooreenstem.
tameletjie Probleem, moeilikheid, kwessie.
trekpleister Iets wat jou lok; aanloklik is.
truuks Slimmigheid.
visie Toekomsblik, insig.
wêrelderfenisgebiede ’n Gebied wat van internasionale belang is en wat beskerm moet word.
wonders ’n Voorwerp, verskynsel, handeling, gebeurtenis wat buitengewoon is en wat mense verras.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s oor die Taj Mahal

Die storie van die Taj Mahal

Nog feite

Die Nuwe Sewe Wonders van die Wêreld

Gepubliseer op: 3 Augustus 2023 | Bygewerk op 12 Februarie 2024