Vinnige feite

  • Terwyl hy nog in die konsentrasiekamp was, het daar op ʼn dag ʼn skoolinspekteur na die kamp gekom. Hy was so tevrede met Nico se vordering, dat hy ʼn beurs gekry het om na die Greykollegeskool in Bloemfontein te gaan. 5
  • Op 20 Julie 1940 het hy ʼn republikeinse saamtrek (groot vergadering) by die Vrouemonument by Bloemfontein toegespreek – die byeenkoms is deur 70 000 mense bygewoon. (Suid-Afrika was op hierdie stadium nog nie ʼn republiek nie, en daar was verskillende politieke standpunte daaroor – party wou hê dat die land ʼn republiek moet word, en ander wou dit nie hê nie.) 2
  • Die Vrystaatse Helpmekaar is oorspronklik gestig om die slagoffers van die Rebellie te help om weer finansieel op die been te kom. 2
  • Hy het in die direksies van die Nasionale Pers en van die Voortrekkerpers gedien. 2
  • Hy was voorsitter van die Helpmekaarfonds wat behoeftige, maar belowende, kinders verder laat studeer het. Hierdie fonds bestaan steeds. Dokter Chris Barnard, Suid-Afrika se wêreldberoemde hartchirurg, het met ʼn Helpmekaarbeurs medies studeer. 3
  • Theuns Stoffberg, ʼn voormalige kaptein van die Springbokke, is ʼn kleinseun van N.J. van der Merwe. 6

Hier is N.J. van der Merwe in ʼn neutedop: Bybelvertaler, onderwyser, predikant, skrywer, stigter van die Voortrekkerbeweging en Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), taalstryder, en sommer nog baie meer.

Dit is sommer ʼn hele mondvol, nie waar nie? Nou gaan ons bietjie nader na hierdie besondere man en sy prestasies kyk. 1

Van der Merwe se vrou, Tibbie, regs

Die jong Nico van der Merwe en sy gesin

Nicolaas Johannes van der Merwe is op 17 Februarie 1888 in Senekal gebore. Hy was sy ouers se jongste kind van sewe en die enigste seun. Sy pa was Francois van der Merwe, en sy ma was Anna Elizabeth du Toit. Sy pa het in die Senekaldistrik geboer. 2

Sy gesin het hom “Boetie” of “Nico” genoem. Die gesin het op die plaas gebly, maar hulle het ook ʼn huis op die dorp gehad waar hulle gebly het wanneer hulle naweke vir inkopies en die kerkdiens dorp toe gegaan het. 3 (Dit was jare gelede algemeen dat baie boere so ʼn dorpshuis gehad het waar hulle oornag het wanneer hulle dorp toe moet gaan. Dit was veral die geval voor mense motors gehad het en dit lank geneem het om met ossewaens en perdekarre dorp toe te ry. ʼn Mens sou nie die oggend voor kerk op die plaas kon wegry met ʼn perde- of ossewa en dink jy gaan betyds daar aankom nie!)

As enigste seun het sy pa hom van kleinsaf leer perdry en skiet, en hulle het dikwels gaan jag. Hy het ook baie oor die veld by sy pa geleer en saam met hom op ʼn ossewa gery. 3

Hy het eers op Senekal en later op Fauresmith skoolgegaan. Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 begin het, was hy net 11 jaar oud. Die gesin het dorp toe getrek omdat dit te gevaarlik was op die plaas sonder sy pa (wat aan die oorlog deelgeneem het).

Omdat al die mans besig was om oorlog te maak, was daar net jong seuns en bejaarde mans in die dorp. Boetie was gou die leier onder die seuns. Wanneer die landdros nuus oor die oorlog ontvang het, het hy dit op ʼn kennisgewingbord by die hofgebou opgeplak. Een van die bejaarde boere in die distrik het vir Boetie gevra om die nuus in ʼn boek neer te skryf. Dan het hy elke Saterdag ʼn werker dorp toe gestuur om die berigte te gaan haal. Hy het Boetie met aartappels daarvoor vergoed (betaal). Dit wat hulle gesin nie kon eet nie, het hy op die mark gaan verkoop, en so kon hy geld verdien om vir sy ma en susters te sorg. Later het van die ander boere ook die nuus begin vra, en hulle het ook met plaasprodukte daarvoor betaal. 3

Op ʼn dag het ʼn groot groep Britse soldate op die dorp aangekom en alles vernietig en afgebrand. Hulle het die vroue en kinders gedwing om na die konsentrasiekamp by Norvalspont naby die Oranjerivier te gaan. Daar het Boetie weer vir sy ma en susters gesorg deur vis te vang met vishoeke wat hy van doringdraad gemaak het, en hy het selfs vir sy ma ʼn stoof van stene, klei, beesmis en riviersand gebou.

In die kampskool is hy as die leier onder die kampseuns beskou. Hy moes ook die kleiner kinders met hul skoolwerk help.

Hy en sy ma het die kamp oorleef  – dit is nie bekend of al sy susters ook aan die einde van die oorlog nog geleef het nie. 3

Ná matriek het hy aan die Grey-universiteitskollege (later die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat en vandag die Universiteit van die Vrystaat), wat toe net gestig is, studeer, en hy het in 1907 sy B.A.-graad in moderne tale met onderskeiding verwerf. 2

Hy is op 9 Februarie 1916 met Tibbie Steyn getroud – sy was die dogter van president M.T. Steyn. Hulle het ʼn seun en drie dogters gehad. 2

Onderwyser, predikant en kultuurleier

Ná sy studies het jy vir twee jaar op Fauresmith skoolgehou. In 1910 het hy by die Teologiese Seminarie op Stellenbosch ingeskryf. Hier was hy ʼn studenteleier en was by verskeie organisasies betrokke: Die Afrikaanse Taalvereniging, Uniedebatsvereniging, die Werdakomitee (hierdie komitee was die voorganger van die latere Afrikaanse Nasionale Studentebond), die Christenstudentevereniging (CSV) en Polumnia, die vereniging vir teologiese studente. Hy was ook ʼn goeie rugbyspeler en het in 1908 vir die Vrystaat as voorspeler in die Curriebekerreeks uitgedraf. In 1913 het hy leiding geneem met die reël van ʼn groot taalfees wat op 1 Maart in Kaapstad gehou is. 2

Op 24 April 1915 is hy as predikant in Wepener in die Vrystaat bevestig. In November 1919 het hy na Amsterdam in Nederland vertrek om verder te studeer. Hier het hy in 1921 sy doktorsgraad verwerf met die proefskrif Die sosiale prediking van Jesus. Hy het die proefskrif in Afrikaans geskryf – in hierdie tyd het die meeste nagraadse studente nog in Nederlands geskryf. Nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, is hy na die gemeente in Theunissen beroep. 2

Teologiese kweekskool, 1910

Die Afrikaanse Bybel

Van der Merwe was ʼn jong predikant toe hy by die Vrystaatse sinodesitting van 1916 voorgestel het dat die Bybel in Afrikaans vertaal moet word. Hy het lid geword van die Bybelvertalingskommissie, gelei deur doktor J.D. (“Totius”) du Toit, en hy het saamgewerk aan die eerste proefvertaling van die vier Evangelies en die Psalms wat in 1924 verskyn het. Die eerste Afrikaanse Bybels het in 1933 verskyn. Tot op hierdie stadium wal alle Bybels in Hooghollands, dit was die vorm van Nederlands wat vroeër in die land gepraat is. 3

Tydens die sinodesitting van 1916 het hy ook voorgestel dat predikante die reg moet hê om in Afrikaans te preek, en sy voorstel is goedgekeur. Dit was die eerste sinode wat so ʼn besluit geneem het, en ander sinodes het toe hulle voorbeeld gevolg. 4

Die Voortrekkerbeweging

Nadat daar vir 10 jaar lank pogings was om die Voortrekkerbeweging te stig, het Japie Heese vir Van der Merwe in Bloemfontein besoek en hulp by hom en die Helpmekaarbeweging gevra. As voorsitter van die Vrystaatse Helpmekaar het Van der Merwe fondse beskikbaar gestel vir die stigting van die Voortrekkers, en hy het ook gesorg dat Helpmekaar jaarliks ʼn bydrae aan die organisasiefonds van die Voortrekkers gemaak het. Hy het ook self ʼn Voortrekker geword en het die beweging tot met sy dood in 1940 gedien. 1

Van der Merwe was die voorsitter van die Voortrekkers se stigtingskomitee. Dit was sy briewe aan en gesprekke met generaal Hertzog aan die einde van 1930 en gedurende Mei 1931 wat daartoe gelei het dat die Voortrekkerbeweging uiteindelik gestig is. Hertzog het tydens die gesprek in Mei ook ingestem om die kongres van die Voortrekkers in September 1931 by te woon. 1

Van der Merwe het die doel en oogmerk van die Voortrekkers so beskryf: “Die beweging is gegrond op beslis Christelike grondslag, staan heeltemal buite die politiek, wil ʼn egte Suid-Afrikaanse vaderlandsliefde aankweek en verwelkom sowel Engelse as Afrikaanssprekendes binne sy geledere. Afrikaners! Laat dit ons erns wees om hierdie beweging binne ʼn korte tyd ʼn veredelende en besielende krag onder ons seuns en dogters deur die lengte en breedte van Suid-Afrika te maak.” 1

Die stigtingskomitee het op 1 Augustus 1931 in Pretoria vergader. Een van die sake waaroor besluit moes word, was ʼn leuse vir die nuwe beweging. Van die moontlikhede wat oorweeg is, was “Waak en werk”, “Vorentoe” en “Padlangs”. Nie een daarvan het vir die komitee goed geklink nie, en dit was van der Merwe wat toe “Hou koers” voorgestel het. Almal het daarvan gehou, en dit is vandag steeds die Voortrekkers se leuse. 1

Van hierdie treffende leuse het J.D. Kestell later gesê: “Die persone wat daardie leuse gekies het, het soos die Romeinse boumeesters van ouds, sterker gebou as wat hulle gemeen het.” 1

Die Voortrekkers is op 30 September 1931 amptelik gestig. 1

Ds. J.D. Kestell

Die politikus

In 1913 wou generaal Hertzog vir Van der Merwe by die politiek betrek, maar hy wou nie op daardie stadium betrokke raak nie.

Die Nasionale Party se federale raad, 1935

Met die Rebellie van 1914 het hy wel betrokke geraak by die protes teen die regering se planne om Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) in te val. Hy het as sekretaris vir president M.T. Steyn opgetree en gehelp met die opstel van telegramme en briewe wat na die Rebellieleiers en die regering gestuur is. 2

In 1924 het Van der Merwe Volksraadslid vir Winburg geword. In die Volksraad is hy onder meer gekies as lid van ʼn kommissie wat die instel van ouderdomspensioene, moes ondersoek. In 1925 was hy deel van ʼn komitee wat voorstelle vir ʼn nuwe landsvlag moes maak.

Dwarsdeur sy politieke loopbaan was hy ʼn ondersteuner van ʼn republikeinse staatsvorm vir Suid-Afrika. In 1934 is hy verkies tot leier van die Gesuiwerde Nasionale Party (later die Herenigde Nasionale Party) in die Vrystaat. Hierdie party wou ʼn republiek in Suid-Afrika hê, en daaroor het politici van mekaar verskil. Hy was nou betrokke by onderhandeling om ʼn nuwe party te stig, maar voor dit in November 1940 kon gebeur, is hy op 11 Augustus 1940 oorlede. 2

Die skrywer

Hy het in 1921 ʼn boek oor sy skoonpa, president M.T. Steyn, geskryf – Marthinus Theunis Steyn: ʼn lewensbeskrywing. Hy het ook ʼn boek van Emile Hobhouse oor die konsentrasiekampeThe brunt of the War – in Afrikaans vertaal met die titel Die smarte van die oorlog en wie dit gely het. Hy het self ook ʼn boek oor haar geskryf – Tot nagedagtenis van Emily Hobhouse. Sy eie ondervinding in die konsentrasiekamp het hy in Die burgemeester van Sannaspos (1929) beskryf. 2

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en Afrikaanse kultuur

Hy was een van die stigterslede en ook die eerste voorsitter van die FAK in 1929. Die volgende persone was saam met hom deel van die eerste hoofbestuur van die FAK: Mnre. I.M. Lombard en L.J. Erasmus; proff. T.J. Hugo en E.C. Pienaar; en mev. M.M. Jansen. Hy het tot met sy dood in 1940 voorsitter van die FAK gebly. 4

Só lui die getuigskrif oor N.J. van der Merwe deur Badie Badenhorst, een van die FAK se hoofleiers:
“Groot van gees, groot in sy verterende nasieliefde en volkstrou, groot in sy diensbaarheid, groot in sy idealisme, groot in sy besieling, groot in die offers wat hy vir sy volk gebring het en groot kultuurbouer.” 1

Hy het deurgaans (die hele tyd) ʼn belangrike rol gespeel om Afrikaanse kultuurbelange te bevorder. Hy was onder meer betrokke by die erkenning van “Die Stem” as Suid-Afrika se volkslied en by die organisering van die Eeufeesviering van die Groot Trek in 1938. Hy was lid van die Sentrale Volksmonumentekomitee wat verantwoordelik was vir die bou van die Voortrekkermonument by Pretoria. Hy was ook lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), asook die raad van die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat.

Hy het op ʼn kultuurreis deur Suid- en Noord-Rhodesië gegaan (vandag onderskeidelik Zimbabwe en Zambië), en daar was hy medestigter van die Afrikaanse Kultuurunie van Rhodesië. Hierdie organisasie moes aandag gee aan die kultuurbelange van die Afrikaners in daardie lande. 2

Woordbank

in ʼn neutedop ʼn Mens gebruik die uitdrukking wanneer jy ʼn kort beskrywing van iets of iemand wil gee.
konsentrasiekamp ʼn Kamp waar politieke gevangenes en ander mense wat nie soldate is nie, aangehou word en dikwels wreed behandel word. Dit gebeur gewoonlik tydens ʼn oorlog. In die Anglo-Boereoorlog het Brittanje die vroue en kinders gedwing om in konsentrasiekampe te gaan woon, sodat hulle nie die Boeresoldate wat besig was om oorlog te maak, kon help deur onder meer vir hulle kos te gee nie.
oorleef Lewendig gebly onder moeilike omstandighede.
prestasie Iets belangrik wat ʼn mens regkry of bereik.
republiek Regeringsvorm waar die gesag van die regering lê by burgers wat stemreg het en verteenwoordigers kies om in die regering te dien.
seminarie ʼn Kweekskool (opleidingsentrum) vir predikante; ook seminarium.
sinode Algemene kerkvergadering waar verteenwoordigers van gemeentes mekaar ontmoet om kerksake te bespreek.
verwerf Om iets deur arbeid of moeite te kry. 7

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor N.J. van der Merwe

N.J. van der Merwe word met ʼn borsbeeld vereer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Februarie 2023 | Bygewerk op 7 Maart 2024