Vinnige feite

Uitsig oor die dorpie Hankey in die Oos-Kaap, Suid-Afrika
  • Die dorp Philippolis in die Vrystaat is na dr. John Philip genoem.
  • Philip is in Hankey begrawe in ’n begraafplaas wat oorspronklik vir mense van kleur gereserveer is.
  • ’n Kaapse dramaturg met die naam Charles Etienne Boniface het in 1832 ’n drama geskryf waarin hy dr. Philip skerp gekritiseer het. Die drama se naam was De nieuwe ridderorde of De Temperantisten.

Dr. John Philip (1775-1851) is ’n kontroversiële (waaroor mense baie sterk en uiteenlopende menings het) figuur in Suid-Afrika se geskiedenis. As ’n mens begin nalees oor die redes vir die Groot Trek van 1838, sien ’n mens baie keer sy naam.

John Philip het hom beywer (hard gewerk) vir die regte van slawe en die inheemse (wat oorspronklik in ’n gebied voorkom) volke wat in en rondom die destydse Kaapkolonie gewoon het. Die boere aan die Oosgrens, wat deesdae die Oos-Kaap is, het dikwels met hierdie volke slaags geraak (in skermutselings betrokke geraak). Hulle het Philip se werk as ondermynend (wat ’n mens se werk doelbewus benadeel) en vyandig ervaar.

Om regtig te verstaan hoekom daar soveel verskillende menings oor John Philip se werk in Suid-Afrika is, moet ’n mens albei kante van die saak ondersoek.

Gravure (1844) van die 1836 parlementêre afvaardiging van Suid-Afrika, gelei deur John Philip.

John Philip se sendingwerk

Dr. John Philip was ʼn Skot wat van jongs af die regte van onderdrukte mense beskerm het. 1

Hy het sy loopbaan in die kerk begin as ’n predikant in Aberdeen in Skotland. Hy was baie gewild en het gereeld in ander gemeentes ook gepreek. Hy was ook ’n groot aanhanger (bewonderaar en volgeling) van William Wilberforce, die Brit wie se harde werk daartoe gelei het dat die slawehandel in 1807 oral in die Britse Ryk afgeskaf is. Dr. Philip het selfs een van sy seuns Wilberforce genoem. 2

William Wilberforce

In 1818 het die Londense Sendinggenootskap (LSG; in Engels London Missionary Society) hom en nog ’n sendeling, dominee John Campbell, gevra om na die Kaapkolonie te gaan. Die twee predikante moes gaan kyk hoekom dit nie goed gaan met die LSG se sendingstasies nie. 3 Die Britse koloniale regering het selfs gedreig om die sendingstasies te sluit! 4 Die LSG wou weet wat die probleem was, maar kon nie uit Londen agterkom wat aangaan nie.

John Campbell

Dr. Philip het dadelik nadat hy in Suid-Afrika aangekom het, sendingstasies begin besoek. Sendingstasies is gemeentes wat deur sendelinge gestig is waar die inheemse bevolking kerk toe kon gaan. Dit het beteken dr. Philip het gesien hoe die inheemse volke leef en hoe hulle deur mense in magsposisies, dit wil sê die Britse regering en die wit boere, behandel is.

Die manier waarop die Khoi-Khoin (die inheemse bevolking in die Kaap) en die Kleurlinge (’n ou woord waarmee daar in daardie tyd na mense van gemengde ras verwys is) behandel is, was nie vir hom reg nie. Hy het onder andere gesê dat hierdie mense doelbewus (aspris) arm gehou word sodat hulle goedkoop arbeid (werkers wat nie baie geld verdien nie) vir die rykes en vir wit boere kan wees. 2

In 1820 het hy die superintendent (hoof) geword van die LSG in die Kaapkolonie. 5 In 1823 het hy met ’n veldtog begin om die inheemse inwoners van die Kaapkolonie se burgerregte erken te kry. 4

Hy is in 1826 terug Brittanje toe waar hy hierdie veldtog voortgesit het. Daar het hy ’n boek geskryf, Researches in South Africa (vertaling: Navorsing in Suid-Afrika), wat in 1828 gepubliseer is en baie aandag getrek het. 5

Stigtingsvergadering van die Kerk Sendinggenootskap, Aldersgatestraat in Londen op 12 April 1799

Deur slim politieke skuiwe in die Britse parlement en in die Kaapkolonie het hy dit reggekry om vir almal in die Kaap gelyke regte te beding (onderhandel). Ordonnansie 50 is in 1828 in die Kaap deurgevoer, wat aan die Khoi-Khoin en Kleurlinge dieselfde regte as al die ander inwoners van die Kaapkolonie gegee het. Hulle sou van toe af die reg hê om grond in die Kaapkolonie te besit en om nie gedwonge arbeid te verrig nie. 6

Omdat hy die hoof van die LSG was, het hy wyd gereis en kontak gemaak met sendelinge oral in Suidelike Afrika, selfs so ver as Betsjoeanaland (’n Britse protektoraat wat geleë was in die huidige Noord-Kaap en Botswana). Daar het hy in aanraking gekom met die Griekwas in die huidige Noord-Kaap. Die Britse regering in die Kaapkolonie het hom ook gevra om die Britse setlaars te help nadat hul oeste misluk het, en deur hierdie werk het hy ook die Xhosas aan die leer ken.

Betsjoeana-gemeente

Vir die inheemse volke wat buite die Kaapkolonie se grense gewoon het – soos die Griekwas, die Xhosas en die Sotho’s – wou hy outonome (onafhanklike en selfregerende) state hê. Hy het geglo dat daar sendingwerk onder hierdie volke gedoen moet word en dat die Kaapkolonie met hulle moes handel dryf, maar hy het ook geglo dat hierdie volke hul eie identiteit moet behou. Hy wou spesifiek nie gehad het dat wit setlaars enige grondgebied van hierdie swart volke moet beset nie, want dit sou hul kultuur verander. Dit is hoekom hy so sterk gekant was teen die Groot Trek. 2

Vroeë oosgrensoorloë

Ons weet vandag dat dr. John Philip se ideale vir die streek nie verwesenlik is (’n werklikheid geword het) nie. Die Groot Trek het plaasgevind, die Boere het republieke in die binneland gevestig en die Britse regering het die hele Suid-Afrika gekoloniseer. Ná Uniewording in 1910 is die regte en vryhede wat hy vir die gekleurde gemeenskap in die Kaapkolonie beding het, een vir een afgeskaf.

Die geskiedenis uit die Boere se oogpunt

Die afstammelinge van die Nederlandse setlaars was hoofsaaklik boere. Hierdie wit inwoners van Afrika, of Afrikaners soos wat hulle hulself toe al genoem het, het weggetrek uit die Kaap waar die Britse koloniale regering hulle kon dophou en met hul boerderye kon inmeng. Hulle het aan die Oosgrens gaan boer waar hulle genoeg ruimte gehad het om hul vee aan te hou. In geskiedenisboeke word daar na hierdie setlaars as grensboere verwys.

Hoe langer die grensboere daar gewoon het en hoe groter hul boerderye geword het, hoe meer skermutselings was daar tussen die grensboere en die swart inwoners van die gebied anderkant die grens – die Xhosas. Die grensboere het gesê die Xhosas steel hul vee, maar John Philip het in Brittanje voor die Britse regering gaan getuig dat die grensboere en die Britse setlaars eintlik die oorsaak van die onmin (bakleiery) was. 7

Een van die maniere waarop die grensboere hul plase teen plundery (grootskaalse diefstal) beskerm het, was met kommando’s. Die kommandostelsel het bestaan uit groepe gewapende boere wat saam die gebied gepatrolleer het. In 1830 het dr. Philip ’n veldtog van stapel gestuur om die kommandostelsel afgeskaf te kry. Hy het dit ook reggekry om die Britse regering te oortuig dat dit onnodige bloedvergieting (sterftes) tot gevolg gehad het. In plaas van sulke gewapende optredes, het hy die Kaapse regering oortuig om ’n stelsel van onderhandelinge en ooreenkomste met die swart stamme te implementeer (begin gebruik).

In 1833 het die grensboere nog ’n groot verlies gely, ook as gevolg van dr. Philip, het hulle geglo. Dit was die jaar waarin slawerny dwarsdeur die Britse Ryk afgeskaf is. Die inwoners van die Kaapkolonie het tot 1 Desember 1834 gehad om hul slawe vry te stel. Dit het beteken dat die boere binne ’n jaar geen arbeiders op hul plase gehad het nie. Dit was nie vir hulle moontlik om hul boerdery voort te sit sonder werkers nie, en hulle het dr. Philip en sy veldtogte vir hierdie situasie kwalik geneem.

Ná die Grensoorlog van 1834-1836 is dr. Philip Londen toe waar hy voor die Britse parlement getuig het dat die wit setlaars die rede vir die oorlog was. Die wit grensboere het hom bitterlik daarvoor verkwalik. Kort daarna het hulle verkenners uitgestuur om te gaan kyk of hulle in ander dele van Suid-Afrika sou kon boer waar die Britse regering en dr. Philip nie verder met hul boerdery kon inmeng nie. In 1838 het hulle hul waens gepak en die Groot Trek na die binneland onderneem. 7

Tregardt verder teen Drakensberg af, 1837

Die uiteinde

Dr. Philip se latere lewe was nie maklik nie. In 1845 het sy seun en kleinseun verdrink toe hul boot by Hankey in die Oos-Kaap omgeslaan het. In 1847 is eers sy geliefde vrou, Jane, dood en ’n paar maande later is een van sy kleindogters in ’n ongeluk oorlede. Hy het ook begin voel dat die LSG nie meer sy oordeel vertrou nie, en dat die nuwe geslag sendelinge nie meer geglo het alle mense is gelykwaardig (met dieselfde waarde) nie.

In 1850 het hy op Hankey afgetree en in 1851 is hy oorlede.

Soos met enige situasie in die geskiedenis waarna ’n mens vandag kyk, is die storie van dr. John Philip se werk in Suid-Afrika nie eenvoudig (maklik om te verstaan) nie. Uit die Boere se oogpunt was hy ’n moeilikheidmaker. Uit die oogpunt van ’n sendeling wat geglo het dat almal gelyk is in die oë van God, was hy ’n filantroop (iemand wat ander mense se regte en menswaardigheid beskerm).

As dr. John Philip se verhaal ons een ding leer, is dit dat dit baie moeilik is om objektief (sonder om ’n persoonlike mening aan iets te heg) na gebeure in die geskiedenis te kyk. As ’n mens enigiets oor die geskiedenis lees, moet jy altyd ook vra uit wie se oogpunt die verhaal vertel word, want dit kan dalk ons begrip (dit wat ons verstaan) van mense en gebeure uit die verlede beïnvloed.

Woordbank

aanhanger Bewonderaar en volgeling.
beding Oor iets onderhandel.
begrip Dit wat ons verstaan.
beywer Hard werk.
bloedvergieting Sterftes; bloed wat vloei as gevolg van oorlog.
destydse Soos dit toe was.
doelbewus Aspris; met die bedoeling om dit so te doen.
eenvoudig Maklik om te verstaan.
filantroop Iemand wat ander mense se regte en menswaardigheid beskerm.
gedwonge Wat gedwing word.
gelykwaardig Met dieselfde waarde.
goedkoop arbeid Werkers wat nie baie geld verdien nie en dit vir die eienaar van die besigheid moontlik maak om baie vinniger ryk te word.
implementeer Begin gebruik.
in aanraking gekom Te doen gekry.
inheemse Wat oorspronklik in ’n gebied voorkom.
Khoi-Khoin Die bevolkingsgroep wat inheems aan die Kaap was voordat ander setlaars hier aangekom het. Een lid van die bevolkingsgroep is ’n Khoi-Khoi en die taal wat hulle praat, is Khoi.
Kleurlinge ’n Ou woord waarmee daar in die Kaapkolonie na mense van gemengde ras verwys is. Hierdie bevolkingsgroep was meestal afstammelinge van huwelike tussen die wit setlaars en die slawe uit Afrika of Maleisië. Vandag word daar na hulle as bruin mense verwys.
kontroversiële Waaroor mense baie sterk en uiteenlopende menings het; wat kontroversie of meningsverskille veroorsaak.
ondermynend Wat ’n mens se werk doelbewus benadeel.
onmin Bakleiery.
openbare mening Gewone mense se opvattings.
objektief Sonder om ’n persoonlike mening aan iets te heg.
outonome Onafhanklik en selfregerend.
plundery Grootskaalse diefstal.
sendeling ’n Predikant wat die Christelike geloof aan ongelowige mense of mense van ander gelowe verkondig.
slaags geraak In ’n bakleiery, skermutseling of oorlog betrokke geraak.
superintendent Hoof.
verkwalik Kwalik geneem.
verwesenlik ’n Werklikheid geword het.

Lees meer hier

  • Die outeur Tim Keegan het ’n biografie oor dr. Philip geskryf met die titel Dr Philip’s Empire: One Man’s Struggle for Justice in Nineteenth-Century South Africa. Dit is op Amazon as ’n e-publikasie beskikbaar.
  • Die boek The Rôle of the Missionaries in Conquest deur Nosipho Majeke interpreteer sendingwerk in Afrika anders as wat dit gewoonlik beskou word. Een hoofstuk is gewy aan die werk van dr. Philip. Die hele boek is hier beskikbaar.

Kyk ook hier

Vroeë sendelinge in Suid-Afrika

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 April 2023 | Bygewerk op 22 November 2023