Vinnige feite

  • Nikola Tesla se boetie, Dane, is tydens ʼn perdryongeluk oorlede. Daar is gerugte dat Nikola die perd skrikgemaak het, maar in sy outobiografie, My inventions: The Autobiography of Nikola Tesla, skryf hy dat ʼn trop wolwe die perd skrikgemaak en die ongeluk veroorsaak het. 35
  • Tesla het ʼn vrees vir menslike hare en pêrels gehad. Hy het glo geweier om met ʼn vrou te praat wat pêrels dra. 17
  • Op hoërskool het die onderwysers gedink Tesla is oneerlik omdat hy so goed in wiskunde gevaar het. 36 Hy het sy skoolloopbaan ʼn jaar vinniger voltooi as wat dit gewoonlik geneem het. 37
  • Die SI-eenheidsmaat tesla (T), wat gebruik word om die sterkte van magnetiese velde aan te dui, is in 1956 na Nikola Tesla vernoem. 38
  • Hy was mal oor die nommer 3 en alle getalle wat deur 3 kan deel. Hy het altyd in hotelle gebly en sou byvoorbeeld vir 18 handdoeke vra. “As julle maar net die grootsheid van 3, 6 en 9 kon begryp, sal jy ʼn sleutel tot die heelal hê,” het Tesla gesê. 39
  • Toe sy ma oorlede is, het hy vir ʼn kort rukkie ʼn spierwit kol hare op sy kop gehad. 35
  • Hy was onprakties met sy finansiële sake en baie eksentries. Hy het kompulsiewe gedrag getoon en ʼn erge vrees vir kieme gehad. 10
  • Tesla het gesê hy het ʼn fotografiese geheue en dit beteken dat hy boeke volledig kon memoriseer. Dit het hom ook gehelp om agt tale te kon praat. 40

As ʼn mens die naam Tesla hoor, dink jy dadelik aan die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Elon Musk wat in die Verenigde State van Amerika (VSA) gestudeer en later ʼn Amerikaanse burger geword het. Musk het nie net die bekende betaalplatform PayPal op die been gebring (en later verkoop) nie, maar is veral bekend vir die elektriese motors wat Tesla vervaardig, die ruimteprogram SpaceX waarmee hy kommersiële ruimtevlugte net so alledaags wil maak soos om van Johannesburg na Durban te vlieg, asook sy oorname van Twitter (wat nou bloot as X bekendstaan). 1 2

Tesla, wat sedert 2009 reeds meer as 2 miljoen elektriese motors vervaardig het, 3 is in 2003 deur die Amerikaanse entrepreneurs Martin Eberhard en Marc Tarpenning gestig en na die Serwies-Amerikaanse uitvinder Nikola Tesla vernoem. 4

Hoewel die Tesla-groep vandag wêreldwyd bekend is, het die naam Nikola Tesla, ondanks sy geniale baanbrekerswerk in, onder meer, elektrisiteit byna in vergetelheid verdwyn. Volgens Marc Seifer, skrywer van Wizard: The Life and Times of Nikola Tesla: Biography of a Genius, is dit danksy Musk dat die uitvinder uiteindelik die aandag en erkenning kry wat hom toekom. 5

Ofskoon sy belangrikste uitvindings vandag nog weerklank vind, het Nikola Tesla, wat in 1931 op die voorblad van die tydskrif Time verskyn het, in 1943 as ʼn arm man gesterf. Wie was dié merkwaardige man vir wie wiskundige probleme en die memorisering van boeke kinderspeletjies was en wat deur Musk as een van sy helde beskou word? 6

Sy geboorte en opleiding

Nikola Tesla is op 10 Julie 1856 in Smiljan in die Oostenryk-Hongaarse Ryk (vandag staan dit as Kroasië bekend) gebore. Sy pa, Milutin Tesla, was ʼn priester in die Serwies-Ortodokse Kerk, en sy ma, Georgina-Djuka, was ʼn slim vrou wat verskeie nuttige huishoudelike toebehore uitgevind het. Dit was sy ma wat die grootste invloed op sy latere lewe sou hê.

‘n Jong Nikola Tesla

Nikola was die vierde kind uit vyf. Hy het een ouer broer, Dane, gehad wat gesterf het toe Nikola vyf jaar oud was, twee ouer susters, Angelina en Milka, en een jonger suster, Marica. Nikola, wat van kleins af in wetenskap belang gestel het, wou nie die familietradisie voortsit en ʼn priester word nie. 7

Nadat hy sy hoërskoolloopbaan in Karlovac, Kroasië voltooi het, keer hy terug na sy gesin. Tydens dié somerbesoek sterf hy byna aan cholera en vra sy pa of hy ingenieurswese kan gaan studeer as hy dié siekte oorleef. Sy pa belowe sy “sterwende seun” om hom na die beste skool in die wêreld te stuur. Nikola se gesondheid verbeter vinnig en, soos beloof, stuur sy pa hom in 1875 om aan die Graz-Universiteit vir Tegnologie, Oostenryk, te gaan studeer. 8

Graz-Universiteit

In sy derde jaar op universiteit ontwikkel Nikola egter ʼn dobbelprobleem en verloor baie geld. Hoewel hy later ophou dobbel, het hy nooit sy universiteitsloopbaan voltooi nie. 9

Tesla se vindingryke loopbaan

Tesla emigreer in 1884 na die VSA en kom in New York aan met net vier sent in sy sak, ʼn paar van sy eie gedigte en berekeninge vir ʼn vliegmasjien. Hy het aanvanklik werk gekry by Thomas Edison, maar dié twee uitvinders se agtergrond en metodes het te veel verskil en hul paaie het geskei. 10

Tesla besluit om sy eie laboratorium te open waar hy sy verbeelding vrye teuels kon gee. Hier het hy met, onder meer, skadubeelde begin eksperimenteer, soortgelyk aan dié wat later deur Wilhelm Röntgen gebruik is toe hy X-strale in 1895 ontdek het. Tesla het ook allerhande eksperimente uitgevoer met verskillende tipes beligting. 10

Die foto was ‘n promosiefoefie deur fotograaf Dickenson V. Alley; ‘n dubbele blootstelling. Eers is die masjien se groot vonke in die verduisterde kamer afgeneem, toe is die fotografiese plaat weer ontbloot met die masjien af ​​en Tesla wat in die stoel gesit het. Tesla het in sy Colorado Springs Notes erken dat die foto vals is

Tesla is veral bekend vir sy bydraes tot die moderne wisselstroom- elektriese toevoerstelsel (WS). Hy het ook die driefasestelsel van elektriese transmissie ontwikkel. Om mense se vrese oor die wisselstroom- elektriese toevoerstelsel te weerlê, het Tesla demonstrasies in sy laboratorium aangebied waar hy ligte aangeskakel en elektrisiteit deur sy lyf laat vloei het. Hy is gereeld genooi om tuis en oorsee lesings aan te bied. 10

Tesla het in 1898 sy uitvinding van ʼn tele-outomatiese boot deur middel van afstandbeheer aangekondig en ʼn demonstrasie by Madison Square Garden aangebied. Die skare kon nie hul oë glo nie en kon nie verklaar hoe die boot beweeg nie. Hulle het gedink dit is towerkrag, telepatie of selfs dat ʼn opgeleide apie die boot bestuur! 11

Nikola Tesla, met Rudjer Boscovich se boek Theoria Philosophiae Naturalis, voor die spiraalspoel van sy hoëspanning Tesla-spoeltransformator by sy East Houston St., laboratorium, New York

In Colorado Springs, Colorado, waar hy van Mei 1899 tot vroeg in 1900 gebly het, het Tesla aardvaste golwe uitgevind. Dit was, volgens hom, sy belangrikste ontdekking. Hy het bewys dat die aarde as ʼn geleier gebruik kan word en net so reaktief sal wees as ʼn stemvurk wat reageer op die elektriese vibrasies van ʼn sekere frekwensie. Hy het 200 ligte sonder enige drade laat brand (skyn) oor ʼn afstand van 40 km. Hy het ook mensgemaakte weerligstrale en flitse van tot 41 meter geskep. 12

Tesla demonstreer draadlose oordrag van krag en hoëfrekwensie-energie

In 1900 keer Tesla terug na New York en begin met konstruksiewerk op Long Island aan ʼn draadlose wêrelduitsaaitoring. Hy het ʼn lening van $150 000 van die Amerikaanse geldskieter J. Pierpont Morgan ontvang in ruil vir 51% van sy patentreg op telefonie en telegrafie. Hy wou wêreldwye kommunikasie verskaf en fasiliteite toerus om prentjies, boodskappe, weerwaarskuwings en aandeleverslae te kan stuur. Die projek is egter laat vaar weens finansiële vrese, arbeidsprobleme en toe Morgan sy ondersteuning onttrek het. Dit was Nikola se grootse nederlaag. 13

Daarna het Tesla begin fokus op turbines en ander projekte. Weens ʼn gebrek aan fondse, het baie van sy idees ongelukkig net in sy notaboeke gebly. Dit word vandag steeds deursoek vir moontlike idees wat nooit ontgin is nie. 10

Op 12 Desember 1901 het die Italiaanse uitvinder Guglielmo Marconi vir die eerste keer radioseine oor die Atlantiese Oseaan gestuur en ontvang. Otis Pond, ʼn ingenieur wat vir Tesla gewerk het, het hom hiervan in kennis gestel. “Marconi is ʼn goeie ou, laat hy voortgaan. Hy gebruik 17 van my patente,” het Tesla gesê. Sy selfvertroue is egter in 1904 ʼn knou toegedien toe die Amerikaanse Patentekantoor skielik en onverwags sy vorige besluite teruggetrek en vir Marconi die patent gegee het vir die uitvinding van radio. 14

Toe Marconi in 1911 die Nobelprys vir Fisika ontvang, was Tesla woedend. Hy het die Marconi-maatskappy in 1915 gedagvaar, maar was nie finansieel in staat om ʼn saak teen dié groot maatskappy te maak nie. Eers in 1943, ʼn paar maande ná Tesla se afsterwe, het die Amerikaanse hoogste hof Tesla se radiopatent bekragtig. 14

In 1915 was hy uiters teleurgesteld toe gerugte, dat hy en Edison die Nobelprys sou deel, vals was. ʼn Reuters-nuusagentskapverslag uit Londen het berig dat die Nobelprys vir Fisika aan Thomas Edison en Nikola Tesla toegeken sou word. 15 ʼn Reuters-berig ʼn paar dae later uit Stockholm het egter bevestig dat die prys toegeken sal word aan William Henry Bragg en Lawrence Bragg vir die analise (ontleding) van kristalstruktuur deur X-strale. 16

Nikola Teslamonument, Praag

Tesla het wel verskeie eerbewyse en toekennings in sy loopbaan ontvang. In 1916 is die Amerikaanse Instituut vir Elektriese Ingenieurs se gesogte Edison-medalje aan hom oorhandig. 17

Sonder enige geld het Tesla gedurende sy laaste jare van plek tot plek verhuis en onbetaalde rekeninge oral agtergelaat. Hy het uiteindelik in ʼn hotel in New York beland waar sy huur deur George Westinghouse betaal is. Hy het alleen gebly en is gereeld in ʼn plaaslike park gesien waar hy die duiwe gevoer en versorg het. 17

Hy is op 7 Januarie 1943 in sy hotelkamer deur ʼn skoonmaker dood aangetref. Hy was 86 jaar oud. 17 Daar word gesê dat die oorsaak van sy dood ʼn ongeluk van ʼn paar jaar tevore was toe hy deur ʼn taxi raakgery is. Hy het nooit daarvan herstel nie. Hy was juis op pad om die duiwe te gaan voer toe die taxi hom getref het. 18 Volgens die nadoodse verslag is hy dood weens kroonslagaartrombose. 19

Agt van sy vernaamste uitvindings

Die wisselstroom

Nikola Tesla is veral bekend vir sy ontdekking van die gebruik van ʼn wisselstroom (WS) – in Engels alternating current (AC) – vir elektriese stroomoordrag. Voor hierdie uitvinding is daar net gebruikgemaak van direkte stroom of gelykstroom (GS) – in Engels direct current of (DC) – wat deur Thomas Edison ontwikkel is. 20

Die voordele van ʼn wisselstroom is dat die sterkte en rigting binne ʼn stroombaan verander kan word. ʼn Elektriese stroom kan ook oor ʼn langer afstand beweeg sonder dat die sterkte daarvan afneem. Die Tesla-transformator is ontwikkel om só ʼn stroom oor te dra. Vandag word ʼn wisselstroombaan in die meeste kragnetwerke gebruik. 21

Die Tesla-spoel (‘coil’)

Tesla wou elektrisiteit aan die wêreld verskaf sonder om drade reg oor die wêreld te span. Sy eksperimente het uiteindelik tot die Tesla-spoel gelei. 22

Die beginsel van die Tesla-spoel is redelik eenvoudig. Onthou dat ’n elektriese stroom die vloei van elektrone is, terwyl die verskil in elektriese vermoë (stroomspanning) tussen twee plekke die stroomspanning vorentoe druk. Die stroom kan vergelyk word met water en die stroomspanning met ʼn afdraand. ʼn Hoë stroomspanning is dus soos ʼn steil afdraand waarteen ʼn stroom van elektrone sal afvloei. ʼn Klein stroomspanning is weer soos ʼn vlakte waar byna geen water kan vloei nie. 23

Tesla-spoel

Die krag van die Tesla-spoel is opgesluit in ʼn proses genaamd elektromagnetiese induksie – ʼn veranderende magnetiese veld wat die elektriese vermoë skep om die elektriese stroom te laat vloei of beweeg. Die elektriese stroom wek op sy beurt ʼn magnetiese veld op. Wanneer elektrisiteit deur ʼn opgerolde rol draad vloei, skep dit ʼn magnetiese veld wat die area rondom die spoel in ʼn spesifieke patroon opvul. Indien die magnetiese veld deur die middel van die opgerolde draad vloei, word stroomspanning in die draad opgewek en dit beteken die elektriese stroom kan vloei. 23

Dit is presies hoe ʼn algemene wisselstroom (WS)- elektriese transformator, wat in elke huis gebruik word, werk. Radio’s en televisies gebruik vandag steeds variasies van die Tesla-spoel. 22

Induksiemotor

Tesla se induksiemotor was grensverskuiwend. Met sy drie hoofdele – ʼn rotor, ʼn stator en spoele – kon dié nuwe stelsel elektriese energie omskep in meganiese energie. ʼn Magnetiese veld word dus deur die gebruik van ʼn wisselstroom opgewek. 24

‘n Tesla-spoel

Dit was nooit tevore moontlik om op só ʼn doeltreffende manier ʼn elektriese stroom in beweging te omskep nie. Tesla se ontwerp kon boonop energie oor groot afstande oordra en die stelsel was baie kostedoeltreffend. Hy het in 1883 die eerste kontrak onderteken vir die kommersiële gebruik van die induksiemotor. 24

Die algemene gebruik vir induksiemotors vandag sluit in pompe, waterverwarmers, grassnyers, oonde en motors. Trouens, talle toestelle en gereedskap wat ons vandag daagliks gebruik, word deur ʼn induksiemotor aangedryf.

Afstandbeheer

Afstandbeheer is oral te sien as deel van ons moderne tegnologie. Daar lê dalk selfs ʼn paar afstandbeheerders op jul koffietafel by die huis om die televisie of radio te beheer. ʼn Afstandbeheerder word byvoorbeeld ook gebruik om motors te sluit en motorhuisdeure of hekke oop te maak. Hoewel afstandbeheerders hoofsaaklik verbind word met die beheer van ʼn televisie, is dié toestelle lank voor die televisie uitgevind. 25

Tesla het sy eerste afstandbeheertoestel in 1898 by Madison Square Garden in New York bekendgestel. Hy het dit ʼn tele-outomaat genoem. Hy het ʼn klein bootjie deur radiogolwe beheer. Die boot het ʼn klein lugdraadjie gehad wat ʼn enkele radiofrekwensie kon ontvang. Hy het seine na die boot gestuur met ʼn boks (sy weergawe van ʼn afstandbeheer). Die seine uit die boks het die roer en skroef van die boot verstel en die operateur kon die boot se rigting beheer. 26

Tesla se afstandbeheerde bote was egter uiteindelik ʼn flop (mislukking). Die kliënt wat hy in gedagte gehad het, die Amerikaanse vloot, het gedink die tegnologie is te tingerig vir oorlog. Kort ná Tesla se deurbraak, het die Spaanse ingenieur Leonardo Torres-Quevedo draadlose telegraafsenders gebruik om die eerste driewiel te beheer, daarna ʼn enjinaangedrewe boot en selfs duikboot-torpedo’s. 27

In die Eerste Wêreldoorlog het die Duitse vloot van afstandbeheerde bote, wat met springstof gelaai was, gebruikgemaak om hul teenstanders mee aan te val. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse en Amerikaanse weermagte ook ʼn rits geleide missiele en torpedo’s gebruik. In die 1930’s en 1940’s het ʼn paar toestelle soos om motorhuisdeure oop te maak of om modelvliegtuigies te laat vlieg, vir Jan Alleman opgeduik. 27

Hidroëlektriese krag

Tesla het ʼn idee gehad om krag op te wek uit die Niagara-waterval, een van die grootste watervalle in Noord-Amerika. Die krag wat deur water opgewek word, word hidroëlektrisiteit genoem. 27 Hidroëlektriese krag (of waterkrag) word verkry uit vallende of vloeiende water uit ’n groot rivier, dam of reservoir (dis soos ’n groot opgaartenk). Die water uit die rivier of dam vloei deur pype wat die lemme van turbines draai om elektrisiteit op te wek (amper soos ’n windturbine die beweging van die wind gebruik, word hidroëlektriese krag deur die beweging van water opgewek).

Dit was egter eers in 1893 dat sy droom ʼn werklikheid geword het toe ʼn kontrak aan Westinghouse toegeken is om ʼn aanleg by die Niagara-waterval te bou. Dit was nie ʼn klein droom nie: Tesla het wisselstroom voorgestaan in teenstelling met gelykstroom wat in daardie stadium deur die samelewing ondersteun is. Die Niagara-watervalkommissie het ingestem dat die Tesla-wisselstroom gebruik word, want dit is baie meer kragtig en veilig oor lang afstande. Ons gebruik deesdae wisselstroom om elektrisiteit aan stede te verskaf. 28

Fluoresserende ligte

Wanneer meeste mense aan beligting of lampe dink, dan dink hulle aan die gloeilamp soos wat dit deur Edison en ander uitvinders ontwikkel is. Draadgloeilampe werk deur elektrisiteit en ʼn fyn draadjie genaamd ʼn filament. Die filament in die gloeilamp word deur elektrisiteit verhit en straal lig uit. 29

Boog- of wasemligte (fluoresserende ligte val in dié kategorie) werk anders. Die lig word nie deur hitte geskep nie; dit vind plaas deur chemiese reaksies wat plaasvind wanneer elektrisiteit met verskillende gasse in ʼn vakuumhouer van glas in aanraking kom. ʼn Fluoresserende lamp of fluoresserende buis omskep elektriese energie in lig wat baie meer doeltreffend is as draadgloeilampe. Die ligdoeltreffendheid van ʼn fluoresserende lamp kan 100 lumens per watt oorskry – baie meer as ʼn draadgloeilamp met ʼn vergelykbare hoeveelheid watt. 30

Fluoresserende ligte is nou beskikbaar in dieselfde gewilde groottes as draadgloeilampe en word as ʼn energiedoeltreffende alternatief in huise gebruik. 30

Tesla het egter nie die moderne neonlig uitgevind soos wat daar soms beweer word nie. Hy het wel buisligte gebuig en dit was die voorloper van neonligte soos wat ons dit vandag ken. Die wetenskaplike en glasblaser Heinrich Geissler het in die 1850’s die Geissler-buis ontwikkel. Dit was een van die eerste ligte wat gewerk het deur gasse wat onder druk geplaas word in gevormde glasbuise. Neon is eers in 1898 uitgevind, maar Geissler-buise het ʼn soortgelyke effek voortgebring. 31

Geissler se buise is in verskeie laboratoriums aangetref, insluitend in Tesla se laboratorium. Hy het eendag met sy Tesla-spoel gepeuter en opgemerk dat die Geissler-buise verlig wanneer hy sy spoele op verskillende frekwensies verstel het. Die Geissler-buise het gereageer op die elektromagnetiese energie wat deur die spoele oorgedra is. 31

X-strale

Tydens Tesla se eksperimente met hoëfrekwensieradiogolwe ontdek hy per ongeluk X-strale toe hy ʼn foto van sy vriend en skrywer Mark Twain neem. Tesla en Twain het in die 1890’s vriende geword, hoofsaaklik omdat Twain so ʼn groot belangstelling in tegnologie en nuwe uitvindings gehad het. Hy het een aand laat Tesla se laboratorium besoek en Twain het geposeer vir een van die eerste foto’s wat deur ʼn gloeilamp verlig is. Tesla en die fotograaf Edward Ringwood Hewett het Twain in 1895 genooi om weer vir ʼn foto te poseer – dié keer sou die foto verlig word met ʼn elektriese toestel genaamd ʼn Crookes-buis. Toe Tesla na die negatief van die foto kyk, het hy vlekke en kolle opgemerk en gedink dit is ʼn swak foto. 32

Net ʼn paar weke later het die Duitse wetenskaplike Wilhelm Röntgen die ontdekking van X-strale bekendgemaak – deur die gebruik van Crookes-buise. Dit is eers tóé dat Tesla besef het die foto van Twain is gevlek deur die X-straal-skadu’s van die kamera se metaalskroewe. 32

Wilhelm Röntgen

Tesla was die voorloper om X-strale vir mediese doeleindes te gebruik, en het die grondslag vir radiologie gelê.

Tesla het sedert 1887 gereeld eksperimente met X-strale gedoen. In daardie stadium was dit egter onbekend en daar was nie ʼn naam daarvoor nie. Hy het dit skadubeelde genoem. Teen die einde van 1894 het hy met omvattende navorsing oor X-strale begin, maar dit is onderbreek toe ʼn brand in 1895 in sy laboratorium uitgebreek het. Tesla was die eerste persoon wat waarskuwings gerig het oor die skadelike effek van blootstelling aan X-strale op die menslike liggaam. 33

Die radio

Met sy Tesla-spoel het Nikola ontdek dat hy kragtige radioseine kon stuur en ontvang wanneer dit gestel is om op dieselfde frekwensie te resoneer. Vroeg in 1895 was Tesla gereed om ʼn sein sowat 80 km ver te stuur na West Point, New York. Soos sy navorsing oor X-straaltegnologie is sy werk hieroor ook in die brand in sy laboratorium verwoes. 34

Die tydsberekening was baie sleg. In Engeland het ʼn jong Italiaanse uitvinder Guglielmo Marconi gewerk aan ʼn toestel vir draadlose telegrafie. Hy het in 1896 ʼn patent bekom vir sy toestel. Marconi het later langafstanddemonstrasies uitgevoer en ʼn Tesla-ossillator gebruik om seine oor die Engelse kanaal te stuur. 34

Guglielmo Marconi

Tesla het in 1897 sy eie patent vir basiese radiotoepassings ingedien en dit is in 1900 goedgekeur. Marconi se eerste aansoek vir ʼn patent in Amerika is in dieselfde jaar afgekeur, hoofsaaklik omdat Tesla reeds oor sommige van die patente beskik het. Die Tesla-ossilator was in hierdie stadium reeds ʼn huishoudelike begrip in Europa en Noord-Amerika. Die Marconi Wireless Telegraph Company het egter in 1900 goed op die Britse aandelebeurs begin vaar, hoofsaaklik weens Marconi se familieverbintenisse met die Engelse adel. Edison en Andrew Carnegie, ʼn Skots-Amerikaanse nyweraar, het in Marconi begin belê en op 12 Desember 1901 het Marconi vir die eerste keer seine oor die Atlantiese Oseaan gestuur en ontvang. 34

Gramofoon met radio

Die Amerikaanse patentekantoor het in 1904 sy vorige besluite teruggetrek en vir Marconi die patent gegee vir die uitvinding van radio. Die redes is nooit ten volle verduidelik nie, maar groot finansiële ondersteuning vir Marconi in die VSA het waarskynlik ʼn bydrae gelewer. 34

Woordbank

aandeelhouer Eienaar van aandele. 41
bankrot Nie in staat om skuld te betaal nie; insolvent.
cholera Besmetlike/bakteriese ingewandsiekte.
eksperimenteer ʼn Wetenskaplike toets doen om vas te stel of ʼn bepaalde idee waar/gegrond is of om meer inligting te kry.
elektriese stroom Die volledige sirkelvormige baan wat ‘n elektriese stroom volg.
entrepreneurs Oprigter van ʼn sakeonderneming; ondernemer wat iets organiseer en bestuur of ʼn nuwe rigting inslaan.
filament Vesel/draad.
frekwensies Aantal keer wat iets per tydseenheid plaasvind, veral die aantal siklusse per sekonde van ʼn elektriese stroom opgewek deur ʼn wisselstroomopwekker.
geleier Iets wat gelei; koper is byvoorbeeld ʼn goeie geleier van elektrisiteit.
gelykstroom Elektriese stroom wat steeds dieselfde rigting behou, selfs al wissel die sterkte daarvan.
hidroëlektrisiteit Elektrisiteit wat met waterkrag opgewek word.
induksie Opwekking van ʼn magnetiese of elektriese veld, of die wysiging van ʼn bestaande toestand in ʼn liggaam deur middel van ʼn naburige magneties of elektries gelaaide liggaam sonder dat daar aanraking plaasvind.
kompulsief Gekenmerk deur kompulsie; sonder selfbeheer.
kroonslagaartrombose Trombose (vorming van bloedklonte in die bloedvate of hartkamers) in ʼn kroonslagaar.
lumens Eenheid waarmee ligvloed/ligstroom gemeet word.
motors Masjien/enjin wat beweegkrag verskaf deur middel van elektrisiteit/petrol/ens.
Nobelprys Enigeen van ʼn aantal geldpryse jaarliks toegeken uit die nalatenskap van die Sweedse uitvinder van dinamiet, Alfred Nobel, aan uitblinkers op verskillende gebiede van die kuns, wetenskap, geneeskunde en ekonomie.
ossillator ʼn Toestel wat gebruik word om ʼn wisselstroom voort te bring.
outobiografie Lewensverhaal van iemand wat deur hom- of haarself op skrif gestel word.
patent Dokument wat aan iemand die alleenreg gee om vir ʼn vasgestelde tyd ʼn uitvindsel te maak en te verkoop.
patentreg Reg wat aan ʼn patenthouer vir ʼn vasgestelde tydperk eksklusiewe beheer verleen met betrekking tot die vervaardiging, benutting, bemarking, of verkoop van sy produk, of met betrekking tot die proses of metode onderliggend daaraan.
resoneer Weerklank gee; weerklink; meetril; meeklink.
rotor Draaiende onderdeel van ʼn dinamo; vonkverdeler van ʼn motor/turbine.
stator Vaste gedeelte van ʼn elektriese dinamo/motor.
stemvurk U-vormige staalstafie wat ʼn bepaalde toon laat hoor wanneer daarteen/daarmee geslaan word, gebruik by die stem van musiekinstrumente (A-snaar van snaarinstrumente); stemsleutel.
tegnologie Toepassing van kennis vir praktiese doeleindes; toegepaste wetenskap.
telefonie Elektriese oordrag van geluid, veral van die stem.
telegrafie Die oordra van berigte per telegraaf.
transmissie Masjiendele wat beweging voortbring; dryfwerk.
turbines Masjien waarby ʼn rat in beweging gebring word deur ʼn lugstroom, stoom of vallende water.
uitvinder Persoon wat iets uitvind of uitgevind het.
vennootskap Ooreenkoms waarby twee of meer persone/instansies hulle verbind om tot hul onderlinge voordeel saam handel te dryf of op ʼn ander wyse saam op te tree.
vibrasies Periodieke beweging; een heen-en-weer-beweging; trilling.
wins Ekstra geld wat jy maak deur iets te verkoop of sake te doen nadat jy al jou onkoste betaal het.
wisselstroom (WS) Elektriese stroom waarvan die rigting vinnig en reëlmatig wissel.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer oor Nikola Tesla

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Nikola Tesla

Top 10- ongelooflike uitvindings en innovasies van Nikola Tesla

Nikola Tesla-dokumentêre rolprent: The Forgotten Inventor

Nikola Tesla: ʼn Man wat sy tyd ver vooruit was

 

Foto: iStock
Gepubliseer op: 3 Junie 2022 | Bygewerk op 3 April 2024