Vinnige feite

  • Microsoft het in 2018 ʼn studie oor aanlyn hoflikheid gedoen. ʼn Punt uit 100 is saamgestel en hoe hoër die getal is, hoe meer onbeskof is die land se gebruikers. Uit veertien lande was Suid-Afrikaners die ongeskikste met ʼn punt van 78%. Brittanje was die land met die ordentlikste internetgebruikers op 45%. 19
  • ʼn Studie deur We Are Social en Hootsuite het bevind dat mense gemiddeld twee uur en 24 minute per dag op sosiale media spandeer. 1
  • Amber Heard is die persoon wat die meeste Google-soektogte (5 651 700 per maand!) in 2022 gekry het. Ná haar hofsaak teen Johnny Depp beklee hy die tweede plek met 5 656 100 soektogte. 20
  • Die oud-Springbokkrieketspeler A.B. de Villiers is die Suid-Afrikaner wat die meeste aanhangers op Instagram het met 17,1 miljoen. 21 Hy het teen Januarie 2023 meer as 20,3 miljoen volgelinge gehad. 22 Die sokkerspeler Christiano Ronaldo het die meeste aanhangers in die wêreld wat hom op Instagram volg. 21 Hy het in Januarie 2023 meer as 541 miljoen volgelinge gehad. 23
  • Facebook is op ʼn Vrydag die besigste. Op X (Twitter) is plasings op Sondae tussen 22:00 en 23:00 die gewildste. Volgens navorsing het inhoud wat in hierdie tyd geplaas word, die grootste kans om gedeel te word. 24
  • Sowat 92% van tieners gaan elke dag aanlyn en 71% gebruik meer as een sosialemediaplatform. 25
  • Ongeveer 23% van Facebook-gebruikers gaan loer ten minste vyf keer per dag wat op dié netwerk aangaan. 25
  • Sokkerspeler Lionel Messi spog met die grootste aantal mense wat van een van sy plasings op Instagram gehou het. Op 20 Desember 2022 het 56 miljoen mense reeds daarvan gehou. 26 Dit is ʼn fotogalery waar Messi en ander spelers in die Argentinië-span hul Wêreldbeker-oorwinning in 2022 vier. 27
  • Facebook is blou omdat Mark Zuckerberg kleurblind is – hy kan nie rooi en groen van mekaar onderskei nie, maar sê hy kan alle skakerings van blou sien. 28
  • Daar is meer as 41 miljoen plasings op Instagram wat met die hutsmerk “#selfie” gemerk is. 25
  • “Baby Shark Dance” is die video op YouTube wat tot dusver die meeste gekyk is. 29 Teen Januarie 2023 is dit reeds meer as 12 miljard keer gekyk 30 (dit is meer keer gekyk as wat daar mense op aarde is!). 31
Foto: iStock

Deur in die regte lewe by mekaar te kuier of ʼn telefoonoproep te maak, was die enigste manier hoe ʼn kind meer as dertig jaar terug met sy of haar maats kon gesels. Daar was darem al faksmasjiene, maar kinders het dit nooit regtig gebruik nie.

Mense se manier om ander te ontmoet, vriendskappe te bou en netwerke te vorm, het vir altyd verander met die koms van die internet en sosialemedianetwerke in die laat 1990’s. 1 Die wêreld het vir mense oopgegaan. Skielik het jou ma ʼn manier gekry om haar laerskoolmaat op te spoor of te sien hoe haar niggie, wat kilometers ver van julle af woon, se baba lyk.

Die wêreld het groter, maar in ʼn sekere opsig ook kleiner geword, want daar is altyd iemand wat iemand ken wat jy óók ken. Op sosialemediaplatforms kan mense vriende word sonder dat jy hulle ooit ontmoet. Kinders oor die hele wêreld heen kan boonop op dieselfde tyd saam aanlyn speletjies speel.

Vandag word daar daagliks 500 miljoen twiets op Twitter (of eerder X soos Elon Musk se sosialemediaplatform deesdae genoem word) en 50 miljoen foto’s op Instagram geplaas. Drie miljard video’s word op YouTube gekyk en drie miljoen blogartikels geskryf. Hoewel daar gevare aan sosiale media verbonde is, word mense se vermoë om met mekaar te verbind, ook positief gebruik vir bemarking, nuus, vermaak en onderwys. 2 Vra maar vir enige tiener én grootmens: Sosiale media is gewis hier om te bly!

Wat is sosiale media?

Hoewel sosiale media en sosiale netwerke dikwels as sinonieme gebruik word, is daar tog klein verskille tussen hierdie twee begrippe. Sosiale media se doel is hoofsaaklik om, soos tradisionele media, inligting te versprei. Met sosiale media het jy egter ʼn toestel soos ʼn rekenaar, slimfoon of tabletrekenaar met internettoegang nodig om hierdie inligting te bekom. 3

Met elektroniese toestelle kan digitale media soos foto’s, video’s, klanklêers en skakels (in Engels: links) na ander webtuistes of sosiale media gebruik word om die inligting te versprei. Die gebruik van elektroniese toestelle maak dit maklik om media te skep (maak), te wysig (verander) en met ander gebruikers (mense) te deel. Enigiemand kan inligting plaas – van koerante of televisiestasies, tot gewone gebruikers. Hierdie inligting kan van een bron kom soos ʼn WhatsApp-uitsaailys (in Engels: broadcast list) waar net die administrateur boodskappe kan stuur, of dit kan soos ʼn WhatsApp-groep wees waar almal boodskappe kan stuur. 4

ʼn Sosiale netwerk is die skep en instandhouding van persoonlike en sakeverhoudings – veral aanlyn. Op sosiale media doen jy dus al die praatwerk. Jy publiseer foto’s, video’s, grafika en artikels, en probeer om jou aanhangers en volgelinge oor te haal om interaksie te hê met jou handelsmerk of om iets spesifieks te doen, soos om jou produk te gebruik. Met ʼn sosiale netwerk moet daar ʼn mengsel wees van praat en luister. As jy by groepe aansluit en jy doen al die praatwerk, gaan jy waarskynlik nie die regte reaksie kry nie en jy gaan dalk geleenthede misloop omdat jy nie luister nie. Met ʼn sosiale netwerk probeer jy om ʼn netwerk van volgelinge en aanhangers te bou en om dié verhouding te laat groei. 5

Sosiale media word gedeel op verskillende sosiale netwerke wat bestaan uit ʼn groep mense wat miskien dieselfde belangstellings het of aan mekaar verbind is as familie, vriende of kinders wat in dieselfde skool is. Soos mense vriendskapversoeke (in Engels: friend requests) stuur, word al hoe meer mense deel van die groep (die netwerk). ʼn Aanlyn netwerk kan net geskep word as daar ʼn webtuiste op die internet vir hierdie groepe bestaan. Hierdie “plekke” vir sosiale netwerke word aanlyn platforms genoem. Voorbeelde van hierdie platforms is Facebook, Instagram of TikTok. 3

Geskiedenis van sosiale media

Die eerste e-pos– en kletsplatforms het in die vroeë 1970’s begin, maar daar was nog nie aanlyn gemeenskappe soos ons dit vandag ken nie.

1979: Usenet

Die eerste besprekingsgroep wat uit ʼn netwerk van gebruikers bestaan het, was Usenet (die Engelse afkorting vir User’s Network) in 1979.

Tom Truscott en Jim Ellis, twee studente aan die Duke-Universiteit in Durham in die Verenigde State van Amerika (VSA), het met die idee vorendag gekom om inligting en lêers heen en weer tussen rekenaars te stuur.

Steven Bellovin, ʼn student aan die Universiteit van Noord-Carolina se Chapel Hill-kampus, het die sagteware geskryf wat Usenet se eerste weergawe beheer het. Usenet het amptelik in 1980 begin toe drie rekenaars van die Universiteit van Noord-Carolina, die Duke-Universiteit en die Duke-Universiteit se mediese fakulteit aan mekaar verbind is. 6

Usenet het mettertyd (oor die jare) gegroei om duisende besprekingsgroepe (ook genoem nuusgroepe) in te sluit, met miljoene gebruikers wat op ʼn spesiale internetbediener gestoor is. Gebruikers op Usenet het plasings (artikels) met ʼn ingeboude nuusleser gelees en geskryf.

Later het hierdie nuusgroepe elkeen ʼn spesifieke onderwerp gedek en meeste nuwe nuusgroepe moes eers goedgekeur word. Alternatiewe nuusgroepe kon deur enigiemand geskep word en oor enige onderwerp handel. Hierdie alternatiewe nuusgroepe is nie gemodereer (nagegaan) nie – elke artikel is dus nie vooraf goedgekeur nie. Die groepe wat op Usenet was, het later na ander sosialemediaplatforms beweeg. Die Amerikaanse soekenjinmaatskappy Google het meer as 20 jaar se Usenet-argiewe op sy Google Groups gestoor. 6

 

1997: SixDegrees.com

SixDegrees.com was ʼn sosiale netwerk wat van 1997 tot 2001 bestaan het. 1 Dié netwerk is vernoem na die teorie (idee) dat elke mens in die wêreld deur ʼn ketting van ses vriende, familie, kennisse of kollegas (mense wat saam met jou werk) aan mekaar verbind is. Volgens hierdie konsep beteken dit dat jy deur vyf of minder ander mense byvoorbeeld aan Elon Musk verbind is, want jy ken iemand wat daardie persoon ken en daardie persoon ken weer iemand anders, en so gaan dit aan. 7

Met SixDegrees.com kon gebruikers vriendskapversoeke na ander mense op die netwerk stuur. Mense wat nie op SixDegrees.com was nie, kon met ʼn skakel uitgenooi word om aan te sluit. Gebruikers kon boodskappe en plasings stuur na mense wat een, twee of drie grade aan hulle verbind is. Jy kon ook sien op watter manier ander gebruikers aan jou verwant is. 1

2002: Friendster

Friendster word beskou as een van die oorspronklike sosiale netwerke. Die platform was in Mountain View, Kalifornië in die VSA gebaseer (gesetel/geleë) en is in 2002 deur Jonathan Abrams gestig.

Gebruikers kon ander gebruikers kontak en inhoud en media met daardie kontakte deel. Dit is ook gebruik as ʼn plek waar mans en vroue mekaar aanlyn kon ontmoet. Met Friendster kon die gebruikers ook nuwe musiekgroepe of selfs stokperdjies ontdek. Later het Friendster na Kuala Lumpur in Maleisië verskuif, waar dit as ʼn webtuiste bedryf is waar mense teen mekaar aanlyn speletjies kon speel. Nadat Friendster in Junie 2011 in ʼn speletjiesplatform omskep is, was daar 115 miljoen geregistreerde gebruikers op die netwerk. 1

Friendster het sy deure in 2018 gesluit. 8

Friendster se handelsmerk.

2003: MySpace.com

Myspace.com is aanvanklik as ʼn plek gebruik waar aspirant musikante en kunstenaars hul musiek en konsertdatums kon deel. Die platform het later uitgebrei na ʼn ruimte (plek) waar jy ʼn profiel kon skep en foto’s, musiek, of selfs flieks waarvan jy hou, kon deel. Daar was kletskamers waar gebruikers met mekaar kon gesels, asook nuusgroepe en ʼn gedeelte waar video’s en musiek gedeel kon word.

Elke gebruiker kon vriende uitnooi om ʼn profiel te skep of hulle aan bestaande profiele verbind. Elke gebruiker se persoonlike netwerk het uitgebrei soos hulle mense met dieselfde belangstellings of gemeenskaplike vriende bygevoeg het. Die netwerk was veral gewild onder tieners en jongmense, en het ʼn huidige gebruikerstal van meer as 59 miljoen gebruikers. Rupert Murdoch se NewsCorp-maatskappy het Myspace.com in 2005 vir $580 miljoen gekoop. 1

2003: LinkedIn

LinkedIn is ʼn baie goeie voorbeeld van hoe sosiale netwerke gebruik kan word om werk te vind. Dit is op 5 Mei 2003 begin en word hoofsaaklik deur werkgewers gebruik om poste te adverteer en deur werknemers om hul CV’s te publiseer. Alle gebruikers kan ʼn profiel en netwerk skep soos hulle in die regte lewe kontak met mense het wat in dieselfde bedryf as hulle werk. Inkomste word verkry deur inligting oor gebruikers aan werkgewers te verkoop. 1

2004: Facebook

Facebook is in 2004 deur Mark Zuckerberg, Eduardo Saverin, Dustin Moskovitz en Chris Hughes gestig, aanvanklik net vir studente wat by die Harvard-Universiteit geregistreer was en later ook vir ander studente in die VSA. Toegang vir studente buite die VSA is eers in 2005 toegelaat en sedert 2006 is alle mense ouer as 13 jaar toegelaat om aan te sluit. Facebook het Myspace.com in 2008 verbygesteek as die mees besoekte sosialemediaplatform en sy houermaatskappy staan sedert 2021 as Meta bekend. 2

Geregistreerde gebruikers kan ʼn profiel skep met inligting oor hulself. Deur vriendskapversoeke word gebruikers se netwerke groter. Multimedia, teks en foto’s kan op jou muur (blad) geplaas word. Hierdie inligting kan dan met ander groepe of vriende gedeel word. Gebruikers kan boodskappe na mekaar deur Facebook Messenger stuur en by groepe aansluit wat belangstellings met hulle deel. 1

2005: YouTube

YouTube is in 2005 deur Steve Chen, Chad Hurley en Jawed Karim gestig, aanvanklik as ’n platform waar mense mekaar vir romantiese verhoudings kon ontmoet. Nadat dit duidelik geword het dat hierdie doel met YouTube nie suksesvol gaan wees nie, is gebruikers toegelaat om eerder hul eie video’s op te laai. Google het YouTube in 2006 vir $1,65 miljard gekoop. 2

Gebruikers plaas vandag meer as 100 uur se inhoud per minuut op hierdie sosialemediaplatform en kyk meer as een miljard uur se video’s elke dag! 1

2005: MXit

In 2005 het Herman Heunis die Suid-Afrikaanse kletsplatform MXit gestig. Dit was aanvanklik ʼn speletjiesplatform wat op SMS’e gebaseer was. Dié sosiale netwerk het egter vinnig in ’n kletsplatform verander omdat SMS’e in daardie stadium baie duur was. 9

In 2007 het Naspers, ʼn groot mediamaatskappy in Suid-Afrika, 30% van die aandele in MXit gekoop en die naam na MXit Lifestyle Ltd. verander. Dit was ook die tyd toe Suid-Afrikaners die eerste keer daarvan gehoor en dit begin gebruik het. Dit was veral gewild onder jongmense tussen 18 en 25 jaar. Teen 2008 was daar 7,5 miljoen gebruikers wat van hierdie app (toepassing) gebruik gemaak het. 9

In 2011 het Naspers sy aandele verkoop. World of Avatar, ʼn maatskappy wat klein ondernemings help groei, het toe 90% van die aandele besit. Ten spyte van die 43 miljoen geregistreerde gebruikers, het Heunis, die stigter van die maatskappy, bedank.

In 2012 het MXit tot 50 miljoen gebruikers gegroei, waarvan 10 miljoen aktiewe gebruikers in Suid-Afrika was. 9

Soos Suid-Afrikaanse gebruikers na slimfone soos Apple en BlackBerry oorgeslaan het, het hulle eerder begin gebruik maak van BBM (BlackBerry se kortboodskapdiens) en WhatsApp. Dit was goedkoper om van dié dienste gebruik te maak, omdat mense nie meer SMS-kostes hoef te betaal het as boodskappe oor die internet gestuur is nie.

In 2014 was daar slegs 4,9 miljoen aktiewe gebruikers en in 2015 het dit verder tot 2,7 miljoen gedaal. In Oktober van daardie jaar is MXit gesluit, ten spyte van 88 miljoen geregistreerde gebruikers. 9

Daar word geglo dat MXit onsuksesvol was omdat dit nie in ʼn app ontwikkel is wat op slimfone gebruik kon word nie. Teen die tyd dat die maatskappy gesluit het, het 10 miljoen Suid-Afrikaners reeds WhatsApp gebruik en 13 miljoen Suid-Afrikaners was op Facebook. 9

2005: Reddit

Reddit is in 2005 deur Steve Huffman en Alexis Ohanian gestig. Dit is ʼn webwerf waar mense skakels na artikels, media, en ander dinge op die internet deel. Reddit-gebruikers kan by verskillende gemeenskappe met dieselfde belangstellings aansluit. Mense kan stem vir die beste plasings en plasings met die meeste stemme word op die tuisblad van Reddit geplaas. 10

2006: Twitter (nou X)

Twitter is in 2006 deur Noah Glass, Evan Williams, Biz Stone, Jack Dorsey en Florian Weber gestig ná dit uit Odeo (2005) ontwikkel het. 2

Twitter word die SMS van die internet genoem omdat elke boodskap net 280 karakters (spasies, letters, leestekens) toelaat wat ongeveer 50 tot 55 woorde per twiet is. Indien die inhoud langer as die toegelate aantal karakters is, maak veral joernaliste gebruik van ʼn boodskapketting (in Engels: thread) om meer inligting te deel. 11

Twitter is voordelig om vinnig jou mening te lug en joernaliste gebruik dit byvoorbeeld om lesers ingelig te hou oor ʼn hofsaak of ʼn krieketwedstryd soos wat dit regstreeks gebeur.

Politici soos Donald Trump en Helen Zille van die Demokratiese Alliansie (DA) in Suid-Afrika het ook al van Twitter gebruik gemaak om hul menings aan die publiek bekend te maak.

Sedert 2007 word ʼn hutsmerk of hutsteken (die #-simbool; in Engels: hashtag) voor ʼn woord of frase gebruik as ʼn manier om plasings oor dieselfde onderwerp te vind. 2

Twitter was in 2022 gereeld in die nuus nadat die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Elon Musk dié sosialemediaplatform vir $44 miljard gekoop en meer as 3 700 werknemers afgedank het. Musk het dié platform se naam, in ‘n poging om sy beeld te herstel en meer advertensie-inkomste te lok, na X verander. 12

2009: WhatsApp

WhatsApp is in 2009 deur Brian Acton en Jan Koum gestig. In daardie stadium kon gebruikers slegs deur SMS’e of BBM’s (ʼn gratis toepassing slegs vir mense met BlackBerry-fone) in teksboodskappe met mekaar kommunikeer. WhatsApp is ook, soos Instagram, aanvanklik as ’n iPhone-app begin en Android- en Windows-apps het eers twee jaar later gevolg.

Facebook het WhatsApp in 2014 vir $19 miljard gekoop. 2

Met WhatsApp kan gebruikers stem- en teksboodskappe aan mekaar stuur. Jy kan ook foto’s, video’s en dokumente aanstuur. Jy kan iemand ook deur WhatsApp bel (stem of video), wat dit baie goedkoper as gewone telefoonoproepe maak. 1

Gebruikers kan individueel met mekaar gesels, maar ook in groepe wat deur administrateurs gestig word. Die enigste manier wat jy deel van ʼn groep kan word, is as die administrateur jou byvoeg. Uitsaailyste kan ook geskep word waar net die stigter van die uitsaaigroep boodskappe kan stuur. 1

2010: Instagram

Instagram is in 2010 deur Kevin Systrom en Mike Krieger gestig, aanvanklik slegs as ʼn iPhone-app. Binne die eerste dag het Instagram reeds 25 000 gebruikers gewerf en teen die einde van 2010 was daar reeds 1 miljoen gebruikers. ʼn Android-app het eers in 2012 gevolg en die maatskappy is kort daarna vir $1 miljard deur Facebook gekoop. 2

Instagram is veral gewild onder jongmense en gebruikers kan slegs foto’s of video’s plaas. Gebruikers kan filters op foto’s en video’s gebruik en ook byskrifte, hutsmerke en geografiese ligging (plek waar jy is) byvoeg. Gebruikers kan kommentaar onderaan die plasings lewer en deur ʼn hartjie aandui of hulle van ʼn plasing hou. Gebruikers kan mekaar volg en plasings kan publiek of net met goedgekeurde volgelinge gedeel word. 1

2010: Pinterest

Pinterest is ʼn sosiale netwerk wat deur Ben Silbermann, Paul Sciarra en Evan Sharp in Maart 2010 bekendgestel is. Hierdie platform werk soos ʼn aanspeldbord waar jy foto’s en interessante inhoud kan “vassteek”. Ander gebruikers kan jou aanspeldbord besoek en jou plasings ook op hul eie borde vasspeld (in Engels: pin). Hierdie sosialemediaplatform is veral gewild onder vroue om idees oor verskillende onderwerpe – van modes en resepte, tot tuinmaak, gesondheid, huisverbeterings en ander stokperdjies – te plaas. 13

2011: Snapchat

Snapchat is in 2011 geskep deur Evan Spiegel, Bobby Murphy en Reggie Brown – almal voormalige studente aan die Stanford-Universiteit. Dit is deur die maatskappy Snap Inc., voorheen bekend as Snapchat Inc., ontwikkel.

Op dié platform is foto’s en boodskappe wat vir mekaar gestuur is, net vir ʼn rukkie lank beskikbaar. Met hierdie toepassing kan jy foto’s neem met plakkers soos ʼn snor of ʼn kat se snorbaard bo-oor jou foto. Snapchat is veral gewild onder gebruikers jonger as sestien. 14

2018: TikTok

TikTok is die internasionale weergawe van die sosialemediaplatform Douyin wat deur die Chinese maatskappy ByteDance ontwikkel is.

Die platform, wat in 2018 wêreldwyd beskikbaar gemaak is, bestaan uit ʼn wye verskeidenheid video’s wat van 15 sekondes tot 10 minute duur. Daar is verskillende soorte video’s soos grappe, danse en toertjies. Gebruikers kan op die app hul eie video’s maak wat agtergrondmusiek het, maar dit kan ook vinniger of stadiger gestel word. Die video’s kan geredigeer (verander) word en daar is ʼn funksie waar mense kan maak of hulle bekende liedjies sing. Video’s, emotikons en boodskappe kan tussen gebruikers gestuur word. 15

2023: Threads

Threads is die jongste sosialemediaplatform wat in Julie 2023 sy buiging gemaak het. Dit is die geesteskind van Mark Zuckerberg se Meta-maatskappy (wat Facebook en Instagram besit) en is daarop gemik om ‘n mededinger vir Elon Musk se X (oftewel Twitter) te wees. Hoewel dié teksgebaseerde kletstoepassing binne net vier Dae ná sy bekendstelling met 100 miljoen gebruikers gespog het, het dié groeisyfer verlangsaam. Threads het teen begin September 2023 sowat 130 miljoen gebruikers gehad, wat steeds aansienlik minder as X se 450 miljoen is.

Grootste sosialemedianetwerke

In September 2023 was die tien grootste sosialemedianetwerke in die wêreld die volgende:

  1. Facebook: 3,03 miljard gebruikers
  2. WhatsApp: 2,78 miljard gebruikers
  3. YouTube: 2,7 miljard gebruikers
  4. Instagram: 2,35 miljard gebruikers
  5. TikTok: 1,67 miljard gebruikers
  6. WeChat: 1,66 miljard gebruikers
  7. Messenger: 1,3 miljard gebruikers
  8. Snapchat: 750 miljoen gebruikers
  9. Douyin: 743 miljoen gebruikers
  10. Telegram: 700 miljoen gebruikers.

In Suid-Afrika lyk die prentjie só

Die aantal aktiewe sosialemediagebruikers het oor die afgelope agt jaar meer as verdriedubbel met ʼn totaal van 28 miljoen Suid-Afrikaners wat in 2022 sosialemedianetwerke gebruik het om meestal kontak met familie en vriende te hou en die nuus te lees.

Meer as 95% van internetgebruikers gebruik WhatsApp, wat beteken dat hierdie platform die grootste sosialemedianetwerk in die land is.

Kuberveiligheid

Vyf aanlyn veiligheidsreëls

Die aanlyn wêreld is wonderlik, maar kan ook gevaarlik wees. Net soos daar in die regte wêreld reëls is oor wat jy mag doen en sê, is daar ook in die kuberruimte reëls wat jou sal help om veilig te bly.

Beskerm jou privaatheid

Daar is duisende plekke op die internet waar mens gevra word om te registreer, in te teken of ʼn profiel te skep. Maak eers by jou ouers seker of jy dit kan doen, want daardie inligting kan vir ʼn klomp redes gebruik word soos om gemorspos te stuur. 18

Indien jy jou eie e-posadres het, maak ook eers by jou ouers seker of jy jou persoonlike inligting na iemand mag terugstuur indien jy daarvoor gevra word. Soms lyk dit of ʼn e-pos amptelik is, maar in werklikheid is dit eintlik net ʼn skelm manier om jou persoonlike inligting soos jou naam en adres te kry. 18

Nog ʼn manier om jou privaatheid te beskerm, is om e-posadresse en rekeningname vir speletjies te skep wat nie naastenby soos jou regte naam lyk nie. In plaas van Lisa_Botha, gebruik iets soos Ysbeer123. Die mense wat belangrik is – soos jou ouers en vriende – sal wel weet dat dit jou profiel is. 18

Bly weg van vreemdelinge

Die meeste sosialemediaplatforms laat net kinders ouer as dertien toe om op hierdie platforms te wees, maar selfs al is jy ouer as dertien, is dit beter om eers met jou ouers daaroor te praat voor jy by ʼn platform aansluit. Op hierdie netwerke kan jy foto’s en video’s kyk en dit aanstuur of met jou maats gesels. Ongelukkig is dit ook ʼn plek waar daar vreemdelinge is.

Dit klink dalk vir jou lekker om nuwe vriende te maak, maar onthou dat mense baie oor hulself kan jok. Die persoon aan die ander kant van die skerm kan miskien vir jou baie oulik en vriendelik klink en sê hulle is ook so oud soos jy, maar dit kan ʼn grootmens wees wat lankal uit die skool is. Kinders het al in groot gevaar gekom omdat hulle ingestem het om ʼn aanlyn vriend in die regte lewe te ontmoet. Die veiligste is om maar net met die mense wat jy in die regte lewe ken, te gesels – en seker te maak dit is wel die persoon wat jy ken.

Moenie vreemdelinge bel nie en moenie foto’s of video’s van jouself op e-pos, WhatsApp of op enige ander manier aan hulle aanstuur nie. Moet veral ook nie jou regte adres op sosiale media bekendmaak nie. Maak seker dat jy eintlik so min as moontlik van jouself op die internet verklap. 18

Vertel jou ouers sodra ʼn vreemdeling aan jou e-posse, WhatsApps of boodskappe stuur. Hulle sal besluit wat is die beste om te doen, soos byvoorbeeld om jou e-posadres te verander of die polisie in kennis te stel. 18

Moenie goed sê wat jy nie in die regte lewe sou sê nie

Wanneer jy op jou rekenaar of foon is, kan dit miskien vir jou na pret klink om iemand te terg of te maak of jy iemand anders is. Dalk is jy kwaad vir iemand en is dit vir jou makliker om iets leliks te sê as daardie persoon nie weet dit is jy nie. 18

Net soos in die werklikheid, is dit wreed om dit aan iemand anders te doen. Selfs al maak jy net ʼn grappie, is dit nie noodwendig hoe hulle dit sien nie en kan hulle baie seergemaak word deur dit wat jy in die kuberruim oor hulle uitblaker. Woorde maak seer en dit is nog erger as jy nie eens weet wie dit is wat jou boelie nie. 18

ʼn Eenvoudige reël is om niks op sosiale media te sê wat jy nie vir daardie persoon sou sê as hy of sy reg voor jou gestaan het nie (of om iets te sê wat jy nie wil hê ander oor jou moet sê nie). Laat weet ook jou ouers of ʼn onderwyser dadelik as jy self of iemand anders deur kuberboelies afgeknou word. 18

Kies moeilike wagwoorde

As iemand namens jou by ʼn netwerk inteken, kan hulle sê en doen wat hulle wil en almal gaan dink dit is jy! Moenie jou wagwoord met enigiemand behalwe jou ouers deel nie. Gebruik ook moeiliker wagwoorde as byvoorbeeld Wagter1234. Kies ʼn wagwoord wat ʼn syfer, ʼn simbool soos @ of #, asook ʼn hoofletter bevat. 18

Moenie jok oor jou ouderdom nie

Bly by veiliger netwerke. Jou ouers en onderwysers sal jou kan help om te kies. Moenie oor jou ouderdom jok as daar ʼn ouderdomsbeperking is nie, en los dit eers vir later wanneer jy ouer is. 18

Woordbank

aandele Gedeelte van die kapitaal van ’n onderneming wat iemand bydra en wat aan hom sekere regte verleen.
aanlyn Ingeskakel by ’n netwerk sodat inligting daarheen gestuur of daarvan onttrek kan word; aan die internet gekoppel.
administrateur Bestuurder van ʼn openbare onderneming.
aktiewe (Nog steeds) werksaam.
alternatiewe ʼn Ander keuse/moontlikheid/opsie; ʼn plaasvervanger.
argiewe Versameling of bewaarplek van dokumente/registers/kaarte/geskrifte/ens. wat met ʼn staat/dorp/vereniging/onderneming/ens. verband hou.
aspirant Iemand wat ʼn pos/amp/betrekking/statusposisie probeer kry; iemand wat daarna streef om iets te doen/bereik.
bediener Kragtige rekenaar in ʼn netwerk waarop programmatuur en lêers met data gestoor word en waartoe die gebruikers van ander rekenaars wat deel van die netwerk is, toegang het.
bedryf ʼn Kategorie van sakeondernemings, soos die boubedryf of die rekenaarbedryf.
bemarking Aktiwiteite van ʼn onderneming om sy produkte of dienste aan moontlike kopers of gebruikers bekend te stel en hulle te oortuig om dit te koop of te gebruik.
blogartikels Webblad wat deur iemand in stand gehou word en waar so ʼn persoon sy/haar kommentaar lewer oor allerlei sake en aangeleenthede en/of dagboek hou van sy/haar aktiwiteite; webjoernaal.
CV “CV” is die afkorting van die Latynse woord curriculum vitae en is ʼn dokument vol besonderhede wat werkgewers ’n idee gee van jou kwalifikasies en werkondervinding.
digitale Wat ʼn stelsel gebruik waarin data elektronies bewaar word of waarheen dit gestuur word deur syfers, gewoonlik nulle en ene, te gebruik.
emotikons Groepie leestekens wat saam (soms tesame met ʼn letter of simbool) gebruik word om ʼn bepaalde gesigsuitdrukking of emosie weer te gee, veral in e-posse of ander vorme van elektroniese kommunikasie; gevoelsikon; (informeel) gesiggie.
e-pos Briefwisseling met behulp van die internet; die stuur en aflewering van dokumente/foto’s/sketse/ens. in elektroniese formaat van een rekenaar na ʼn ander of verskeie ander.
faksmasjiene Apparaat wat met ʼn telefoonlyn ʼn fotokopie van ʼn teks kan stuur na ʼn soortgelyke apparaat wat dan ʼn afskrif daarvan lewer.
fakulteit ʼn Hoofafdeling van ʼn universiteit.
gemeenskaplike Wat aan meer as een persoon gesamentlik behoort.
gemorspos Ongevraagde e-posboodskappe, dikwels advertensiepos, blindweg na veelvuldige poslyste/individue/nuusgroepe gestuur, of sulke SMS’e wat na selfone gestuur word.
grafika Grafiese items wat op ʼn rekenaarskerm vertoon of as data geberg word.
handelsmerk Besondere merk/teken op ʼn handelsartikel om dit te onderskei van soortgelyke artikels wat deur ander maatskappye vervaardig en bemark word.
hoflikheid Om op so manier op te tree dat mense sien dat jy goeie maniere het; beleef(d), vriendelik.
instandhouding Skoonmaakwerk/herstelwerk/ens. wat nodig is om iets in ʼn goeie toestand te hou.
interaksie Die kommunikasie/samewerking/ens. tussen mense.
kletsplatforms Sosialemediagroepe waar mense saam kan gesels.
kommunikeer Om aan iemand inligting oor te dra en/of van iemand inligting verkry deur taal/woorde/gebare/skrif/tekens/ens. te gebruik.
kuberruimte Elektroniese medium waarin kommunikasie tussen rekenaars of rekenaarnetwerke geskied.
media Al die verskillende vorms (koerante, tydskrifte, radio, televisie, die internet, ens.) waardeur nuus en inligting versprei word.
mening te lug Om te sê wat jy dink/hoe jy voel.
multimedia ’n Kombinasie van media soos video’s, musiek, die internet, ens.
netwerke Groot verskeidenheid kontakpersone.
oor te haal Jy oortuig hom; laat hom met jou idee/voorstel/plan, ens. saamstem.
platforms Plek/middel wat gebruik (kan) word om nuus/idees aan ʼn klomp mense oor te dra.
profiel Kort beskrywing wat die belangrikste besonderhede oor ʼn persoon/groep/plek bevat.
geregistreerde Jou naam (en ander besonderhede) op ʼn amptelike lys laat aanbring.
regstreeks Direk; iets lewendig uitsaai/beeldsend.
sagteware Al die programme, roetines en simboliese taal wat die werking van apparatuur beheer; programmatuur.
sinonieme ʼn Woord met dieselfde betekenis as ʼn ander een.
skakels Woord/frase/prentjie op ʼn rekenaardokument/webblad wat jou na ʼn ander dokument/webblad neem as jy daarop klik.
slimfoon Selfoon wat terselfdertyd dien as klein, ligte rekenaar waarop jy inligting kan bewaar, waarmee jy e-pos kan stuur en ontvang, waarmee jy foto’s kan neem, en wat toegang bied tot die internet.
sosiale media Verskillende vorms van elektroniese kommunikasie waardeur mense op die internet sosiale netwerke skep om inligting, idees, persoonlike nuus en ander inhoud, soos foto’s, video’s, ens. te deel.
stokperdjies Iets wat jy in jou vrye tyd doen omdat jy dit geniet; tydverdryf.
tabletrekenaar Klein, plat, draagbare en kabellose rekenaar met ʼn raakskerm, groter as ʼn selfoon, maar veel kleiner as ʼn skootrekenaar.
tuisblad Landingswebblad/hoofwebblad wat toegang gee tot die inhoud op ander (sub)webblaaie van die betrokke webtuiste.
uitblaker Iets luid verkondig, uitlap, verklap, verklik, rondvertel, openbaar maak, bekendmaak.
wagwoord Reeks letters/syfers/simbole wat net aan ’n enkele gebruiker bekend is en wat hy/sy gebruik om tot ’n rekenaar/webblad/ens. toegang te verkry.
webtuiste Versameling van een of meer webblaaie op die web waarop ʼn besigheid, persoon of organisasie inligting aanbied; ook webwerf of webruimte genoem.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

ʼn Kort geskiedenis van die internet

ʼn Speellys wat al die vrae wat jy oor die internet het, beantwoord

Voor die koms van WiFi is mense deur hul landlyntelefone aan die internet gekoppel. Die geluid het amper geklink asof jy met Mars probeer kontak maak

Met die uitbreiding van sosiale netwerke oor die afgelope jaar, word mense deesdae in minder as ses mense aan mekaar verbind

“Me At The Zoo” is die heel eerste video wat op YouTube in 2005 gelaai is. Dit is reeds meer as 285 miljoen keer gekyk

Wat is ’n internettrol?

Hoe verskillende sosialemediaplatforms se gewildheid tussen 2004 en 2022 gegroei het

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 Julie 2023 | Bygewerk op 24 November 2023