Vinnige feite

  • Die horlosie in die Wit Eetkamer van die Hermitage-paleis staan stil op 02:10. Dit is die oomblik toe Kommuniste op 25 Oktober 1917 beheer oor die land oorgeneem het.
  • Verskeie dinge is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty (Nazi’s) uit Tsarskoye Selo gebuit. Heelwat van die goed is intussen aan Rusland teruggegee en weer in die museum geplaas.
  • Die koepel van die Sint Isaac-katedraal is met egte goud oorgeblaas.
  • Van die stad se bekendste inwoners was die skilders Karl Briullof en Ilya Repin; die digters Alexander Pushkin en Anna Achmatova; skrywers Nikolai Gogol en Fjodor Dostojewski; en die komponiste Pjotr Iljitsj Tsjaikofski en Dmitri Sjostakowitsj. 7

Sint Petersburg is die tweede grootste stad in Rusland en een van die wêreld se groot stede. Dit is vir die Russe ’n belangrike historiese en kulturele sentrum en ’n belangrike hawe. Die stad het ’n belangrike rol in die Russiese geskiedenis gespeel sedert sy stigting in 1703. Vir twee eeue (1712-1918) was dit die land se hoofstad. 1

Let wel: Dit is nie die enigste stad in die wêreld met die naam Sint Petersburg nie. Daar is ook ’n stad in die Amerikaanse deelstaat Florida met dieselfde naam. Hierdie artikel handel net oor die Russiese stad.

Die stad se naam

Wanneer jy oor Sint Petersburg begin nalees, sal jy opmerk dat skrywers soms ander name vir die stad gebruik. Die naamsveranderinge hou verband met die verloop van die Russiese geskiedenis.

Sint Petersburg is op 16 Mei 1703 gestig, in opdrag van die Russiese tsaar wat toe aan bewind was, Peter die Grote. Die oorspronklike nedersetting is na hom genoem. 2

In 1914 is Sint Petersburg se naam verander na Petrograd. Dit was ’n reaksie op die Eerste Wêreldoorlog waarin Rusland teen Duitsland geveg het. Die Russe het gedink dat die naam te Duits klink, en die stad ’n naam gegee wat meer Russies klink. Die Petro-deel van die naam vereer steeds Peter die Grote. Die “grad”-gedeelte is ’n algemene agtervoegsel wat vir ’n aantal Russiese stede en plekke gebruik word. 3

Ná Vladimir Lenin se dood in 1924 is die stad herdoop na Leningrad om die leier van die Russiese Revolusie te vereer. 3

In 1991 het die stad sy oorspronklike naam, Sint Petersburg, teruggekry. Dit was weer ’n reaksie op die val van die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR) – die kommunistiese staat wat ná die Russiese Revolusie tot stand gekom het. 3

Onthou ook dat die naam wat jy hier lees – Sint Petersburg – die verafrikaanste vorm van die naam is. In Engels skryf ons die naam St. Petersburg. Die stad is Sankt-Peterburg in Russies. 2

Ligging en klimaat

Sint Petersburg is sowat 640 km noordwes van Moskou en net sowat 7° suid van die Noordpoolsirkel geleë. Dit beteken die stad lê min of meer op dieselfde breedtegraad as Oslo (Noorweë), Stockholm (Swede) en Helsinki (Finland). 1 Omdat hierdie stede so ver noord is, is hulle baie kouer as enige temperatuur waaraan ons gewoond is.

Sint Petersburg is geleë op die delta van die Neva-rivier, aan die bopunt van die Golf van Finland. Die stad is versprei oor 42 eilande in die delta en oor aangrensende dele van die vasteland. Die delta waarop Sint Petersburg gebou is, is baie laag geleë en was oorspronklik eintlik ’n moeras. Gevolglik het die stad verskeie verwoestende vloede beleef waarin die grootste deel van die stad onder water was. Om die vernietigende vloedwater te beheer, het die stad in die 1980’s ’n 29 kilometer lange dyk oor die Golf van Finland gebou. 1

Die Atlantiese Oseaan veroorsaak dat Sint Petersburg se klimaat matig is vir ’n stad wat so ver noord geleë is. Die stad is selfs effens warmer as Moskou. Nietemin is die winters koud en die stad is vir ’n derde van die jaar toe onder die sneeu. Die Neva – die rivier wat deur die stad vloei – is in die middel van die winter kliphard gevries. Somers is matig en baie nat. 1

Geskiedenis

Sint Petersburg is op 16 Mei 1703 gestig, nadat tsaar Peter die Grote tydens ’n uitgerekte oorlog met Swede beheer oor die gebied rondom die Neva oorgeneem het.

Die omgewing was eintlik nie ’n goeie plek vir ’n stad nie – dit was ’n moeras met ’n onaangename klimaat – maar Peter het van ’n hoofstad in die noorde van sy ryk gedroom. Die droom was moeilik om te verwesenlik. Die bouers, hoofsaaklik feodale werkers (in Engels: serfs) en soldate, is genadeloos voortgedryf. Baie het gesterf as gevolg van Peter se onmenslike druk om die werk klaar te kry.

Sint Petersburg, die hoofstad

In 1712 het Sint Petersburg Rusland se hoofstad geword. Vanaf 1741, toe tsarina Elizabeth aan bewind gekom het, het Sint Petersburg ’n baie aantreklike bestemming geword, ook vir Europeërs. Europese kunstenaars het daar gaan woon en werk, en buitelandse argitekte het fabelagtige paleise en kerke gebou wat soos die geboue in Italië gelyk het. Sint Petersburg het tsaar Peter se ideaal van ’n “Venster na die Weste” verwesenlik. 4

Groot gebeure

Soos wat dit maar gaan met groot stede, was daar in Sint Petersburg se vroeë geskiedenis ook onaangename gebeure. In Desember 1825 het ’n groep soldate (die sogenaamde Desembriste) in opstand gekom teen die nuwe tsaar, Nicholas I. Nicholas het die organiseerders van die opstand laat teregstel of verban, en ’n uiters konserwatiewe beleid aangeneem.

Die vrystelling van die feodale werkers in 1861 onder Alexander II was nog ’n belangrike gebeurtenis. Duisende van hierdie arm werkers het na die stad gestroom, maar die stad was nie gereed vir só ’n toestroming nie. Armoede het toegeneem, en die inwoners van die stad het ontevrede geraak met die lewensomstandighede. 4

In die twintigste eeu was Sint Petersburg die brandpunt van die Russiese Revolusie. Die gebeure op Bloedige Sondag (9 Januarie 1905), toe soldate op betogende werkers op Paleisplein geskiet het, het die geaardheid van Sint Petersburg vir ewig verander. Sint Petersburg, wat vanaf 1914 Petrograd was, het die stad geword waarin tsaar Nikolas II geabdikeer het, waarin die Sosialiste ’n Sowjet van werkers en soldate gevorm het, en waar Lenin en sy Bolsjewisteparty in Oktober 1917 beheer oor die regering oorgeneem het.

Van Sint Petersburg tot Petrograd en Leningrad

In Maart 1918 het Petrograd (die ou Sint Petersburg) sy status as hoofstad van Rusland verloor toe Moskou die nuwe hoofstad geword het. Nadat Lenin in 1924 oorlede is, het Petrograd ter ere van hom Leningrad geword. 4

Op 1 Desember 1934 is Sergei Kirov, Leningrad se gewilde politieke hoof, in ’n sluipmoordaanval vermoor. Kort daarna is ’n amptelike verklaring uitgereik dat Kirov deur vyande van die Sowjetunie vermoor is. Sommige geskiedskrywers meen dat Joseph Stalin Kirov laat vermoor het om ’n moontlike gewilde mededinger uit te skakel.

Kirov se dood het ’n voorwendsel geword om al Stalin se teenstanders in hegtenis te neem en tereg te stel – die adelstand, handelaars, nyweraars, tsaristiese staatsamptenare. In 1935 alleen is tienduisende mense in Leningrad in hegtenis geneem, dikwels gemartel en tot jare in arbeidskampe gevonnis. Dit was ’n voorloper van die Groot Terreur wat die land van 1937-1938 vernietig het, toe meer as ’n halfmiljoen mense tereggestel is en baie meer in kampe gesterf het. 5

Donker jare en heropbou

Tussen September 1941 en Januarie 1944, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het Sint Petersburg van sy donkerste dae beleef. Die stad is 900 dae lank deur die Duitse magte beleër. Geskiedkundiges beraam dat 800 000 mense weens koue en hongersnood gesterf het. Wonder bo wonder het die stad se inwoners nie oorgegee nie. Nadat die blokkade geëindig het, is Leningrad vinnig herbou, en die lewe het geleidelik teruggekeer na die standaard voor die beleg. 4

Die eerste vyfjaarplan wat ná die Tweede Wêreldoorlog van stapel gestuur is, is deels gewy aan die heropbou van die stad se industrie en die herstel van sy argitektoniese erfenis. In die laat 1950’s het behuisingsprojekte begin opskiet, en opknappingswerk aan gesogte woonstelle in die middestad het in die 1970’s begin. Die ou stad is herstel en historiese geboue is opgeknap om sy unieke kulturele erfenis te bewaar. 1

Groot veranderinge het in die laat 1980’s begin plaasvind, toe die sentrale regering van die USSR hervormings ingestel het wat groter demokratisering en openheid aangemoedig het. Toe ander partye as die Kommunistiese Party in Maart 1990 wettig geword het, het dit veral ’n skerp impak op Leningrad gehad.

Twee maande later het hervormers in stadsraadverkiesings ’n aansienlike meerderheid gekry. Die raad het vinnig aangedring op ’n verskeidenheid vryemarkmaatreëls en het op die Kommunistiese Party se bates en voorregte in die stad beslag gelê. Om hierdie beweging weg van die stad se kommunistiese verlede te weerspieël, het kiesers in die Junie 1991-referendum gekies om die stad se naam weer Sint Petersburg te maak. 1

Die moderne Sint Petersburg

Die moderne Sint Petersburg het ná die val van die USSR drastiese opknapping beleef. Nuwe kafees en restaurante is geopen, brûe en landmerke is verlig, en kulturele lokale is gebou. Woonstelle in die stad is opgeknap, en baie word nou deur die nuwe elite besit.

Aan die ander kant het Sint Petersburg dieselfde probleme as enige ander groot stad. Die getal hawelose mense en bedelaars het in die afgelope twee dekades skerp gestyg, en misdaad raak ook meer algemeen. 1

Sint Petersburg is nietemin een van die wêreld se mooiste stede met ’n ryke kunsgeskiedenis en heelwat toeriste-aantreklikhede. Ons bespreek die belangrikstes hier onder.

Belangrikste besienswaardighede

Die Hermitage

Hierdie kunsmuseum is Sint Petersburg se bekendste besienswaardigheid. Die museum word deels gehuisves in die Winterpaleis, wat vroeër die tsaars se woning was. Ons het hierdie museum en die wonderlike kunsskatte in die museum in ons artikel oor kunsmuseums bespreek.

Die Hermitage-kunsmuseum.

Die Mariinski-teater

Die Mariinski is ’n wêreldbekende teater waarin ballette, operas en orkesmusiek uitgevoer word waartydens internasionale sterre optree.

Die Mariinski-teater is wêreldbekend vir ballette, operas en musiekuitvoerings.

Peterhof

Peterhof was Peter die Grote se somerwoning. Die paleis is deels na die voorbeeld van Versailles gebou, maar weerspieël ook Peter se spesifieke smaak en belangstellings.

Peterhof, die somerwoning van Peter die Grote.

Sint Isaac-katedraal en kolonnade

Sint Isaac, wat in 1858 voltooi is, het meer as veertig jaar geneem om te bou en te versier. Die katedraal is ’n mengsel van die Europese en Russiese Ortodokse tradisies, vermeng met Katolieke invloed. Verskillende soorte halfedelgesteentes van reg oor Rusland vorm die binnemure en kolomme, terwyl ’n oorvloed oorspronklike kuns en beeldhouwerk die groot saal van die katedraal vul. Besoekers kan ook die 300 trappe tot by die kolonnade klim vir ’n mooi uitsig oor die stad.

Die Sint Isaac-katedraal het meer as veertig jaar geneem om te bou.

Die Peter-en-Paul-vesting

Die plek waar die stad Sint Petersburg begin het, die Peter-en-Paul-vesting, het nooit regtig oorlogvoering beleef nie. Dit is wel die begraafplaas vir byna al die Romanof-tsaars en -tsarinas, en dit was ook ’n berugte politieke tronk. In hierdie kompleks van geboue kan jy uiteenlopende uitstallings en versamelings van Russiese geskiedenis sien.

Die Peter-en-Paul-vesting was in ‘n stadium ‘n berugte politieke tronk.

Kerk van Ons Verlosser op Gestorte Bloed

Hoewel hierdie kerk nie so bekend is soos Sint Basil in Moskou nie, is die gebou met sy uivormige koepels nietemin een van Sint Petersburg se herkenbaarste landmerke. Die gebou is opgerig ter herdenking aan die sluipmoord op tsaar Alexander II.

Die Kerk van Ons Verlosser op Gestorte Bloed is opgerig ter herdenking aan die sluipmoord op tsaar Alexander II.

Tsarskoye Selo

Tsarskoye Selo is eintlik twee groot 18de-eeuse paleise, omring deur ’n pragtige park. Dit stel die geweldige rykdom en weelde van die Romanof-dinastie ten toon.

Tsarskoye Selo is twee paleise wat omring word deur ‘n pragtige park.

Nevsky Prospekt

Nevsky Prospekt strek oor 4,5 kilometer van die Admiraliteit in die weste tot by die Alexander Nevsky-klooster in die ooste. Hoogtepunte sluit in die manjifieke Art Nouveau Singer-gebou, die Stroganof-paleis, Kazan-katedraal, die standbeeld van die perdetemmers op Anichkov-brug, en die 18de-eeuse inkopiearkade Gostiny Dvor. Afgesien van belangrike geboue en luukse boetieks, is Nevsky Prospekt ’n bedrywige gebied waarheen die inwoners gaan om uit te eet en te kuier. 6

Nevsky Prospekt is ‘n bedrywige gebied met belangrike geboue en luukse boetieks.

Woordbank

aan bewind Regeer.
adelstand Edeles, hooggeplaastes.
argitektoniese erfenis Dit verwys na geboue of strukture van historiese of kulturele belang, wat ’n belangrike deel van ’n land/stad se erfenis is en bewaar moet word.
bates Besittings wat iemand of ’n maatskappy voordelig kan aanwend; nut, voordeel, wins.
beleër Met die hulp van die weermag van die buitewêreld afsny.
beleid Plan/program/wet vir die bestuur van ʼn groep/onderneming/party/land.
beleg ’n Toestand waar die weermag kontak met die buitewêreld afsny.
berugte Bekende, maar op ’n negatiewe manier.
beslag gelê Gevat.
blokkade Die omsingeling van ʼn gebied deur soldate om te keer dat niemand of niks daar kan in- of uitkom nie.
boetieks ’n Klein winkel/maatskappy wat hoogs gespesialiseerde dienste of produkte aanbied.
Bolsjewisteparty Letterlik: Meerderheidsparty; Lenin se party waarmee hy kommunisme in Rusland gevestig het.
brandpunt Middelpunt van belangrike en kontroversiële gebeure.
delta ’n Mond van ’n rivier wat so vlak is dat dit nie net op een plek in die see loop nie, maar soos ’n waaier in kleiner strome vertak.
demokratisering Die aksie om iets vir almal toeganklik te maak.
Desembriste Russiese revolusioniste/rebelle wat ’n onsuksesvolle opstand op 14 Desember 1925 gelei het.
drastiese Ingrypende, hewige, radikale, erge.
dyk Muur of wal om water van laerliggende gebiede weg te hou.
elite Belangrike en invloedryke lede van ’n samelewing.
feodale werkers Arbeiders in ’n feodale stelsel; werkers wat aan ’n stuk grond behoort het soos wat geboue en paaie aan die grond behoort.
geabdikeer Van die troon afstand gedoen.
gebuit Gevat, veral tydens ’n veldslag of oorlog.
gehuisves Wanneer iets binne-in ʼn ander gebou/plek geleë is.
gesogte Gewilde; populêre; baie in aanvraag.
hawelose Sonder blyplek of besittings.
hervormers Mense wat iets wysig, verbeter.
historiese Bekend uit die geskiedenis; wat werklik gebeur het; geskiedkundig.
impak Invloed, uitwerking.
industrie Gesamentlike bedrywe wat grondstowwe of halfverwerkte stowwe tot gebruiksgoedere verwerk; nywerheid; vervaardigingsbedryf.
inkopiearkade Winkelgang.
katedraal Die grootste/belangrikste kerkgebou (van veral die Rooms-Katolieke Kerk) in ʼn bepaalde gebied, gewoonlik met ʼn biskop as hoof.
klooster Gebou waar monnike of nonne woon.
koepels Bolvormige dakke, veral van ʼn kerk/moskee/ens.
kolomme Groot pilare.
kolonnade Reeks pilare of boë wat ’n dak oor ’n loopvlak ondersteun.
Kommunistiese Party Die enigste formele politieke organisasie wat deur die Sowjetgrondwet toegelaat word en die uiteindelik mag is.
konserwatiewe Behoudende; dikwels gekant teen vernuwing en vreemde invloede.
kulturele Wat te doen het met kultuur, soos teaters en kunsgalerye.
landmerke Bekende plekke wat ’n mens dadelik herken.
lokale Vertrekke/kamers.
moeras ’n Gebied waar daar so baie water in die grond is dat dit ’n pappery is; Laagliggende, vleiagtige, onbegaanbare stuk modderige grond.
nedersetting Woonplek, kolonie; vestiging.
Noordpoolsirkel Die noordelikste breedtegraad om die aarde.
nyweraars Mense wat in toegeruste werkplekke goedere vervaardig, fabrikante.
oorgeblaas Deur middel van ’n spesiale proses met ’n dun lagie edelmetaal (soos goud) bedek.
referendum Stemming waarin almal van ʼn volk mag deelneem, gewoonlik oor ʼn spesifieke saak.
Russiese Ortodokse Met die eienskappe van die tradisionele Russiese kerk.
Russiese Revolusie Revolusie wat die keiserryk omvergewerp het en die Bolsjewiste aan bewind geplaas het.
ryk ’n Gebied waaroor ’n vors (koning/koningin/keiser) regeer.
sluipmoordaanval Moord op ’n belangrike persoon wat in die geheim beplan word.
sosialistiese Radikaal, linksgesind.
Sowjet Plaaslike raad in Rusland waarop werkers gedien het.
sterre Akteurs, sangers, kunstenaars wat gewild en alombekend is.
teregstel Met die dood straf.
toestroming Onbeheerde invloei van mense na ’n gebied.
tradisies Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk.
tsaar Die titel van die Russiese keiser. Die woord is eintlik ’n vervorming van die Latynse woord ceasar wat “keiser” beteken.
USSR Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke.
van stapel gestuur Begin, aan die gang gesit.
verban Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ʼn land uitstuur; uitstoot; verdryf.
Versailles Voormalige Franse koninklike woning en sentrum van die regering, nou ‘n nasionale landmerk.
vesting ’n Versterkte stad of stat; skuilplek.
voorwendsel Rede, maar eintlik ’n flou verskoning om iets anders te doen.
vryemarkmaatreëls ’n Stel riglyne waarvolgens die pryse van goedere en dienste geheel en al deur die onderlinge ooreenkoms tussen kopers en verkopers vasgestel word, dus deur vraag en aanbod.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die geskiedenis van Rusland se kulturele hoofstad

Sint Petersburg – ʼn toeris se droom

Virtuele reis na Sint Petersburg (geskiedkundige hoogtepunte)

Die tien topredes waarom Sint Petersburg moontlik die mooiste hoofstad ter wêreld is

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Februarie 2024 | Bygewerk op 29 Februarie 2024