Vinnige feite

  • In 1984 het die WWF ’n Pennies vir pandas-veldtog van stapel gestuur. Amerikaanse skoolkinders het aktief daaraan deelgeneem en meer as $10 000 vir die bewaring van pandas geskenk.
  • ’n Groot tragedie het die WWF in 2006 getref toe ’n helikopter met personeellede aan boord neergestort het. Al 23 passasiers is dood.
  • Bruinbere was eens amper uitgesterf in die Alpynse gebiede, maar danksy pogings deur onder andere die WWF is daar vandag weer bruinbere. 5
  • Het jy geweet dat ons oseane ongeveer 70% van ons suurstof produseer en groot hoeveelhede koolstofdioksied absorbeer? Dit dryf ook ons aarde se weerstelsels en gee vir ons kos. Die oseane se gesondheid is dus vir die WWF baie belangrik. 6
  • Suid-Afrika is die tuiste van nege biome, waarvan twee internasionaal erken word vir hul biodiversiteit. Dit is die Kaapse blommekoninkryk en die Vetplant-Karoo.
  • Die logo van die WWF is die pandabeer. Hulle het die pandabeer gekies omdat daar ’n reusepandabeer was wat na die Londense dieretuin geneem is net voor die WWF gestig is. Die pandabeer se naam was Chi-Chi.
  • Ons planeet word al hoe warmer. Altesaam 195 lande, Suid-Afrika ingesluit, het in 2016 by die Verenigde Nasies se klimaatkonferensie ooreengestem om van fossielbrandstowwe weg te beweeg en meer hernubare energiebronne, soos sonkrag, wind en water, te benut.
  • Die WWF ontvang die meerderheid van sy geld deur donasies van mense en ondernemings.

Het jy geweet daar is ʼn organisasie wat “toesig hou” oor die hele natuurlike wêreld? Dit is die wêreldbekende Wêreldnatuurfonds wat in nagenoeg 100 lande werk.

Hierdie organisasie monitor die swartrenostergetalle in Namibië, probeer keer dat die tiergetalle in Suidoos-Asië nog verder daal, beskerm die reënwoude, en werk onverpoos daaraan om ons oseane gesond te hou. [Lees meer hier oor renosters.]

Die Wêreldnatuurfonds se naam het in 1986 na die Wêreldwye Fonds vir Natuur verander (in Engels World Wide Fund for Nature, afgekort as WWF), maar min mense gebruik hierdie naam. Hulle werk saam met mense reg oor die wêreld om innoverende oplossings te soek wat gemeenskappe, diere, plante en hul habitatte beskerm. Hulle gee geld vir bewaringsprogramme om ons klimaat, woude en oseane te beskerm, en werk hard daaraan om klimaatsverandering teen te werk.

Die fonds se internasionale hoofkantoor is in Gland, Switserland, maar daar is meer as 90 WWF-kantore wêreldwyd. Hulle is aktief in meer as 100 lande en het meer as vyf miljoen ondersteuners. 1

Die WWF se doelwitte

Die WWF het ses hoofdoelwitte:

  1. Om ’n koolstofvrye wêreld te skep, wat deur hernubare energie aangedryf word;
  2. om die beskikbaarheid van kos te verdubbel, maar sonder dat die koolstofvoetspoor vermeerder word;
  3. om vars water vir mense en die natuur te verseker;
  4. om die oseane en seelewe te beskerm en gesond te hou;
  5. om die wêreld se belangrikste woude te beskerm; en
  6. om bedreigde spesies en plekke te bewaar sodat die lewe op aarde volhoubaar kan wees. 2

Waar het alles begin?

Die WWF is in 1961 deur ’n groepie mense gestig wat almal een doel voor oë gehad het: om geld bymekaar te maak om die natuur en spesies, wat deur die mens en sy ontwikkeling bedreig word, te beskerm.

Die inspirasie hiervoor was ’n reeks artikels in ’n Britse koerant. Die artikels deur die Engelse bioloog sir Julian Huxley het oor die vernietiging van habitat en wildlewe in Oos-Afrika gegaan. Die sakeman Victor Stolan het toe gesê dat daar ’n dringende behoefte is om ’n internasionale organisasie te stig om geld vir natuurbewaring in te samel. Hy het die idee met Max Nicholson gedeel, wat toe die direkteur-generaal van die Britse regeringsagentskap Nature Conservancy was.

In daardie stadium het die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) finansiële probleme ervaar. Hulle het geglo dat ’n nuwe geldinsamelingsinisiatief dalk die IUBN en ander bewaringsgroepe kon help om meer te doen tot voordeel van die omgewing. Nicholson het in April 1961 ’n konsepplan saamgestel en dit het as grondslag vir die stigting van die organisasie gedien. Die uitvoerende raad van die IUBN het dit in ’n dokument, bekend as die Morges-manifes, goedgekeur.

Nicholson en ’n groepie ander omgewingsbewuste mense, het toe die Morges-manifes onderteken. Hy het die WWF se eerste adjunkpresident geword en prins Bernhard van Nederland was die eerste president. Hulle het die naam Wêreldnatuurlewefonds en die bekende logo waarop die pandabeer pryk, gekies.

Dit is hoe die internasionale organisasie gestig is, maar daar is ook nasionale organisasies wat die fonds verteenwoordig. Die eerste nasionale organisasies van die fonds is in 1961 in Brittanje, Switserland en die Verenigde State van Amerika gestig. Wyle prins Phillip, die hertog van Edinburgh, was die eerste president van die Britse nasionale organisasie.

Die organisasie het gou begin woeker en hulle het in die eerste jaar al vyf projekte van duisende Amerikaanse dollars goedgekeur. Van hul eerste projekte was bewaringsprogramme vir die Hawaise seevoël, die Amerikaanse adelaar, die reuseduiker van Guatemala, die rooiwolf van suidelike Noord-Amerika en die Thule-gans van Kanada. 3

Van die WWF se projekte en suksesse

  • Die WWF het in 1961 Colombese natuurbewaarders gehelp om ’n klein natuurreservaat te begin.
  • Die WWF het in 1962 die Charles Darwin-stigting se navorsingstasie op die Galápagos-eilande begin en net daarna het hulle die Afrika-natuurlewekollege in Tanzanië geopen.
  • Hulle het ook in 1973 duisende dollar aan die Amerikaanse Smithsonian Instituut gegee om die tierbevolking in die Chitwan-park in Nepal te bestudeer. Wetenskaplikes kon toe vir die eerste keer tiere met radiovolgtoestelle toerus.

  • Die WWF het in 1973 ongeveer 37 000 akker grond om die Nakuru-meer in Kenia gekoop om die meer se nagenoeg 30 voëlspesies te beskerm.
  • Die WWF het in 1973 die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde spesies (Cites) onderhandel. Meer as 170 lande is deel daarvan, om te sorg dat plant- en dierespesies nie deur ongereguleerde handel en uitbuiting bedreig word nie.
  • Hulle het in 1974 die jaarlikse Getty-prys ingestel. Die prys word jaarliks vir uitstaande bydraes tot natuurbewaring toegeken.
  • Die WWF het in 1975 die Corcovado National Park in Costa Rica help stig. Die park sluit 13 habitattipes in en is een van die beste voorbeelde van ’n Sentraal-Amerikaanse reënwoud wat onder beskerming geplaas is.
  • Die WWF en IUBN het in 1976 ’n moniteringsnetwerk begin om die handel (in Engels: traffic) van diere en plante dop te hou. Dié netwerk moet seker maak dat, as daar handel in plante en diere plaasvind, dit nie ’n bedreiging vir die natuur inhou nie.
  • Die WWF en die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP) het saam met die IUBN gewerk om in 1980 die Wêreldbewaringstrategie van stapel te stuur. Daar is gesê dat die mensdom as deel van die natuur bestaan en geen toekoms het tensy die natuur en natuurlike hulpbronne bewaar word nie.
  • Hulle het ook in 1983 die Primaat-aksiefonds gestig om ape, bobbejane en gorillas te beskerm.

  • Die WWF het in 1983 navorsing op Madagaskar geborg en só is die groter bamboeslemur weer ontdek. Daar is eers geglo dat dié lemur in 1972 uitgesterf het.
  • Die WWF het in 1983 die Afrika-program van stapel gestuur om bewaring op die kontinent te bestuur.
  • Hul Lumbarda-olifantprojek in 1988 het tot ’n groot afname in die stroping van olifante en swartrenosters in Zambië gelei.
  • Groot vooruitgang is in 1990 gemaak toe die WWF ’n werksgroep oor voëlhandel bymekaar geroep het. Regulasies is toe op die handel van wilde voëls ingestel.
  • Hulle het in 1993 ’n raad geskep om die verantwoordelike gebruik van die wêreld se woude te bevorder.
  • Die WWF het in 1994 die Russell E. Train Education for Nature-program begin om opleiding in bewaring te ondersteun. Hulle het al meer as ’n duisend beurse vir studente gegee.
  • Die organisasie het in 1996 saam met Maleisië en die Filippyne gewerk om ’n bewaringsoorgrenspark te stig. Dit was die wêreld se eerste oorgrenspark vir seeskilpaaie.
  • Die WWF en Unilever het in 1997 die Marine Stewardship Council (MSC) begin om die langtermynvolhoubaarheid van visvoorraad te verseker. Die MSC is nou ’n onafhanklike organisasie sonder winsbejag.
  • Hulle het ook Climate Savers begin, waar deelnemende maatskappye beloof om hul kweekhuisgasvrystellings te verminder.
  • Internasionale standaarde vir visvang is in 2000 opgestel.
  • Die WWF het in 2007 die eerste Aarde-uur in Sydney, Australië, gehou. Vandag word hierdie uur wêreldwyd herdenk. Die ligte word dan vir ’n uur afgesit.

Die WWF in Suid-Afrika

Prins Bernhard van Nederland was in 1968 nog die president van die WWF en het dr. Anton Rupert, ’n bekende Suid-Afrikaanse sakeman, genader om te help om Suid-Afrika se natuurlewe te beskerm.

Dr. Anton Rupert, bekende Suid-Afrikaanse sakeman.

Hulle het besef dat iets gou gedoen moes word om Suid-Afrika se biodiversiteit te beskerm. [Lees meer hier van biodiversiteit.] Rupert het ander sakemanne ook genader om geld vir die WWF te skenk. Die Suider-Afrika Natuurlewe Stigting is in 1968 gevorm. Dit het later die Suider-Afrika Natuurstigting geword en is in 1995 na WWF Suid-Afrika hernoem. Die WWF Suid-Afrika is ten doel gestel om Suid-Afrika se natuurlike erfenis te beskerm. In 2018 het die organisasie 50 jaar van omgewingsprestasies en impak gevier. 4

Een van die projekte waarby WWF Suid-Afrika betrokke is, is die swartrenosterprojek wat ten doel het om die renosters van uitsterwing te red. Die projek het al 230 renosters verskuif om 15 nuwe swartrenosterbevolkings in Suid-Afrika en Malawi tot stand te bring. Meer as 200 renosterkalfies is al so gebore.

Woordbank

adelaar Arend.
bedreigde spesies Diersoort waarvan daar baie min in die wêreld oor is en wat heeltemal kan uitsterf.
biodiversiteit Die verskeidenheid van plante en diere binne ʼn ekosisteem. [Lees meer hier van ekosisteme.]
bioloog Kenner van biologie.
biome Spesifieke streek met eiesoortige klimaats- en ander fisiese toestande. Die streke het eiesoortige plante en diere wat hulle by die toestande aanpas.
ekosisteem Die omgewing waarbinne organismes saamwerk en op mekaar inwerk.
fossielbrandstof Natuurlike soort brandstof soos steenkool/gas wat baie lank gelede  uit die oorblyfsels van lewende organismes gevorm is.
habitatte Plek waar mense of diere bly waar die toestande soos klimaat en voeding leefbaar is.
innoverende Oorspronklik.
klimaatsverandering Die langtermynveranderinge in temperatuur en ander kenmerke van die aarde se atmosfeer. Menslike bedrywighede veroorsaak dat die aarde warmer word.
koolstofvoetspoor Dit is die effek wat iemand, ʼn land of produk op die koolstofvlakke in die atmosfeer het.
kweekhuisgasvrystellings As fossielbrandstowwe verbrand, verhoog die temperatuur van die aarde se atmosfeer omdat dit koolstofdioksied (CO2) vrystel. Dit word die kweekhuiseffek genoem en die gasse (veral metaan en koolsuurgas) kan skadelik vir lewe op aarde wees.
lemur Vosaap/bosaap; aap met ʼn spits neus.
monitor Toesig hou, kontroleer, nagaan.
onverpoos Gedurig, aanhoudend; ononderbroke.
spesie Soort.
volhoubaar Waarmee lank volgehou kan word.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Hoekom is die WWF so belangrik?

Wat op aarde is die Aarde-uur?

Hoe kan ons die planeet red?

Gepubliseer op: 25 Oktober 2023 | Bygewerk op 13 Februarie 2024