Vinnige feite

  • Hoewel kamele nie soos ons altyd gedink het water in hul boggels stoor nie (maar vet) en baie lank sonder water kan klaarkom, kan kamele baie vinnig water drink – tot 100 liter in net 10 minute! 11
  • Afhangend van hul grootte en aktiwiteitsvlakke, kan huishonde tot 1 700 kalorieë per dag benodig. Dit is hoeveel kalorieë daar in omtrent 1 kilogram vleis is. Sleehonde benodig egter byna tien keer meer kos – tot 10 000 kalorieë per dag! Hulle dieet bestaan gewoonlik uit hoender, vis (soos salm) en beesvleis. 12
  • Draer- of wedvlugduiwe kan baie maklik hulle pad terugvind huis toe – tot 20 000 km ver! 13
  • Rendiere is besonderse diere. Die mannetjies en vroutjies het almal horings en hulle neuse is só gemaak dat dit die lug warm maak voordat dit hulle longe bereik. Sommige soorte rendiere se knieë maak ’n geluid as hulle beweeg, sodat hulle mekaar in ’n sneeustorm kan hoor. 14

Foto: iStock

Lank voordat daar blink en blitsvinnige motors was en ons treine, vliegtuie en groot vragmotors begin gebruik het om goedere te vervoer, is diere gebruik om mense en vragte goed oor lang afstande en oor moeilike terrein te vervoer.

Dié pakdiere is enige mak dier wat gebruik word om goedere, voorrade en selfs mense te vervoer. Die esel of donkie is die oudste bekende pakdier, wat moontlik reeds in 3500 voor Christus (v.C.) gebruik is. Pakdiere word meestal gebruik op plekke wat ’n mens moeilik beweeg (waar waens byvoorbeeld nie kan ry nie). Kamele word byvoorbeeld in die woestyn gebruik, perde en muile word in bergagtige terrein gebruik, en waterbuffels beweeg maklik in moerasagtige gebiede. Die soort dier wat gebruik word, is gewoonlik inheems aan die streek waarin dit gebruik word. Pakdiere sluit in osse, rendiere (soos takbokke), olifante, lamas, skape, bokke en honde. Op baie plekke in die wêreld is die gebruik van pakdiere die enigste moontlike manier om ’n vrag te vervoer. 1

Diere is egter deur die jare nie net vir vervoer ingespan nie, maar ook in tye van oorlog. Meer as 16 miljoen diere is byvoorbeeld in die Eerste Wêreldoorlog gebruik vir vervoer, kommunikasie en kameraadskap. Kom ons kyk na van die belangrikste diere wat deur die jare vir vervoer ingespan is: 2

Osse

Die gebruik van osse strek baie jare terug tot in antieke Egipte. Tekenings van vroeë Mesopotamiese beskawings is van die oudste bewyse van die gebruik van dierevervoer in die wêreld. Osse word vandag nog in landbou gebruik om goed te vervoer en om lande te bewerk. Die vroeë Egiptiese ploeë wat deur osse getrek is, is duidelik geïllustreer in muurskilderye en op papirus. Dink ook aan die ossewaens waarmee die Voortrekkers oor die Drakensberge getrek het. 3

Olifante

In Thailand word olifante gebruik om deur die digte woude rondom die stede te trek of beweeg. Mense kan op olifante ry (dit is natuurlik mak olifante!) om die pragtige ongerepte woude van Thailand te aanskou. Olifante word ook in Indiese woude op tiersafari’s gebruik. Lank gelede is olifante ook gebruik om goedere langs die Syroete te vervoer. Hul grootte en krag het beteken dat baie goedere op een slag vervoer kan word. 4

Kamele

Kamele is sedert antieke tye een van die nuttigste dierevervoermiddels. Hulle is bekend vir hul vermoë om by baie warm weer aan te pas en om vir dae sonder baie water te kan trek, soos deur die woestyne van Arabië (die Midde-Ooste) en die Sahara. Kamele word steeds in woestyne reg oor die wêreld gebruik om goedere en mense te vervoer. Hulle het selfs die bynaam woestynskepe gekry. Kamele is ook ’n teken van rykdom – hoe meer kamele jy het, hoe ryker is jy! 5 As jy nog nie het nie, sal jy waarskynlik binnekort in Sosiale Wetenskappe (Geskiedenis) leer hoe die Drommedariskameel se liggaam aangepas is om in droë toestande soos die woestyn te oorleef.

Donkies

Daar is nie verniet ’n liedjie wat sê die donkie is ’n wonderlike ding nie. Hierdie diere lyk miskien klein en swak, maar eintlik is hulle baie taai. Donkies kan met goedere en bagasie opgestapel word en dit regkry om dit vir baie kilometer te dra. In Santorini in Griekeland word donkies byvoorbeeld gebruik om swaar goedere te vervoer en toeriste met die klein en kronkelende trappies na die bokant van die eiland te vervoer. Hulle word selfs in die Himalajas gebruik om toerusting te dra vir mense wat deur die berge trek. In die Eerste Wêreldoorlog het ’n Britse soldaat, wat saam met die Australiese leër (weermag) in Turkye geveg het, ’n donkie met ’n draagbaar op sy rug gebruik om gewonde soldate te gaan haal. Voorwaar dapper diere! 6

Perde

Perde is groter en sterker as donkies, en kan lekker vinnig hardloop. Mense ry perd om by plekke uit te kom of oor moeilike terrein te beweeg, soos die steil paaie deur die Rocky Mountains in Kanada. Die polisie gebruik ook perde om sekere gebiede te patrolleer en kan in onluste gebruik word om betogers in toom te hou. In die verlede is perde tydens oorloë gebruik. In die Eerste Wêreldoorlog is hulle deur soldate gebruik en meer as 8 miljoen perde is in dié oorlog dood. Daar is selfs ’n boek met die naam War Horse, wat die moeilike werk beskryf wat perde in die Eerste Wêreldoorlog verrig het. 7

Hondesleë

In koue lande, veral in die Noordpoolsirkel, word sleë gebruik om rond te beweeg. Dié sleë word deur ’n span honde getrek. Dié honde hardloop vinnig en trek mense deur die sneeu. Roald Amundsen en Robert Scott het albei huskyhonde gebruik om na die Suidpool te reis tydens hul ekspedisie in die 1900’s. Amundsen was suksesvol en het eerste by die Suidpool aangekom. As jy op pad is deur Lapland, sal jy waarskynlik deur hierdie pragtige honde met hulle blou oë rondgeneem word. 8

Draerduiwe

Dié soort duiwe, amper soos die wedvlugduiwe wat ons vandag ken, is slim geveerdes, aangesien hulle spesiaal opgelei is om presies te weet waarheen hulle vlieg en hoe om weer by die huis uit te kom. In die Eerste en Tweede Wêreldoorlog is draerduiwe gebruik om geheime boodskappe rond te stuur. Twee-en-dertig duiwe het selfs ’n spesiale medalje, die Dickin-medalje, ontvang om hulle vir hul werk in die oorlog te vereer. In Duitsland is draerduiwe selfs gebruik om dringende medikasie vir ’n apteker genaamd Julius Neubronner te vervoer. 9

Rendiere

Rendiere is ’n baie belangrike vervoermiddel, hulle trek immers Kersvader se slee! In die meeste Skandinawiese lande, Rusland en Noord-Amerika, word rendiere (amper soos takbokke) gebruik om goedere te vervoer, sleë te trek en om ver afstande te kan aflê. Hulle is baie sterk en kan die ysige koue temperature hanteer. Hulle trek dikwels “pulke” (soos sleë), wat gebruik word om bagasie te vervoer. Die beroemdste rendiere is beslis dié wat in beheer is van Kersvader se slee: Dasher, Dancer, Prance, Vixen, Comet, Cupido, Donner, Blitzen en Rudolph. 10

Woordbank

inheems Wat in ‘n land/gebied thuishoort, wat van nature daarin voorkom of daartoe beperk is.
kameraadskap
Vriendskap; kamerade/goeie maats wees.
ongerepte Ongeskonde; onaangetas.
pakdier Dier wat pakke/laste dra; lasdier.
sleë Oop voertuig sonder wiele wat gebruik word om oor sneeu te reis en deur diere getrek word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Diere wat gebruik word om goedere te vervoer

Verskillende diere wat vir vervoer ingespan word

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 Augustus 2021 | Bygewerk op 23 April 2024