Vinnige feite

  • Dis nie te sê dat alle lande met kapitalistiese ekonomiese stelsels dieselfde tipe regerings het nie. Brittanje het byvoorbeeld ’n monargie met ’n koningin, terwyl Amerika se regering demokraties verkies word.
  • Tydens die Groot Depressie van die jare dertig het kapitalistiese ekonomieë baie swaargekry en baie mense was werkloos. Die Britse ekonoom John Maynard Keynes het in sy boek General Theory of Employment, Interest and Money gesê dat kapitalistiese ekonomieë staatshulp nodig het in tye van hoë werkloosheid en geen groei. Sy boek was wyd bekend.
  • In 1820 het 94% van die wêreld se bevolking in erge armoede geleef, maar hierdie syfer het teen 1910 na 82% geval. Dit is glo as gevolg van kapitalisme. 6
  • Aan die begin van kapitalisme, was daar ongeveer 60 miljoen mense in die wêreld wat nie in erge armoede geleef het nie, maar vandag is daar meer as 6,5 miljard mense wat nie in erge armoede leef nie. 4
  • Voor kapitalisme, in die Industriële Revolusie, was daar geen medikasie, geen antibiotika, geen skoon water, nie genoeg kos nie, geen elektrisiteit, en geen skoon water nie.
  • In die laaste 140 jaar was daar 106 groot hongersnode, wat elk meer as 100 000 lewens geëis het. Die sterftesyfer was veral hoog in sosialistiese lande soos die Sowjetunie, China, Kambodja, Ethiopië en Noord-Korea. 4
  • Mense wat teen kapitalisme gekant is, sê dit is baie sleg vir die aarde se hulpbronne. Met ondernemings wat groei word meer en meer goedere byvoorbeeld vervaardig en dit skep meer afval.
  • Met kapitalisme se ontstaan, het die samelewing in twee klasse verdeel: Die kapitalistiese klas (wat goedere vervaardig en versprei soos sake-eienaars) en dan die werkersklas, wat hul arbeid aan die kapitaliste verkoop vir lone en salarisse. Mettertyd is die werkersklas opgebreek en daar het ook ’n middelklas ontstaan. 4
  • Amerika word gesien as ’n goeie voorbeeld van ’n land met ’n kapitalistiese stelsel, maar hul stelsel is ook nie slegs kapitalisties nie, want die regering reguleer ook die ekonomie. Daar is byvoorbeeld riglyne vir finansiële instellings. 4

Amerika, Brittanje, Japan en Duitsland. Wat het hierdie lande in gemeen? Benewens die feit dat al hierdie lande welvarend is, het hulle kapitalistiese ekonomiese stelsels. Kapitalisme is ’n ekonomiese stelsel waarin mense private besittings het en ondernemings besit waarvan hulle die wins vir hulself hou en waar min ondernemings aan die staat behoort. 1

Dit beteken dus dat gewone mense ondernemings mag besit en self kan besluit wat hulle wil verkoop of watter dienste hulle wil lewer en self die prys daarvan bepaal. Hul doel is om geld te genereer (maak) en uiteindelik ’n wins te maak. Hierdie ondernemings is dan in mededinging met mekaar en wedywer vir verbruikers se geld en aandag. 2

As jy byvoorbeeld ’n stalletjie by jou skool se markdag het en jy besluit watter produkte jy wil verkoop en wat die prys gaan wees en jou doel is om ’n wins te maak, bedryf jy ook ’n kapitalistiese of ’n vryemarkstelsel.

Geskiedenis

As ons na die ontstaan van kapitalisme wil kyk, moet ons ver in die geskiedenis teruggaan, want sien mense het van die vroegste tye af goedere gekoop en verkoop en dis iets wat kenmerkend van kapitalisme is.

Die geskiedkundiges vertel wel dat kapitalisme uit Europese feodalisme ontstaan het. Wat is dit? Feodalisme was die oorheersende maatskaplike stelsel van die Middeleeue in Europa en mense (hulle is leenhere genoem) het grond aan ander mense geleen in ruil vir dienste. 3 Merkantilisme het uiteindelik feodalisme vervang en het in die 16de tot 18de eeu die oorheersende manier geword waarop handel gedryf is. 4

Merkantilisme is ’n staatkundige leer wat die rykdom van ’n volk meet aan sy voorraad geld en daarom die uitvoer, ’n handelsvloot en die vestiging van kolonies wou bevorder. 3

Handel, nywerheid en die bankwese het in hierdie tyd uitgebrei en regerings het handel aangemoedig en probeer om meer goedere aan ander lande te verkoop as wat hulle koop. Die idee van wins het die ontwikkeling van moderne kapitalisme aangemoedig. 2

Die Skotse ekonoom Adam Smith het egter agterkom dat merkantilisme nie regtig tot ontwikkeling en positiewe veranderinge bydra nie en dit het tot die idee van laissez-faire-kapitalisme gelei. 4

Laissez-faire-kapitalisme

Die Industriële Revolusie het in die 1700’s en 1800’s ’n groot omwenteling in die wêreld teweeggebring. Waar mense en diere vroeër al die arbeid verrig het, het masjinerie nou van hierdie take oorgeneem. Daar was ook allerhande slim uitvindsels wat dit makliker gemaak het om goedere te maak, te verkoop en te vervoer. 5

Dit het uit die aard van die saak produktiwiteit verbeter.

Teen die 19de eeu het sakelui besef dat dit nie goed is as die regering in handel en nywerheid inmeng nie en hulle wou eerder hul eie sake hanteer. Die beleid van min of geen beheer deur die regering, word laissez-faire genoem, dis ’n Franse uitdrukking wat “toelaat om te doen” beteken. Dis dus ’n beleid van geen inmenging. Soos vroeër genoem, was dit die Skotse ekonoom Adam Smith wat laissez-faire-kapitalisme bevorder het.

Laissez-faire-kapitalisme se kenmerke is dat dit welvaart en privaat eienaarskap aanmoedig sowel as groter mededinging, die behoefte na wins en vryheid en om self sakebesluite sonder die regering se inmenging te maak. Mense wou dus self ’n vervaardiger of verkoper van dienste of goedere wees.

Ondernemings kon dus met mekaar meeding en werkers kon vir mense wat die hoogste lone betaal het, gaan werk het. Sake-eienaars het dan die beste produkte of dienste vir die laagste moontlike pryse aangebied om die meeste verbruikers te lok. Verbruikers met die meeste geld, kon natuurlik die beste produkte of dienste bekostig en pryse is deur vraag en aanbod bepaal. As dit skaars was, was die prys hoog en as daar baie produkte was, was dit weer laag.

Hierdie kapitalisme het sy hoogtepunt rondom 1870 bereik en daar was groot ontwikkelings in handel en nywerheid en baie mense het baie geld gemaak. Daar was egter ook die doodgewone werkers wat steeds min geld gekry het en baie lang ure gewerk het. Dit het tot die ontstaan van vakbonde gelei en werkers het saamgestaan teen maatskappye en op beter salarisse en beter werksomstandighede aangedring. 5

Dit het ook tot sosialistiese idees gelei. Sosialisme is waar die regering die ekonomie beheer deur maatskappye en eiendom te besit en dan veronderstel is om dit regverdig onder ’n land se burgers te verdeel. Baie lande het ’n vorm van sosialisme, genaamd kommunisme, aanvaar. Dink maar net hier aan die Sowjetunie en China. 5

Kommunisme is ’n regeringstelsel waarin die staat die eienaar is van al die belangrike nywerhede en beheer die volk se ekonomiese, maatskaplike en kulturele lewe. 3

Laissez-faire-kapitalisme het in die jare dertig ten tyde van die Groot Depressie tot ’n einde gekom. Die Groot Depressie was ’n baie moeilike tyd in die wêreldgeskiedenis. Aandelemarkte het geval, banke het toegemaak en baie mense het al hul geld en/of werk verloor.

Dit was in daardie swaarkryjare wat mense besef het dat regerings hul mense moet help en ’n sekere rol in die ekonomie moet speel. Dit het regerings genoop om nuwe wetgewing in te stel wat hul burgers beskerm. ’n Voorbeeld hiervan is wetgewing wat werkers beskerm, soos om seker te maak hulle werk nie te lang ure nie en dat hul werkplek veilig is.

Baie lande het toe ook maatskaplike programme ingestel om hul burgers te help, soos diegene wat werkloos of bejaard is.

Nuwe vorms van kapitalisme

Die Koue Oorlog tussen Amerika en die Sowjetunie het in die vroeë jare negentig met die verbrokkeling van die Sowjetunie geëindig. Amerika was toe die enigste supermoondheid wat oorgebly het (dit het intussen weer verander) en dit is as ’n oorwinning van kapitalisme oor kommunisme gesien. 5

Ná die Koue Oorlog het baie ontwikkelende lande hul ekonomieë op Amerika se vryemarkstelsel gegrond. Die wêreldwye finansiële krisis wat in 2007 in Amerika begin het, het baie mense egter laat wonder of kapitalisme regtig werk en of die Amerikaanse ekonomie so stabiel is, as wat mense aanvanklik geglo het. Hulle het begin wonder of hulle nie ander vorms van kapitalisme moet instel nie.

Baie lande het met verskillende vorms van kapitalisme begin eksperimenteer. Sekere lande met groot en ontwikkelende markekonomieë, soos Brasilië, Rusland, Indië en China het staatskapitalisme aanvaar. Staatskapitalisme se doel is om die land se politieke mag uit te brei en terselfdertyd die ekonomie te laat groei. China beheer, byvoorbeeld, sekere bedrywe in hul land (soos telekommunikasie en olie en gas) terwyl sekere maatskappye wel deur privaat eienaars besit word. Mededinging tussen hierdie ondernemings word ook aangemoedig en dit laat China dan sekere voordele van kapitalisme ervaar, maar hulle het steeds streng beheer oor die ekonomie.

Kapitalisme is vandag steeds die wêreld se gewildste ekonomiese stelsel, maar geen land bedryf ’n suiwer vorm daarvan nie. 5

Lande skaaf en skuur maar aan hul stelsels totdat dit vir hulle werk en talle lande meng verskillende ekonomiese stelsels soos kapitalisme en sosialisme, waar die regering sekere ondernemings besit en dienste verskaf, terwyl mense ook ondernemings mag besit.

Klink dit bekend? Ja, Suid-Afrika het ook ’n gemengde stelsel waar die staat sekere ondernemings besit soos die Suid-Afrikaanse lugdiens en Eskom en dan kan mense ook hul eie ondernemings besit.

Kapitalisme is gegrond op beginsels  

  • Privaat eiendom: Dit laat mense toe om tasbare bates soos grond en huise nietasbare bates soos aandele te besit;
  • Selfbelang: Mense kan wins en rykdom nastreef sonder druk van buite;
  • Mededinging: Ondernemings het die vryheid om self markte te betree en hulle kan dan teen ander ondernemings meeding. Dit is goed vir die verbruiker en die vervaardiger, want die vervaardiger kry beter pryse en die verbruiker kan self kies watter produkte hulle wil koop;
  • Markmeganisme: Pryse word bepaal deur interaksies tussen kopers en verkopers. As produkte skaars is, word dit duurder en as daar volop voorraad is, dan word dit weer goedkoper;
  • Vryheid van keuse: Mense kan self besluit wat hulle wil koop en waar hulle wil belê. Werkers kan ook kies waar hulle wil werk;
  • Die regering het ’n beperkte rol: Hulle is daar om burgers se regte te beskerm en om ’n goeie omgewing te skep waarin markte kan funksioneer. Ons praat hier van ’n bemagtigde sake-omgewing. 4

Woordbank

feodalisme Feodalisme was die oorheersende maatskaplike stelsel van die Middeleeue in Europa waarvolgens leenhere grond aan mense in ruil vir dienste geleen het. 3
genereer Skep; maak 7
kapitalisme Dis is ’n ekonomiese stelsel waarin mense private besittings het en ondernemings besit waarvan hulle die wins vir hulself hou en waar min ondernemings aan die staat behoort. 1
mededinging Wanneer mense of ondernemings beter as hul teenstander wil doen. 1
merkantilisme Merkantilisme is ‘n ekonomiese beleid/stelsel waardeur ‘n nasie daarop gemik is om uitvoere te maksimeer en die invoere te minimaliseer. 8
ontwikkelende ekonomie ’n Land wat stadig ekonomies groei. 1
ontwikkelde ekonomie ’n Land met sterk ekonomiese groei. 1
produksie Die lewering of vervaardiging van ’n produk. 1
produktiwiteit Die hoeveelheid van produkte wat in ’n sekere tyd vervaardig word. 1
samelewing Mense in die algemeen, soos hulle in gemeenskappe saamleef, veral in gemeenskappe waarin hulle dieselfde gewoontes, wette, ensovoorts het. 1
skaars Net ’n beperkte hoeveelheid is beskikbaar. 1
verbruikers Iemand wat goedere of dienste vir persoonlike gebruik koop. 1
vervaardig In groot hoeveelhede maak. 1
vryemarkstelsel Dis ’n ekonomiese stelsel waar vraag en aanbod die prys van goedere en dienste bepaal. 1
welvarend Welgesteld/ryk 1
 werknemer Iemand wat vir ’n loon of ’n salaris werk. 1
werkloosheidsyfer Dit is die hoeveelheid mense wat nie werk het nie. 1
wins Geld wat jy oorhet in besigheid deur goed te verkoop nadat jy al jou kostes betaal het. 1

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die verskil tussen sosialisme, kapitalisme en kommunisme

Wat is kapitalisme?

Die voor- en nadele van kapitalisme

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Mei 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024