Vinnige feite

  • Die bekende lady Anne Barnard het saam met Macartney Kaap toe gekom in 1797. 2
  • Tydens De Mist en Janssens se bewind was daar alreeds planne om slawerny te begin afskaf. Slawerny is egter eers in 1834 in die Kaapkolonie afgeskaf.
  • Die distrik Uitenhage is vernoem na een van De Mist se voorvaders, Jan Uitenhage. 3
  • Caledon het met sy vader se afsterwe die titels baron, graaf en burggraaf geërf. 3
  • Janssens was geneig tot groot neerslagtigheid en het ʼn gebrek aan selfvertroue gehad. Daarom moes De Mist deurentyd ’n ogie oor hom hou, al was Janssens tegnies die goewerneur en dus De Mist se hoof. 3
Grafika: Jacques du Plessis

Tussen 1795 en 1814 het die Kaap drie keer van regeerders verander. Die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) se beheer oor die Kaap het in Junie 1795 geëindig toe ’n groot Britse mag in die Kaap geland het. Ná mislukte onderhandelings en ’n klein skermutseling (klein geveg) is die Kaap op 16 September 1795 amptelik aan die Britte oorhandig. 1 Die eerste Britse besetting het gehou tot in 1803, waarna die Kaap vir drie jaar aan die Nederlandse regering, die Bataafse Republiek, gegee is. In 1806 het die Britte weer die Kaap oorgeneem. Hierdie keer sou dit permanent wees.

Eerste Britse besetting, 1795-1803

Gedurende die eerste Britse besetting was die Britte tevrede om vrede te handhaaf en die status quo (die toestand waarin iets was voor ’n nuwe situatsie) te behou. Probleme, soos konflik op die Oosgrens, het egter onopgelos gebly. 1

1797-1798: George Macartney

George Macartney (1737-1806) was onder andere die goewerneur van Madras, en die Britse ambassadeur by die keiser (man wat oor ’n hele groep lande regeer) van China voor hy na die Kaap gekom het. 2

Macartney moes Britse beheer instel. Alle regeringsposte was egter deur Kapenaars of Nederlanders beklee en hy wou nie die Kaapse inwoners vervreem nie. Hy het dus hier en daar hoë poste aan Britse amptenare gegee, maar meeste Kapenaars en Nederlanders is in hul poste gelaat, en hy het hulle gesteun. Hy het pogings aangewend om die staatsdiens (al die departemente wat die administrasie van ’n staat behartig) op te knap en die ekonomie te laat herstel. Die eerste poskantoor is gestig. Hy het ook probeer om wrywing op die Oosgrens te verminder deur meer duidelike grense te laat optrek, maar dit het nie ’n impak gehad nie. 2

Swak gesondheid het Macartney genoodsaak om in 1798 na Engeland terug te keer. 2

Macartney was by tye outokraties (het met onbeperkte gesag regeer) en wou graag alle gesag in sy eie hande hou. Hy was egter vriendelik en die Kapenaars het oor die algemeen van hom gehou. In ’n baie moeilike tyd het hy goed wet en orde gehandhaaf. Hy het net 18 maande geregeer, maar het hom besonder goed van sy taak gekwyt. 2

George Macartney

1798-1803: George Yonge (goewerneur) en Francis Dundas (waarnemende goewerneur)

Ná Macartney teruggekeer het Engeland toe, het Francis Dundas, die opperbevelvoerder van die leërmag, in November 1798 waarnemende goewerneur geword. 2 Die nuwe goewerneur, George Yonge (1859-1910) het in Desember 1799 in die Kaap geland. 2 Yonge was voorheen ’n lid van die Britse parlement (die liggaam in ’n land wat wette maak). 3

George Yonge

Yonge het swak besluite geneem en daar was baie klagtes teen hom. 4 Hy is in April 1801 ontslaan weens swak bestuur en korrupsie (as iemand met mag oneerlik optree) en is terug Engeland toe. Dundas het weer die waarnemende goewerneur geword, dié keer tot in 1803. 2

In hierdie tyd is die eerste drukpers (masjien wat gebruik word om afdrukke te maak) en die eerste teater in die Kaap opgerig, asook ’n departement vir landbou en die amp (openbare werk wat iemand doen) van wynproewer. 4

Francis Dundas

Botsings tussen die trekboere, die Khoi-Khoi en die Xhosas het voortgeduur. Veral die koloniste op die Oosgrens was uiters ontevrede met die regering en dit het gelei tot onluste in Graaff-Reinet. Dundas het in 1799 self na die grens gereis, waar hy ’n skikking (oplossing waar beide kante toe gee) bereik het wat dinge tydelik gekalmeer het. 2

Toe die Kaap in 1803 aan die Bataafse Republiek teruggegee is, moes Dundas, ten spyte van die onveilige toestande aan die Grens, die Britse troepe onttrek. Die binneland is onder die beskerming van plaaslike kommando’s gelaat, wat nie sterk genoeg was om die grense te beskerm nie. 2

Dundas se laaste proklamasie het die Kapenaars van hul eed van getrouheid aan die Britse koning onthef. Hy is kort daarna terug Engeland toe. 2

Bataafse Republiek

In 1803 het gebeure in Europa veroorsaak dat ’n nuwe regering in Nederland, die Bataafse Republiek, beheer oor die Kaap teruggekry het. Hulle het begin om orde te skep, maar dit was van korte duur. Oorlog in Europa het weer uitgebreek, en in 1806 het die Britte weer die Kaap kom beset. 5

1803-1806: Jacob Abraham de Mist en Jan-Willem Janssens

Tussen 1803 en 1806 was die Kaap bestuur deur Jacob de Mist (1749-1823), die kommissaris-generaal, en J.W. Janssens (1762-1838), die militêre goewerneur. Hulle moes die Kaapse regering in orde bring. Oorlog in Europa het in Mei 1803 weer uitgebreek en daar was deurentyd vrees vir Britse verowering. 3

Janssens was amptelik die goewerneur en opperbevelhebber van die Kaap, alhoewel De Mist al die administrasie hanteer het. Hulle het goed saamgewerk. 2 De Mist het alreeds in Desember 1802 begin werk, al is hy eers op 1 Maart 1803 amptelik aangestel. Janssens het ’n toer deur die binneland onderneem en De Mist het dus vir die eerste paar maande alleen regeer. 3

Jacob Abraham de Mist

Tydens sy ekspedisie (ondersoekingstog) het Janssens onder meer die verwoesting wat die Derde Grensoorlog gesaai het, gesien. Hy het vrede probeer bewerkstelling tussen die Kolonie en die Xhosa stamhoofde Ndlambe en Ngqika, maar dit was nie baie suksesvol nie. Sy poging om die Visrivier as grens te probeer vasstel, was ook ’n mislukking. 2

De Mist het die Kaap goed regeer. Hy het kommunikasie verbeter deur die posdiens op te knap. 1 Hy het ’n nuwe Politieke Raad (die raad wat moes regeer) ingestel, en skole en kerke laat bou. Hy het die beleid tussen die wit gemeenskappe, swart gemeenskappe en Khoi-Khoi duideliker uitgelê. 3 Burgerlike huwelike (met ander woorde huwelike wat nie in die kerk voltrek is nie) is toegelaat en meer amptenare kon mense in die huwelik bevestig. Die Kerkorde van 1804 het gelyke geloofsbeskerming aan Christene en Moslems gegee. Hy het onderwys onder die regering geplaas, sodat alle burgers gelyke geleenthede kon hê. 1

De Mist wou regeringsbestuur vergemaklik deur meer distrikte te skep. Daarom het hy Uitenhage uit ’n deel van Graaff-Reinet gevorm en Tulbagh uit ’n deel van Stellenbosch. 3 Veldkornette (amptenare wat take vervul soos administrasie en polisiediens) is uit die plaaslike inwoners aangestel. 1

De Mist het die regbank onafhanklik (vry) van die regering gemaak en mense kon nou appelleer (versoek dat ’n hoër hof weer oor ’n uitspraak moet besluit) na die hof in Nederland. Regeringsamptenare moes opgelei wees voor hulle poste mag aanvaar het. Hy het stappe gedoen om landbouproduksie op te stoot en die geleidelike afskaffing van slawerny is in die vooruitsig gestel. 1 [Lees hier oor slawerny in Suid-Afrika.]

De Mist het in September 1804 sy amp neergelê en teruggekeer Nederland toe. 3

Toe oorlog weer in Europa uitgebreek het, het Janssens na Kaapstad teruggekeer. Hy het die verdediging probeer opknap, 2 maar die Britse aanvalsmag wat in Januarie 1806 geland het, was té groot. Hy het besluit dat weerstand nutteloos was, en die Kaap ná min teenkanting aan die Britte oorgegee. 1

Janssens het die Kaap op 6 Maart verlaat en teruggekeer Nederland toe. 2

Jan-Willem Janssens

De Mist en Janssens het hulle goed van hul taak gekwyt. Hulle het dit reggekry om die vertroue van die inwoners te wen, en hul maatreëls (handelinge wat mense neem om sake reg te laat verloop) was realisties. 1

Tweede Britse besetting

In 1803 het oorlog tussen Brittanje en Frankryk weer uitgebreek. Die Franse vloot is in 1805 deur die Britte verpletter in die Slag van Trafalgar. Die Britte was nou die heersers van die see en kon sonder teenstand die Kaap beset. 6

Slag van Trafalgar

Die besetting was vir die Britte maklik. Om die lojaliteit (toestand van getrou aan iemand of iets te wees) van die inwoners te wen, sou heelwat moeiliker wees. 7

Tussen 1806 en 1814 het Brittanje die Kaap besit, maar nie as amptelike kolonie nie. Boonop was Brittanje in ’n oorlog gewikkel met Napoleon Bonaparte se Frankryk, en dit het al hul aandag geverg. Die Kaapse goewerneurs moes soms tot ses maande wag vir antwoorde op vrae of versoeke. Brittanje het ook nie eintlik geld gehad om aan die Kaap te spandeer nie. 5 Brittanje het eers ná 1814 die Kaap as normale kolonie begin regeer.

Napoleon Bonaparte

1806-1807: David Baird (waarnemend)

David Baird (1757-1829) was die Britse generaal wat die Kaap beset het. Hy het daarna as waarnemende bevelvoerder opgetree tot sy plaasvervanger uit Engeland kon kom. 3

Baird moes die Kaap teen moontlike Franse besetting beveilig, die Kaap ordelik bestuur en die Kapenaars positief oor Britse bestuur maak. 7

Baird het slegs enkele noodsaaklike veranderinge aangebring. Die meeste plaaslike amptenare is in hul poste gelaat. Die Kaap het gesukkel omdat daar as gevolg van die oorlog in Europa tekorte was in baie produkte. 3 Om voedseltekorte teen te werk het hy kos ingevoer. Hy het De Mist se burgerlike huwelikswet afgeskaf. Hy het die doeaneheffing (belasting op in- en uitvoergoedere) op Britse goedere verslap en binnelandse posdienste verbeter. Hy het ook plaaslike landbouontwikkeling voorgestaan. 7

In 1806 is Baird summier ontslaan (onmiddelik beveel om sy pos te verlaat) ná hy ’n militêre flater (fout) begaan het. Hy het na Brittanje teruggekeer toe sy plaasvervanger in die Kaap aangekom het. 3

Baird se reëlings het hom oor die algemeen gewild onder die Kapenaars gemaak. 7

David Baird

1807-1811: Du Pré Alexander, graaf van Caledon

Henry Grey was die militêre bevelvoerder in Kaapstad en het by Baird oorgeneem. Hy het die mediese beroep opgeknap deur lisensies uit te reik om seker te maak dat almal gekwalifiseerd was (die dokumente gehad het wat jou bevoegdheid bewys). Toe die nuwe goewerneur daar aankom, het hy weer die pos as militêre bevelvoerder opgeneem. Hy het in die Kaap gebly tot in 1811 voor hy na Engeland teruggekeer het. 2

Die Graaf van Caledon (1777-1839) het op 29-jarige ouderdom goewerneur geword. 3 Hy het die Britte se versoeningsbeleid (om ’n vyandskap tot ’n einde te bring) met die Kapenaars voortgesit. 7 As gevolg van die oorlog in Europa is hy verbied om groot veranderings aan te bring. Sy werk is ook moeiliker gemaak omdat daar ’n voortdurende gebrek aan geld was. 3

Graaf van Caledon

In 1811 het Caledon ’n rondgaande hof vir die buitedistrikte ingestel, wat die regspraak verbeter het. 7 Hy het distrikte wat té groot was, geherorganiseer, soos deur die distrik George uit Swellendam te skep. 3 Hy het Kapenaars wat die Britte goedgesind was, in sleutelposisies aangestel, soos as regter en staatsaanklaer. Die oprigting van talle nuwe regeringsgeboue en die aanstel van meertalige landdroste (iemand wat in ’n plaaslike hof as regter werk en uitsprake oor minder ernstige misdade en regsake gee) het dit vir inwoners makliker gemaak om toegang tot die regering te hê. 7

Die kerk is ondergeskik gestel (in ’n minder belangrike posisie) aan die Kaapse regering. Hy het wel onderwys verwaarloos. Deur die banke op te knap, het Caledon egter die Kaap op ekonomiese gebied gesonder agtergelaat as wat hy dit gekry het. 3

Hy het probeer om die Kaap en die San te versoen. Een van sy verreikendste aksies was die sogenaamde Hottentot-proklamasie van 1809. Dit het die Khoi-Khoi onder beheer van die Kaapse regering geplaas, eerder as onder beheer van hul hoofmanne. 3 Omdat hulle nou amptelik Kaapse burgers was, was hulle onder beheer van die kolonie se howe, hulle moes ’n vaste woonplek hê en ook amptelike dienskontrakte met hul werkgewers onderteken. 7

Caledon se Oosgrensbeleid was ’n mislukking omdat hy nie beslissend genoeg opgetree het nie. Hy wou oorlog met die Xhosas vermy terwyl Brittanje in Europa in ’n oorlog gewikkel was. Daarom het hy nie Britse troepe gestuur om die Oosgrensboere teen die Xhosas te ondersteun nie. Dit het die grensboere bitterlik ontevrede gemaak. 3

Caledon het met die militêre bevelvoerder, generaal Henry Grey, vasgesit omdat Grey nie wou gehad het dat Caledon met militêre sake moes inmeng nie. Om hierdie probleem op te los, was al Caledon se opvolgers generaals, wat beide administratiewe sake en militêre sake beheer het. 7

Caledon was gewild onder die Kapenaars. Hy was egter die goewerneur in ’n moeilike tydperk en sy grensbeleid was baie swak. Dit het sy reputasie op die ou end beskadig. 3

1811-1814: John Cradock

Sir John Francis Cradock (1762-1839) het in diens van die Britse weermag wêreldwyd diens gedoen, onder meer in Ierland, Portugal, Indië en die Wes-Indiese eilande. 3

John Francis Cradock

Sy eerste taak was om die konflik op die Oosgrens op te los. In Desember 1811 het hy ’n gesamentlike aanval met Britse troepe en burgerlike kommando’s op die Xhosas gereël. Dit was die begin van die Vierde Grensoorlog, wat in die kolonie se guns geëindig het. 7 Daarna is ’n reeks forte opgerig om die vrede te bewaar en vir ’n paar jaar was daar rus en vrede op die Oosgrens. 3

In Cradock se regeringstyd het hy ’n ondersoek van stapel gestuur wat bekend gestaan het as die Swart Ommegang. Sendelinge het aantygings van mishandeling, moord en geweld deur trekboere op Khoi-Khoi gemaak en ’n rondgaande hof moes dit ondersoek. Geen moordklagtes is bewys nie, en slegs enkele mense is beboet. Dit het die verhouding tussen die Britse owerheid, die sendelinge, die burgers en die Khoi-Khoi egter ernstige skade gedoen. 7

Cradock het in 1812 ’n proklamasie laat uitvaardig wat Khoi-Khoi-kinders by burgers ingeboek het (om ’n jong persoon vir ’n bepaalde tyd as iemand se werker aan te stel). 7

Hy het die leningsplaasstelsel (plase wat aan die regering behoort en deur mense geleen word) na een van ewigdurende pag (huur) verander, wat basies beteken het dat boere nou hul plase permanent besit het. Dit was ’n groot mylpaal (belangrike gebeurtenis) in die ontwikkeling van die kolonie. Die Boere was nie almal gelukkig hieroor nie, maar op die lang duur was dit ’n goeie beleid, omdat dit vir die burgers sekerheid gegee het oor wie die grond sou erf. 7 Cradock het ’n reis deur die binneland onderneem, waarna hy ’n goeie indruk van die grensboere gekry het. Daarna het hy die grensboere teen die swart stamme verdedig. 3

Cradock het onderwys vir wit mense en bruin mense verbeter deur gratis skole te stig. 7 Hy het ook nuwe drosdye (die ampsgebied van ’n landdros) gestig en die administrasie opgeknap. 3

Cradock het op 1814 op eie versoek na Brittanje teruggekeer. Hy is daar tot generaal bevorder en het die titel “lord” ontvang. 3

Cradock was ’n regskape (eerlik en opreg) man, ’n knap militêre aanvoerder, en het oor die algemeen ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika gespeel. 4

Slot

Tydens die Tweede Britse besetting het die owerheid daarin geslaag om ʼn stabiele verhouding met die verskillende bewoners van die Kolonie op te bou. 7

Nederland het in 1814 volgens die Londense Konvensie die Kaap amptelik aan die Brittanje oorgegee. Napoleon is finaal in 1815 verslaan. Daarna het die Britte meer aandag aan die Kaap gegee en kon hulle ’n sterker en meer effektiewe kolonie bou. 6

Woordbank

amp Openbare werk wat iemand doen.
appelleer ’n Versoek dat ’n hoër hof weer oor ’n uitspraak moet besluit.
doeane Belasting op in- en uitvoergoedere.
drosdye Ampsgebied van ’n landdros.
drukpers Masjien wat gebruik is om afdrukke te maak, soos koerante.
ekspedisie Ondersoekingstog.
flater Fout.
inboekeling Jong swart persoon wat vroeër vir ’n bepaalde tydperk as arbeider in diens geneem is.
keiser ’n Man (hoër as ’n koning) wat oor ’n hele groep lande regeer.
korrupsie Oneerlike optrede, veral deur iemand met mag.
gekwalifiseerd Die bevoegdheid om iets te kan doen, asook die dokument wat bewys dat jy ’n bepaalde kursus voltooi en ’n eksamen in ’n betrokke vak geslaag het.
landdroste Iemand, gewoonlik ’n regsgeleerde (prokureur/advokaat), wat in ’n plaaslike hof as regter werk en uitspraak oor minder ernstige misdade en regsake gee.
leningsplaasstelsel Plaas wat aan die regering behoort en aan iemand geleen word.
lojaliteit Toestand van getrou aan iemand of iets wees.
maatreël ’n (Amptelike) handeling waardeur mense probeer om sake reg te laat verloop.
mylpaal Belangrike gebeurtenis in ’n mens se lewe.
onafhanklik Nie onderworpe/onderhorig/onderdanig nie; vry; selfstandig.
ondergeskik In ’n minder belangrike posisie as iemand anders.
ontslaan Iemand toelaat om ’n plek te verlaat.
outokraties Iemand wat ’n land met absolute en onbeperkte gesag regeer.
pag Huur, veral van grond.
parlement Liggaam in ’n land wat wette maak.
regskape Eerlik; opreg; deugsaam.
skermutseling ’n Klein, onbeslissende geveg.
skikking Oplos deur van albei kante toe te gee.
staatsdiens Die gesamentlike departemente wat die administrasie van ’n staat behartig.
status quo Toestand waarin iets verkeer (of op ’n bepaalde tyd verkeer het) voor die ontstaan van ’n nuwe situasie.
summier Onmiddelik of dadelik.
veldkornette Amptenaar in die bestuur van plaaslike sake wat in militêre, administratiewe, regterlike en polisieaangeleenthede belangrike funksies vervul het, ondergeskik aan ’n landdros.
versoening Om ’n vyandskap tot ’n einde te bring. 8

Lees hierdie artikels om nog meer uit te vind oor Kaapse goewerneurs van 1795 tot 1814

Kyk hierdie video’s oor die Kaapse goewerneurs van 1795 tot 1814

Die Kaap onder Britse bestuur

Die kolonisering van Suid-Afrika

Die ontwikkeling van Kaapstad – 1800’s en 1817!

Grafika: Jacques du PlessisFoto: iStockGrafika: Jacques du PlessisFoto: iStockGrafika: Jacques du PlessisFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023