Vinnige feite

  • Tussen 1613 en 1917 was daar 18 Romanofs op die Russiese troon. 6
  • Ná die Groot Noordelike Oorlog het Pieter ’n nuwe stad, Sint Petersburg, aan die Baltiese See gestig, wat hy na homself vernoem het. 3
  • Katharina die Grote was Rusland se langs regerende vroulike leier. 8
  • Beide Nikolaas II en sy vrou, Aleksandra, was kleinkinders van die Britse koningin Victoria. 6
  • Ná die teregstelling van die laaste Romanofs is daar aanvanklik net drie van die lyke gevind. Dit het ’n mite laat ontstaan dat een van die dogters, Anastasia, oorleef het. In 2007 is daar egter definitiewe bewyse gevind dat sy wel gesterf het. 6
Foto: iStock

Die Romanof-dinastie van Rusland is vandag bekend vir die opspraakwekkende manier hoe dit tot ’n einde gekom het. Op 16 Junie 1918 het die kommuniste die laaste Russiese keiser, of die tsaar, sy vrou en hul vyf kinders op ʼn koelbloedige wyse vermoor.

Maar hulle is vir veel meer as dit bekend. Die Romanof-familie het Rusland vanaf 1613 tot 1917, dus vir meer as 300 jaar, regeer! Sommige van die bekendste leiers in die wêreld se geskiedenis, soos Pieter die Grote en Katharina die Grote, het uit daardie dinastie gekom.

Die opkoms van die dinastie

Die familie se van “Romanof” is deur Roman Joerjewitsj Zacharin geïnspireer. Sy dogter, Anastasia, was die eerste vrou van Iwan die Verskriklike (in Engels: Ivan the Terrible), die tsaar tussen 1547 en 1584. Anastasia se broer, Nikita, het sy eie van na Romanof verander om sy oupa, die vader van ’n tsarina, te eer. 1

Iwan die Verskriklike wys sy skatte aan die ambassadeur van koningin Elizabeth I

Tussen 1598 en 1613 het Rusland ’n ellendige tydperk, in Engels soms die Time of Troubles genoem, beleef. Die mense het gely weens hongersnood, siekte, oorloë en opstande. 2 Die Russiese leiers was só magteloos dat die Russiese nasionale raad – genoem die Zemski Sobor, wat bestaan het uit verteenwoordigers van al die sosiale stande in Rusland – bymekaargekom het om ’n oplossing te soek. 3 Hulle het vir Nikita Romanof se kleinseun, Michail Romanof, of Michail I, tot nuwe tsaar verkies. 1

Zemski Sobor

Michail I (1613-1645)

Michail was slegs 16 jaar oud toe hy as tsaar gekroon is, maar hy was ’n goeie, bestendige regeerder. Hy het orde geskep deur die regering op te knap. 4 Rusland se administrasie is verbeter deur onder meer ’n sensus te laat doen om inligting oor die mense in sy ryk te verkry. 3

Wat ook belangrik was, was dat hy lank – meer as 32 jaar – regeer het. Die oordrag van mag aan sy seun, Aleksis I, het ook vlot verloop. 2

Michail Romanof

Aleksis I (1645-1676)

Aleksis I, Michail I se seun, was ook 16 toe hy die troon bestyg het en hy het vir dertig jaar lank regeer. Soos sy pa was hy meestal ’n doeltreffende heerser: vreedsaam, veral aan die einde van sy bewind, verstandig en oop vir nuwe idees. Daar was wél gedurende sy bewind opstande teen die regering, én oorlog teen Swede en Pole, maar hy het beide situasies suksesvol hanteer. 4

Aleksis I het die regering verbeter deur die regstelsel op te knap en nuwe sosiale stande te skep. Van sy hervormings is nog tot in die 19de eeu gebruik. Die tradisies en gebruike van die Ortodokse Kerk, die amptelike kerk van Rusland, is ook hersien en verbeter. 4

Aleksis I

Pieter (Pjotr) die Grote (1696-1725)

Ná Aleksis I se dood was daar ’n dispuut oor wie hom sou opvolg, en daarom is die troon vir ’n tyd lank gedeel deur sy broer, Iwan V, en half-broer, Pieter I. 1

Ná Iwan se dood in 1696 het Pieter die alleenheerser geword. 4 Hy het homself in 1721 as keiser gekroon en sy amptelike titel was die Keiser van die Hele Rusland, die Grootvader van die Vaderland en “Die Grote”. 5

Die kroning van Ivan en Pieter

Voor Pieter se bewind was Rusland ’n onderontwikkelde staat wat deur ander lande ingesluit was (in Engels: landlocked). In die res van Europa het die idees van die Renaissance en Kerkhervorming tot vooruitgang gelei, maar die Russe het hierdie idees verwerp. [Lees hier van die Renaissance en Kerkhervorming.]

Pieter wou graag Rusland in een van die magtige state verander, maar daarvoor was groot hervormings nodig. 5

Ivan V

Een van Rusland se grootste tekortkominge was dat dit net een hawe gehad het, wat in die winter vasgevries het. Pieter wou daarom vir Rusland toegang tot die Baltiese See in die noorde en die Swart See in die suide verseker, waar hulle hawens kon beheer wat nie sou vasvries nie.

Hy het Rusland se weermag hervorm deur ’n sterk staande militêre mag en vloot op te bou. 5

Pieter I

’n Oorwinning in die Groot Noordelike Oorlog teen die Sweedse Ryk het Rusland se grondgebied rondom die Baltiese See uitgebrei. In die suide het hy suksesvol teen beide Persië (vandag se Iran) en die Ottomaanse Ryk oorlog gemaak, en sodoende Russiese grondgebied uitgebrei na die Swart See. 5

Hierna was Rusland nie meer deur ander lande ingesluit nie én was die magtigste staat rondom die Baltiese- en die Swart See-gebiede. 6

Pieter het Rusland op geestelike vlak hervorm deur Westerse (Wes-Europese) kultuur na Rusland te bring. 4

Op industriële vlak is myne en fabrieke gebou en wetenskaplike ontwikkeling is aangemoedig. Skole is gebou vir vakke soos skeepvaart, tegnologie, en wetenskap, 5 en kundiges is van Europa af ingevoer om die Russe te kom oplei. Die eerste Russiese koerant is gepubliseer, en handel is uitgebrei. 5

Op administratiewe vlak het hy die ryk in provinsies verdeel om Rusland se massiewe grondgebied meer effektief te bestuur. Die invordering van belasting is verbeter. Hy het ook groter regeringsbeheer oor die Ortodokse Kerk ingestel. 3

Daar was natuurlik teenstand teen sy hervormings. Pieter se reaksie was brutaal en despoties. Hoë belastings is gehef om vir sy hervormings te betaal, en enige opstande is onmiddelik en genadeloos onderdruk. 5

Sy hervormings het uiteindelik Rusland opgehef van ’n relatiewe agterlike staat na ’n magtige, moderne Europese ryk. 5

Pieter I se begrafnis

Tydperk van konflik (1741-1762)

Pieter het in 1725 gesterf sonder om ’n opvolger aan te wys en ná sy dood was daar ’n reeks swak regerings. 1 In 1741 het Elizabeth I, een van sy dogters, met die hulp van die weermag die troon in ’n staatsgreep oorgeneem. Sy was ’n effektiewe heerser en haar bewind het stabiliteit en groei herstel. 3

Elizabeth I

Die manlike lyn van die Romanof-familie het in 1762 tot ʼn einde gekom omdat daar nie nog seuns was nie. Elizabeth I is daarom deur haar suster se seun, Pieter III opgevolg.  Hy het egter die Romanof-familienaam behou. 7

Pieter III

Die Russe het hom egter moeilik aanvaar – hy was só ongewild dat faksies in die regering sy vrou, Katharina, genader het om eerder die keiserskap op te neem. Sy het dus die mag oorgeneem in ’n vreedsame staatsgreep. 8

Katharina die Grote (1762-1796)

Katharina II, of Katharina die Grote, (in Engels: Catherine the Great) het vir 34 jaar regeer en word gewoonlik saam met Pieter die Grote as die vernaamste van die Romanof-keisers beskou. Haar bewind word soms die Goue Era van die Russiese Ryk genoem, omdat Rusland se grondgebied en invloed soveel uitgebrei het. 6

Katharina die Grote

Onder Katharina se invloed het Rusland Westerse idees aangeneem, soos dié van die Verligting, asook Westerse modes en kultuur. 6 Sy het die kunste bevorder, onder meer deur ’n groot kunsversameling te bekom en dit by die Sint Petersburg-winterpaleis uit te stal. Opvoeding is ook verbeter. 8

Op staatkundige gebied het Katharina Rusland se grondgebied laat uitbrei. Rusland het land van die Ottomaanse Ryk ingepalm wat hulle meer invloed rondom die Swart See gegee het, asook die reg om deur die seestrate in die Ottomaanse Ryk (tans Turkye) die Middellandse See te bereik. Rusland het ook Poolse grondgebied ingeneem. 3

Aan die ander kant het Katharina nie veel gedoen om gewone mense in Rusland se lewe te verbeter nie. Wanneer mense in opstand gekom het, soos die kleinboere in 1774, het sy dit beslissend onderdruk. 3

Monument van Katharina die Grote

Katharina se bewind het Rusland se posisie as een van Europa se magtigste state, én dié van die Romanofs as een van die belangrikste dinastieë in Europa, verseker. 3

Paul I (1796-1801) en Aleksander I (1801-1825)

Ná Katharina se dood het haar en Pieter III se seun, Paul I, die troon bestyg. Hy het onder meer besluit om ’n alliansie met Napoleon Bonaparte van Frankryk te vorm. Dit was só ’n ongewilde besluit dat die weermag ’n komplot teen hom gesmee het. Hy is in ’n sluipmoordaanval dood en sy seun, Aleksander I (in Engels: Alexander) het hom opgevolg. 3

Paul I

Aleksander was 23 jaar oud toe hy die troon bestyg het. 8 Sy grootste oomblik het gekom toe Napoleon Rusland in 1812 ingeval het. Aleksander se troepe het die Franse oorwin. Dit was ’n massiewe oorwinning wat die begin van die einde van Napoleon se planne in Europa beteken het. 6

Aleksander I

Die dinastie-krisis en Aleksander II (1855-1881)

In die negentiende eeu het die res van Europa vinnig vooruitgang gemaak. Rusland het agtergebly, veral omdat die Romanofs, soos tsaar Nikolaas I (1825-1855), 1 konserwatief was. Slawerny het voortgeduur en die land kon nie groei nie. Rusland het die Krimoorlog (1853-1856) verloor en saam met voedseltekorte het dit tot baie ongelukkigheid onder werkers en kleinboere gelei. Opstande was wydverspreid. 3

Nikolaas I

Nikolaas I se seun, Aleksander II, wou hervormings aanbring om die land te versterk. Die slawe is in 1861 vrygestel, maar dit het nie juis hul lot verbeter nie. Die regstelsel is gemoderniseer en onafhanklik van die regering gemaak. Verder het hy onderwys probeer opknap deur honderde skole te stig. 3

Aleksander II

Sy hervormings het wel tot vooruitgang gelei, maar dit was nie genoeg nie en daar was steeds wydverspreide ongelukkigheid. Pogings om hom te vermoor het hom boonop al hoe meer outokraties gemaak. Aleksander II is uiteindelik in 1881 in ’n sluipmoordaanslag dood, 3 en is deur sy seun, Aleksander III (1881-1894), opgevolg. 1

Aleksander III

Tsaar Nikolaas II (1894-1917) en die einde van die Romanofs

Nikolaas II (in Engels: Nicholas) het die bewind oorgeneem ná sy pa, Aleksander III (1881-1894) se dood in 1894. 9

Hy wou nie regtig die keiser wees nie en was ook nie ’n baie goeie regeerder nie. 10 Daar was landwye politieke onrus en sy reaksie daarop het hom laat lyk soos ’n onseker swakkeling. 6

Nikolaas II

Rusland het die Russies-Japannese Oorlog (1904-1905) verloor en tesame met weerstand teen sy bewind het die Revolusie van 1905 uitgebreek. Dit was ’n kritieke oomblik in Nikolaas se bewind. Duisende mense het na sy paleis gestap om ’n petisie aan hom te oorhandig wat veranderings voorgestel het. In plaas daarvan om dit te ontvang, het die polisie op hulle losgebrand. Honderde mense is gedood in wat as Bloedige Sondag bekendstaan (in Engels: Bloody Sunday). 3

Bloedige Sondag

Die bloedbad het tot nog stakings, opstande en botsings met die polisie gelei. Duisende mense is dood. Nikolaas is gedwing om vir Rusland ’n parlement (in Russies: Duma) te skep, maar het toe geweier om enige mag aan die parlement af te staan. 3

Nikolaas en sy vrou

Nikolaas se vrou, Aleksandra, was ’n Duitse prinses, en uiters ongewild. Die Russe het boonop geglo sy het ’n verhouding met Grigori Raspoetin, ’n mistikus, gehad. Aleksandra en Nikolaas het geglo Raspoetin kon haar seun, Aleksei, wat aan hemofilie gelei het, se siekte genees. Haar verhouding met Raspoetin het haar nóg meer ongewild gemaak en omdat Nikolaas dit toegelaat het, vir hom ook. 6

Grigori Raspoetin

Die Russe was dus reeds besig om geloof in die koningspaar te verloor, toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het. Rusland se oorlogspoging was ’n ramp en hul ekonomie het ineengestort. 6

Mense het weer die strate ingevaar om teen die regering te staak. Daar was uiteindelik soveel teenstand teen Nikolaas, dat hy in Maart 1917 die troon geabdikeer het. 6 Die troon is vir sy broer, Michail, aangebied, wat dit geweier het. 1

Die teregstelling van die laaste Romanofs

In Oktober 1917 het die Bolsjewieks, ’n kommunistiese groep, die Russiese regering oorgeneem. 6

Nikolaas, sy vrou en hul vyf kinders, Olga, Tatiana, Maria, Anastasia en Alexei, is in Jekaterinburg in huisarres geplaas. In Junie 1918 het ’n burgeroorlog uitgebreek tussen die Rooies (die Bolsjewiste se magte) en die Wittes (die anti-Bolsjewistiese groepe). Teen Julie het die Wittes Jekaterinburg genader. Die Bolsjewiste het toe besluit om die familie uit te wis, voor die Wittes hulle op die troon kon herstel. 6

Nikolaas en sy kinders

Op 16 Junie 1918 is die familie opdrag gegee om hul beste klere aan te trek en na die kelder van die huis te gaan. Daar het hulle gestaan asof hulle vir ’n familiefoto aangetree het. 6

Die volgende oomblik het die Bolsjewistiese wagte op hulle losgebrand. Dit was verskriklik. Binne-in hul klere was juwele, spesifiek diamante, stilletjies vasgewerk, sodat hulle kon geld hê indien hulle moes ontsnap. Dit het van hul klere koeëlvaste drag gemaak en baie van die koeëls het net van die klere af gespring. Die moordenaars moes hulle dus met bajonette doodsteek. Dit het 20 minute gevat voor almal dood was. 11

Hierdie gruweldaad het die Romanof-dinastie, wat Rusland vir 304 jaar regeer het, tot ’n einde gebring.

Woordbank

geabdikeer

Wanneer ’n koning of koningin afstand doen van sy/haar troon.
administrasie Die bestuur van openbare sake.
agterlike Om agter te wees op ontwikkelingsvlak.
amptelike In hierdie geval die kerk wat deur die regering aanvaar word.
bestendige Iemand wat standvastig is en nie te veel verander nie.
bewind Regering.
bloedbad Groot menseslagting.
brutaal Onbeskof, onbeskaamd.
despoties Oorheersend, baasspelerig.
dinastie Koninklike familie.
dispuut Twis of geskil.
doeltreffende Wanneer die doel bereik word.
faksies ’n Afdeling van ’n groter groep wat hul eie belange wil bevorder.
geestelike Daardie dinge wat nie met aardse, stoflike goed te make het nie.
gesmee Uitgedink en beplan.
hemofilie ’n Siekte waar die bloed stadig stol en mense dus baie bloed verloor uit ’n wond.
hervormings Om dinge te verander, meestal op ’n goeie manier.
industriële Die rigting wat te doen het met die bewerking van grondstowwe, soos nywerhede en fabrieke.
ingesluit Land wat deur ander lande omring word en dus nie toegang tot die see het nie.
keiser Die hoof van ’n ryk en die hoogste koninklike titel wat mens kan beklee.
Kerkhervorming Beweging in die Christelike kerk, gelei deur Martin Luther, wat die kerk in twee laat skeur het tussen Protestante en Katolieke.
koelbloedige Sonder enige gevoel.
kommunistiese ’n Politieke groep wat in 1917 mag in Rusland oorgeneem het en ’n regeringstelsel geskep het waar die regering alles in die land besit en beheer.
komplot Geheime plan met ‘n slegte doel.
konserwatief Om nie te hou van verandering nie.
Krimoorlog Oorlog tussen Rusland aan die een kant en Brittanje, Frankryk en die Ottomaanse Ryk aan die ander kant.
kultuur Die produkte en gebruike wat mense van ’n groep skep en dan oordra van geslag na geslag.
kundiges Iemand wat baie kennis en vaardigheid het.
mistikus Iemand wat strewe na vereniging met ’n god.
mite ʼn Storie wat nie waar is nie, maar steeds oorvertel word.
modes Die idees wat op die voorpunt is en wat meeste mense navolg.
moderne Eietyds of soos wat dinge in die teenwoordige tyd is.
onafhanklik Vry en nie onder regeringsbeheer nie.
onderontwikkelde Land wat ekonomies agterlik is.
ontwikkeling Groei.
op te knap Om te verbeter.
Ortodokse Kerk ’n Christelike kerk wat die amptelike kerk van Rusland is.
outokraties Iemand wat alleen regeer en nie mag deel nie.
parlement Die liggaam in die land wat moet wette maak.
petisie ’n Dokument wat klomp mense teken om te vra om iets.
regstelsel Die wette en howe van ’n land.
Renaissance Tydperk tussen die 1300s en die 1600s, toe kunste en wetenskap ’n oplewing getoon het.
ryk ’n Gebied onder die gesag van ’n keiser.
seestrate ’n Nou gang waar die see deur twee landmassas vloei.
sensus Volkstelling.
sluipmoordaanval Moord op ’n belangrike persoon wat in die geheim beplan word.
staande Soldate wat enige tyd gereed is om oorlog te maak.
staatkundig Dit wat verband hou met die grense en organisasie van ’n land.
staatsgreep Om die regering met geweld oor te neem.
stande Sosiale klasse.
tradisies Gebruike wat van geslag tot geslag oorgedra word.
tsaar Russiese keiser.
Verligting Tydperk in die agtiende en negentiende eeu waar nuwe idees oor regering en samelewing te voorskyn gekom het.
vernaamste Belangrikste.
verstandig Om oor dinge na te dink en dan met wysheid op te tree.
vloot Die seemag van ’n land.
vlot verloop Sonder probleme.
vooruitgang Tyd van groei en verbetering.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Romanof-familie

Kyk hierdie video’s oor die Romanof-familie

Interessante feite oor Rusland
Die ware verhaal van Anastasia

Luister na die storie van Katharina die Grote

Die einde van die Romanof-dinastie

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Desember 2023 | Bygewerk op 22 Februarie 2024