Vinnige feite

  • Albert Einstein het glo gesê dat Newton die slimste mens is wat nog ooit geleef het. 3
  • Newton was glo nie ’n maklike man om mee oor die weg te kom nie en was baie geheimsinnig oor sy werk. Hy het homself in sy werk verdiep en het ’n eensame lewe gelei. Hy het dikwels vergeet om te eet en het skaars in die buitelug gekom. Hy was permanent in sy kantoor besig en het nooit getrou of kinders gehad nie.
  • Hy het baie belangstellings gehad, soos om self die Bybel te ontleed om te kyk of dit enige geheime boodskappe oor hoe die heelal werk, bevat.
  • Newton het in 1726 sy storie oor die appel wat hy gesien val het, vir William Stukeley vertel. Stukeley het dit in sy biografie Memoirs of Sir Isaac Newton’s life ingesluit, wat in 1752 gepubliseer is.
  • Die krag wat nodig is om voorwerpe te laat beweeg of vinniger te laat beweeg, word in newton gemeet. Dié eenheid is na sir Isaac Newton vernoem.
  • Newton is by die Westminster-abdy ter ruste gelê. Dit is die plek waar koninklikes en bekende mense soos Charles Darwin, Charles Dickens en David Livingstone begrawe is.

 

Foto: iStock

Het jy al die naam Isaac Newton gehoor? Dalk het jy nog nie die naam gehoor nie, maar wel die verhaal van die wetenskaplike wat ’n groot ontdekking gemaak het toe ’n appel op sy kop geval het. Hoewel dit ’n oulike storie is, is daar nêrens bewyse dat ‘n appel regtig op Newton se kop geval het nie.

Wat ons wel vandag weet, is dat Newton ’n bekende en gerekende wetenskaplike was wat belangrike ontdekkings gemaak en baanbrekerswerk verrig het. Hy was ’n fisikus en  wiskundige, en ’n groot naam tydens die Wetenskaplike Revolusie. Die Wetenskaplike Revolusie was ’n tydperk van drastiese verandering in wetenskaplike denkrigtings in die 16de en 17de eeu.

Newton het die grondslag vir moderne optika gelê deur sy bestudering van wit lig. In meganika het hy die drie bewegingswette geformuleer wat die basiese grondbeginsels van moderne fisika vorm, en wat tot die formulering van die wet van universele swaartekrag (of swaartekragwet) gelei het. Hy het ook die wiskundige metode kalkulus ontwikkel.

Kinderdae en opvoeding

Newton is op 25 Desember 1642 (4 Januarie 1643 volgens die moderne kalender) in Woolstorpe, Engeland, gebore. Hy was vroeggebore en só klein dat mense nie gedink het dat hy lank sou leef nie.

Sy pa was ’n boer, maar is drie maande voor Newton se geboorte oorlede. 1

Sy ma, Hannah Ayscough, het twee jaar daarna getrou, maar haar nuwe man wou nie haar kind aanvaar nie, en Newton moes by sy ouma gebly het. Sy ma en stiefpa het drie kinders gehad.

Nadat sy stiefpa oorlede is, wou sy ma hê dat hy ’n boer moes word en na hul plaas moes omsien. Sy het hom uit die skool gehaal sodat hy op die plaas kon werk, maar Newton was glad nie in die plaaslewe en -werk geïnteresseerd nie. Daar is toe gelukkig besluit om hom terug skool toe te stuur, en hy het op Grantham skoolgegaan.

Hy was ’n skrander leerling wat in Latyn uitgeblink het en wat daarvan gehou het om goeters te bou. Hy het graag klokke uitmekaargehaal en dit herbou.

Hy het in 1661 by die Universiteit van Cambridge ingeskryf, en teen daardie tyd was die Wetenskaplike Revolusie aan die gang. Hy het van nuwe wetenskaplike idees elders in Europa te hore gekom en was veral geïnteresseerd in die teorie dat die aarde en ander planete om die son wentel. In daardie stadium is daar nog wyd geglo dat die aarde die middelpunt van die heelal was.

Die kampus van die Universiteit van Cambridge.

Hy het ook die werk van die filosoof René Descartes ontdek, wat geglo het dat die wêreld uit materie bestaan en dat die natuur die gevolg is van die interaksie daarvan.

Newton het begin om notas oor sy eie idees neer te skryf en het dit Quaestiones quaedam philosophicae (“Sekere filosofiese vrae”) genoem.

Wiskundige ontdekkings

Teen die jaar 1665 het builepes derduisende mense in Europa se lewens geëis, en skole en universiteite is gesluit. So ook Cambridge. Newton moes na sy familieplaas terugkeer, en daar het hy tyd vir studies en eksperimente gehad.

Hy het hom in studies oor al die nuwe wetenskaplike teorieë verdiep en het ook begin om wiskunde te bestudeer. Só het hy die binomiaalstelling ontdek en kalkulus ontwikkel. ’n Duitse wiskundige genaamd Gottfried Wilhelm Leibniz het ook ‘n weergawe van kalkulus ontwikkel.

Newton het ook differensiaalrekening ontwikkel, ’n tipe berekening wat met wisselende hoeveelhede te make het.

Hy het al sy wiskundige ontdekkings in 1669 in De analysi per aequationes numeri terminorum infinitas (“Oor die analise van oneindige reekse’”) neergepen, waarvoor hy beroemdheid verwerf het. Hy het dit oor die volgende twee jaar in De methodis serierum et fluxionum (“Metode van differensiaalrekening”) hersien. Teen daardie tyd is hy as die leidende wiskundige in Europa beskou. 2 Laasgenoemde is egter eers postuum (ná sy dood) in 1736 gepubliseer.

Dit was in Newton se tyd op die plaas wat hy ’n belangrike ontdekking oor lig gemaak het. Mense het duisende jare lank geglo dat Aristoteles reg was toe hy gesê het dat alle kleure ’n mengsel van swart en wit was.

Newton het egter gevind dat as wit lig deur ’n prisma (of ’n driehoekige stuk glas) skyn, breek dit in verskillende kleure op. Hy het toe besef dat wit lig eintlik ’n mengsel van verskillende kleure is. Sy ontdekkings het tot sy groot werk Opticks gelei. Hy het ook in 1668 die reflekterende teleskoop ontwikkel. Hierdie soort teleskoop reflekteer lig en vorm ’n beeld. Die meeste van die groot teleskope wat vandag gebruik word, is weerkaatsende (of reflekterende) teleskope. 3

Newton en swaartekrag

Newton het swaartekrag en beweging bestudeer en ook so ’n groot bydrae tot wiskunde gemaak. Die wetenskaplike Galileo Galilei het die grondslag vir beweging gelê, en Newton het daarop voortgebou.

Newton het ’n werkstuk De motu (“Oor beweging”) geskryf, en hy het dit deurlopend hersien tot dit in 1687 in sy omvattende werkstuk Philosophiae naturalis principia mathematica (“Wiskundige beginsels van natuurlike filosofie”) vervat is. Dit word as Newton se meesterstuk beskryf en het ook die grondslag vir die moderne wetenskap gevorm.

Newton het ook in daardie tyd sy bewegingswette geformuleer:

  • Newton se eerste wet is dat as ’n voorwerp stilstaan, sal dit so bly, tensy ’n krag daarop inwerk. (Dit word ook die traagheidswet genoem.)
  • Sy tweede wet sê dat as die kragte wat op ’n voorwerp inwerk, ongebalanseerd is, sal die beweging daarvan verander. Hoe groter die krag, hoe groter sal die versnelling wees.
  • Newton se derde wet sê as een voorwerp ’n krag op ’n ander voorwerp uitoefen, sal die tweede voorwerp ’n krag uitoefen wat gelyk is in grootte en teenoorgesteld in rigting as dié van die eerste voorwerp. Daar is dus vir elke aksie ’n teenoorgestelde en gelyke reaksie. 2

Newton en die appel

Soos vroeër genoem, glo mense dat Isaac Newton onder ’n appelboom gesit het toe ’n appel op hom geval het, en dit het hom aan swaartekrag laat dink. Die waarheid is glo dat hy gesien het hoe ’n appel uit ’n boom val, en dit het hom laat dink aan die rede waarom appels regaf grond toe val en nie byvoorbeeld sywaarts nie. Dit het hom gehelp om sy swaartekragwet te ontwikkel. 4

Newton wou byvoorbeeld weet wat die maan in sy wentelbaan hou en besef dat daar iets moet wees wat die maan en die aarde na mekaar toe aantrek. Daardie aantrekkingskrag word swaartekrag genoem. Newton se werk het gewys dat swaartekrag die posisies van die planete om die son asook die wentelbaan van die maan beheer.

Hy het in 1687 sy teorie gepubliseer en gesê dat elke liggaam in die heelal aangetrek word na ’n ander liggaam wat eweredig is aan die produk van hul massas en omgekeerd eweredig is aan die vierkant van die afstand tussen hulle. 1

Muntmeester en ridderskap

Nadat die Universiteit van Cambridge se Trinity College in 1667 heropen het, is Newton ’n genootskap aangebied. Hy het twee jaar later die Lucasiaanse professor van wiskunde geword, en so kon hy meer tyd aan navorsing bestee. Newton was 30 jaar aan die Universiteit van Cambridge verbonde, maar het nie graag vir studente klasgegee nie. Hy wou eerder net op sy eie navorsing fokus.

Newton is in 1703 tot president van ’n groot wetenskaplike groep verkies. Die groep het as die Royal Society bekendgestaan.

Newton was van 1689 tot 1690 ’n lid van die parlement en het sy universiteit daar verteenwoordig. Hy het glo nooit in die parlement gepraat nie, slegs een keer toe hy gevra het dat die venster toegemaak moes word! 5

Hy het in 1696 die Toesighouer van die Koninklike Munt (in Engels: Warden of the Royal Mint) geword, wat Engeland se geldeenheid gedruk het. Hy moes na Londen trek vir dié pos en is drie jaar later tot Muntmeester (in Engels: Master of the Mint) bevorder. Hy het die pos tot sy dood beklee. Newton het hard gewerk om mense wat die geldeenheid vervals, vas te trek, en het baie mense só galg toe gestuur!

Hy is in 1703 tot die president van die Royal Society verkies en is in 1705 deur die koningin van Engeland tot ridder geslaan. Dit is waarom hy as “sir” Isaac Newton bekendstaan.

Newton het heelwat vetes met mededingers gehad. Hy het byvoorbeeld ’n geskil met die Duitse wiskundige en filosoof Gottfried Leibniz gehad oor wie kalkulus uitgevind het. Hulle het mekaar wedersyds daarvan beskuldig dat hulle mekaar se werk gesteel het. Die Royal Society het uiteindelik beslis dat Newton kalkulus uitgevind het, maar Leibniz se weergawe word vandag nog gebruik.

In sy laaste jare, het Newton veranderinge aan sy boeke gemaak en dit weer laat publiseer. Hy het byvoorbeeld ’n Latynse weergawe van Opticks uitgegee en ’n tweede Engelse uitgawe in 1717/8. Daar het ook nog twee uitgawes van Principia verskyn.

Hy het ná ’n lang siekbed op 20 Maart (31 Maart volgens die nuwe kalender) 1727 gesterf. 2

Het jy geweet?

Newton was die tweede mens wat die Lucasiaanse professorskap gehou het. Dit is een van die gesaghebbendste en gesogste posisies in die akademiese wêreld. Dit is na Henry Lucas vernoem, wat van 1610 tot 1663 geleef het. Hy was ’n lid van die parlement vir die Universiteit van Cambridge en die stigter van dié wiskundeleerstoel. Die bekende fisikus Stephen Hawking was die 17de Lucasiaanse professor. 5

Woordbank

baanbrekerswerk Die eerste werk wat in ’n nuwe rigting gedoen word en wat gewoonlik met baie moeite gepaardgaan.
binomiaalstelling Dit is die algebraïese uitbreiding van die magte van ’n binomium of binoom. Dit is, met ander woorde, ’n maklike manier om ’n binomiaaluitdrukking wat tot ’n mate verhef is, uit te brei.
builepes ’n Pessiekte gekenmerk deur boosaardige buile en pynlike klierswelling.
filosoof Iemand wat oor die lewe dink, dié gedagtes neerskryf en aan ander mense leer.
fisikus Kenner van fisika; natuurkundige; natuurwetenskaplike.
differensiaalrekening Wiskunde wat met die inkrement van ’n veranderlike grootheid te doen het.
galg Raamwerk met ’n dwarsbalk en tou wat gebruik word om oortreders of misdadigers aan op te hang.
genootskap ’n Beurshouer (in Engels: fellowship).
geskil Gemodelleer, gevorm; volgens iets gedoen.
kalkulus ’n Wiskundige rekenmetode.
leerstoel Professoraat.
materie Materiaal waaruit alles in die heelal bestaan (alle vaste stowwe, vloeistowwe en gasse).
mededingers Mense wat probeer om beter as jy te presteer
meganika Wat met ’n masjien te make het.
munt Die plek waar geld (munte) gemaak word.
optika Wetenskap van lig.
prisma Driehoekige stuk glas; ’n kleurebeeld word verkry deur ’n ligstraal deur ’n prisma te laat gaan.
revolusie ’n Groot en belangrike ontwikkeling wat heeltemal anders is as enigiets wat dit voorafgegaan het.
tot ridder geslaan Dit is ’n eerbewys wat deur die koning of koningin van Engeland gegee word vir ’n persoon wat baie goed presteer; die persoon ontvang ridderskap. Dié persoon kry dan die titel “sir” voor sy naam.
skrander Slim.
teleskoop Meestal buisvormige, optiese instrument waarmee verafgeleë voorwerpe soos sterre deur middel van ligbreking of ligweerkaatsing van naby/nader bekyk kan word.
vetes ’n Rusie/stryery wat lank aanhou.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Newton die wiskundige en wetenskaplike

Verstaan Newton se bewegingswette beter

Newton se lewensverhaal

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Maart 2024 | Bygewerk op 13 Maart 2024