Vinnige feite

  • As ʼn mens al die teerpaaie in die VSA in ʼn reguit lyn sou sit, sou jy 150 keer om die aarde kon ry. 17
  • Suid-Afrika se padnetwerk strek oor sowat 755 000 kilometer. Byna 10 000 km hiervan is nasionale paaie; 65 000 km is provinsiale paaie en die res is (munisipale) strate, grondpaaie en ander paaie wat nie geklassifiseer (genommer) is nie. 18
  • Weerkaatsers is die uitvinding van ʼn man van Yorkshire in die Verenigde Koninkryk genaamd Percy Shaw. Hy het glo die idee gekry toe hy een aand op pad huis toe gesien het hoe ʼn kat se oë in sy motor se ligte weerkaats. Sy idee (wat heel gepas ook katogies genoem word) het eers werklik tydens die Tweede Wêreldoorlog posgevat in ʼn stadium toe Engeland in pikdonkerte gehul was. 19
  • Die gevaarlikste pad ter wêreld is in Bolivië. Die Carretera a los Yungas-pad (ook bekend as die North Yungas-pad) – wat oor sowat 80 km km tussen La Paz en Coroico strek staan ook as die doodspad” bekend omdat dié enkelbaanpad jaarliks die lewens van sowat 300 mense eis. 20
  • Dis nie net Suid-Afrikaners wat met hul hande in die hare oor slaggate sit nie. Daar word geraam dat daar tot 1 miljoen slaggate in die Verenigde Koninkryk is. 21
  • Die langste pad ter wêreld (waarop jy met ʼn motor kan ry) is die pan-Amerikaanse hoofweg (Pan-American Highway). Dié pad strek oor meer as 24 000 km van Alaska tot in Brasilië. Die Verenigde State spog nie net met die eerste nie, maar ook van die wêreld se langste snelweë. 22
  • Die N2 is die langste nasionale pad in Suid-Afrika en strek oor 2 255 km vanaf Kaapstad deur Gqeberha (Port Elizabeth), Oos-Londen, Mthatha en Durban tot in Ermelo. Die N1-snelweg strek oor bykans 2 000 km vanaf Kaapstad tot by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. 23
  • Die wêreld se langste tonnel is tussen Aurland en Lærdal tussen Bergen en Oslo in Noorweë, en dit is 24,5 km lank. Dié tweespoortonnel is in 2001 vir die publiek geopen en het sowat $113,1 miljoen gekos om te bou. 24

Daar is min dinge so lekker soos om die langpad see toe aan te durf, of op ʼn kronkelende grondpad deur die Bosveld te ry en kyk of ʼn mens nie een van die Groot Vyf kan gewaar nie. Net so is dit natuurlik glad nie lekker om deur ʼn slaggat te ry of vir ʼn uur lank botstil in spitsverkeer op die snelweg te staan nie.

Ongeag of ʼn padreis jou met vakansievreugde of frustrasie vul, een ding is vir seker: As dit nie vir paaie was nie, sou ons voete vandag ons enigste vervoermiddel gewees het! Voordat ons kyk na waar paaie vandaan kom, wie die slim mense is wat paaie beplan en bou, asook hóé paaie gebou word, staan ons eers stil by die verskillende soorte paaie wat ons vandag kry.

Verskillende soorte paaie

Gestel die aarde was jou lyf, dan is paaie die are wat deur jou lyf kronkel. Net soos jou are sorg dat suurstofryke bloed tussen jou organe, liggaamsdele en jou brein kan vloei, so help paaie ons om tussen die kleinste dorpies, die mees afgeleë nedersettings en die grootste stede te beweeg.

Ons gebruik nie net paaie om te reis of om skool of werk toe te ry nie; paaie speel ʼn onmisbare rol in die ekonomie om byvoorbeeld goedere van hawens na fabrieke en dan weer na winkels en ons huise te vervoer. Al die kos wat ons eet, die klere wat ons aantrek en selfs die rekenaar of selfoon waarop jy dié artikel lees, is op een of ander stadium op ʼn pad vervoer. 1

ʼn Pad is ʼn weg of vasgestelde roete waarop mense, diere en voertuie beweeg. ʼn Straat (“street”), laan (“lane”) of weg (“way”) is ʼn pad wat deur ʼn dorp of woonbuurt loop en kan ʼn teer- of grondpad wees. Dit bestaan gewoonlik uit twee bane, en twee motors kan nie langs mekaar ry nie. Een motor ry in die een rigting en die ander motor in die teenoorgestelde rigting. ʼn Straat, laan of weg word gewoonlik na mense, plekke of dinge (soos diere en plante) vernoem. 2

ʼn Hoofweg of snelweg is weer ʼn netwerk (ʼn klomp paaie wat ineen vloei) van groot, breë paaie met verskeie bane wat in en rondom stede aangetref word. Op dié paaie kan dikwels tot vyf motors in verskillende bane in dieselfde rigting ry. 3

Soos strate name kry om ons te help om iemand se huis te vind, word snelweë genommer. Dink byvoorbeeld aan die N1 tussen Johannesburg en Pretoria, of die N3 wat van Johannesburg tot in Durban strek. Die letter N wys vir ons dat dit ʼn nasionale pad is wat gewoonlik oor ʼn lang afstand strek. Daar is tans 18 nasionale roetes wat in totaal amper 13 000 km lank is.

Provinsiale paaie verbind twee of meer provinsies en word weer benoem deur die letter R en twee syfers, byvoorbeeld die R21 tussen Boksburg en Pretoria. Streekspaaie strek gewoonlik tussen provinsies en verbind provinsiale paaie met mekaar. Dink byvoorbeeld aan die R555 tussen Gauteng en Mpumalanga. Streekspaaie kry ook die letter R, gevolg deur drie syfers. 4

Verder is daar ook tolpaaie; ʼn tolpad is ʼn pad waarop ʼn mens tolgeld betaal, oftewel betaal om die reg te verkry om daarop te ry. Tolpaaie al so oud soos die berge, en die eerste tolpaaie het in alle waarskynlikheid ongeveer 2 700 jaar gelede in Asië ontstaan. Tol is ʼn tipe belasting wat gebruikers betaal om die instandhouding van die pad te finansier. 5

Paaie in Suid-Afrika word gebou en onderhou deur die verskillende regeringsvlakke. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padnetwerk of SANRAL is verantwoordelik vir die bou en onderhou van nasionale paaie, die onderskeie provinsiale regerings bou en onderhou die provinsiale paaie, en die plaaslike regering is verantwoordelik vir die bou en instandhouding van paaie in hul munisipale area.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padnetwerk of SANRAL bestuur 21 403 km se paaie. Die hele padnetwerk in Suid-Afrika is ongeveer 755 000 km lank, wat dit die tiende langste padnetwerk ter wêreld maak. 6

Vind jou pad deur die woordeboek

Die woord weg (“way”) kom van die Latynse woord veho (“ek dra”), ook afgelei van die Sanskrit-woord vah (“dra”, “gaan”, of “beweeg”). Straat se oorsprong lê in die Latynse woord strata (“geplaveide”) en later strata via (“ʼn pad wat met klippe geplavei is”). Teen die Middeleeue was geplaveide paaie slegs in dorpe te vinde, en sedertdien gebruik mense steeds die woord straat om na paaie wat deur dorpe loop, te verwys. 7

Die woord snelweg (of hoofweg) verwys natuurlik na die feit dat ʼn mens veel vinniger op dié soort pad as in ʼn straat kan ry, maar die Engelse woord “highway” bevat die sleutel na waar dié benaming werklik vandaan kom. Die Romeine het paaie gebou deur slote te grawe en het dié grond dan in die middel van die twee slote gegooi om ʼn pad te vorm. Die pad was letterlik hoër as die grond rondom dit, en vandaar die benaming “highway”.

Die woord pad (“road”) het vandag bykans ʼn versamelnaam geword wat gebruik word om enige oppervlak wat vir vervoer gebruik word, te beskryf, of dit nou ʼn stofstraat of snelweg is. Die woord “road” is afkomstig van die Oud-Engelse woord rád (“om te ry”) en die Middel-Engelse rode of rade (“reis met ʼn saal” – waarskynlik met ʼn perd).

Deur die geskiedenis

Die eerste paaie was paadjies wat deur diere gemaak of getrap is. Die vroegste tekens van sulke paaie is by fonteine naby Jerigo gevind en dateer uit ongeveer 6000 v.C. Die eerste aanduidings van mensgemaakte paaie dateer uit ongeveer 4000 v.C. Dit was klipgeplaveide straatjies by Ur (vandag staan dit as Irak bekend) en houtpaaie wat in ʼn moeras in Glastonbury, Engeland, gevind is.

Gedurende die Bronstydperk het die gebruik van metaalgereedskap die bou van klippaaie aansienlik vergemaklik. Namate meer mense waens en ander voertuie met wiele begin gebruik het, het die behoefte aan paaie vergroot. Teen 2000 v.C. was geplaveide paaie ʼn algemene verskynsel. 8

Die vroeë paaie het egter maklik weggespoel as dit baie gereën het. Dit was die Romeine wat met ʼn blink padplan vorendag gekom het. Die Romeine het groot legioene (groepe) soldate gehad wat lang afstande moes aflê om oorlog te gaan voer en die Romeinse Ryk uit te bou. Hulle het gevolglik ʼn tegniek ontwikkel om duursame paaie te bou wat uit ʼn klomp lae materiaal bestaan het. Om te keer dat dié paaie nie verspoel nie, het hulle klippe fyngekap en eers ʼn diep sloot of voor met dié klippies gevul en dan groot klippe, of stene bo-oor dit gelê. Só kon die water maklik in die grond wegsak (dreineer) en help om die paaie vir honderde jare in stand te hou.

Dié slim (Romeinse) stukkie ingenieurswese vorm vandag nog die grondslag van hoe paaie wêreldwyd gebou word, en hulle word daarom om goeie rede as baanbrekers op die gebied van padbou beskou. 9

Vroeë padboutegnieke

Om ʼn pad te bou, was vroeër jare vermoeiende handearbeid. Die eerste taak was om die plek waar die pad gebou moes word, skoon te maak of voor te berei. Bome, rotse, stompe en klippe moes verskuif word – en in die dae voor grawe, trekkers en spesiale voertuie moes alles met die hand gedoen word (tensy jy gelukkig genoeg was om ʼn perd te hê wat met die skuif, stoot en skraap kon help). 10 Arbeiders het harke en skrapers gebruik om die oppervlak glad te maak sodat waens en koetse veilig hieroor kon ry. Enige gate kon groot skade veroorsaak, en ons kan met veiligheid sê slaggate is so oud soos die berge!

Wáár paaie gebou word, is net so belangrik soos die manier waarop dit gebou word. Die doel was nog altyd om die vinnigste en kortste roete tussen twee punte (plekke) te vind, sodat ʼn mens jou bestemming vinniger kan bereik. Tegnologie soos GPS maak dit vandag baie maklik om die kortste roete te bepaal, maar in die Middeleeue moes padbouers eers die terrein verken en dan die beplande pad op ʼn kaart aanteken. Natuurlik moes hulle ook al die potensiële struikelblokke identifiseer en letterlik vir ander ʼn klip of drie uit die pad rol.

Padbeplanners het aanvanklik metaalkettings gebruik om die afstand tussen twee punte te meet; elke ketting was ongeveer 20 meter lank en tagtig kettings was gelykstaande aan een myl, oftewel 1,6 km. Om die rigting te bepaal, moes hulle ʼn kompas inspan.

Moderne beplanning en konstruksie

Moderne padkonstruksie is te danke aan ʼn benadering wat in die vroeë 19de eeu deur die Skotse ingenieur en opmeter-generaal in Engeland, John McAdam, ontwikkel is. McAdam het in werklikheid op die Romeinse tegnieke voortgebou deur paaie te ontwikkel wat uit verskeie lae bestaan. Grond- en gebreekte kliplae is met swaar rollers saamgepak, en McAdam se konstruksietegniek word as die eerste wetenskaplike benadering tot padbou beskou. 11

Soos wat motors sedert die 1800’s gewilder geword het, moes paaie ook stewiger gebou word om die swaar verkeer te hanteer. Vandag word paaie hoofsaaklik met teer en beton gebou. Teer is ʼn dik, donker en buigsame materiaal wat van petroleum of olie gemaak word. Beton is ʼn mengsel van sement, water, sand en gruis. Wanneer dit droog word, word dit so hard soos klip.

ʼn Sterk pad kry dikwels eers ʼn dun laag teer. Bo-op die teer kom ʼn laag sand, gruis of gebreekte klip. Die boonste laag van die pad word weer met ʼn dikker laag teer gemaak. ʼn Mens kry verskillende soorte teer, en die teer word gewoonlik baie warm gemaak, sodat dit makliker is om dit eweredig en glad oor ʼn stuk grond te versprei. 12

ʼn Betonpad bevat gewoonlik staalstawe of dik staaldraadvorms (amper soos ʼn heining of wat bouers gebruik om mure te versterk) vir bykomende versterking. Om krake te voorkom, maak werkers snye – wat lasse genoem word – tussen betonblaaie of dele van ʼn betonpad. Hierdie lasse laat die beton toe om uit te sit en saam te trek soos die temperatuur verander, en dit keer ook dat dit breek. 13

Die meeste groot moderne paaie word met ʼn effense helling – wat afwaarts vanaf die middel van die pad na buite loop – gebou. Dié helling word ʼn kroon genoem. Die kroon help om water van die pad af te laat vloei, sodat dit nie glad en glibberig word nie. Hierdie paaie het ook ʼn stelsel om water van die kante af weg te dreineer. 14

Die mense wat paaie beplan, is siviele ingenieurs. Siviele ingenieurs ontwerp en hou toesig oor die konstruksie van paaie, asook geboue, lughawens, tonnels, damme, brûe en selfs watervoorsiening- en rioolstelsels. 15

Uiteindelik werk ʼn hele span saam om ʼn pad te bou, van opmeters (wat spesiale toerusting gebruik om opmetings te doen), tot padbouers wat groot voertuie soos stootskrapers, padrollers en laaigrawe bestuur.

Om ʼn nuwe pad te bou of ʼn bestaande pad te herstel, is ʼn duur storie. Volgens die Suid-Afrikaanse nasionale tesourie kos dit sowat R3,5 miljoen per kilometer vir paaie wat ligte (min) verkeer dra, terwyl die bou en instandhouding van snelwegstrukture, wat baie verkeer moet hanteer, tot drie keer soveel per kilometer kan kos. 16

Woordbank

laaigrawe ‘n Masjien of werktuig wat materiaal soos grond, erts of bourommel skep en op vervoermiddels soos vragmotors laai.
opmeter In Engels ‘n surveyor. Iemand wat opmetings neem, om te bepaal hoe hoe lank en breed en diep die pad gebou moet word en hoeveel materiaal daarvoor nodig is. Word ook ‘n landmeter genoem.
padrollers ‘n Padboumasjien wat selfaangedrewe is, of gesleep kan word, wat met ‘n swaar roller of swaar rollers toegerus is, en wat gebruik word om sypaadjie- of padoppervlakke te kompakteer (saam te druk).
stootskrapers In Engels ‘n bulldozer. ‘n Swaar soort masjien om ongelyke oppervlakke gelyk te stoot.
weerkaatser In Engels ‘n reflector. Dis ‘n toestel wat lig terugwerp, sodat mens in die donker kan sien.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor padbou

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor padbou

Die geskiedenis van padbou

Paaie van 4000 v.C. tot vandag

Stap-vir-stap-padkonstruksieproses

Hoe moderne snelweë gebou word

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 April 2022 | Bygewerk op 19 Maart 2024