Vinnige feite

  • Ongeveer 90% van die mense was feodale werkers.
  • Feodale werkers het hard gewerk en jonk gesterf. Die meeste het nie eens 30 jaar oud geword nie.
  • Die konings het geglo dat God aan hulle die reg gegee het om te regeer. Dit is “goddelike reg” genoem.
  • Die landheer het absolute mag oor sy grondgebied gehad, insluitend wat daarop mag gebeur, wat ’n misdaad is en hoe die oortreder vir dié misdaad gestraf sou word. 7
Grafika: AON

Die regering van ’n land se belangrikste werk is om na die burgers in die land om te sien. Dit beteken die mense moet kan werk en geld verdien, en die mense moet veilig gehou word terwyl hulle hul werk doen.

As jy ons artikels oor demokrasie, sosialisme en kommunisme lees, sal jy agterkom dat dit in al die artikels gaan oor die verhouding tussen die burgers van ’n moderne staat en die regering wat oor daardie burgers regeer. In al hierdie verhoudings sien die regering na die burgers van die land om, die regering doen dit net op verskillende maniere.

Die manier waarop regerings deesdae hierdie werk doen, is baie anders as wat dit in die verlede gewerk het. In die Middeleeue het die state wat ons vandag ken en die regerings wat oor die state regeer, nog nie bestaan nie. Die stelsel waarmee die samelewing in daardie stadium bestuur is, was feodalisme. 1 Breedweg gedefinieer, het die hele samelewing berus op grondbesitters wat grond uitgeleen het aan mense wat nie grond besit het nie, in ruil vir hul diens of arbeid. 2

Probleme met die term “feodalisme”

Voor ons hierdie tema bespreek, moet ons daarop wys dat nie alle geskiedskrywers die term dieselfde aanwend nie.

Hoewel jy die term “feodalisme” en “feodale samelewing” algemeen in geskiedenisboeke sal aantref, is daar nie eenstemmigheid oor presies wat daardie terme beteken nie. Die terme word gebruik om na die Middeleeuse samelewing in Europa te verwys, maar ook na sommige samelewings in ander dele van die wêreld wat min of meer dieselfde struktuur gehad het, veral in die Zhou-tydperk van China (1046-256 v.C.) en Edo-tydperk van Japan (1603-1868). 3

Die probleem is dat die mense wat in die Middeleeue self of in enige van die ander samelewings geleef het, nie hierdie term geken of gebruik het nie. Selfs al sou ’n mens vandag die term definieer, het feodalisme nie in alle lande dieselfde gewerk nie. As jy dus ook in ander bronne lees oor feodalisme of die feodale stelsel, sal jy moontlik ’n ander soort definisie of toepassing aantref. 3

Vir die doel van hierdie artikel, verwys ons hoofsaaklik na die Middeleeuse Europese stelsel wat min of meer van die 10de tot die 13de eeu gegeld het.

Etimologie

Die etimologie van die woord “feodalisme” gee al vir ons ’n aanduiding van waaroor dit handel. Die woord is afgelei van die Middeleeuse Latynse “feudalis”, wat kom van “feudum” wat beteken “leengrond wat gegee word om as ’n voordeel te hou”. Die grondbesitter het dus sy grond aan iemand anders geleen en daardeur die voordeel verkry van daardie persoon se lojaliteit en ondersteuning. 4

Ontstaan van feodalisme

Feodalisme het ontstaan nadat die Romeinse Ryk tot ’n val gekom het en daar nie meer ’n sterk, sentrale regering was wat die volke in Europa kon beheer nie. ’n Klomp klein Germaanse koninkryke het in die plek daarvan ontstaan, en die konings van hierdie state het voortdurend met mekaar geveg. Karel die Grote (in Frans: Charlemagne), koning van die Franke, het probeer om ’n Christelike ryk te bou wat soos die Romeinse Ryk sou werk. Hy is in 800 as keiser gekroon en het vir ’n rukkie orde in Europa gebring. Maar toe hy in 814 oorlede is, was daar geen sterk heerser om sy plek in te neem nie. 5

Karel die Grote het probeer om ‘n Christelike ryk te bou wat soos die Romeinse Ryk sou werk.

Die paaie en brûe wat die Romeine gebou het, het verval. Geld het amper verdwyn, wat dit vir konings onmoontlik gemaak het om hul amptenare en soldate te betaal. Boonop moes die koninkryke invalle en strooptogte van die Vikings uit die noorde en Moslems uit die suide teenstaan. Die inwoners van Europa was uitgelewer aan indringers en plunderende bendes. Omdat daar nie ’n sterk sentrale regering was nie, moes almal vir hul eie veiligheid sorg. Dit was net natuurlik dat hulle sou begin saamstaan en vestings sou bou waarin hulle sou kon gaan skuil as die invallers op hulle sou toesak. Dit was die begin van die feodale stelsel. 1

Die beginsels van feodalisme

Feodalisme soos wat dit in Europa bestaan het, behels ’n stel wederkerige wetlike en militêre verpligtinge onder die adellikes. Die stelsel het om drie sleutelbegrippe gedraai: landhere, vasalle en leengoed. Die landheer was meestal ’n edelman wat grond gehad het wat hy in ’n oorlog gewen of by die koning gekry het. ’n Vasal het by die landheer die reg gekry om die grond te gebruik. Leengoed, of net ’n leen (in Engels: fief), was die grond. 2

In ruil vir die gebruik van die leen en beskerming deur die landheer, sou die vasal ’n soort diens aan die landheer lewer. Die diens kon baie vorme aanneem, en dit is gewoonlik tussen die landheer en vasal bepaal. Die verpligtinge en ooreenstemmende regte tussen landheer en vasal aangaande die leen het die basis van die feodale verhouding gevorm. 2

Die hiërargie in die feodale stelsel

Die koning

Bo aan die feodale stelsel was die koning. Hy het die land wat hy regeer het, bestuur en beheer. In groot koninkryke het die koning op adelstand en ridders staatgemaak om sy onderdane te help bestuur. 6

Die adel

Die koning het sy koninkryk verdeel onder die adel, wat die rykste en magtigste families in die ryk was. Elke adellike het ’n bepaalde deel van die koninkryk bedryf, toesig daaroor gehou en dit regeer.

In ruil vir hul mag het die adel hul lojaliteit aan die koning beloof. Deel van daardie lojaliteit was dat die adellike ’n leër (weermag) byeen moes kry as hul koning dit sou vra. Gedurende die Middeleeue was daar nie een groot leër nie, leërs het aan adellikes behoort en gewone mans het gaan veg as die plaaslike landheer hulle beveel het om te gaan veg. 6

Ridders en vasalle

Die adel se grond is opgedeel in kleiner dele wat deur ridders of vasalle bestuur is. Albei hierdie groepe het militêre steun gegee in ruil vir grond in die plaaslike landgoed. Ridders het ’n hoër status gehad en het dikwels deel geword van die adellike se huishouding, terwyl vasalle slegs die land bewerk het. Albei hierdie groepe was vrye persone. 6

Die feodale werkers

Die feodale werkers (in Engels: serfs) was die mense met die minste gesag in die feodale stelsel. Hulle het die land bewerk en daardeur gewoonlik net genoeg kos geproduseer om vir hul gesinne te sorg. Die ridders en vasalle het beheer gehad oor die feodale werkers wat die land bewerk het. Die feodale werkers was nie vry nie, maar hulle het nie, soos slawe, aan ’n ander persoon behoort nie. Die feodale werkers het aan die grond behoort waarop hulle gebore is, en kon nie van die grond af beweeg om op ’n ander plek te gaan werk nie. As een landheer ’n ander landheer se grond sou oorneem, sou die feodale werkers aan die tweede landheer diens lewer. 1

 

Feodale stelsels in Europa

Baie samelewings in die Middeleeue het hierdie feodale stelsel gevolg: Frankryk, Italië, Duitsland, Portugal en Engeland. Van al hierdie state was Engeland die een wat die stelsel die beste ontwikkel het. 2

Elkeen van hierdie gebiede het feodalisme egter op unieke maniere ontwikkel, daarom is dit nie eintlik moontlik om dit as ’n eenvormige stelsel te beskryf nie. Karl Marx het wel feodalisme beskryf as ’n prekapitalistiese samelewing, wat gekenmerk is deur die feit dat ’n heersersklas (die aristokrasie) hul mag kry uit hul beheer van bewerkbare grond, en waar hierdie beheer lei tot die uitbuiting van die feodale werkers wat die grond bewerk en in werklikheid die heersersklas se slawe word. 2

Karl Marx het feodalisme as ’n prekapitalistiese samelewing beskryf.

Die einde van feodalisme

Feodalisme het nie oornag tot ’n val gekom nie, maar omstandighede in Europa het mettertyd verander en verbeter.

Hoewel die Middeleeue ’n tydperk van groot intellektuele en sosiale donkerte was, het daar uiteindelik vooruitgang gekom in die handel en nywerheid, en geld het in omloop geraak. Namate dorpe ryker en belangriker geword het, het die feodale stelsel vir die dorpenaars ondraaglik geword. Daar het ’n middelklas van vakmanne en sakemanne ontstaan, en die nuwe middelklas, sowel as die kerk, wou wet en orde hê sodat hulle hul werk in vrede kon doen. Hulle wou nie meer aan die landhere belasting betaal nie, hulle wou die koning direk ondersteun en aan hom belasting betaal. Groter inkomste het die koning in staat gestel om ’n nasionale leër op die been te bring en self wet en orde te handhaaf. 1

Die Honderdjarige Oorlog (1337-1453) het ook militêre veranderinge gebring wat sulke klein, plaaslike leërs onnodig gemaak het. Gepantserde ridders wat te perd aan veldslae deelgeneem het, is vervang met voetsoldate wat met spiese en langboë toegerus was. Toe buskruit algemeen in gebruik geraak het, het dit moontlik geword om die groot klipkastele en vestings te verower. Militêre beskerming aan die plaaslike bevolking, wat die hoeksteen van die feodale stelsel was, het verander en vernuwe. 1

Teen die 14de eeu het nasionale state gevorm en die nasionale regerings het die plek van feodale regerings ingeneem.

Woordbank

adelstand Lede van die aristokrasie
aristokrasie Mense uit die adelstand, met titels, geld en grond.
buskruit ’n Soort plofstof.
eenstemmigheid Wat bereik word as almal saamstem.
eenvormige Wat alles dieselfde is.
etimologie Die geskiedenis van ’n woord of uitdrukking.
feodale werkers Persone wat op ’n lae vlak in diens is, sosiaal net een tree bo die status van slaaf.
gepantserde Wat ’n pantser dra
hoeksteen Letterlik: Die eerste klip wat vir ’n groot gebou gelê word. Figuurlik: Die beginsel waarop iets berus.
invalle Binnekoms deur die vyand.
keiser Hoof van ’n ryk.
lojaliteit Getrouheid; standvastige ondersteuning.
middelklas ’n Klas mense in die samelewing wat nie soveel status het as adellikes of rykes nie, maar wat genoeg geld het om gemaklik te leef.
middelklas Gewone mense met gemiddelde inkomstes en lewenstyle.
plunderende Stelende.
prekapitalistiese Voordat kapitalisme ontstaan het.
prekapitalistiese Wat kapitalisme voorafgaan
ridders Soldaat in die feodale tyd.
sakemanne Mense wat besighede besit.
status Aansien.
strooptogte Invalle met die doel om te steel.
tot ’n val gekom Tot ’n einde gekom; ophou bestaan.
uitbuiting Misbruik.
vakmanne Mense wat met ’n ambag ’n bestaan kan maak.
vakmanne Werkers met ’n vaardigheid om vakwerk te doen.
vasalle Dienaars, knegte.
veldslae Gevegte.
verval Verweer; tot niet gaan.
vestings Geboue of strukture waar mense en hulle besittings veilig was en tydens ’n aanval kon gaan wegkruip.
wederkerige Wat na beide kante toe so werk.
wederkerige Wat na weerskante toe werk.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wat is feodalisme?

Die feodale stelsel

Foto: iStockGrafika: AON
Gepubliseer op: 9 Februarie 2024 | Bygewerk op 16 April 2024