Vinnige feite

  • Die Tour de France is een van die oudste fietswedrenne in die wêreld en is die eerste keer in 1903 aangebied. Dié wedren strek oor drie weke en fietsryers ry altesaam 3 500 kilometer regdeur Europa en eindig in Parys, Frankryk. 7
  • Nederland is die land in die wêreld waar die meeste mense fiets ry. Amper almal (7 uit 8 mense – kinders ingesluit) ry met die fiets werk toe of skool toe. 30% van alle vervoer in dié land gebeur per fiets en daar is meer fietse as mense in Nederland. 8
  • Meer as 100 miljoen fietse word elke jaar vervaardig en omtrent 1 miljard fietse word tans wêreldwyd gebruik. 9
  • Die eerste mens wat om die wêreld op sy fiets gery het, was Fred A. Birchmore in 1935. Hy het dié reis van meer as 40 000 km deur 40 lande in 18 maande voltooi en 7 stelle fietsbande gebruik. 10 11
  • Die langste tandemfiets (’n fiets waarop meer as 1 mens kan ry) wat nog ooit gebou is, het 35 sitplekke gehad en was 20,42 meter lank. Dink hoe moeilik was dit om te draai! 12
  • Die wêreld se grootste fietsloods (waar fietse gebêre word), is in Augustus 2019 by die hooftreinstasie in Utrecht in Nederland geopen. Dié fietsloods kan 12 500 fietse huisves. 13
  • Die wêreld se duurste fiets is in 2009 deur die afslaers Sotheby’s in New York vir $500 000 (sowat R8 miljoen) verkoop. Die fiets, Butterfly Bike, is deur die Britse kunstenaar Damien Hirst geskep en was vol regte skoenlappervlerke. 14
  • Die Wright-broers, wat bekend geword het vir die eerste opgetekende, beheerde vlug in ’n vliegtuig, het voor hulle in vlieg belang begin stel het, ’n fietswinkel besit wat fietse gebou, herstel en verkoop het. 15
  • Die koms van paaie is aan die fiets te danke, want motors kon op grond- en klipperige paaie ry, maar nie fietse nie.
  • Die rekord vir die “stadigste fietsrit” behoort aan Tsugunobu Mitsuishi wat in 1965 vir vyf uur en 25 minute “stilgestaan” het ​​op sy fiets. 16

Foto: iStock

Sjoe, dit is darem baie lekker om blitsvinnig met jou fiets teen ’n afdraande af te ry. Almal van ons het al op een of ander stadium fiets gery. Dalk toe ons klein was of dalk ry jou pa elke naweek saam met sy vriende lang ente op sy fiets. Die fiets lyk miskien na ’n baie eenvoudige ding – ’n raamwerk, twee wiele, pedale, ’n saal. Tog het dit baie jare en baie mense geneem om die fiets te ontwikkel van ’n baie ongemaklike kontrepsie tot die betroubare ryding van vandag.

Fietsryers in 1897

Die eerste fietse

’n Mens se agterstewe word sommer seer as jy na prentjies van die eerste fietse kyk. ’n Duitse baron met die naam Karl von Drais het die eerste belangrike ontwikkeling gemaak toe hy in 1817 ’n stuurbare tweewielryding geskep het. 1

Dit het baie name gehad, soos die velocipede (rywiel), hobby horse (houtperd), draisine (spoorfiets) en die hardloopmasjien. Deur hierdie vroeë uitvindsel word Drais alom erken as die vader van die fiets.

Drais se skepping het ’n allemintige 23 kilogram geweeg en was omtrent heeltemal uit hout gemaak – twee houtwiele wat aan ’n houtraam vas was en ’n harde, leersitplek wat aan die raam vasgespyker was. Dié ryding het nie pedale gehad nie en die ryers moes hulself vorentoe “skop”. Vanaf die 1860’s het verskillende Franse uitvinders, waaronder Pierre Lallement, Pierre Michaux en sy seun Ernest Michaux, prototipes ontwikkel met pedale aan die voorwiel.

Dit was die eerste keer wat dié ryding ’n fiets genoem is, maar dit was ook bekend as beenskudders (“boneshakers”) as gevolg van die harde, stamperige rit. 2

Vinniger, maar nie so veilig

Teen die 1870’s was mense moeg vir die geskud en gestamp, en het begin om staal in die plek van hout te gebruik, omdat dit baie sterker en ligter was. Een van die belangrikste uitvindings in dié tyd was die penny-farthing, ook bekend as die tiekiewawiel. Die penny-farthing het een groot voorwiel met ’n pedaal en een klein agterwiel gehad (dit is vernoem na die grootste en die kleinste Britse muntstukke). 3

Dié hoë fiets was baie gewild in Engeland en Frankryk. Die Fransman Eugene Meyer het die eerste hoogwielfiets gemaak in ’n poging om vinniger te kan ry. Hoewel Meyer die eerste weergawe van die penny-farthing gemaak het, het die Brit James Starley die ontwerp vervolmaak en in 1877 bekendheid hiervoor verwerf. 4

Die penny-farthing kon wel tot 40 km/h ry, maar dit was baie moeilik om op en af te klim. Hulle sê mos hoë bome vang die meeste wind en baie fietsryers het afgeval en baie seer gekry.

Die tiekiewawiel (penny-farthing)

Die veiligheidsfiets

Die Rover-veiligheidsfiets is gedurende die 1880’s ontwikkel, omdat mense ’n veiliger fiets as die Penny-farthing gesoek het. Fietsvervaardigers het met ’n klomp ontwerpe geëksperimenteer, maar die Rover, ook gemaak deur Starley, het die suksesvolste een geword wat die meeste deur ander ontwerpers nageboots is. Dit het ’n diamantvormige raam gehad, pedale onder die saal wat die agterwiel deur middel van ’n ketting en ratte aandryf, stuurstang aan die voorwiel en vurke wat die voorwiel ondersteun. Dit is steeds deel van die moderne fiets. 5

Rondom die wêreld op ’n fiets

In 1935 het Fred A. Birchmore die klein Amerikaanse dorpie Athene, Georgia, verlaat om sy universiteitstudies in Europa voort te sit. In sy vrye tyd het Birchmore deur die vasteland op ’n eenspoedfiets wat hy Bucephalus genoem het (na die naam van Alexander die Grote se perd).

Birchmore, ’n swerwer in hart en siel, het sy reise uitgebrei om die Britse Eilande en selfs die Middellandse See in te sluit. Ná ‘n lang, onbeplande ompad in Egipte, het Birchmore sy studies gestaak, en met Bucephalus ooswaarts gereis en net aangehou.

Birchmore se odyssee (swerftog) het hom deur woestynvalleie tot sneeubedekte bergpieke, en van paleispromenades (-wandellane) tot modderige oerwoudroetes geneem. Hierdie reis van 25 00 myl (meer 40 233 km!) het 18 maande geduur.

Sommige van die mense wat hy teëgekom het, het nog nooit ‘n fiets óf ’n Anglo-Europeër gesien nie. Dat hy boonop deur ’n wêreld op die rand van ’n wêreldoorlog gereis het, maak hierdie ongelooflike reis nóg meer merkwaardig en uniek. ”17″

Die fietswiel

Die fietswiel het ook oor die jare baie verander, van hout na staal na rubber. Hoewel baie mense dink dat John Boyd Dunlop in 1888 die eerste pneumatiese fietsband ontwerp het (dit was eintlik soos ’n tuinslang binne ’n rubberomhulsel), was dit glo die Skotse uitvinder Robert William Thompson wat dié idee heel eerste in 1845 gepatenteer het (Dunlop se patent is glo later teruggetrek toe mense van Thompson se patentregistrasie uitgevind het). 6

Met die eerste klep (valve) kon jy ’n fietsband maklik opblaas (oppomp), maar nie so maklik afblaas nie. Die uitvinder Charles H. Woods het in 1891 ’n tweerigtingklep ontwikkel om dié probleem op te los en dit word tot vandag toe nog gebruik.

Woordbank

allemintige Tamaai, ontsaglik groot, enorm.
geëksperimenteer Om iets uit te toets; ’n proefneming te doen.
kontrepsie ’n Vernuftig apparaat of maaksel; Iets wat vindingryk saamgestel en wat werk.
pedale ’n Fietstrap.
pneumatiese Deur lugdruk aangedryf.
promenades Wandelpad, -weg, -laan.
prototipes Oorspronklike model.
stuurbare Beheerbaar, kontroleerbaar.
tiekiewawiel Outydse fiets (penny-farthing).
vervolmaak Tot volmaaktheid bring, perfek maak, gebreke foute/tekortkominge uitskakel. ”18″

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die fiets: groot uitvindings wat geskiedenis verander het

Die ontwikkeling van die fiets

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 Maart 2023 | Bygewerk op 29 Februarie 2024