Vinnige feite

Die wa is ʼn ou bekende woord in Afrikaanse spreekwoorde: 10

Die wa deur die drif trek.

Betekenis: Om daarin te slaag om ʼn moeilike taak te verrig of ʼn probleem op te los.

Krakende waens loop die langste.

Betekenis: Sieklike mense is dikwels baie taaier as wat hulle voorkom.

Die wa voor die osse inspan.

Betekenis: Om agterstevoor te werk te gaan. (Dus op die onbelangrikste of verkeerde deel eerste te fokus.)

Voor op die wa wees.

Betekenis: Om opdringerig of astrant te wees. (Uit die regte orde voorbarig te wees.)

 

Foto: iStock

Wanneer ʼn mens die woord “wa” hoor, dink jy dadelik aan gewilde Afrikaanse idiome soos “hy is voor op die wa” of “ek voel soos ʼn vyfde wiel aan die wa”. Voorbeelde van verskillende vorme van ʼn wa, sluit in ʼn kruiwa, ossewa, sleepwa en treinwa. Die wa speel ʼn belangrike rol in ons geskiedenis, en dit is dus ʼn baie belangrike uitvindsel gewees. Die wa was ʼn belangrike voorloper van die motorkar wat ons vandag gebruik. As dit nie vir die wa was nie, het ons nie vandag so lekker in motors rondgery nie!

Wat is ʼn wa?

ʼn Wa word beskryf as ʼn ry- of voertuig met vier wiele wat deur diere getrek word, ʼn vierwielige voertuig wat swaar goedere vervoer, of ʼn spoorwegvoertuig. 1 Die wa sou nie sy verskyning kon maak as dit nie vir die uitvinding van die wiel was nie. Die onstaan van die eerste wa loop hand aan hand met die ontwerp van die eerste wiel.

 

Waens is in die verlede deur ʼn verskeidenheid diere soos osse, perde en bokke getrek. Trekperde is spesiaal geteel om hierdie taak te verrig. Dit is hoofsaaklik gebruik om goedere – en soms mense – te vervoer.

Die uitvinding van die binnebrandenjin het die tipe waens verander. Vragmotors sleep vandag groot ysterwaens wat etlike tonne kan dra.

Die eerste wiel en wa

Die uitvinding van die wiel en die wa was van die belangrikste ontwikkelinge wat vooruitgang reg oor die wêreld voorgeloop het.

Slim Sumeriërs

Dit is onbekend wie presies die eerste wiel uitgevind het. Wat wel bekend is, is dat die primitiefste vorm van iets wat rol en soos ʼn wiel beweeg, in vroeë Sumeriese tekeninge gevind is. Hierdie tekeninge het iets soos ʼn soort slee uitgebeeld wat op boomstompe geplaas is, en soos die stompe rol, kon die slee met die vrag op beweeg. Dit sou natuurlik ʼn langsame proses wees, want ná elke rol van die slee, sou die boomstompe eers geskuif moes word of met nog boomstompe vooraan die slee aangevul word voordat dit verder kon rol. 2 Sumeriese wiele van soliede hout is later gebruik om twee- en vierwielwaens te maak. Die oudste en bekendste wa het uit slegs ʼn sitplek bestaan wat op ʼn as met twee wiele aan weerskante gemonteer was. Dit is vermoedelik 4 000 jaar v.C. gebou. Goedere is hiermee vervoer, maar dit is ook later as strydwaens gebruik. Die waens is deur makgemaakte wilde-esels – wat vandag byna heeltemal uitgesterf is – getrek. 3

Die pottebakker en die eerste wiel

Ongeveer 3 500 jaar v.C. is die eerste draaiwiel in Mesopotamië deur ʼn pottebakker gebruik. Heelwat later – omtrent 2 000 jaar v.C. – is wiele deur die Egiptenare ingespan om ʼn trekwa te bou. Dit het swaar vragte vervoer, en die wiele wat hiervoor gebruik is, was steeds solied en swaar. Wiele met speke het eers ontstaan toe die mens tot die besef gekom het dat die speke die wiel se velling en naaf moet verbind. Eeue het verbygegaan voordat die gespeekte wiel die sterkte bereik het waar dit saam met ʼn wielband as een stuk in gebruik geneem is.

Geniale Grieke

Die Grieke het die Egiptenare se konsep verder ontwikkel en ʼn hele paar verbeterings aangebring. Die kruiwa is vir die eerste keer deur die Grieke vanaf ongeveer 600 tot 400 v.C. ingespan. 4 Die Romeine het later die grootste verskeidenheid voertuie ontwikkel wat met behulp van wiele kon beweeg. 2

Tydlyn van die wa se ontwikkeling

4 000 v.C. Die oudste en bekendste wa – bestaande uit een sitplek wat op ʼn as met twee wiele aan weerskante gemonteer was – is gebou. 3
2 000 v.C. Die Egiptenare bou ʼn trekwa.
600 v.C. Die Grieke bou die eerste vorm van ʼn kruiwa. 4
1769 Die Fransman Nicolas Cugnot bou ʼn stoomwa met drie wiele, wat as een van die vroegste voorlopers van die hedendaagse motor beskou kan word. 3
1811 John Blenkinsop bou die eerste tandratlokomotief. 3
1814 George Stephenson ontwerp die eerste stoomlokomotief. 3

Verskillende soorte waens

Kakebeenwa 

Die kakebeenwa (‘n soort ossewa) was gebaseer op die ou Hollandse wa wat aan die begin van die 17de eeu in Holland gebruik is. Dit moes lig wees om die onherbergsame Suid-Afrika te verken. Hierdie kakebeenwa het later beroemdheid onder die Voortrekkers tydens die Groot Trek verwerf.

Die sykante of “leer” van die kakebeenwa was in die vorm van die onderkakebeen van ʼn os. Die naam “kakebeenwa” is dus aan die kakebeen van die os ontleen. Die lengte van die wa het tussen 12 en 15 voet (3,5 tot 5,5 meter) gewissel, en die breedte tussen 3 en 3½ voet (ongeveer 1 meter). Die wa was van stink-, yster- of geelhout gemaak. Kweperlatte of bamboesstokke het as raamwerk vir die tente gedien, en die raamwerk was met matte van gras – eers dié met ʼn geoliede seildoek en daarna ʼn waterdigte seildoek – bedek. Die matwerk het die tent aan die binnekant koel gehou en het verhoed dat die latwerk die seildoek deurskaaf.

Rol die wiele

Die wiele was tregtervormig met die speke skuins in die naaf – dit laat ʼn mens aan ʼn piering wat op sy rand rol, dink! Tregtervormige wiele het meer weerstand gebied en langer as gewone wiele gehou. Die wiel was die moeilikste deel van die wa om te maak, maar nogtans het die Voortrekkers uitstekende waens met die inheemse harde houtsoorte gemaak.

Onthou die hoenders!

Hoenderhokke is agteraan die wa op ‘n “trap” geplaas en onderaan die wa sou jy ʼn houer met teer, genoem die “teerputs”, aantref. Die remskoen is deur middel van die remketting aan die agterwiele verbind sodat dit kon rem wanneer die wa teen steiltes moes afbeweeg. 5

Koets

Ons ken die storie van Aspoestertjie wat in haar dromerige koets na die swierige bal, waar sy haar trouprins ontmoet, vervoer is. Koetse word vandag meestal met sprokies en koninklikes verbind, maar daar was ʼn paar eeue waarin dit mense se hoofvervoermiddel was.

Die eerste koets

Die eerste koets is in Kocs – ʼn Hongaarse dorp – gebruik en vandaar het dit oor die hele Europa gereis. Dit was rondom die 15de eeu waarin waens of koetse hul verskyning gemaak het.

ʼn Koets word beskryf as ʼn soort wa. Dit is ʼn outydse, vierwielige rytuig wat oorspronklik net aan die bokant toegemaak (oordek) was en later ook aan die kante toegemaak is. Deure van glasvensters is aan die sye aangebring sodat passasiers daardeur kon inklim. ʼn Koets het sitplekke binne en soms ook buite, asook ʼn hoë sitplek voor vir die drywer (koetsier). Die koets word getrek deur perde of muile en is vroeër slegs gebruik om konings en ander vername (belangrike) mense oor kort afstande te vervoer. Dit het oorspronklik net ʼn klein aantal persone vervoer, maar is later stewiger en groter ontwerp sodat dit meer passasiers asook goedere kon vervoer.6

Koetse te kies en te keur

Nog verbeteringe is aan koetse aangebring en teen die 17de eeu is koetse gemaak met die bak (onderkant waarin die mense sit) wat op breë wielbande hang en op vere rus; nie meer direk op die as nie. Die koets kon nou vir meer doeleindes aangewend word, insluitend as poskoets, hofkoets, staatsiekoets of bruidskoets.

ʼn Koets vir ʼn koninklike

Koetse word vandag nog deur koninklikes vir spesiale geleenthede – soos amptelike of openbare verskynings – gebruik. Die monargie van die Verenigde Koninkryk gebruik ʼn verskeidenheid koetse wat in die Royal Mews vir publieke besigtiging uitgestal word.

Die swierigste en vernaamste koets in die versameling koninklike koetse, is die Gold State Coach. Hierdie reusagtige koets – sewe meter in lengte en drie meter in hoogte – se buitekant is meestal van hout gemaak en met goud bedek. Dit is vanaf 1821 vir elke kroningsgeleentheid gebruik om die koninklike na die plegtigheid te vervoer. Die Gold State Coach weeg ongeveer 4 000 kg en het agt perde nodig om getrek te word! Hierdie koets beweeg nooit vinniger as loopspoed nie.

Die buiteaansig van hierdie koets sluit in die uitbeelding van drie engele wat oor Engeland, Skotland en Ierland waak. 7

Die woonwa

Die woonwa word ook “ʼn huis op wiele” of karavaan genoem. Dit is ʼn padwaardige, bewoonbare wa met wiele, waarin minstens vier mense kan slaap. Dit is meestal gerieflik ingerig met ʼn yskas, stofie en ligte. ʼn Woonwa word vir reis-, ontspannings-, vakansie- en toerismedoeleindes gebruik, en dit word met ʼn voertuig gesleep. 6

Waar kom die woonwa vandaan?

Die bewyse vir die bestaan van die woonwa is ongeveer 14 jaar n.C. gevind. Die vroegste bewys is die beroemde “char” van die 14de eeu wat deur Luttrell Psalter as ʼn ryklik versierde wa, waarin dames by die vensters sit en uitkyk, geskilder is. Die poskoets van die 17de en 18de eeue kan as ʼn voorloper van die hedendaagse woonwa beskou word. Hoewel hierdie gebruik meestal tot sakelui en edeles beperk was, was dit veral die kunstenaars in Brittanje wat ook van hierdie soort vervoer en akkommodasie gebruik gemaak het.

Op eie bodem

In Suid-Afrika kon die jagters en trekkers op hul togte as die ware baanbrekers van die moderne woonwakonsep beskou word. So ook die trekkers in die Verenigde State van Amerika, omdat hulle ook ʼn soort kakebeenwa as mobiele verblyf gebruik het. In die geval van die jagters is hierdie soort waens spesifiek ook vir ontspanning aangewend.

Eddie Andries het in 1936 die eerste 32 woonwaens by die Benwood Caravan and Trailer Company in Standerton vervaardig. 9 Vandag is woonwaens en woonwaparke ʼn algemene vorm van ontspanning en kampeer, en dit word jaarliks deur duisende mense ingespan om mee vakansie te hou in woonwaparke en kampeerterreine.

Woordbank

monargie Staat of regeringsvorm met ‘n monarg (soos ‘n koning of keiser) aan die hoof.
staatsie
Uiterlike vertoon; krag; praal.
togte Reis; rit; toer; gewoonlik oor ‘n lang afstand.
voertuig Enige ryding wat gebruik word om passasiers of goedere te vervoer, bv. ‘n motor, vragmotor of ‘n trein; vervoermiddel.
woonwa
‘n Wa wat deur ‘n motor gesleep kan word en waarin mense woon en slaap wanneer hulle op vakansie is; karavaan.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie om meer oor waens te wete te kom

Baie Afrikaanse spreekwoorde is aan die gebruik van die wa te danke

Die geskiedenis en ontwikkeling van die wiel

Die ossewa en sy spore

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 Oktober 2021 | Bygewerk op 29 Februarie 2024