Vinnige feite

  • In 1896 het die NG gemeente Fordsburg van die NG gemeente Langlaagte afgestig (’n eie gemeente gevorm) met ds. Kriel as predikant. Hy het geld bymekaargemaak om ’n eenvoudige, maar netjiese kerk in Centrallaan te laat bou – die nuwe kerk is in Desember 1895 ingewy. 7
  • Die ongeveer 12 000 oorlogswesies van die Anglo-Boereoorlog het Kriel so diep geraak, dat hy sommer ’n klompie van hierdie kinders in die pastorie opgeneem en versorg het. 2
  • Maria Kloppers is op 1 Januarie 1868 in Ladismith gebore. Toe sy hoor dat daar ’n sending-/maatskaplike werker in Fordsburg benodig word, het sy van Robertson na Johannesburg vertrek. 7
  • Maria was ’n Bolandse maatskaplike werker van die Vrouesendingbond. Sy het Abraham Kriel van 1896 af bygestaan en was van die begin af betrokke by die kinderhuis. 2
  • Op ’n Woensdagmiddag, 19 Februarie 1896, het treinwaens vol dinamiet op die Fordsburgstasie ontplof en huise op Fordsburg, Vrededorp en Langlaagte is in puin gelê of erg beskadig. Van die stasie het net ’n gat van vier verdiepings diep oorgebly. Ds. Kriel het tydens die eerste begrafnisdag 127 mense begrawe. Die dag ná die eerste begrafnisse het ds. Kriel soos ’n kind in die studeerkamer van ds. JN Martins van Johannesburg gehuil. Die nuwe kerk op Fordsburg is ook byna heeltemal in die ontploffing vernietig. Ds. Kriel het op baie plekke in die land geld ingesamel om die kerk te herbou. Hy het dit reggekry en die kerk is later herbou – selfs groter as die oorspronklike een. 7
  • Maria Kloppers het in 56 jaar meer as 2 000 weggooibabas grootgemaak. Sy was ook die eerste vrou in Suid-Afrika wat ’n banklening aangegaan het en hierdie lening het sy gebruik om haar kinderhawe te laat bou. 7

Soms word daar ’n kind gebore sonder dat mense kan raai hoe ver daardie kind se invloed eendag gaan strek en hoeveel ander kinders se lewens hy gedurende sy eie lewe gaan aanraak. So ’n mens was Abraham Kriel – iemand wie se positiewe invloed baie lank ná sy dood steeds voortleef.

So begin sy lewe

Abraham Paul Kriel is op 1 Maart 1850 op die plaas Keerwater in die Franschhoekdistrik gebore. Hy was een van 13 kinders van sy ouers – Jacobus Petrus Kriel en Margaretha Louise Hugo. Sy pa was ’n wynboer en ook ’n parlementslid. Net soos twee van sy broers, het Abraham ook ’n predikant geword.

Hy was getroud met Christoffelina Cornelia Pietersen en hulle het twee seuns en ’n dogter gehad. 1

Ds. Kriel en sy gesin

Die saadjie vir liefdadigheidswerk word gesaai

Abraham Kriel het in Franschhoek en Stellenbosch skoolgegaan. Van 1877 af het hy aan die kweekskool in Stellenbosch gestudeer en aan die einde van 1880 is hy as predikant in die NG kerk gelegitimeer (as predikant aanvaar). Sy eerste gemeente was in Jansenville en vanaf Julie 1881 was hy predikant in die Dutoitspan-gemeente by Kimberley se diamantvelde.

Hy het hier baie aandag gegee aan sending- en liefdadigheidswerk onder arm mense. Hy het maatskaplike werkers onder toesig van die kerk aangestel en het ook ’n hotelgebou gekoop wat hy in ’n jeugtuiste omskep het. Om meer te wete te kom, onderneem hy ’n oorsese reis en besoek ’n hele paar kinderhuise in Brittanje asook ’n tuiste vir mense met epilepsie (ook bekend as vallende siekte) in Duitsland. 1

Langlaagte word sy tuiste

In Junie 1893 word hy die eerste predikant van die gemeente wat toe Witwatersrand-Wes genoem is en later Langlaagte sou word.

Hy stel twee maatskaplike werkers in Fordsburg aan en begin reeds vanaf 1894 met planne om wees– en hawelose kinders (kinders sonder ouers en/of huise) te versorg. Sy gemeente aanvaar in 1899 die verantwoordelikheid om vir twee dogtertjies te sorg en die ring van Potchefstroom (’n groep kerke in ’n sekere omgewing staan as ’n ‘ring’ bekend) gee die verantwoordelikheid van die versorging van weeskinders vir hom. 1

Weeskindertjies

Die oorlog onderbreek sy werk

Toe die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek (begin), het hy as prediker saam met die Boeremagte (die Boere se soldate) rondgetrek.

Hy was tot aan die einde van die oorlog saam met generaal Lucas Meyer in Natal, saam met generaal Christiaan Beyers in Noord-Transvaal en saam met kommandant Jan Naudé in Noordwes-Kaapland. 1

Forsburg se NG kerk beskadig in Braamfonteinse ontploffing, 1896

Die Langlaagte-kinderhuis

Toe die oorlog verby is, is die kerk wat hy in Witwatersand-Wes begin bou het, klaar. Daar is toe ook besluit om ’n kinderhuis in Langlaagte te bou vir die kinders wie se ouers in die oorlog dood is of wat in die konsentrasiekampe gesterf het.

Hierdie kinderhuis het op 4 September 1902 met sewe kinders begin. Voor die einde van 1902 was daar 92 kinders en toe die kinderhuis een jaar oud was, was daar reeds 245 kinders.

Daar is meer erwe en huise gekoop om die kinderhuis groter te maak. In 1907 is die hoeksteen vir ’n groot gebou vir meisies gelê (dit beteken dat die bouwerk aan die gebou begin het). In 1913 is twee plase vir die kinderhuis gekoop om dit verder te vergroot. Daar is ook begin om vir die kinders onderrig in verskillende vakke te gee. 1

Die kinderhuis het nie ’n vaste inkomste gehad nie, maar kon altyd voortgaan met die werk om die kinders te versorg.

Inwoners van die kinderhuis pryk op die voorblad van Huisgenoot ,1960

Ds. Kriel het die kinders van die begin af nie net in die gewone skoolvakke te laat onderrig nie, maar ook in ambagte soos steenwerk, kleremaak, skrynwerk (houtwerk) en loodgieterswerk. Kinders is op die kinderhuis se plase Moria, Hartbeestfontein en Vierling ook in boerdery opgelei. 2

Abraham se gesondheid was vanaf 1909 nie meer goed nie. Maar ten spyte daarvan het hy weer na die buiteland gereis om na kinderhuise in Brittanje en Nederland te gaan kyk en te sien hoe hulle dinge daar doen.

In Februarie 1918 het hy as predikant van Langlaagte afgetree, maar steeds direkteur van die kinderhuis gebly. 1

Abraham Kriel as mens

Ds. Abraham Kriel word deur mense wat hom geken het, beskryf as ’n man wat opreg, nederig en beginselvas was. Hy het ook uitstekende praktiese vernuf gehad. 1

Aan dr. William Nicol, wat van 1913 tot 1938 leraar van Johannesburg-Oos was, het ds. Kriel op ’n keer gesê: “Ek dank die Here dat ek gehoorsaam was, maar vol geloof was ek ongetwyfeld nie. Telkens as ek vir myself sê dat ek moet glo, word ek bang. Maar as ek sommer in gehoorsaamheid die oë toemaak en my opdragte aanpak, sorg die Here dat alles regkom.” 2

Kinderhuis se invloed strek ver

Abraham Kriel en die Langlaagte-kinderhuis se invloed het ver uitgebrei.

Ná die stigting van die Langlaagte-kinderhuis in 1902, het Maria Kloppers in 1908 ’n veilige tuiste geskep vir babas wat haweloos (sonder huise en versorging) gelaat is. 3 Dié kinderhuis se naam was Die Maria Kloppers Kinderhawe. 4

Ds. J.M. Louw van Boksburg en ds. A.P. Burger van Middelburg (in die destydse Transvaal, vandag Mpumalanga) het die voorbeeld van Langlaagte gevolg en in Oktober en November 1902 ook kinderhuise gestig. Die kinderhuis op Boksburg is in 1904 en die een op Middelburg in 1908 by die Langlaagte-kinderhuis ingelyf. 2

Maria Kloppers

In 1956 is ’n afdeling van die Langlaagte-kinderhuis in Potchefstroom gestig. Hierdie kinderhuis het naderhand onafhanklik van die oorspronklike kinderhuis begin funksioneer. 5

Die kerkraad van die NG gemeente in Nylstroom (vandag Modimolle) en die munisipaliteit van die dorp het besluit om ’n Abraham Kriel-kinderhuis in Nylstroom te begin. Die bouwerk het in 1958 begin en die eerste kinders is in 1959 in die kinderhuis opgeneem. 6

In 1979 het Jan Hofmeyr die Emdeni-kinderhuis in Soweto gestig.

In 1995 is die eerste satelliethuis van Abraham Kriel-kinderhuis in Linden, Johannesburg gestig. So ’n satelliethuis is ’n gewone huis in ’n woonbuurt wat steeds onder die beheer en beskerming van die kinderhuis funksioneer. Tussen 1998 en 2003 is nog ses sulke satelliethuise gestig. 5

In 2003 het die Johanna Malan Vroeëkinderontwikkeling-sentrum deel van die Abraham Kriel-groep geword om te voorkom dat dit sou moes sluit. In 2006 is daar begin om gespesialiseerde sorg vir getraumatiseerde kinders by die Langlaagte kampus te gee. 5

Hul dienste is vandag nie net huisvesting nie en sluit nou ook hierdie projekte in:

  • Emdeni Vaardigheidsentrum vir jeugdiges ouer as 18. 
  • Gemeenskapsorgprogram waardeur kinders sonder ouers en ander weerlose kinders versorg word waar hulle by familielede woon;
  • Die Johanna Malan Vroeëkinderontwikkeling-sentrum;
  • The Steinhoff Extended Family Programme for HIV/AIDS Infected and Affected Children. Hierdie program fokus op gesinne waar minderjariges aan die hoof van die huishouding staan; 7 en
  • In 2008 word die Impact School op die Langlaagte kampus ge-open. 8

In die eerste 100 jaar van die kinderhuis se bestaan, het 13 000 kinders hier versorging gekry. Baie het ál hul kinderjare daar deurgebring. Vir duisende kinders is hierdie die enigste huis wat hulle ooit geken het. 7

’n Monument vir Abraham Kriel

Die “pa” van soveel kinders is op 9 Junie 1928 in Natal oorlede. Hy was aan die einde van sy lewe heeltemal verlam. Ná sy dood is die naam van die Langlaagte-kinderhuis verander na Abraham Kriel-kinderhuis. Daar was toe 600 kinders in die kinderhuis. Hy sal bly voortleef in die kinderhuise wat steeds sy naam bly dra. 1

Abraham Kriel se grafsteen, Langlaagte

Woordbank

ambag ’n Ambag is ’n soort handwerk wat mens leer doen, soos byvoorbeeld ’n timmerman of ’n skoenmaker.
Boeremagte Die Boere se soldate.
dinamiet ’n Ontplofbare stof wat onder meer gebruik word om rotse mee stukkend te skiet.
getraumatiseerde ’n Getraumatiseerde mens is iemand wat deur ’n baie slegte ondervinding gegaan het, byvoorbeeld ’n ernstige ongeluk of ’n voorval van geweld.
hoeksteen Die eerste steen van ’n gebou wat gelê word; fondamentsteen, fondamentklip.
kweekskool Opleidingskool vir iemand wat ’n predikant wil word.
liefdadigheidswerk Om mense wat minderbevoorreg is, te help.
maatskaplik Hulpverlening en leiding aan gesinne in die gemeenskap wat ekonomiese/ geestelike/of ander probleme het.
ring Kring/liggaam waarin kerklike gemeentes verdeel word. 
sending Evangelisasiewerk, die Woord bedien.
vernuf Die vermoë om iets goed te kan doen.
wees ’n Ouerlose kind. 9

Lees meer oor Abraham Kriel

Video’s

Kyk na die Liggiefees by die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom.

Agtergrond oor die Abraham Kriel-kinderhuis.

Gepubliseer op: 19 Oktober 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024