Vinnige feite

  • UNESCO glo dat die wêrelderfenisgebiede aan almal op die planeet behoort en het in 1972 al ʼn internasionale verdrag of konvensie aanvaar om die wêreld se kulturele en natuurlike erfenis te bewaar en beskerm.
  • Die Vredefortkoepel is die oudste en grootste meteorietimpakplek ter wêreld.
  • Robbeneiland is ʼn eiland in Tafelbaai, sowat 12 kilometer vanaf die kus van Kaapstad.
  • Lesotho se Sehlabathebe Nasionale Park huisves ook die Maloti-minnow (Pseudobarbus quathlambae), ʼn kritiek bedreigde vissoort wat slegs in hierdie park voorkom.
Foto: iStock

Suid-Afrika is voorwaar ʼn pragtige land met ʼn ryk geskiedenis en ongelooflike plekke wat ʼn mens eenvoudig móét besoek. Duisende mense van reg oor die wêreld stroom elke jaar na ons land om die mense, kos, kultuur en natuurskoon te ervaar.

Suid-Afrika spog boonop met tien bestemmings of spesiale besienswaardighede wat deel van die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie (algemeen bekend as UNESCO) se lys wêrelderfenisgebiede is, en dit is ʼn getuigskrif van ons land se wonderlike verskeidenheid kulturele, historiese en natuurskatte.

Die doel van die erkenning as wêrelderfenisgebied is om die vele fasette van waarde en prestasie in verskillende kategorieë te erken. Dit lok nie net toeriste na die spesifieke plek of gebied toe nie, maar speel ook ʼn belangrike rol in die opheffing van die plaaslike gemeenskappe wat voordeel uit al die duisende besoekers trek.

Proteas in Kirstenbosch Botaniese Tuin

Wat is ʼn wêrelderfenisgebied?

Die erfenis van ʼn land is die kern van sy identiteit, met ander woorde wie en wat dit is. Dit vertel ʼn verhaal van wat die land alles deurgemaak het, sy prestasies en hoe dit sy inwoners in die toekoms sal beïnvloed. Dit gaan oor meer as net die geskiedenis. Erfenis sluit ook die land of spesiale besienswaardigheid se natuurlike skatte en kulturele juwele in.

Sommige van die belangrikste erfenisterreine in die wêreld sluit in die piramides van Egipte, Australië se Groot Koraalrif (Great Barrier Reef) en die Serengeti in Afrika.

UNESCO se prioriteit is die identifisering, beskerming en bewaring van die wêreld se erfenis, in al sy vorms. UNESCO glo dat die wêrelderfenisgebiede aan almal op die planeet behoort en het in 1972 al ʼn internasionale verdrag of konvensie aanvaar om die wêreld se kulturele en natuurlike erfenis te bewaar en beskerm.

Suid-Afrika se wêrelderfenisgebiede

Suid-Afrika se tien wêrelderfenisgebiede is soos volg:

Barberton Makhonjwaberge

Die Barberton Makhonjwaberge is in die noordooste van Suid-Afrika geleë. Dit beslaan 40% van die Barberton Greenstone-gordel, een van die oudste geologiese strukture ter wêreld. Dié wêrelderfenisgebied bevat van die bes bewaarde vulkaniese en sedimentêre gesteentes wat tot 3,6 miljard jaar oud is. Dit is ʼn ongelooflike bron van inligting oor oppervlaktoestande, die impak van meteoriete, vulkane, die ontstaan van kontinente en hoe die omgewing baie jare gelede gelyk het.

Kyk hier na addisionele inligting oor die Barberton Makhonjwaberge:

iSimangaliso-vleilandpark

Die mosaïek van landvorme en habitattipes van die iSimangaliso-vleilandpark skep ʼn asemrowende natuurskoon. Die verskeidenheid landvorme sluit in koraalriwwe, lang sanderige strande, kusduine, meerstelsels, moerasse en uitgebreide riet- en papirusvleilande. Die wisselwerking tussen die park se omgewingsheterogeniteit (diversiteit) met groot oorstromings en kusstorms en ʼn geografiese oorgangsposisie tussen subtropiese en tropiese Afrika het gelei tot ʼn buitengewone verskeidenheid diere- en plantspesies.

Kyk hier na addisionele inligting oor die iSimangaliso-vleilandpark:

Kaapse blommeryk

Dié pragtige landskap aan die suidwestelike punt van Afrika is sedert 2004 ʼn wêrelderfenisgebied. Dit is een van die wêreld se grootste sentrums van biodiversiteit. Die uitgebreide gebied bevat nasionale parke, natuurreservate, wildernisgebiede, staatsbosse en bergopvanggebiede. Hierdie uiteenlopende natuurgebied bied ʼn tuiste aan ʼn aansienlike aantal endemiese spesies. Die Fynbos-plantegroei en struikveld is aangepas vir beide ʼn Mediterreense klimaat en periodieke brande (brande wat elke nou en dan hier uitbreek), wat uniek is aan die Kaapse blommegebied. 6

Lees meer van die Cape Action for People and the Environment (C.A.P.E.) se program om die Kaapse blommeryk te beskerm.

ǂKhomani- kulturele landskap

Die ǂKhomani- kulturele landskap is op die grens met Botswana en Namibië in die noordelike deel van die land geleë, wat saamval met die Kgalagadi-oorgrenspark (voorheen die Kalahari Gemsbok Nasionale Park). Die groot uitgestrekte sandgebied bevat bewyse van menslike bestaan vanaf die Steentydperk tot die hede. Dit bied ʼn interessante insig in die kultuur van die nomadiese ǂKhomani San-mense en dit wat hulle in staat gestel het om by moeilike woestyntoestande aan te pas.

Hulle het ʼn spesifieke etnobotaniese kennis (’n deeglike begrip van en verhouding tot inheemse en wilde plante), kulturele praktyke en ʼn wêreldbeskouing ontwikkel wat verband hou met die geografiese kenmerke van hul omgewing. Die ǂKhomani- kulturele landskap getuig van die lewenswyse wat in die streek geheers en die terrein oor duisende jare gevorm het.

Kyk hier na addisionele inligting oor die ǂKhomani- kulturele landskap:

Mapungubwe- kulturele landskap

Mapungubwe lê teen die noordelike grens van Suid-Afrika en sluit by Zimbabwe en Botswana aan. Dit is ʼn oop, uitgestrekte savannalandskap by die samevloeiing van die Limpopo- en Shashe-rivier. Mapungubwe het ontwikkel tot die grootste koninkryk op die subkontinent voordat dit in die 14de eeu tot niet gegaan het. Wat oorleef het, is die byna onaangeraakte oorblyfsels van die paleisgebiede en ook die hele nedersettingsgebied, asook twee vroeëre hoofstadsterreine, wat ʼn ongeëwenaarde beeld van die ontwikkeling van sosiale en politieke strukture oor ongeveer 400 jaar gee.

Mapungubwe Nasionale Park

Kyk hier na addisionele inligting oor die Mapungubwe- kulturele landskap:

Richtersveld- kulturele en botaniese landskap

Die Richtersveld- kulturele en botaniese landskap van dramatiese bergagtige woestyn in die noordweste van Suid-Afrika vorm ʼn kulturele landskap wat gemeenskaplik besit en bestuur word. Die gebied strek oor 160 000 hektaar, en dit weerspieël die seminomadiese pastorale bestaan van die Nama-mense, wat moontlik tot twee millenniums lank in Suider-Afrika bestaan het. Dit is die enigste gebied waar die Nama-gemeenskap nog draagbare huise (haru om) bou, en dit sluit ook weivelde en veeposte in. Die herders versamel medisinale en ander plante en het ʼn sterk mondelinge tradisie wat verband hou met verskillende plekke en eienskappe van die landskap. 4

Kyk hier na addisionele inligting oor die Richtersveld- kulturele en botaniese landskap:

Robbeneiland

Robbeneiland is ʼn eiland in Tafelbaai, sowat 12 kilometer vanaf die kus van Kaapstad. Die eiland is ʼn gewilde toeristebestemming wat in 1999 tot wêrelderfenisgebied verklaar is. Van die einde van die 17de eeu is Robbeneiland hoofsaaklik as ʼn tronk en afsonderingsbestemming gebruik. Van sy eerste permanente inwoners was politieke leiers van verskeie Nederlandse kolonies, nie net van Suid-Afrika nie, maar ook uit Indonesië. Van 1836 tot 1931 is dit as ʼn melaatsekolonie gebruik en in die 20ste eeu het dit as ʼn tronk vir politieke gevangenes bekend geword, onder wie die bekendste gevangenes Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki, Robert Sobukwe, Kgalema Motlanthe en Jacob Zuma was. 5

Kyk hier na addisionele inligting oor Robbeneiland:

Maloti-Drakensbergpark

Die Maloti-Drakensbergpark is ʼn transnasionale eiendom wat ​​uit die uKhahlamba Drakensberg Nasionale Park in Suid-Afrika en die Sehlathebe Nasionale Park in Lesotho bestaan. Die terrein het visueel skouspelagtige boë, grotte, kranse, pilare en rotspoele. Die diversiteit van habitatte op die terrein beskerm verskeie endemiese (inheemse) en belangrike plante. Die terrein huisves verskeie bedreigde spesies, soos die Kaapse aasvoël (Gyps coprotheres) en die baardaasvoël (Gypaetus barbatus).

Lesotho se Sehlabathebe Nasionale Park huisves ook die Maloti-minnow (Pseudobarbus quathlambae), ʼn kritiek bedreigde vissoort wat slegs in hierdie park voorkom. Hierdie pragtige natuurgebied bevat baie grotte en rotsskuilings met die grootste en mees gekonsentreerde groep rotstekeninge in Afrika suid van die Sahara. Dit verteenwoordig die geestelike lewe van die San-mense, wat oor ʼn tydperk van 4 000 jaar in hierdie gebied gewoon het. 3

Rotstekeninge van menslike figure, Drakensberge, Suid-Afrika

Kyk hier na addisionele inligting oor die Maloti-Drakensbergpark:

Vredefortkoepel

Die Vredefortkoepel is die oudste en grootste meteorietimpakplek ter wêreld. Dit is na raming 2 000 miljoen jaar gelede gevorm toe ʼn reusagtige meteoriet (groter as Tafelberg) die aarde getref het naby waar Vredefort vandag is. Die oorspronklike krater – wat deur die jare deur erosie weggevee is – was na raming 250 tot 300 kilometer in deursnee. Die koepel is ʼn getuienis van die wêreld se grootste en bekendste enkele energievrystellinggebeurtenis, wat verwoestende wêreldwye gevolge gehad het, insluitend – volgens sommige wetenskaplikes – groot evolusionêre veranderings.

Dit is ʼn bewys van die aarde se geologiese geskiedenis en is van kardinale belang om die evolusie van die planeet te verstaan. Ondanks die belangrikheid van impakplekke vir die geskiedenis van die planeet, het geologiese aktiwiteit op die aardoppervlak gelei tot die verdwyning van bewyse van die meeste van hulle. Vredefort is die enigste voorbeeld wat ʼn volledige geologiese profiel van ʼn impakgebied onder die kratervloer bied. 2

Kyk hier na addisionele inligting oor die Vredefortkoepel:

Wieg van die Mensdom

Die Wieg van die Mensdom is ʼn wêrelderfenisgebied aan die Wes-Rand in Gauteng en is noordwes van Krugersdorp langs die N14- nasionale pad geleë. Dit bestaan uit die Sterkfonteingrotte, Swartkrans, Kromdraai en die omliggende dele. Dit is een van die plekke waar die heel oudste hominied- of aapmensfossiele ter wêreld gevind is. Ander fossiele van uitgestorwe dier- en plantspesies is ook al hier gevind.

Die fossiele is in dolomietrotse vasgevang, wat na raming tot 2,5 miljoen jaar oud is. Die gebied bevat noodsaaklike elemente wat die oorsprong en evolusie van die mensdom definieer. Fossiele wat hier gevind is, het die identifisering van verskeie vroeë hominide moontlik gemaak, veral Paranthropus, wat tussen 4,5 miljoen en 2,5 miljoen jaar terugdateer, asook bewyse van vuurmaak 1,8 miljoen tot 1 miljoen jaar gelede. Van die bekendste fossiele wat hier gevind is, is Mevrou Ples en Kleinvoet. 1

Die Tumulus-gebou by Maropeng se toerismesentrum by Wieg van die Mensdom naby Johannesburg

Kyk hier na addisionele inligting oor die Wieg van die Mensdom:

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Oktober 2021 | Bygewerk op 14 November 2023