Vinnige feite

  • Gedurende haar heerskappy het 15 eerste ministers onder haar gedien, onder andere Winston Churchill, Margaret Thatcher en, meer onlangs, Boris Johnson. 8
  • Sy was die enigste persoon in die Verenigde Koninkryk wat toegelaat was om sonder rybewys te bestuur! 8
  • Het jy geweet koningin Elizabeth het twee verjaardae gehad? Haar werklike verjaardag (21 April) en haar amptelike verjaardag, wat op ’n Saterdag in Junie gehou is – wanneer die weer beter is! 8
  • Elizabeth het haar heel eerste e-pos in 1976 gestuur en haar eerste Instagram-pos in 2019 geplaas. 8
  • Die koningin was maar ’n skrale ses jaar oud toe sy ’n huiseienaar geword het! Die mense van Wallis het in 1932 ’n huis op die terrein van die Windsor Koninklike Vakansiehuis aan haar geskenk. Die huis se naam was Y Bwthyn Bach en beteken ‘Die klein kothuis’. 8
  • Sy was lief vir diere en behalwe haar perde en Walliese herdershonde (corgis) het sy ook ’n olifant, ’n luiperd en ’n paar luiape besit. Hulle was geskenke uit ander lande en bly in die Londense dieretuin. 8
  • Toe Elizabeth nog ’n prinses was, het sy haar eerste radiouitsending tydens die Tweede Wêreldoorlog in Oktober 1940 gemaak. 8
  • Elizabeth en Philip se troue is gebeeldsend (uitgesaai deur TV) en wêreldwyd deur 20 miljoen mense gekyk. 8
  • Elizabeth kon as klein dogtertjie nie haar naam uitspreek nie en haar oupa het haar toe Lilibet begin noem – dit is soos haar naam Elizabeth geklink het wanneer sy dit uitgespreek het. 4
  • Koningin Elizabeth kon Frans vlot praat. 4
  • Koningin Elizabeth het handgemaakte leerskoene gedra wat gereeld versool is omdat sy spaarsamig was en nie elke keer nuwe skoene wou laat koop nie. Sy het nooit haar skoene self uitgetrap nie, dit is gedoen deur die ontwerper van haar klere, Angela Kelly! 9
  • Sy het nie net baie van perde gehou en self perdgery nie, maar was ook baie lief vir corgi’s (Walliese herdershonde) en het altyd van hulle gehad.
  • Omdat sy vir so lank koningin was, was daar natuurlik baie dinge wat sy gedoen het wat nooit voorheen deur een van die konings of koninginne van Brittanje gedoen is nie, soos om die eerste keer ’n motor se band om te ruil, asook om die eerste keer ’n e-pos en ’n twiet te stuur. 8
  • Wanneer sy Sondae die kerkdiens bygewoon het, het haar personeel die geldnoot vir kollekte in haar handsak so gevou dat sy nie in haar eie gesig (wat op die note gedruk is nie) hoef te kyk wanneer sy die noot in die kollektebordjie plaas nie! 8
  • Koningin Elizabeth was vir 70 jaar en 214 dae lank koningin! 4
  • Koningin Elizabeth se begrafnisdiens en die aanloop tot haar begrafnis, is reeds lank voor haar dood haarfyn (baie volledig) uitgewerk. Hierdie begrafnisplan se kodewoord was London Bridge is Down. 10
  • Koningin Elizabeth se begrafnis het plaasgevind op 19 September 2022 in die Westminister-abdy (kerk of katedraal) in Londen. Dis ook hier waar sy getroud en later gekroon is.
  • Haar begrafnis was ’n luisterryke seremonie vol simbole en Britse tradisies.
  • Die organiseerders het ook erkenning gegee aan die koningin se liefde vir haar diere. Daarom was haar twee Walliese herdershonde (Muick en Sandy) asook haar perd (’n swart ponie met die naam Emma) deel van die seremonie. Al drie diere is deur hul hanteerders (oppassers) na buite gebring toe die begrafnisstoet by die Windsor-kasteel aangekom het. Hier het nog ’n kerkdiens plaasgevind. 11

 

Foto: iStock

Lank gelede was daar ’n Britse dogtertjie wat in ’n koningshuis gewoon het en baie graag ’n boetie wou hê. Want, as sy ’n boetie kon kry, sou hy eendag die koning van Engeland word. Andersins sou sý die troonopvolger moes wees.

Haar ouma het vertel dat sy elke aand ernstig gebid het dat sy ’n boetie moes kry omdat sy, vandat sy 10 jaar oud was, geweet het dat sy eendag koningin sou moes word as daar nie ’n seun vir die koninklike familie gebore word nie. Maar sy het toe nooit ’n boetie gekry nie. 1

Haar naam was Elizabeth en sy was die koningin van Brittanje.

Die prinses Elizabeth van York, later koningin Elizabeth II

In 1926 is ’n prinses gebore

Elizabeth Alexandra Mary Windsor is op 21 April 1926 gebore. 2

In hierdie stadium het niemand nog geweet dat sy eendag koningin sou moes word as gevolg van dinge wat in haar familie gaan gebeur nie.

Sy was as jong kind ernstig, teruggetrokke en pligsgetrou. 3

Bruilof van George VI en Elizabeth Bowes-Lyon
Die koninginmoeder (toe die hertogin van York) saam met haar man, koning George VI (toe die hertog van York), en hul dogter koningin Elizabeth II by haar doop in Mei 1926.

Sy het, byvoorbeeld, elke aand haar speelgoedperdjies (sy was van kleins af baie lief vir perde) netjies in ’n ry voor die deur van die kinderkamer gepak voordat sy gaan slaap het! 1

Haar pa, wat koning was, is in 1952 dood toe Elizabeth net 25 jaar oud was en self twee jong kinders gehad het. Skielik was sy die koningin omdat daar nie ’n manlike troonopvolger (die persoon wat volgende koning/koningin moes word) in hul gesin was nie. Sy is op 2 Junie 1953 gekroon as die amptelike monarg van Brittanje.

Elizabeth en Philip Mountbatten, met wie sy later sou trou, was voor 1939 reeds ’n paar keer by dieselfde funksies en partytjies, maar het mekaar eers werklik in Julie 1939 ontmoet toe Elizabeth en haar gesin ’n amptelike besoek aan die Royal Naval College in Dartmouth gebring het. Elizabeth was toe maar 13 jaar oud en Philip was reeds in die vloot. Philip is genooi om die koninklike gesin op hul skip te besoek en die twee prinsesse – Elizabeth en Margaret – was verstom en beïndruk met die jong man wat ’n paar borde garnale, piesangroomys én ander verversings kon opeet! 4


Koningin Elizabeth II en prins Philip neem ‘n kort pouse nadat hulle ‘n krans op die Nasionale Oorlogsgedenkteken gelê het

Elizabeth en Phillip is uiteindelik op 20 November 1947 getroud en vier kinders is uit hierdie huwelik gebore – Charles, Anne, Andrew en Edward. Die egpaar het ’n lang en gelukkige huwelik gehad totdat Philip in 2021 in die ouderdom van 99 jaar oorlede is. 5

Formele portret van koningin Elizabeth II met die Vladimir Tiara, die koningin Victoria-jubileumketting, die blou kousband, kenteken en kousbandster en die koninklike familieordes van koning George V en koning George VI

Veel later, tydens die viering van haar 40ste jaar op die troon, het sy die volgende gesê oor die feit dat sy so jonk in haar lewe koningin moes word:

“In a way, I didn’t have an apprenticeship. My father died much too young. It was all a very sudden kind of taking on and making the best job you can. It’s a question of maturing into something one has got used to doing and accepting that here you are and that is your fate…

“It’s a job for life.”

(Omdat my pa so vroeg dood is, was daar nie vir my kans om te leer hoe om koningin te wees nie. Dit het skielik gebeur en ek moes probeer om die werk te doen so goed as wat ek kon. Dit is ’n lewenstaak). 1

Elizabeth II buite Warburton Presbyterian Church, 1954
Koningin Elizabeth II Koninklike Toer na Nieu-Seeland
Koninklike besoek aan Nieu-Seeland

Sy was spitsvondig en kon grappies maak en geniet

Dink net ’n bietjie hoe dit moet wees om altyd na vreemde lande met vreemde gewoontes en vreemde kos te moet reis vir amptelike besoeke. Dit is wat die koningin deur haar hele lewe moes doen. En sy moes maar altyd diplomaties wees en kon nie wys as sy nie van iets gehou het as sy iets moes doen of eet nie. Sy het nie gewoonlik allerhande vreemde of eksotiese kos geëet nie en by haar koningshuis in Brittanje het sy verkies om gewone kos geëet – skaapvleis, beesvleis en salm. Een keer, toe sy ’n staatsbanket in China bygewoon het, het sy sonder om te huiwer of ’n gesig te trek, ’n seeslak geëet toe dit aan tafel bedien is.

Banket ter ere van koningin Elizabeth II

By ’n ander geleentheid het sy het vir die skrywer Noël Coward vertel hoe sy en haar seun Charles albei omtrent nie hul lag kon hou toe sy in 1969 die spesiale kroon op sy kop gesit het toe hy as die Prins van Wallis gekroon is nie. Hulle het albei onthou hoe die hoed tydens die repetisie vir die geleentheid te groot was en heeltemal oor sy kop en gesig afgesak het – kompleet “soos ’n kers wat gesnuit (uitgedoof) word”.

Hoofman Arthur Prest het koningin Elizabeth II verwelkom tydens haar eerste besoek aan Nigerië saam met prins Philip

Sy het haar nie maklik van stryk laat bring nie. In 1982 het ’n man met die naam Michael Fagan dit reggekry om by die Buckingham-paleis in te breek en tot in haar slaapkamer te kom terwyl sy geslaap het. Sy het ewe kalm die skakelbord gebel om die sekuriteitswagte te ontbied. Terwyl sy gewag het dat hulle opdaag, het sy met die man gesels. Sy het later vir ’n vriend gesê dat die man maar die soort onsin gepraat het wat mense gewoonlik met haar praat wanneer sy op amptelike besoeke tussen ’n skare rondloop om hulle te groet. En dít kon sy hanteer, het sy gesê!

Foto van groep aan boord van die skip, Malta, insluitend die hertog en hertogin van York (later George VI en koningin Elizabeth – sittende, middel)

Die president van Pole, Lech Walesa, het Brittanje op ’n keer besoek. Daaroor het die koningin gesê: “Hy ken net twee Engelse woorde… Dit is nogal twee interessante woorde”.

Koningin Elizabeth in die Aden-kolonie, 1954, met ‘n spadrol ter voorbereiding van ridder Claude Pelly en Sayyid Abubakr

Ouderdom het haar nooit gepla of verhinder om dinge te doen nie. Toe sy in 2021 die ouderdom van 95 bereik het, het sy die aanbod om as “Oldie of the Year” aangewys te word, beleefd van die hand gewys (sy wou dit nie aanvaar nie). Haar kantoor het laat weet: “Haar Majesteit glo dat mens so oud is soos jy voel en daarom glo sy nie dat sy aan die nodige vereistes vir die toekenning voldoen nie. Sy hoop hulle vind iemand wat die toekenning waardig is”. 1

Koningin Elizabeth II oorhandig die trofee aan Althea Gibson van New York (middel), wat die vroue-enkelspel in Wimbledon gewen het

Alle ma’s het probleme met hul kinders!

Soos alle ma’s, het koningin Elizabeth ook maar probleme met haar kinders (en ook haar kleinkinders) gehad.

Prins Philip, hertog van Edinburgh, Marlena Jeffery, koningin Elizabeth II en Michael Jeffery (goewerneur-generaal van Australië) tydens die koningin se besoek aan Australië vir die Melbourne Statebondspele wat in Maart 2006 gehou is.

In 1992 het haar oudste seun, prins Charles, en sy vrou, prinses Diana, aangekondig dat hulle gaan skei. Omdat Diana wêreldwyd so alombekend, gewild en geliefd was, was dit vir die koningin baie moeilik om te hanteer.

Haar tweede oudste seun, Andrew, het ook sedert 2011 vir haar baie probleme veroorsaak toe hy betrokke was by vriende van hom wat na bewering te doen gehad het met, onder meer, mensehandel en die onregverdige en ontoelaatbare behandeling van jong meisies en vroue.

Amptelike staatsbesoek aan Berlyn, 2015

Ook haar een kleinseun, prins Harry, het baie hartseer veroorsaak toe hy en sy Amerikaanse vrou, Meghan, in 2020 besluit het om nie meer as koninklikes te leef nie en Amerika toe verhuis het. Hulle het boonop tydens ’n TV-onderhoud in 2021 met Oprah Winfrey baie skerp kritiek teen die koningshuis gelewer. Al was sy Elizabeth ’n koningin, was sy ook ’n ouma en dit moes haar baie seergemaak het om te hoor dat haar kleinseun vertel hoe ongelukkig hy en sy nuwe bruid tussen die ander koninklike familielede was. 1

Koninginne moet ook werk

Koningin Elizabeth II was nie slegs die monarg van Brittanje nie, maar het ook ander werk gehad om te doen. Sy was die gesig van die koningshuis (sy het die koningshuis in die wêreld verteenwoordig). Sy het altyd met waardigheid opgetree en haar pligte nougeset uitgevoer. Sy moes amptelike take uitvoer soos skepe te water laat, tuinpartytjies bywoon, monumente onthul, boomplantseremonies bywoon en nuwe geboue open nadat dit klaar gebou is.

Die koningin toe sy by die Epsom-renbaan aangekom het

Sy het ook honderde briewe van oor die wêreld ontvang. En al het sy baie mense gehad wat vir haar gewerk het en wat daarmee gehelp het, moes sy tog daaraan aandag gee. 1

Die gebruik is dat die koning of koningin elke keer wanneer daar ’n nuwe eerste minister gekies word, die persoon amptelik moet versoek om die pos te aanvaar. Dit het sy twee dae voor haar dood nog gedoen toe sy Brittanje se nuwe eerste minister, Lizz Truss, te woord gestaan het (amptelik ontmoet het). 4

Die koningin in Ottawa in 1992 om die 125ste herdenking van Kanada en haar 40ste jaar op die troon te vier

’n Era eindig

Ná 70 jaar as koningin van Engeland, het Elizabeth Windsor se tyd op die troon op 8 September 2022 geëindig toe sy in die Balmoral-kasteel in Aberdeenshire in Skotland oorlede is. Sy was 96 jaar oud. 2

Besoek aan Nieu-Seeland
Dr. Nazir Ahmed (1898-1973), hoof van die Pakistanse Atoomenergiekommissie, en Brittanje se koningin Elizabeth II, saam met ander kernwetenskaplikes

Beeld van Kerskaartjie uitgereik deur H.R.H. Koningin Elizabeth II, 1988

Soos sy as jong vrou beloof het, het sy haar land en haar mense getrou gedien en haar hele lewe gewy aan die roeping wat sy nie gekies het nie, maar wat outomaties hare geword het net omdat sy gebore is as die kind wie se pa ’n koning was. Dit is soos sy haar roeping beskryf het:
“We must give nothing less than the whole of ourselves. There is a motto that has been borne by many of my ancestors – a noble motto, ‘I serve’ ”. (Ons moet niks minder as alles gee wat ons het nie. Daar is ’n edele leuse wat baie van my voorgeslag uitgeleef het – Ek dien). 6

Offergawes ter herinnering aan die dood van koningin Elizabeth II

Konings en koninginne in Brittanje vanaf 1910

Hierdie konings en koninginne het almal aan die Huis van Windsor (die mense van hierdie koningshuis se van) behoort.

George V

Koning George V het van 1910 tot 1936 geregeer.

Koning George V

Edward VIII

Koning Edward VIII het in 1936 vir minder as ’n jaar geregeer. Hy het afstand gedoen van die troon geabdikeer (gesê dat hy nie langer koning wou wees nie) omdat hy wou trou met ’n Amerikaanse vrou, Wallis Simpson, wat reeds twee keer geskei was. Omdat dit nie toegelaat word nie, kon hy nie langer koning wees nie. 3

Koning Edward VIII

George VI

Koning George VI eerste naam was Bertie en hy was koning van 1936 tot en met sy dood in 1952. Hy was die jonger broer van Edward en moes koning word omdat sy broer van die troon afstand gedoen het. Hy was baie skaam van geaardheid en het boonop erg gehakkel. Hy en sy vrou (koningin Elizabeth I) was baie gewild as koningspaar. Hy is aan longkanker dood toe hy net 56 jaar oud was. Nadat sy dogter Elizabeth koningin geword het as Elizabeth II, het sy vrou Elizabeth as die Koninginmoeder bekendgestaan. 3

Koning George VI

Blykbaar was hy en sy vrou so oorbluf toe hy by sy broer as koning moes oorneem, dat hy vir haar gevra het: “As iemand nou bel en ek antwoord die foon, wie moet ek sê is ek?” 7

Die rolprent The King’s Speech vertel die storie van sy lewe.

Elizabeth II

Koningin Elizabeth II was koningin van 1952 tot 2022 – ’n hele 70 jaar!

Op die ouderdom van 81

Charles III

Charles word op 8 September 2022 die nuwe koning van Brittanje.

Koning Charles III

Woordbank

amptelike Formeel of deftig. Mens gaan op ’n amptelike besoek wanneer jy iets namens jou werk of land of regering moet doen.
diplomaties Mens is diplomaties as jy weet hoe om so op te tree dat jy vriendelik is en mense nie ontstel nie.
eksotiese Buitelands, uitheems; ongewoon.
era ’n Tydperk in die geskiedenis.
getrou Mens is getrou wanneer jy jou beloftes altyd nakom en standvastig is, dit wil sê jy hou by wat jy sê en verander nie kort-kort jou beloftes of voornemens nie.
haarfyn Baie deeglik.
kwinkslag Spitsvondigheid, woordspeling, grap.
luisterryke Glansryk, roemryk; feestelik, pragtig.
mensehandel Werwing, wegvoering en verkoop van mense vir allerhande verkeerde doeleindes
nougeset Noukeurig, stiptelik, presies.
pligsgetrou Iemand wat al sy/haar pligte nakom, alles doen wat hy/sy moet doen.
repetisie Om iets wat mens moet doen, ’n paar keer vooraf te oefen om seker te maak jy kan dit reg doen. Dit word meesal gebruik vir toneelspelers. Hulle repeteer (doen oor en oor) hul toneelstuk ’n paar keer voor hulle dit die eerste keer voor ’n gehoor doen.
roeping Wanneer ’n persoon binne-in homself voel dat hy of sy ’n spesifieke werk wil doen. Mens kan dus sê iemand voel die roeping om ’n dokter of predikant of onderwyser te word.
skepe te water laat  Wanneer ’n nuwe skip vir die eerste keer gebruik word, sê mens dit word te water gelaat. Gewoonlik word ’n belangrike persoon gevra om die seremonie te behartig.
gesnuit Om ’n kers se vlam dood te maak; met ’n snuiter te doof.
spitsvondig Om slim en vinnig ’n gepaste of grappige antwoord te gee.
staatsbanket Deftige onthaal; feesmaaltyd vir belangrike mense.
teruggetrokke Iemand wat nie gemaklik is in ’n geselskap nie, iemand wat nie baie praat nie; wat skaam is.
waardig Iemand wat deur sy optrede mense se eerbied kry.
waardigheid Dit wys dat iemand waarde het en eerbied verdien. 12

Videos om meer te leer oor Koningin Elizabeth

Kwinkslae (3:11 min)

Die koningin en James Bond in 2012 – fiksie en werklikheid!

Kort oorsig oor haar tyd op die troon. (7:50 min)

 

Die koningin spreek die parlement toe in 2019 (4:48 min)

Huldeblyk deur Theresa May (voormalige Britse eerste minister) op 9 September 2022 (8:29 min)

Een van die laaste foto’s: Die koningin se laaste amptelike verpligting twee dae voor haar dood

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Oktober 2022 | Bygewerk op 7 Maart 2024