Vinnige feite

  • Die woord “museum” kom van die Griekse woord mouseion, wat verwys het na die tempels wat aan die Muses en die kunste gewy is.
  • Die moderne museum het tydens die Renaissance gestalte begin aanneem toe ryk handelaars en bankiers kunswerke as statussimbole versamel het.
  • Die Haagse Konvensie vir die Beskerming van Kulturele Eiendom in die geval van gewapende konflik is in Mei 1954 onderteken. Dit was die eerste van verskeie internasionale konvensies en ooreenkomste om kuns en monumente tydens oorlogstye te beskerm. 13

Het jou gesin, vriende of skool jou al ooit genooi om saam te gaan op ’n uitstappie na ’n museum, en dan wonder jy hoekom jy nou eintlik soontoe moet gaan? Baie mense dink aan ’n museum as ’n stowwerige plek vol ou goed, maar museums speel ’n baie belangrike rol in enige samelewing. Die Internasionale Museumraad definieer ’n museum soos volg:

’n Museum is ’n niewinsgewende, permanente instelling in diens van die samelewing wat tasbare en ontasbare erfenis navors, versamel, bewaar, interpreteer en uitstal. Museums is oop vir die publiek, toeganklik en inklusief, en bevorder diversiteit en volhoubaarheid. Hulle funksioneer en kommunikeer eties, professioneel en met die deelname van gemeenskappe, en bied uiteenlopende ervarings vir opvoeding, genot, refleksie en die deel van kennis. 1

In Weet se artikel oor museums kan jy meer leer oor die aard en die doel van museums in die algemeen, en die verskillende soorte museums wat ons in die wêreld kry. In hierdie artikel fokus ons spesifiek op kunsmuseums.

Kunsmuseums en kuns

Hoe verskil kunsmuseums dan van ander museums, en watter soort voorwerpe word daarin bewaar?

Die New World Encyclopedia beskryf kunsmuseums (en kunsgalerye) soos volg:

’n Kunsmuseum is ’n museum wat spesialiseer in kunswerke wat wissel van skilderye, tekeninge, beeldhouwerke, foto’s en ander, wat in verskillende kleiner ruimtes uitgestal word. Die kleiner ruimtes word galerye genoem. In ’n museum bevat die galery dikwels werke wat ooreenstem ten opsigte van die styl, medium, tydperk of die kunstenaar wat dit geskep het. ’n Kunsgalery wat nie binne ’n museum gehuisves word nie, is ’n kleiner ruimte waarin kuns, gewoonlik visuele kuns, uitgestal word. Hoewel kunsgalerye hoofsaaklik ’n ruimte verskaf om visuele kuns uit te stal, word kunsgalerye ook soms gebruik om ander kunsverwante aktiwiteite aan te bied, soos musiekkonserte of poësievoorlesings. 2

En wat word in ’n kunsmuseum of kunsgalery bewaar? Kuns, ja, maar wat kan jy spesifiek verwag om in ’n kunsmuseum aan te tref?

In die definisie hier bo word dit reeds genoem: skilderye, tekeninge, beeldhouwerke en foto’s. Die Encyclopedia Britannica help ons verder:

Die kunsmuseum … is hoofsaaklik gemoeid met ’n voorwerp wat sonder hulp met besoekers kommunikeer. Estetiese waarde is dus ’n groot oorweging wanneer dit kom by die aanvaarding van items vir die versameling. Tradisioneel sluit versamelings skilderye, beeldhouwerk en die dekoratiewe kunste in. ’n Aantal kunsmuseums sluit sedert die 19de eeu industriële kuns in, veral om goeie industriële ontwerp aan te moedig. 3

In ’n kunsmuseum gaan dit dus oor voorwerpe wat nie in die eerste plek geskep is om bruikbaar te wees nie, maar om die mens se omgewing te versier. Sommige kunswerke, veral moderne kuns, het ook dikwels ten doel om sosiale kommentaar te lewer en mense bewus te maak van wat in die samelewing gebeur.

Bekendste en gewildste kunsmuseums

As ’n mens begin navorsing doen oor kunsmuseums, sal jy sien dat daar oral in die wêreld sulke museums bestaan. Alle kulture het kuns opgelewer, en talle museums in verskeie lande bewaar hierdie kunswerke vir die nageslag. Daar is wel ’n paar wat uitstaan omdat hul versamelings buitengewoon groot is, of omdat hulle talle beroemde kunswerke bevat.

Die museums wat ons hier onder bespreek, is gekies op grond van ’n opname wat deur The Art Newspaper gedoen is. Hierdie museums was volgens 2022 se besoekersgetalle onder die gewildstes in die wêreld. 4 Ons gee so ’n kort beskrywing van elkeen en gee ook ’n lysie van die bekendste kunswerke wat in elke museum gehuisves word.

Die Louvre (Parys, Frankryk)

Die Louvre (uitgespreek LOEW-rû, met die “r” so ’n bietjie gebrei) is Frankryk se nasionale museum en kunsgalery, die museum met die meeste besoekers per jaar en die grootste museum in die wêreld. Dit word gehuisves in die paleis wat die Franse konings se woning was voor hulle Versailles toe getrek het. Die museum het intussen ook twee satellietpersele gekry: een in die Franse stad Lens, en een in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE). 5

Die kunsafdeling bevat nie net skatte uit Frankryk nie, daar is ook Griekse, Etruskiese en Romeinse oudhede wat argitektuur, beeldhouwerk, mosaïek, juweliersware en pottebakkery insluit. Die Egiptiese oudhede in die museum is tydens Napoleon se Egiptiese veldtog verkry, en die museum word ook beskou as die belangrikste bewaarder van Mesopotamiese kuns. Dit huisves ook die Franse kroonjuwele. 5

Van die beroemde kunswerke wat jy in hierdie museum te siene kan kry, is die volgende: 6

  • Die “Mona Lisa”, waarskynlik Leonardo da Vinci se bekendste skildery.
  • “Venus de Milo”, ’n marmerstandbeeld van Afrodite, die Griekse godin van skoonheid, uit Antieke Griekeland, 150-125 v.C.
  • “Die Gevleuelde Oorwinning van Samothrace”, ’n marmerstandbeeld van Nike, die Griekse godin van oorwinning, uit Antieke Griekeland, 200-180 v.C.
  • “Hammurabi se stele”, ’n versierde klippilaar waarop die wêreld se heel eerste regsteks gegraveer is, uit Mesopotamië, 1792-1750 v.C.
  • “Die Kantmaker”, waarskynlik Johannes Vermeer se bekendste skildery.
  • “Napoleon se kroning”, ’n massiewe skildery deur Jacques-Louis David wat deur Napoleon self aangevra is.
  • “Vryheid wat die mense lei”, ’n skildery deur Eugène Delacroix wat die 1830-revolusie herdenk, toe koning Karel X se heerskappy tot ’n einde gekom het.

Jy kan by hierdie skakel ’n virtuele toer onderneem van die skatte wat die Louvre self as sy meesterstukke beskou.

Die Vatikaanmuseums (Rome, Italië)

Die Vatikaanmuseums (in Italiaans: Musei Vaticani) is eintlik ’n kompleks van 26 museums en talle galerye, en dit huisves die kunsversamelings van al die pouse sedert die begin van die 15de eeu in die pouslike paleise en ander geboue in die Vatikaan. 7

Die museums bevat onder meer uiters waardevolle versamelings beeldhouwerk uit die Antieke tydperk, Etruskiese opgrawings en juweliersware, Italiaanse godsdiensskilderye, Bisantynse kuns en ongeveer 100 000 gewyde of godsdienstige stukke van reg oor die wêreld. Bekende kunswerke uit die Renaissance en moderne kuns is ook in die Vatikaanmuseums te sien.

Van die bekendste skilderye in hierdie museumkompleks is: 8

  • Die “Atheense Skool”, ’n fresko deur Rafael waarin feitlik elke betekenisvolle filosoof uit antieke Griekeland uitgebeeld word.
  • Die plafon van die Sistynse Kapel waar Michelangelo die gebeure in Genesis uitbeeld, met die skepping van Adam reg in die middel van die werk waarskynlik die bekendste toneel.
  • “Die Transfigurasie”, nog ’n fresko deur Rafael en sy laaste werk, wat deur kunskenners beskou word as ’n manjifieke voorbeeld van Italiaanse Hoë Renaissance.
  • “Die graflegging van Christus”, deur Caravaggio, waarskynlik die bekendste altaarskildery wat ooit geskilder is.
  • “Sint Hieronimus in die wildernis”, ’n skildery wat Leonardo da Vinci aan die einde van sy lewe aangepak en nooit voltooi het nie.
  • Die Stefaneschi-altaarskildery, ’n drieluik wat die Italiaanse kunstenaar Giotto in opdrag van kardinaal Giacomo Gaetani Stefaneschi geskilder het en wat as altaarskildery vir een van die altare van die ou Sint Peter-basiliek in Rome gedien het.

Jy kan by hierdie skakel ’n virtuele toer deur die beroemde Sistynse Kapel onderneem.

Die Britse Museum (Londen, Groot-Brittanje)

Die Britse Museum is Brittanje se nasionale museum en huisves besondere versamelings argeologiese en kultuurskatte. 9

Die museum se webblad dui aan dat jy die volgende stukke in die museum nie moet misloop nie: 10

  • Die Rosetta-steen, ’n kliptablet waarop ’n dekreet in drie tipes skrif geskryf is: hiërogliewe, Demoties (die inheemse Egiptiese skrif van die tyd) en Antieke Grieks. Die drie skrifstelsels so langs mekaar het kenners in staat gestel om hiërogliewe te ontsyfer.
  • Die Sofilos-vaas, ’n bak en staander uit Antieke Griekeland, waarin ’n mengsel van wyn en water by feeste bedien is, ongeveer 580 v.C.
  • Die Parthenon-beeldhouwerk, wat sowat 2 500 jaar gelede die Parthenon, ’n tempel op die Akropolis in Athene versier het.
  • “Die graf van die onbekende vakman” deur Grayson Perry, ’n moderne werk van ’n ysterskip wat die hiernamaals invaar, en wat ’n gedenkteken is vir al die kunstenaars – mans en vroue – wie se name ons nie eens ken nie, maar wat die pragtige voorwerpe gemaak het wat in die museum uitgestal word.
  • “Hurkende Venus”, uit die tweede eeu, ’n Romeinse weergawe van ’n veel ouer Griekse standbeeld van die godin Afrodite (sy was Afrodite vir die Grieke en Venus vir die Romeine).
  • ‘n Borsbeeld van Ramesses II, die Egiptiese farao wat van 1279-1213 v.C. regeer het, wat deel was van ’n tempel in Thebe (die moderne Luxor in Egipte) wat deur die farao in sy leeftyd laat bou is.
  • Die “Bronskop” of “Ife-kopbeeld”, ongeveer 600 jaar oud en waarskynlik ’n afbeelding van ’n heilige koning van die Wes-Afrika-koninkryk Ife, die huidige Nigerië.
  • “Boom van die lewe”, ’n beeldhouwerk wat deur vier Mosambiekse kunstenaars, Cristóvão (Kester) Canhavato, Hilario Nhatugeuja, Adelino Mate en Fiel dos Santos, vir die Britse Museum gemaak is uit wapens wat in die Mosambiekse Burgeroorlog gebruik is.
  • Die Akan-trom, ’n houttrom wat in Virginië in die VSA vir die museum aangeskaf is, maar in werklikheid meer as 300 jaar gelede in Wes-Afrika in die hedendaagse Ghana en Ivoorkus gemaak is.
  • Asteek-slang, ’n uitsonderlike beeldhouwerk van ’n slang met twee koppe, en gemaak van ongeveer 2 000 stukke turkoois wat op ’n houtbasis vasgemaak is, uit die 15de of 16de eeu en die streek wat ons vandag ken as Mexiko.
  • Die Piranesi-vaas, ’n 2,7 meter hoë vaas wat in die 1700’s saamgestel is uit ’n klomp stukke klassieke en moderne marmer.
  • Die Edmund de Waal-ballingskapsbiblioteek, ’n installasie deur die Britse kunstenaar en skrywer Edmund de Waal, wat meer as 2 000 vertaalde boeke huisves van skrywers wat uit hul eie lande verban is.
  • Die Haida House-totempaal, wat voor ’n stamhuis in die dorpie Kayang in Brits-Columbië, Kanada, gestaan het, met voorvaderlike wesens daarop uitgebeeld wat identiteit merk en regte op stories en eiendom aan families toeken.
  • “Hoa Hakananai’a”, ’n standbeeld van die seremoniële dorpie Orongo op Rapa Nui (Paaseiland), ongeveer 1000-1200.

Jy kan die versameling in die Britse Museum by hierdie skakel te siene kry.

Die Metropolitan-kunsmuseum (New York, VSA)

Die Metropolitan-kunsmuseum (of sommer net kortweg die Met) huisves meer as 5 000 jaar se kuns van reg oor die wêreld. Die museum beslaan drie persele in New York – die Met op Fifth Avenue, die Met Breuer, en die Met Cloisters. Miljoene mense neem ook aanlyn deel aan die Met-ervaring. 11

Sedert sy stigting in 1870, was die Met meer as ’n skatkis van skaars en pragtige voorwerpe. Kuns kry lewe in die museum se galerye en deur sy uitstallings en geleenthede, sodat besoekers blootgestel word aan nuwe idees, en onverwagte verbintenisse oor tyd en oor kulture heen kan ervaar. 11

Van die grootse kunswerke wat jy in die Met kan sien, is die volgende:

  • “Blik op Toledo”, waarskynlik die Griekse skilder El Greco se bekendste kunswerk.
  • “Juan de Pareja”, ‘n portret deur die beroemde Spaanse skilder Diego Velázquez van sy slaaf en ateljee-assistent, wat eintlik ’n kunstenaar in eie reg was.
  • “Selfportret”, deur Rembrandt van Rijn, die beroemde Nederlandse skilder.
  • “Washington wat die Delaware oorsteek”, Emanuel Leutze se uitbeelding van Washington se aanval op die Hesse by Trenton op 25 Desember 1776.
  • “Die dansklas”, deur die impressionistiese skilder Edgar Degas, een van ’n reeks skilderye (ook te siene in die Met) wat hy van balletdansers gemaak het.
  • “Gertrude Stein”, Pablo Picasso se bekende uitbeelding van die beroemde skrywer.
  • “Koringland met sipresse”, deur Vincent van Gogh.
  • “Die kaartspelers”, deur nog ’n bekende impressionistiese skilder, Paul Cézanne.
  • “Brug oor ’n dam met waterlelies”, een van die vele skilderye wat Claude Monet van sy tuin in Giverny gemaak het.
  • “Herfsritme”, een van Jackson Pollock se bekendste werke. 11

Jy kan by hierdie skakel ’n lys kry van blogs met video’s oor al die bekendste werke in die Met. Ons plaas ook onder aan hierdie artikel skakels na die museum se 360°-projek.

Die Hermitage (Sint Petersburg, Rusland)

Die Hermitage is reeds in 1764 deur Katarina die Grote gestig. Die gebou grens aan die Winterpaleis en het gedien as ’n private galery vir die kuns wat sy versamel het. Onder tsaar Nikolaas I is die Hermitage vir die publiek oopgestel, en ná die Oktober-revolusie van 1917 het die versamelings openbare eiendom geword. Die museum is in die 1920’s uitgebrei met kuns uit privaat versamelings. In 1930-1934 is van die meesterstukke deur die Sowjet-regering verkoop om vir industriële masjinerie uit die Weste te betaal, maar dit is sedertdien weer met belangrike Europese kunswerke aangevul. 12

Die museum word tans in vyf aaneengeskakelde geboue gehuisves, en sluit in die Winterpaleis, die Klein, Ou en Nuwe Hermitage. 12

Die Hermitage bevat byna drie miljoen kunsstukke vanaf die Steentydperk tot die hede. Daaronder tel een van die wêreld se grootste versamelings Wes-Europese skilderkuns. Russiese kuns word goed verteenwoordig. Die Hermitage besit ook heelwat Asiatiese kuns.

Jy kan by hierdie skakel blogs met video’s kry van talle bekende kunswerke in die Hermitage.

Van die bekendste kunswerke in die Hermitage is:

  • “Die terugkeer van die verlore seun” deur Rembrandt van Rijn.
  • Die “Madonna Litta”, moontlik deur Leonardo da Vinci, maar ook moontlik deur een van sy leerlinge.
  • Die “Conestabile-Madonna” deur Rafael.
  • “Apostels Petrus en Paulus” deur El Greco.
  • “Kothuise met grasdakke” deur Vincent van Gogh.
  • “Die vrou wat vrugte vashou”, een van die bekende tonele uit Tahiti, deur Paul Gauguin.
  • Die “Boulevard Montmartre in Parys” deur Pissarro.
  • “Twee Susters”, ’n skildery uit Pablo Picasso se blou periode.
  • “Portret van ’n dame in blou” deur die Britse skilder Thomas Gainsborough.
  • “Danae”, ’n skildery deur die beroemde Italiaanse skilder Titiaan.

Ander noemenswaardige kunsmuseums

Natuurlik is die museums wat ons hier bo genoem het, nie naastenby die enigstes in die wêreld nie. Nog beroemde museums is die Rijksmuseum in Amsterdam (waarin Rembrandt van Rijn se bekende Nagwag is), die Musée d’Orsay in Parys met Vincent van Gogh se selfportret, die National Gallery in Londen waar Van Gogh se beroemde Sonneblomme gehuisves word, die Uffizi in Florence waar jy onder andere Sandro Botticelli se Geboorte van Venus kan sien, die Accademia-galery in Florence waar jy Michelangelo se Dawid-beeld sal aantref, en die Museum of Modern Art (of MoMA) in New York waar Edvard Munch se bekende skildery Die skreeu hang.

Die Musée d’Orsay in Parys huisves onder meer Vincent van Gogh se selfportret,

Hier in Suid-Afrika het ons ook kunsmuseums. In Kaapstad is daar die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery en die Zeitz-museum van Kontemporêre Afrikakuns; daar is die !Khwa ttu San-erfenissentrum net buite Kaapstad; die Rupert-museum in Stellenbosch; Oliewenhuis in Bloemfontein; die Tatham-kunsgalery in Pietermaritzburg; die Irma Stern-museum in Rosebank; die Boesman-erfenismuseum in Nieu-Bethesda; die Pretoria-kunsmuseum; die Fort Nongqayi-museumdorp by Eshowe in KwaZulu-Natal; die Walter Battiss-kunsmuseum in Somerset-Oos; die Kaaps-Maleise kunsuitstalling in die Bo-Kaap; die Hester Rupert-kunsmuseum in Graaff-Reinet; die Nelson Mandela-kunsmuseum in Gqerberha; die Johannesburg-kunsgalery; en verskeie ander kleiner galerye en museums wat werke van Suid-Afrikaanse en buitelandse kunstenaars huisves en ons eie kunsskatte bewaar.

Woordbank

altaarskildery Kunswerk wat agter en bo die altaar in ’n Christelike kerk aangebring is.
argeologiese Wat te doen het met oudheidkunde.
argitektuur Wetenskap van die ontwerp, optrek en versiering van geboue, boukuns.
basiliek ʼn Groot Rooms-Katolieke kerkgebou met dubbele kolonnades en ’n gewelfde boog/altaarnis, wat in antieke Rome as ’n regshof of vir openbare byeenkomste gebruik is.
Bisantynse Wat te doen het met die Bisantynse Ryk, ’n oostelike deel van die Romeinse Ryk met Konstantinopel as sy sentrum.
dekoratiewe Versierde.
dekreet ’n Amptelike opdrag wat die gesag van ’n wet het.
diversiteit Verskille onder een groep wat die groep verryk.
drieluik ’n Kunswerk in drie stukke wat saam ’n eenheid vorm.
estetiese waarde Die skoonheidswaarde wat mense aan iets heg.
eties Met goeie morele waardes.
Etruskiese Wat te doen het met Etrurië, histories ’n streek in die sentrale deel van Italië
farao Die titel van die ou Egiptiese konings.
filosoof Iemand wat oor die lewe dink, die gedagtes neerskryf en aan ander mense leer.
fresko ’n Skildertegniek waar ’n muurskildery op vars pleister geverf word.
gemoeid Betrokke wees.
gestalte begin aanneem Vorm kry.
hiërogliewe Tekeninge of beelde wat sommige antieke volke, veral die Egiptenare, as skryftekens gebruik het.
impressionistiese Iets wat die eerste onmiddellike indruk gee.
industriële kuns Kuns wat in en vir vervaardiging gebruik word.
in eie reg Dit wat iemand self kan doen, eerder as ’n assosiasie met iemand anders.
inklusief Wat insluit en nie uitsluit nie, veral met verwysing na verskillende rasse- en kultuurgroepe.
interpreteer Die betekenis van iets (probeer) verduidelik.
kardinaal Hoogwaardigheidsbekleër in die Rooms-Katolieke Kerk.
klassieke Wat tot ʼn tradisionele styl behoort.
kliptablet In die Antieke Wêreld is kliptablette wat van klei en klip (meestal kalksteen) gemaak is, as geskrewe kommunikasie gebruik.
kompleks Versameling geboue.
kontemporêre Eietyds, hedendaags.
konvensie Formele ooreenkoms, veral tussen verskillende lande.
kroonjuwele Die kroon en ander juwele wat tydens staatsgeleenthede deur ’n monarg gedra word.
kulture Dit is al die lewenswyses insluitend kunste, oortuigings en instellings van ’n bevolking wat van geslag tot geslag oorgedra word.
medium Die materiaal waarmee die kunswerk geskep is.
mosaïek Inlegwerk van teëls/stukkies marmer/glas/ens.
muses Enige van die nege Ou Griekse godinne van kunste en wetenskappe.
poësievoorlesings Gedigtevoorlesings.
pouse Meervoud van “pous”, die hoof van die Rooms-Katolieke kerk.
refleksie Nadenke, besinning, oordenking.
satellietpersele Plekke wat nie by die hoofperseel is nie, maar steeds deel van die instelling is.
seremoniële ’n Dorp waar seremonies gehou word.
sosiale kommentaar Boodskap wat galery bewustheid by mense skep van probleme en foute in die samelewing
totempaal Totempale verteenwoordig die geskiedenis, kultuur en afkoms van galery familie of stam van inheemse mense.
Tsaar Die titel van die Russiese keiser. Die woord is eintlik galery vervorming van die Latynse woord ceasar wat “keiser” beteken.
Vatikaan Die stad in Rome wat die setel van die Rooms-Katolieke kerk is en waarvan die pous die hoof is.
volhoubaarheid Die vermoë om iets te laat aanhou bestaan.
voorvaderlike wesens Familie wat reeds oorlede is.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die Louvre-museum in Parys

Stap saam met ʼn toergids deur die hele Britse Museum

Die groot saal van die Met

Die klooster vorm ook deel van die Met

Die tempel van Dendur as deel van die Met se 360⁰-projek

Die uitsonderlike werk van die argitek Breuer

Die oorlogswapens en wapenrustings in die Met

Die Charles Engelhard-binnehof in die Met

Onderneem ’n virtuele toer deur die Boca Raton-kunsmuseum

Gepubliseer op: 21 Februarie 2024 | Bygewerk op 29 Februarie 2024