Vinnige feite

  • Tsjaikofski het sy eerste musiek gekomponeer toe hy vier jaar oud was.
  • Sy eerste musiekonderwyser in Sint Petersburg, Rudolph Kündinger, het nie gedink hy het veel talent nie.
  • Hy was die dirigent by die Carnegie Hall in New York se openingskonsert.
  • Hy het aan erge verhoogvrees gely.
  • Tsaar Aleksander III was een van sy grootste bewonderaars.
  • Hy kon, afgesien van Russies, ook Frans en Duits vlot praat, en hy kon Engels en Italiaans goed genoeg verstaan om dit te lees. 7
Foto: iStock

Pjotr Iljitsj Tsjaikofski (uitgespreek tsjai-KOF-skie) was ’n Russiese komponis wat van die wêreld se bekendste balletmusiek geskryf het. 1 Die eerste paar note van sy eerste klavierkonsert is amper net so bekend soos die eerste paar note van Beethoven se vyfde simfonie, en sy musiek is al gebruik in rolprente soos Billy Elliot en The Black Swan.

Die ballet waarvoor hy die heel bekendste was, Swanemeer, is op The Muppet Show gebruik toe Miss Piggy saam met een van die wêreld se heel beste balletdansers, Roedolf Noerejef, gedans het. 2

Vroeë lewe

Tsjaikofski is op 7 Mei 1840 in Wotkinsk, ’n dorp in die Oeralgebergte, gebore. Sy pa was ’n metallurgiese ingenieur en het as ’n bestuurder by ’n metaalaanleg gewerk. Sy ma se voorouers was Frans. 1

Toe hy 7 jaar oud was, het hy reeds klavierlesse begin neem – dis hoe oud jy in graad 1 was! Tien jaar later, in 1850, het die gesin na Sint Petersburg verhuis. Op 14 jaar het hy as komponis begin uitblink. 3

Ten spyte van sy duidelike musiektalent, wou sy ouers hê hy moet ’n loopbaan in die staatsdiens volg, en daarom het hy regte gaan studeer. Hy het sy graad in 1859 gekry toe hy net 19 jaar oud was. Daarna het hy vir die Russiese Ministerie van Justisie gaan werk. 4

Musiek sy eerste liefde

Tsjaikofski se ma is in 1854 oorlede, en hy het dikwels sy verdriet oor haar dood in sy musiek uitgestort. 5 Sy pa het teen die einde van sy skoolloopbaan besef dat sy seun ’n baie spesiale gawe ontvang het. Hy het vir hom musieklesse by goeie leermeesters gereël, en die jong Tsjaikofski kon ná vier jaar in die staatsdiens uit sy pos as klerk bedank. Toe daar in 1862 ’n musiekkonservatorium in Sint Petersburg gestig is, was Tsjaikofski een van die eerste studente wat daar ingeskryf het. 1

By die konservatorium het hy klavier, fluit en orrel leer speel, maar hy het eintlik sy aandag aan komposisie gewy.

In 1866 het hy ’n professor by die konservatorium in Moskou geword, waar die bekende musikus Nikolai Roebinsjtein, die broer van die pianis Anton Roebinsjtein, hom aangemoedig het om musiek met ’n Russiese karakter te skryf. 5

Teen die einde van 1875 het hy Rusland verlaat en na Europa te verhuis. ’n Uitvoering van Georges Bizet se opera Carmen deur Parys se Opéra-Comique het hom diep beïndruk. Daarteenoor het hy niks van Wagner se Duitse operas gehou nie. 6

In die jaar nadat hy hom in Europa gevestig het, het hy een van sy bekendste komposisies, Swanemeer, geskryf. Die eerste uitvoering van die ballet was nie ’n sukses nie, want die dansers en die dekor was nie goed nie, maar dit het later, saam met sy ander twee ballette, Die Slapende Skoonheid en Die Neutkraker van sy gewildste musiek geword. 6

Middagete saam met vriende. Tsjaikofski is heel links.

Die jaar 1876 was ook ’n belangrike jaar vir Tsjaikofski se musikale loopbaan, want dit is die jaar waarin hy met Nadjezjda fon Mekk kennis gemaak het. Sy was die weduwee van ’n baie ryk spoorwegmagnaat, en sy het sy patrones geword. Dit is iemand wat geld gee sodat ’n kunstenaar nie hoef te werk nie en net aan sy of haar kuns kan aandag gee. Dit was ’n eienaardige ooreenkoms, want haar voorwaarde was dat sy hom nie wil ontmoet nie. Dit het hom egter in staat gestel om al sy tyd aan sy loopbaan te wy en hy het in hierdie tyd van die wêreld se heel mooiste musiek gekomponeer. 1

Tsjaikofski het in 1877 met een van sy studente getrou nadat sy haar liefde aan hom verklaar het. Dit was nie ’n gelukkige huwelik nie, en binne weke ná sy troue is hy Europa toe. Hulle is nooit geskei nie, maar hulle het mekaar ook nie weer gesien nie. 1

Saam met sy vrou, Antonina Miliukova.

Bekendste komposisies

Dit is moeilik om die “beste” te kies uit al die wonderlike musiek wat Tsjaikofski geskryf het, maar hier is ’n lysie van sy bekendste werke. By elkeen is daar ’n skakel na ’n uittreksel waarna jy op YouTube kan gaan kyk:

1812-overture

Hierdie stuk vertel die storie van Rusland se oorwinning oor Napoleon. As jy mooi luister, hoor jy die Franse volkslied, La Marseillaise, wat deur die Russiese volkslied en die geluid van kanonne uitgedoof word.

Die Neutkraker

Hier kan jy kyk na die Blommewals waarin die Suikerfee dans.

Swanemeer

Hier dans die klein swaantjies.

En hier kan jy kyk na die bekende solo “Die sterwende swaan”.

Die slapende skoonheid

Jy sal dalk hierdie musiek herken, want dit is ook in die Disney-rolprent met dieselfde naam gebruik.

Klavierkonsert no 1

Luister hier na die paar openingsakkoorde van hierdie manjifieke stuk musiek. Dit word gespeel deur een van die wêreld se beste pianiste, Jewgeni Kisin, ook ’n Rus.

Vioolkonsert in D-majeur

Hier is ’n uittreksel uit Joshua Bell se uitvoering van die konsert.

Simfonie no 6, “Pathetique”

Die bekendste van sy simfonieë. Luister hier na ’n uittreksel.

Romeo en Juliet-overture

Die eerste stuk musiek waarmee Tsjaikofski bekendheid verwerf het, was hierdie een. Luister hier na ’n uittreksel.

Jewgeni Onegin

Tsjaikofski se bekendste opera. Hierdie aria is vir ’n tenoor geskryf, en in die uittreksel verskyn die vertaling vir die lirieke op die skerm.

Latere lewe

Tsjaikofski is in 1883 terug Rusland toe, en hy het net buite Moskou gaan woon. Hier het hy musiek gekomponeer, saam met sy vriende musiek gemaak, en uiteindelik sy vrees om voor ’n gehoor op te tree, oorwin.

In 1887 het hy as dirigent deur Europa gereis. In 1891 het hy ’n konsertreis deur die Verenigde State van Amerika onderneem, en in 1893 het die Universiteit van Cambridge in Engeland aan hom ’n eredoktorsgraad toegeken. 1 Hy was internasionaal beroemd!

Maar in Oktober 1893 het hy skielik siek geword. ’n Cholera-epidemie het in Sint Petersburg gewoed, en Tsjaikofski is binne dae daaraan oorlede. 1

Tsjaikofski se dagboek.

Nalatenskap

Dit is ironies dat Tsjaikofski ná sy dood nie werklik deur sy landgenote geëer is nie. Baie Russe het gevoel dat sy musiek nie patrioties genoeg was nie. Tog, met die opkoms van die USSR (Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke) het hy ’n ikoon geword, en geen kritiek teen hom is geduld nie. 1

In die Weste het kritici ook geglo dat sy musiek sy donker persoonlikheid weerspieël. Mense het geglo hy is ooremosioneel en neuroties, daarom is sy musiek so dramaties. Deesdae, met beter navorsing en toegang tot sy persoonlike dokumente, weet navorsers dat hy bloot musiek gekomponeer het wat mense kon verstaan en geniet. Hy het daarin geglo om die gehoor betrokke te kry, en het sy komposisies met ’n hoogtepunt afgesluit. 1

Woordbank

cholera ’n Aansteeklike en dodelike siekte.
dekor Versierings wat tydens ’n opvoering op die verhoog geplaas word.
dirigent Die persoon wat ’n orkes afrig en tydens die uitvoering voor staan om aanwysings aan die spelers te gee.
ikoon ’n Simbool wat baie diep gerespekteer word.
komponis Iemand wat musiek skryf.
magnaat ’n Baie ryk en invloedryke persoon.
metallurgiese ingenieur ’n Ingenieur wat ’n kenner is van metale.
musiekkonservatorium ’n Opleidingsinstelling waar jong musikante met uitsonderlike talent opgelei word.
neuroties Emosioneel onstabiel.
opera ’n Drama wat gesing word.
patrones ʼn Beskermvrou/weldoener/donateur; ’n Persoon wat geld gee sodat ’n kunstenaar nie hoef te werk nie en net aan sy of haar kuns kan aandag gee. “Patrones” is die vroulike vorm; “patron” is die manlike vorm.
USSR Die afkorting staan vir Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke. Dit is die naam vir die Russiese federasie wat tydens die Koue Oorlog bestaan het.

Verbreed jou kennis met dié artikels

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Kort biografie oor sy lewe

Tien interessante feite oor hierdie beroemde komponis

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Desember 2023 | Bygewerk op 9 Maart 2024