Vinnige feite
- Die blouwalvis, ’n soogdier wat tot 200 ton kan weeg, is die grootste lewende dier. Ander groot diere sluit in die Afrika-olifant, die Komodo-draak en die enorme inkvis. 7
- Het jy geweet dat, in teenstelling met ander spesies, die spinnekopaap (Ateles) sy stert soos ’n vyfde hand kan gebruik? Hoewel baie soorte ape lang sterte het wat hulle gebruik om te balanseer wanneer hulle boom klim, het spinnekopape ’n “grypstert”, wat hulle in staat stel om voorwerpe vas te hou en te manipuleer asof dit ’n ekstra hand is. Daarbenewens is die punt van die stert, wat sonder hare is, net so sensitief soos hul vingers. 8
- Heuningbye klap hul vlerke 200 keer per sekonde. 9
- Die hare van ’n ysbeer is nie wit nie, maar kleurloos. Elke haar is hol, weerkaats die lig en laat die ysbeer wit lyk. Onder hierdie deursigtige pels is die vel swart om die warmte van die son op te neem en die beer so warm as moontlik te hou. 10
- Die tong van ’n verkleurmannetjie is minstens net so lank soos sy lyf, maar hy kan sy prooi in ’n breukdeel van ’n sekonde gryp.
- Mense deel 98,8% van ’n sjimpansee se DNS. Maar selfs al is ons DNS soortgelyk, is daar ongeveer 35 miljoen verskille tussen mense en sjimpansees.
- ’n Sprinkaan kan 20 keer die lengte van sy eie liggaam spring. 11
Ons deel die planeet aarde met ’n merkwaardige verskeidenheid van diere. Ons maak staat op diere, ons leer by diere en word selfs bevriend met diere. Met ‘n geskatte 7,77 miljoen spesies diere in die wêreld, is die diereryk onteenseglik baie uiteenlopend. 1
Alle diere is aangepas en het strukture wat hulle help om by hul omgewing aan te pas en te oorleef. Sommige strukture help diere om kos te vind, soos die uitstekende sig (oë) van ’n arend (wat vier keer beter as ’n mens kan sien!). Ander diere het kamoeflering wat hulle help om vir roofdiere weg te kruip. Sommige strukture is baie uniek aan sekere diere, soos die lang, gevurkte tong van die akkedis. Hulle gebruik dit om kos te ruik en te vind.
As ’n mens aan olifante dink, dink jy aan hul lang slurpe en groot ore. Albei hierdie is voorbeelde van strukture wat ’n spesifieke funksie (of werk) het wat olifante help om te oorleef. Die slurp van ’n olifant is ’n spesiale struktuur wat hulle in staat stel om water te drink of om kos van die grond af op te tel of dit uit hoë bome te kry. Die groot ore help olifante weer om geluide te hoor wat baie ver is. 2
’n Olifant is die enigste dier wat nie kan spring nie. 3
Koalas, die oulike buideldiere wat eie aan Australië is, deel ’n eienskap met die mens, naamlik vingerafdrukke! Wetenskaplikes wat dié vingerafdrukke onder ’n mikroskoop bekyk het, het gevind dat die lyne wel van mense s’n verskil en aangepas is sodat hulle blare beter kan vasgryp. 4
Diere het energie nodig sodat hulle lewensprosesse soos groei, beweging, respirasie en voortplanting kan uitvoer. In teenstelling met plante, kan diere nie sonlig in energie omskep nie. In plaas daarvan is diere heterotrofe, wat beteken dat hulle nie hul eie kos kan produseer nie en plante en ander organismes moet inneem (eet) as ’n manier om die koolstof en energie te kry wat hulle nodig het om te lewe. 5
In teenstelling met plante wat in die grond groei en nie kan beweeg nie, is die meeste diere beweeglik (in staat om te beweeg) gedurende hul lewensiklus. Vir baie diere is die vermoë om te beweeg voor die hand liggend (vanselfsprekend): visse swem, voëls vlieg, soogdiere kruip, klim of hardloop. Vir sommige diere is die beweging egter subtiel of beperk tot ’n kort tydperk van hul lewe, soos seesponse wat meestal op een plek bly.
Verskillende dierestrukture
Net soos plante, het diere ook ’n basiese struktuur. Die grootste groep van alle diere, die ongewerweldes, het ’n basiese struktuur wat bestaan uit die kop, borsstuk en agterlyf, soos in die geval van insekte (Hexapoda). Die spinagtiges (Arachnida) bestaan weer uit ’n kopborsstuk en agterlyf. Ander diere, soos die gewerweldes, bestaan uit strukture soos die kop, torso, ledemate, stert en sintuiglike organe. 6
Kop
Die meeste diere het ’n deel van hul liggaam wat ons die kop noem. Selfs die kleinste dier het ’n deel waar die brein is.
By die meeste diere het die kop:
- ’n brein (of breinagtige struktuur) – maak nie saak hoe klein dit is nie;
- sensoriese organe (soos die oë en ore, of voelhorings by insekte); en
- ‘n voedingstruktuur (soos die mond en kake).
Torso
Die torso (of borsgedeelte) is die deel van die liggaam sonder die ledemate. Dit huisves die organe, soos die hart, lewer en spysverteringstelsel.
Liggaamsbedekking:
Diere se liggame is om verskeie redes op verskillende maniere bedek om optimaal aan te pas in die omgewing waarin die dier woon:
- Liggaamsbedekking beskerm die vel teen beskadiging of infeksies, teen sonlig, roofdiere, die elemente (soos die weer) en help met voortplanting.
- ’n Warm, harige liggaam beskerm ’n ysbeer in die Noordpool, net soos ’n skubberige liggaam ’n gordeldier en krokodil beskerm.
- ’n Ystervark word weer deur penne beskerm.
- Diere moet met hul omgewing saamsmelt om vir roofdiere weg te kruip of hulself kamoefleer om te keer dat roofdiere hulle sien (byvoorbeeld leeus).
- Mannetjies gebruik dikwels hul liggaamsbedekking om wyfies se aandag te trek, soos ’n pou wat met sy pragtige stertvere spog, of ’n leeu met sy maanhare – albei bedoel om wyfies te lok.
Ledemate
Die meeste diere gebruik hul ledemate om mee te beweeg. Diere kan met hul ledemate loop, hardloop, klim of swem. Sommige diere, soos sjimpansees en eekhorings, kan hul voorste ledemate gebruik om voorwerpe te hanteer. Diere kan vlerke, gewebde pote, tentakels, vinne, bene, arms, en lang, glibberige lywe hê.
Stert
Die meeste diere het ’n stert aan die agterkant van hul lywe.
Sterte help ’n dier om die volgende te doen:
- Om te beweeg – soos ape in bome;
- Vir balans – kangaroes gebruik hul sterte om te balanseer terwyl hulle spring;
- Hul prooi dood te maak – krokodille gebruik hul sterte om hulle om en om te draai wanneer hulle hul prooi moet verdrink en skerpioene het dikwels gif in hul sterte;
- Geluide te maak – bewers gebruik hul kragtige sterte om teen die grond te slaan of klop;
- Om te swem – byna alle visse gebruik hul sterte om te swem;
- Laat hulle van rigting verander – visse, walvisse, dolfyne, haaie en baie ander gebruik hul stert as ’n soort roer om hulle in ‘n sekere rigting te stuur. Wanneer jagluiperds ’n prooi jaag, kan mens sien hoe hulle hul sterte gebruik om te stuur. Voëls se stertvere is ook baie belangrik vir rigting;
- Hou die dier warm – ’n eekhoring of jakkals draai sy stert soos ’n kombers om sy lyf om hom warm te hou;
- Jaag vlieë en ander insekte weg – ’n koei of perd kan hul stert swaai om van vlieë ontslae te raak;
- Waarsku ander diere oor moontlike gevare – sommige takbokke wys die wit onderkant van hul sterte na ander takbokke om hulle oor moontlike gevaar te waarsku;
- Te kommunikeer – honde wys emosie deur hul sterte. As hulle bly is om jou te sien, swaai hulle hul sterte;
- Beskerm – ’n gordeldier het ’n gepantserde stert om homself te beskerm. Hulle kan in ’n bal oprol;
- Skrik roofdiere af – as ’n akkedis aangeval word, sal sy stert afval en dan skarrel hy weg terwyl die roofdier se aandag deur die kronkelende stert afgetrek word.
Sintuie
Sintuie help diere om op stimuli uit die omgewing te reageer. Dit stel hulle in staat om hul gedrag aan te pas en ook vir oorlewing. Sommige diere het sintuie wat baie beter ontwikkel is as dié van mense. Honde kan byvoorbeeld dinge aanvoel en mense hiermee help.
- Snuffelhonde help om mense op te spoor wat vasgevang is onder bourommel, modderstortings of sneeu en wys die reddingswerkers waar die slagoffers is. Hierdie honde snuffel ook dwelms of bomme uit en waarsku die polisie.
- Arende, valke en ander roofvoëls het uiters skerp oë omdat hulle klein knaagdiere van baie ver af moet sien.
- Olifante, katte en honde kan geluide hoor wat mense se ore nie kan hoor nie.
- Vlermuise, dolfyne en sommige walvisse gebruik ’n spesiale sein wat eggolokasie genoem word. Hulle stuur spesiale klankgolwe uit en kan só hul prooi of voorwerpe vind.
- Skoenlappers, bye en erdwurms het ’n ander spesiale sintuig wat chemoreseptore genoem word – hulle proe deur hul vel of voete.
- Diere soos miere, kakkerlakke en krewe het spesiale sintuigreseptore wat kan aanvoel dat iets kilometers ver weg beweeg!
Woordbank
buideldiere | ’n Soogdier (soos ’n kangaroe, koalabeer, ens.) wat haar pasgebore kleintjies in ’n sak (huidplooi) dra om eers behoorlik te ontwikkel. |
chemoreseptore | Chemoreseptore kan help om veranderinge in die omliggende omgewing (reuk en smaak) op te spoor. |
eggolokasie | Eggolokasie is ’n manier wat sommige diere gebruik om die ligging van dinge te bepaal. Hulle straal klankgolwe uit en luister vir die eggo. Hulle gebruik die vertraging om die afstand te bepaal. Dit is ’n soort biologiese sonar. |
emosie | Gemoedstemming (spanning, vrees, blydskap, ens.). |
gepantserde | Beskermde bedekking. In die geval van mense, is dit gewoonlik ’n borsharnas van sterk materiaal of selfs van staal. Sekere diere is gepantser met harde skubbe of penne (ystervark) om hulle teen roofdiere te beskerm. |
gewebde | Swemvlies tussen die tone van ’n voël wat naby water leef (amper soos paddavoete). |
gewerweld | Met ’n ruggraat en bene in sy lyf. |
gordeldier | ’n Tandlose naglopersoogdier waarvan die liggaam beskerm word deur ’n pantser van skubbe in reëlmatige rye, soos gordels dwars om die lyf; armadil; pantserdier. |
heterotrofe | Plant of dier wat sy organiese voedingstof kry uit reeds bestaande bronne. |
kamoeflering | Verberg, wegsteek, onsigbaar maak, onopvallend maak, vermom, maskeer, bedek, toemaak, toespin, van kleur verander. |
knaagdiere | Diersoort gekenmerk deur twee skerp voortande aan elke kakebeen (bewer, rot, ens.) |
koolstof | Koolstof is ’n element wat die basis van die meeste lewende organismes vorm. |
ongewerweld | Sonder ’n ruggraat of bene in sy lyf. |
onteenseglik | Sonder twyfel, onweerlegbaar, onbetwisbaar. |
optimaal | Ideaal; bevredigendste; gunstigste; mees voldoende; genoegsaamste; allerbeste. |
sintuigreseptore | ’n Sensoriese senuwee-eindpunt wat op ‘n prikkel reageer. |
respirasie | Asemhaling. |
roer | Dit verwys na die toestel agteraan ’n boot waarmee dit gestuur word. |
sensoriese | Tasbaar, waarneembaar. |
sig | Kyk-/sienvermoë. |
stimuli | Impuls, prikkel. |
strukture | Formasie; samestelling; skelet. |
subtiel | Onopvallend, ongemerk. |
tentakels | Gryparm, tasorgaan, voeldraad, voelhoring. |
torso | Romp, bolyf. |
uiteenlopend | Verskillend, veelsoortig. |
uniek | Enig in sy soort; merkwaardig; buitengewoon, eiesoortig; onvergelykbaar. |
voor die hand liggend | Vanselfsprekend, ooglopend. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Aanpassing in die natuur
Diere se liggame