Vinnige feite

  • Kommunikasie is die proses waardeur mense inligting uitruil en hul gedagtes en gevoelens uitdruk.
  • Argeoloë is van mening dat rotstekeninge in die eerste plek ’n rol in die godsdienstige lewe van die eerste mense gespeel het, maar dat dit ook vir kommunikasiedoeleindes aangewend is.
  • Die menslike stem was vanaf die vroegste tye ’n hoofbron vir die oordrag van inligting.
  • Die drukpers, uitgevind deur Johannes Gutenberg, het dit moontlik gemaak om duisende kopieë te druk in minder tyd as wat dit sou neem om een geskrewe dokument oor te skryf. Dit het meegebring dat mense toegang kon kry tot geskrewe materiaal wat ’n nuwe era van opvoeding en geletterdheid ingelei het.
  • Die televisie het vanaf die 1940’s gewild geword en ná die Tweede Wêreldoorlog het die televisie ’n nog belangriker plek in die samelewing ingeneem.
  • Tydens die tweede helfte van die 20ste eeu het die internet tot stand gekom. Dit word gesien as een van die grootste deurbrake in die geskiedenis van kommunikasie.
Foto: iStock

Kommunikasie is die proses waardeur mense inligting uitruil en hul gedagtes en gevoelens uitdruk. Dit is ook die verbinding of verkeer tussen mense en dinge, mense en diere en tussen diere deur middel van taal en ander vorme van kommunikasie soos die geluid van tromme, rookseine, die geluide wat diere maak om mekaar te waarsku, sang en musiek, ensovoorts. 1

Die eerste kommunikasie

Hoewel daar nie baie opgeteken is oor presies hoe die eerste vorme van kommunikasie tot stand gekom het nie, kan heelwat afleidings gemaak word uit tekeninge wat in grotte gevind is in Afrika en Europa. Argeoloë is van mening dat hierdie rotstekeninge in die eerste plek ’n rol in die godsdienstige lewe van die eerste mense gespeel het, maar dat dit ook vir kommunikasiedoeleindes aangewend is, soos om ’n goeie jagveld of visryke rivier aan te dui. 2

Die ontwikkeling van kommunikasie

Die menslike stem

Die menslike stem was vanaf die vroegste tye ’n hoofbron vir die oordrag van inligting. Vir duisende jare was dit die mens se enigste kommunikasiemiddel. In die antieke Persiese Ryk (600 v.C.) was daar ’n stelsel van aflosspanne van “roepers” wat ’n nuusberig sowat dertig keer vinniger as boodskappers van een plek na ’n ander plek kon oordra. 2

Tromme

Die klank van ’n trom trek veel verder as die menslike stem. Om boodskappe met ’n trom oor te dra, is ’n vaste stelsel van seine gebruik, sodat die hoorder daarvan die betekenis kon verstaan. Die Galileërs, een van die volke wat Wes-Europa in die antieke tye bewoon het, het dikwels seintromme gebruik. 2

Vuurseine

Die antieke Perse, Grieke, Romeine en Kartagers het dikwels vuurseine gebruik om boodskappe oor te dra. Een so ’n “telegram” wat in die 4de eeu v.C. deur Alexander die Grote van Indië na Griekeland gestuur is, het slegs vyf dae geneem om sy bestemming oor ’n afstand van meer as 4 000 km te bereik. Sommige Rooihuidstamme van Noord-Amerika het tot onlangs nog rookseine gebruik om boodskappe oor te dra. 2

Romeinse poskoets

Posdienste is glad nie so ’n moderne uitvinding as wat die meeste mense miskien dink nie. Die Egiptenare het reeds baie eeue voor die geboorte van Jesus ’n stelsel van gereelde boodskappers tussen stede gehad. Omstreeks 500 v.C. het die Perse ’n uitstekend georganiseerde posdiens van boodskappers in hul uitgestrekte ryk op die been gebring. 2

Chinese koerier

Tot in die 19de eeu was die spesiale koeriers op perde en poskoetse die belangrikste manier om pos van een plek na ’n ander te vervoer. In die 12de eeu is daar in China ’n goed georganiseerde koerierdiens ingestel. Op vaste afstande het die koeriers mekaar afgelos en van perd verwissel sodat boodskappe binne die bestek van ’n enkele dag tot 400 km ver gestuur kon word. 2

In Marco Polo se boek beskryf hy breedvoerig hoe die Mongoolse keiser Khoeblai Khan se posstelsel gewerk het. Poshuise was ongeveer 3 myl (byna 5 km) uit mekaar en hardlopers het briewe van een plek na die volgende geneem. Stede en selfs ander lande is op dié manier met mekaar verbind.

Semafoor

In 1972 het Claude en Ignace Chappe, twee Franse broers, die eerste taamlik praktiese optiese telegraaf ontwerp. Met dié apparaat, bekend as die semafoor, kon lang boodskappe oorgesein word. Die semafoor was ’n toestel met twee verstelbare arms. Elke posisie van die arms het na ’n letter van die alfabet of ’n syfer gewys en boodskappe kon dus uitgespel word en van een semafoor na ’n ander gesein word. 2

Telegraaftoestel

In 1837 het Samuel Morse, ’n Amerikaner, en Charles Wheatstone van Engeland – onafhanklik van mekaar – die eerste keer daarin geslaag om seine deur ’n elektriese telegraafstelsel te stuur. In 1844 is die eerste telegraaflyn ter wêreld (met Morse se stelsel) tussen Washington en Baltimore in die VSA in gebruik geneem. Later is daar telegraaflyne oral in Europa en Amerika aangelê. 2

Ondersese kabel

Dit was onmoontlik om telegrafiese boodskappe oor die see te stuur. In 1850 het alles verander toe die eerste ondersese kabelverbinding tussen Frankryk en Engeland voltooi is. Op 4 Augustus 1858, kon die eerste kabelgram van Ierland na Noord-Amerika oor die Atlantiese Oseaan gesein word. Die kabel het drie maande later gebreek en ’n gereelde transatlantiese telegraafdiens is eers weer in 1866 ingestel. 2

Telefoon

In die tweede helfte van die 19de eeu het uitvinders daarin geslaag om die menslike stem met behulp van ’’n elektriese stroom oor te dra. Hoewel die telefoon ’n uitvinding is waarby baie uitvinders betrokke was, is die eerste primitiewe telefoon vervolmaak deur Alexander Graham Bell, toe sy eerste foon in 1876 gepatenteer is. Die eerste telefoondiens in Suid-Afrika is in 1882 in Port Elizabeth ingestel. 2

Die eerste radiomas

Die Italiaanse uitvinder, Guglielmo Marconi, het op 13 Julie 1897 daarin geslaag om ’n draadlose boodskap met behulp van radiogolwe oor te dra. Maar dis eers vier jaar later dat Marconi dit kon regkry om radioseine wat uit Brittanje uitgesaai is, in Noord-Amerika op te vang. Voortaan kon boodskappe, met die snelheid van lig, van die een uithoek van die aarde na die ander gestuur word. 2

Ná die uitvinding van die elektronbuis, het die radiotegniek vinnig gevorder. Eksperimente met uitsendings deur medium- en lang golwe, en later ook deur kort- en ultrakortgolwe, is gedoen. Vandag is daar letterlik duisende kommersiële en kommunikasieradiosenders wat dag en nag die lugruim vul met hul programme en seine. Die eerste kommersiële uitsaaistasie in Suid-Afrika, het in 1924 op die lug gekom. 2

Beeldradiosender

Die eerste geslaagde beeldoorsending met behulp van elektromagnetiese golwe, is in 1926 deur John Logie Baird van Skotland gedoen. Reeds voor die Tweede Wêreldoorlog is met gereelde beeldradiouitsendings in Brittanje en Duitsland begin. Ná die oorlog het die beelradiodienste in die meeste lande vinnig ontwikkel, ook in volkleur. 2

Teleksmasjien

Die vroegste vorm van die teleksmasjien (ook genoem teledrukker) is in 1840 deur Charles Wheatstone, ’n Engelsman , uitgevind. Dié belangrike uitvinding het egter eers ’n halfeeu later tot sy reg gekom met die instelling van die eerste teleksverbindings tussen koerante en die kantore van nuusagentskappe. 2

Geskrewe kommunikasie

Met die uitvinding van skrif, kon idees op papier vasgevang word en is daar makliker en meer akkuraat gekommunikeer, soos bedoel deur die oorspronklike sender van kommunikasie.

Die eerste vorm van geskrewe kommunikasie is aangeteken as prente wat met boodskappe gemeng was. Een prent het gewoonlik net een idee gekommunikeer. Hierdie geskrewe prentidees was die voorloper van die alfabet.

Die uitvinding van die alfabet het mense in staat gestel om seinboodskappe met fakkels te stuur. Deur middel van hierdie tegniek, het die Grieke hul alfabet in vyf rye met vyf letters in elke ry georganiseer. Seine wat in die vloot gebruik is, is deur middel van vlae en flikkerende ligte gestuur; elke sein ’n verteenwoordiging van sekere letters in die alfabet.

Toe mense begin het om te skryf, is simbole aangebring op materiale soos plat klippe, boombas en dierevelle. Die Babiloniërs het op kleitablette of groot plat klippe geskryf. Die Egiptenare het op papier geskryf wat hulle gemaak het van papirusplante en die Grieke het skaap- en bokvelle gebruik om op te skryf.

Mettertyd het die Chinese uitgevind hoe om papier te maak, waarop later geskryf is. 3

Gedrukte media

Deur die geskrewe vorm van kommunikasie kon mense beter kommunikeer, maar die leemte was steeds daar dat ’n geskrewe boodskap slegs uit een kopie bestaan het. Dit het tot ander kommunikasieuitdagings gelei deurdat baie min mense bereik kon word met die boodskappe wat oorgedra moes word. Om nog kopieë van ’n geskrewe boodskap te verkry, het baie lang ure beteken waartydens die teks met handskrif gedupliseer moes word.

Die oplossing was die totstandkoming van gedrukte materiaal in die 2de eeu. Deur marmeroppervlakke met ink te bedek en papier daarop te plaas, het die Chinese prente en skrif gekopieer. Ink is gemaak van bestanddele soos roet in ‘n oplossing van Arabiese gom. Ongeveer teen die jaar 500, is houtblokke in sekere dele van Asië gebruik om geskrewe materiaal te dupliseer. Die moderne era van gedrukte letters, het in die 1450’s posgevat deur die Duitse uitvinder, Johannes Gutenberg, wat die gedrukte media ontwerp het.

Hy het ’n drukpers ontwerp wat ’n beweegbare metaalplaat gebruik het. Hierdie metode het dit moontlik gemaak om duisende kopieë te druk in minder tyd as wat dit sou neem om een geskrewe dokument oor te skryf. Dit het ook meegebring dat mense toegang kon kry tot geskrewe materiaal wat ’n nuwe era van opvoeding en geletterdheid ingelei het. 3

Die koms van die televisie

Wetenskaplikes het dekades lank probeer om ’n televisie te maak. John Logie Baird (1888-1946), ’n Skotse uitvinder en ingenieur, is amptelik die eerste persoon wat uitgevind het hoe om ’n televisie te maak. Sy eerste probeerslag was redelik onafgewerk en is uit stukkies en brokkies saamgeflans, maar in 1924 het hy dit reggekry om ’n flikkerende beeld oor ’n kort afstand te beeldsend. In 1926 het hy die heel eerste eksperimentele televisieuitsendings aan 50 wetenskaplikes in Londen gedemonstreer. In 1930 het Baird televisies begin verkoop (die draaiskyfie binne-in het egter baie geraas).

Baird se televisie was nie die elektroniese toestel wat ons vandag ken nie. Dit het bestaan uit ’n draaiende kartonskyf met ’n ry vierkantige gaatjies in. Soos die kartonskyf gedraai het, het elke gaatjie ’n ander deel van die beeld afgetas. Hierdie televisie het ’n piepklein beeld geproduseer wat uit 30 lyne bestaan het, terwyl moderne televisies uit meer as 1 000 lyne bestaan. 5

Ná die uitvindsel van Baird se televisie het Charles Francis Jenkins in die VSA en August Karolus in Duitsland ook televisiestelsels ontwikkel. Die eerste gereelde uitsendings het in Duitsland rondom 1935 begin en kort daarna in Brittanje. Die beeldgehalte was wel nog swak, maar verbeterings het meegebring dat die televisie vanaf die 1940’s gewilder geword het. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die televisie ’n belangriker plek in die samelewing begin inneem. 4

Digitale kommunikasie

Hoewel rekenaars al tydens die 1900’s bestaan het en in gebruik geneem is, was daar nog geen manier waarvolgens dit met mekaar kon kommunikeer nie. Tydens die tweede helfte van die 20ste eeu het die internet tot stand gekom en word dit gesien as een van die grootste deurbrake in die geskiedenis van kommunikasie.

In die 1960’s, het die Amerikaanse departement van verdediging, ’n netwerk ontwikkel vir hul militêre- en regeringsrekenaars. Die netwerk se doel was om die inligting op daardie rekenaars te beveilig ingeval van ’n oorlog of ander ramp. Spoedig het universiteite, korporasies en ander organisasies ook hul eie rekenaarnetwerke ontwikkel.

Mettertyd het hierdie netwerke met die Amerikaanse regering se netwerk bande gesmee en saam die internet gevorm. Die woord internet is afkomstig van “interconnected network of networks”. Die wyer toepassing en gebruik van die internet het in 1991 vlamgevat.

’n Britse rekenaarwetenskaplike met die naam Tim Berners-Lee, het die World Wide Web (www) ontwikkel. Die web bestaan uit elektroniese adresse, genoem webtuistes, wat webblaaie met inligting bevat. Eensklaps was daar ’n elektroniese biblioteek beskikbaar met inligting oor besighede, gesondheid, opvoeding en vermaak. Programme het tot stand gekom wat as soekenjins gebruik is (byvoorbeeld Google) om mense te help om met ’n gespesialiseerde soektog die nodige inligting te bekom. Elektroniese pos, genoem e-pos, kon deur middel van die internet deur rekenaargebruikers aan mekaar gestuur word. Hierdie snelpos bereik die ontvanger binne ’n paar sekondes en het ’n nuwe era van blitsige e-kommunikasie ingelei. 5

Interessante feite oor selfone

  • Die eerste selfone was groot en duur om aan te koop en kon slegs oproepe ontvang of oproepe maak.
  • Selfone het geleidelik kleiner van vorm geword en meer funksies is tot die toestelle gevoeg.
  • In die begin van die 2000’s het toestelle, genaamd slimfone (smart phones), verskyn.
  • Slimfone kan die meeste soortgelyke funksies wat deur rekenaars uitgevoer word, verrig, soos om toegang te hê tot die internet. 5

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023