Vinnige feite
- Die Hubble-teleskoop was in 2020 reeds 30 jaar in die ruimte. Dié teleskoop beweeg baie vinnig – teen 27 300 km/h neem dit slegs 95 minute om rondom die aarde te beweeg. Die Hubble beweeg 547 km bo die aarde en die verste ster wat hy al ooit waargeneem het, is 5 miljard ligjare ver (een ligjaar is gelykstaande aan 9 triljoen kilometer). 14
- Die woord teleskoop kom van die Latynse woorde tele (wat beteken “van ver af”) en scopium (wat beteken “om te kyk”). 15
- In Maart 2016 het die Kepler-ruimteteleskoop ’n ster gesien wat 500 keer groter is as die son; ’n supernova ongeveer 1,2 miljard ligjare ver.
Het jy al in die wildtuin deur ’n verkyker na diere gekyk? Of gekyk na voëls wat baie ver in ’n boom sit en gevoel asof hulle sommer hier naby aan jou is? Wel, ’n teleskoop werk baie soos ’n verkyker, maar is baie sterker en word veral deur sterrekundiges gebruik om na die hemelruim te kyk.
Die heel eerste teleskope is deur handelaars op die see en deur weermagte gebruik. Oor die afgelope 400 jaar was daar enorme vooruitgang in die ontwikkeling van dié tegnologie, maar alle teleskope het twee dinge gemeen: hulle het die vermoë om lig te versamel en om voorwerpe te vergroot.
Soorte teleskope en hoe dit werk
Daar is twee basiese soorte teleskope: brekingsteleskope (refracting) en weerkaatsende (reflecting) teleskope. ’n Brekingsteleskoop gebruik lense (amper soos ’n bril se glas). ’n Lens is ’n geboë glasstuk wat lig breek of buig. ’n Weerkaatsende teleskoop gebruik spieëls. Sommige teleskope gebruik lense én spieëls. 1
’n Brekingsteleskoop (soos dié wat ons ken wat jy in jou hand kan vashou) is ’n buis met een of meer lense aan elke punt. Lig van ’n verafgeleë voorwerp kom die punt van die buis binne. Die lens of lense aan die ver punt van die buis, wat objektiewe lense genoem word, buig die lig. Hulle fokus die lig op ’n plek naby die ander punt van die buis. Die lig vorm op hierdie plek ’n beeld of ’n prentjie van die voorwerp. Die lens of lense aan die ver punt, wat die okularis genoem word, vergroot die beeld. 2
Weerkaatsende of reflekterende teleskope is baie kragtiger as brekingsteleskope. ’n Weerkaatsende teleskoop het ’n geboë spieël aan die onderkant van die buis. Lig van ’n voorwerp weerkaats van die spieël af en die spieël fokus die lig op ’n punt in die buis. ’n Tweede spieël stuur die lig deur ’n okularis. ’n Lens in die okularis vergroot die beeld wat deur die lig gevorm word. In sommige weerkaatsende teleskope gaan die lig deur ’n lens voordat dit die geboë spieël tref. Die lens help om die beeld skerper te maak.
Geboue wat sterrewagte 3 genoem word, huisves groot, kragtige ligteleskope. Sterrewagte word gewoonlik op berge en koppies gebou waar die lug dunner, skoner en donkerder (minder stadsliggies) is. Ruimtetuie kan ook ligteleskope hê. 4
Deur die geskiedenis
Die eerste persoon wat ’n teleskoop gepatenteer het, was Hans Lippershey, ’n Nederlandse brilvervaardiger, in 1608. Hy het sy uitvinding die “kyker” genoem en dit kon voorwerpe tot drie keer hul normale grootte vergroot. Lippershey se teleskoop is gemaak deur ’n konkave (holronde) stuk glas op ’n konvekse (bolronde) stuk glas te plaas. 5
In 1609 het Galileo Galilei van Lippershey se uitvinding te hore gekom. Hy’t sy eie ontwerp begin bou en heelwat verbeterings aangebring. Galileo se teleskoop kon dinge 20 keer vergroot en as hy na die lug gekyk het, kon hy die kraters op die maan sien. Hy het die maan se fases opgeteken, kon die Melkweg beskryf en het die ringe rondom Saturnus en Jupiter se mane ontdek. 6
In 1668 het sir Isaac Newton die eerste weerkaatsende teleskoop gebou om sy teorie dat wit lig ’n spektrum (verskeidenheid) van kleure het, te bewys.
Tot op daardie tydstip het teleskope ’n lens gebruik wat baie soos die prisma was wat Newton gebruik het. Newton se idee was om spieëls te gebruik sodat weerkaatsende kleure wat beelde soms vaag laat lyk het, uitgeskakel kon word. Sy nuwe, verbeterde teleskoop het dié verskynsel, wat chromatiese afwyking genoem word, uitgeskakel. Dit was ook goedkoper om te bou, eenvoudiger in ontwerp, kon wyer kyk en was draagbaar.
In 1789 het William Herschel in Engeland die eerste reuse-weerkaatserteleskoop, wat 12 meter lank was, gebou.
Radio- en ruimteteleskope
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het sir Bernard Lovell aan radar gewerk en ná die oorlog, in die 1950’s, hy het planne opgetrek vir ’n groot radioteleskoop. Dié teleskoop is in 1957 voltooi en het ’n radioskottel met ’n deursnee van 76,2 meter gehad wat na die hemelruim gerig kon word. 7
In 1990 is die Hubble-ruimteteleskoop die ruimte ingeneem. Dit wentel steeds om die aarde, kyk na die buitenste ruim en stuur wonderlike foto’s van sterrestelsels en sterre terug na die aarde. 8
’n Nuwe en revolusionêre ruimteteleskoop, die Compton Gamma Ray Observatory (CGRO), is in 1991 die ruimte ingestuur om X-strale en gammastrale op te spoor. Dit het vier teleskope gehad wat op een platform gemonteer was, en was van 1991 tot 2000 in ’n wentelbaan om die aarde. Die CGRO het 17 000 kilogram geweeg en ongeveer $617 miljoen gekos. 9
Die grootste infrarooiteleskoop wat ooit die ruimte ingelanseer is, was die Herschel Space Observatory, wat van 2009 tot 2013 gewerk het. Dit het ’n spieël van 3,5 meter en ander gespesialiseerde instrumente gehad wat infrarooigolwe kon optel. 10
In Suid-Afrika
Die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT) in Sutherland is die grootste enkele optiese teleskoop in die Suidelike Halfrond en een van die grootstes in die wêreld. Dit het ’n seskantige primêre spieëlskikking van 11 meter, bestaande uit 91 individuele seskantige spieëls wat elk 1 meter groot is. 10
Hierdie massiewe teleskoop is tussen 2000 en 2005 deur Suid-Afrika en sy Duitse, Poolse, Amerikaanse, Nieu-Seelandse en Britse vennote opgerig en hier woel sterrekundiges om afgeleë sterre, sterrestelsels en hemelgloede op te spoor wat duisendmiljoen keer dowwer is as wat ’n mens met die blote oog kan sien. Trouens, daar word vertel dat SALT só kragtig is dat hy iets so dof soos ’n kers se vlammetjie op die maan sal kan waarneem. Die teleskoop versamel 25 keer meer lig as enige ander bestaande teleskoop op die vasteland van Afrika.
Die tweede groot Suid-Afrikaanse teleskoopprojek is die SKA (Square Kilometre Array). 13 Dit bestaan uit ’n klomp skottels wat, as dit langs mekaar gepak word, een vierkante kilometer sal beslaan. Die SKA is nog besig om gebou te word en sal uiteindelik duisende skottels (soos die televisieskottels buite ons huise) en tot ’n miljoen laefrekwensie-antennas gebruik. Dit sal sterrekundiges in staat stel om die ruimte baie vinniger te ondersoek as enige bestaande stelsel. Dit sal ook die beste foto’s kan lewer (selfs beter as die Hubble-teleskoop). Die SKA is ’n internasionale projek – die meeste skottels sal in Suid-Afrika en ander Afrikalande opgerig word en die laefrekwensie-antennas in Australië.
Die MeerKAT-teleskoop is tans die grootste en sensitiefste radioteleskoop in die Suidelike Halfrond. Dit bestaan uit 64 skottels met ’n deursnee van 13,5 meter elk. 13
Woordbank
gepatenteer | ‘n Dokument kry wat jou die reg gee om om ‘n produk te maak en te verkoop en ander verbied om dit te kopieer. |
sterrewagte | Gebou/instituut/observatorium waar die sterre met behulp van teleskope bestudeer word. |
teleskoop | Meestal buisvormige, optiese instrument waarmee verafgeleë voorwerpe soos sterre deur middel van ligbreking of ligweerkaatsing van naby/nader bekyk kan word. |
uitvinding | Vir die eerste keer vasstel hoe iets nuuts gemaak/gebou ens. kan word; uitdink. |
verkyker | Toestel met lense waardeer ‘n mens kan kyk om voorwerpe wat ver is, groter en nader te laat lyk. 17 |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Hoe werk ‘n teleskoop?
Teleskope: ‘n blitskursus