Vinnige feite

  • Die eerste boere het ongeveer 1 700 jaar gelede in die huidige Suid-Afrika aangekom.
  • Beeste (en bokke) se horings is hol en kan gebruik word om iets in te stoor.
  • Diere waarmee boere vandag op plase boer, was eers wilde diere wat makgemaak moes word om met hulle te kon boer.
  • Beesmis is drooggemaak en gebruik om vuur mee te maak.
Foto: iStock

Boerdery het ongeveer 2 000 tot 4 000 jaar gelede in Noord-Afrika en Oos-Afrika begin. Dit was in die gebiede wat vandag as die Soedangebied, Kameroen en Nigerië bekendstaan. Hiervandaan het die boere na die ooste en suide beweeg. Die rede hiervoor is waarskynlik omdat hulle na nuwe landboustreke wou soek. 1 2

Die nageslag van hierdie boere het eers in Noord-Angola en Oos-Afrika begin boer. Daarna het hulle ongeveer 1 700 jaar gelede in die gebied kom woon wat vandag Suid-Afrika is. 1

In die gebiede met grasveld wat hulle hier gekry het, was daar genoeg weiding vir vee, goeie landbougrond en ook genoeg water vir boerdery. Die gesaaides wat hier geplant is, was, onder meer, sorghum, peulgewasse en pampoene. 1

Die hulp van argeologie

Omdat daar in hierdie vroeë tye geen geskiedenis neergeskryf is nie, moet al die navorsing deur middel van argeologie gedoen word. Dit wil sê, die terreine waar hierdie eerste boere gewoon en gewerk het, moet opgegrawe word om te beskryf hoe hulle geleef en wat hulle gedoen het. 1

Argeoloë het op baie van die Ystertydperk-woonterreine oorblyfsels van skelette van beeste, skape, bokke en pluimvee gekry. Hulle het ook oorblyfsels van gewasse soos graan en boontjies gekry. Hierdie oorblyfsels wys dat die mense wat daar gewoon het, hul lewe gemaak het uit bestaansboerdery. 2

Die eerste boere

Die eerste boere in Suid-Afrika was die nageslag van mense wat in Oos-Afrika gewoon het. Hulle het vanaf ongeveer die jaar 280 in Suidoos-Zimbabwe, naby die huidige Tzaneen, in die Nasionale Krugerwildtuin en in Swaziland en Mosambiek begin woon. In hierdie gebiede het argeoloë terreine gevind waar hulle bewyse van hierdie boere se bestaan gekry het. 1

Hierdie eerste boere het teen ongeveer die jaar 400 verder beweeg na die kusgebied van die huidige KwaZulu-Natal. 1

Daar was ook boere wat vanaf Wes-Afrika, deur Angola na Suid-Afrika beweeg het. Hulle het teen ongeveer die jaar 550 in Suid-Afrika begin woon en boer. Ook hier het argeoloë die inligting verskaf deur te kyk na die soort erdewerk wat die boere gebruik het. 1

Laat in die 8ste eeu het boere wat van hierdie eerste boere afgestam het, tot by die gebied waar Oos-Londen vandag is, beweeg. Dit is die mees suidelike deel van die Bosveld en val in die streek wat in die somer reën kry. 1

Boere het gewoonlik in vleie of langs riviere gaan woon. Op van hierdie terreine is daar bewyse gekry dat boere soms lank op een plek gebly het. In die streke met bosveldplantegroei, was daar genoeg hout om binne-in huise en/of vir nywerhede te gebruik. Hier was daar ook vir die hele jaar goeie weiding vir vee beskikbaar. 1

Gesaaides

Van die gesaaides wat mense hier verbou het, was, onder meer, sorghum asook biesie- en vingergras (ʼn besonder voedsame soort soetgras). In die gebied wat vandag KwaZulu-Natal is, is daar bewyse gevind van peulgroente, wilde spanspekke en pampoene. Gewilde gewasse was sorghum en manna (millet) – soortgelyk aan die saad wat jy vir budgies voer. Dit kon fyn gemaal word om pap of bier te maak. 3

Die boere het ook veldplante vir kos gebruik. Op baie van die terreine is daar verkoolde maroelasade gevind. 1 Boere van die vroeë Ystertydperk het hul lande geoes met behulp van ysterwerktuie. 4

Sorgum

Seekosse

Mense wat naby die kus gebly het, het in die vlak water en op die strande kos gekry. In die omgewing waar Durban vandag is, is daar oorblyfsels van skulpvis en seevisse op plekke so ver soos 25 km van die kus af gekry. Dit wys dat mense van daar af na die kus gegaan het om seekos te versamel. Daar is ook afvalhope langs die kus gekry met oorblyfsels van vuurmaakplekke, vuurklippe, keramiekstukke en skulpvis. 1

Vleis

Die eerste boere het vleis gekry van die diere waarmee hulle geboer het, soos beeste, skape en bokke. Hulle het waarskynlik ook hoenders geëet. Hulle het soms vleis gekry van wilde diere wat hulle gejag het, soos bokke asook groot soogdiere soos olifante en seekoeie. Hulle het ook die vleis van kleiner diere soos hase en ietermagogs geëet. 1

Waar die weiding nie goed was nie, het die bewoners meer dikwels gejag vir vleis. Dit het veral gebeur in die gebied waar die Nasionale Krugerwildtuin vandag is. 1

Nog maniere waarop beeste gebruik is

Beeste is nie net vir kos gebruik nie. Nee, hulle het ook op sosiale gebied ’n rol gespeel. Wanneer ’n man met ’n vrou wou trou, het hy vir haar familie ’n huweliksgeskenk gegee. Hierdie geskenk is lobola genoem en dit het hoofsaaklik uit beeste bestaan. Hoe meer beeste ’n man gehad het, hoe meer beeste kon hy as lobola vir die vrou se familie gegee. Die lobola-tradisie kom vandag nog in sekere kultuurgroepe voor. 5

Boere het nie alleen die vleis van beeste gebruik nie. Van die vel van die beeste is klere gemaak en die horings van die beeste is as houers gebruik (die horing van ’n bees is hol en mens kan dus iets daarin stoor).

Selfs die mis van beeste is gebruik, naamlik vir vuurmaak. Daar was twee maniere om dit te doen: Vroue kon die droë miskoeke in die veld optel, of hulle het die nat mis in die veld versamel en ovaalvormige vorms daarvan gemaak. Hierdie vorms is in die son uitgedroog, daarna op hope gepak en dan later gebruik om vuur mee te maak. Beesmis is ook gebruik deur dit met klei te meng om vloere en mure van huise ’n harde oppervlak te gee. Dié gebruik het later posgevat onder vroeë Europese setlaars. 6

Beeste was die ekwivalent van geld – dit is selfs gebruik om boetes mee te betaal. 3

Wonings van boerderygemeenskappe

Argeoloë se navorsing wys dat die manier waarop gemeenskappe ’n bestaan maak, beslis ’n invloed het op hoe hul woonplekke georganiseer word. Hulle het die patroon waarop woonplekke gebou en gegroepeer is, die Sentrale Vee-patroon genoem.  In die middel is daar veekrale en die vroue bly in huise wat rondom hierdie veekrale gebou word. 1

Daar was twee plekke waar graan gebêre is. Elke vrou het die graan vanaf haar eie lande in houers op haar eie werf gebêre. Die graan wat onder beheer van die hoof van die woonplek was, is in ’n gemeenskaplike plek in die sentrale gebied gebêre. 1

Hoewel mans ook in die huise geslaap het, was die huise eintlik die gebied van die vroue. Mans was hoofsaaklik in die sentrale gebied besig met vergaderings en werk waarmee hulle hulself besig gehou het. 1

Van waar was die diere waarmee geboer is?

Die diere waarmee die eerste boere geboer het, het oorspronklik vanaf Oos- en Noord-Afrika, die Nabye Ooste, Europa en Asië gekom.

Skape

Die skape waarmee uiteindelik geboer is (Ovis aries) kom vanaf ’n wilde voorouer uit Asië (Ovis orientalis). 2

Beeste

Die beeste se voorouers was die beeste van Eurasië (Bos taurus) en die beeste van Asië (Bos indicus). Die Bos Taurus is beeste met lang horings en hulle is in Noord-Afrika makgemaak. Die Bos indicus het ’n boggel en kort horings en is in die Nabye Ooste en die Indusvallei makgemaak. 2 7

Hoenders

Die hoenders (Gallus gallus) kom oorspronklik vanaf Indië en Suidoos-Asië. Van hier af het hulle versprei na Noord-, Wes- en Suider-Afrika. 2

Bokke

Hulle kom vanaf die Wes-Asiatiese bok (Capra aegagrus) en het vanaf Egipte na Suid-Afrika versprei. 2

Interessante feite oor die makmaak van diere om met hulle te kan boer

Mens moet onthou dat diere waarmee daar vandag oor die hele wêreld geboer word, eers wilde diere was wat makgemaak moes word om hulle uiteindelik vir boerdery te kon gebruik.

Wilde diere kan eintlik net makgemaak word as hulle maklik gevoer kan word, as hulle vinnig groei en as hulle kan aanteel (voortplant) terwyl hulle “gevange” gehou word. Die groot diere wat inheems in Europa en Asië voorkom, soos koeie, skape, bokke, perde en varke, is van die min groot wilde diere in die wêreld wat hierdie eienskappe het.

Meeste van die groot wilde diere in Afrika soos, onder meer, die buffel, renoster, seekoei en sebra, is vandag nog nie deur mense makgemaak nie. 4

Omdat groot groepe bevolkings in Afrika rondgetrek het, is dit moeilik om uit te vind presies hoe beeste in Afrika makgemaak is. Navorsers het aanvanklik gedink dat die beeste wat hier deur boere gebruik is, in die Nabye Ooste makgemaak is en dat die boere in Afrika hierdie metodes gebruik het. Maar nuwe navorsing deur argeoloë wys dat boere in Afrika self maniere uitgevind het om beeste mak te maak. 4

Woordbank

lobola Soort trougeskenk wat deur ’n man gegee word aan die familie van die vrou met wie hy gaan trou.
argeologie Die studie van ou beskawings. Navorsers gebruik hierdie wetenskap wanneer plekke waar mense honderde jare gelede gewoon het, opgegrawe word om te kyk hoe dié mense geleef en gewerk het.
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Februarie 2022 | Bygewerk op 13 November 2023