Vinnige feite

  • Dit sal ʼn ligstraal ongeveer 100 000 jaar neem om van die een kant na die ander kant van die Melkweg te beweeg. 9
  • Die Melkweg is ongeveer 10 tot 15 miljard jaar oud.
  • Die Melkweg het tussen 200 tot 400 miljard sterre. Dis nie moontlik om die getal presies te bereken nie.
Foto: iStock

Op ’n wolklose, donker nag sien mens ’n dowwe ligstrook teen die hemelruim – dit is die ligbaan wat ons as die Melkweg ken.  Die Melkweg of Melkwegstelsel is ’n enorme groot sterrestelsel van miljoene der miljoene sterre waarin ons eie son en sy planete ook voorkom.

In ʼn donker nag, en wanneer daar min lugbesoedeling is, kan dit maklik gesien word. Navorsers reken dat die Melkwegstelsel 10 tot 15 miljard jaar oud is.

Tot in die vroeë 1920’s het die meeste sterrekundiges geglo dat alle sterre in die heelal in die Melkweg voorkom. Waarnemings deur Edwin Hubble het egter gewys dat die Melkweg net een van baie verskillende sterrestelsels is. 1

Herkoms van die naam

Deur die eeue was daar verskillende bygelowe en mites (lees ook hier van mites) oor die dowwe ligbaan wat mense snags in die lug sien. Verskillende groepe mense het verskillende verklarings daarvoor gegee. Die antieke Armeniërs het geglo dat die god Vahagn strooi gesteel en toe daarvan gemors het toe hy oor die hemelruim (terug na Armenië) gevlug het. In Oos-Asië is dit die “Silwer straat van die hemel” genoem terwyl die mense in Finland dit die “Pad van die voëls” genoem het. Die Grieke en Romeine het dit weer die “Rivier van melk” genoem. Hierdie naam het gebly en dit is soos ons dit vandag steeds bekend ken – die Melkweg. 2

Vorm en voorkoms

Die Melkwegstelsel het die vorm van ʼn spiraalvormige skyf (die middelvlak is breër as aan die kante) met die hoogste sterredigtheid (die meeste sterre) in die middelste deel. Die deursnee/middellyn van die Melkwegstelsel is só groot dat dit ʼn ligstraal byna 100 000 jaar neem om van die een kant na die ander kant te beweeg!

Omdat die son in die middelvlak (galaktiese vlak) van die Melkwegstelsel is, lyk dit vir ons soos ʼn dowwe ligstreep in die hemelruim.

Visuele (met die oog) ondersoek

Wanneer ʼn mens baie mooi daarna kyk, kan mens sien dat dié band, die Melkweg, eintlik ʼn groot aantal ligpunte is wat deur donker lane geskei word. Deur ʼn teleskoop en op foto’s kan ʼn mens sien dat dié punte ontelbare dowwe sterre is. Galileo Galilei was die eerste mens wat dit in 1609 met ʼn selfgeboude teleskoop ontdek het.

Teorieë van verskillende navorsers

William Herschel (1732-1822)

William Herschel, ’n Duitse komponis en professionele sterrekundige (iemand wat sterre en ander hemelliggame soos planete bestudeer), was die belangrikste baanbreker van die sistematiese klassifikasie en ondersoek van die hemelruim. Volgens sy navorsing het die son en die sterre saam in ʼn soort skyfvormige stelsel gelê wat, omdat dit so ver is, soos ʼn ligband in die hemelruim lyk. Hy het met behulp van sy teleskoop die sterre in gedeeltes van die Melkwegstelsel getel om te probeer vasstel hoe ver die sterrestelsel in alle rigtings strek. 3 Sy mening was dat alle sterre naastenby dieselfde ligsterkte het en omtrent ewe ver van mekaar af is. In 1785 het hy met sy navorsing hierdie afmetings vir die Melkwegstelsel gegee:

Deursnee/middellyn – Ongeveer 6 000 ligjare

Vertikale afstand – Ongeveer 1 100 ligjare

Met latere navorsing is vasgestel dat hierdie afmetings ongeveer 15 keer te klein was, maar Herschel se verhoudings was wel reg.

Hugo Seeliger (1849-1924)

Hugo Seeliger was ook ’n Duitse sterrekundige. Hy het sterre met dieselfde helderheid in verskillende gebiede getel en só ontdek dat die sterrestelsel yler word hoe verder dit na die kante toe uitkring.

Sy afmetings was soos volg:

Lengte: Ongeveer 32 000 ligjare

Vertikaal/diepte: Ongeveer 6 000 ligjare

J.C. Kapteyn (1851-1922)

Die Nederlandse sterrekundige J.C. Kapteyn het die basis gelê vir moderne navorsing oor die Melkwegstelsel. Sy model van die Melkwegstelsel soos hy dit in 1920 saamgestel het, word die Kapteyn-stelsel genoem. Volgens dié model is die Melkwegstelsel skyfvormig.

Die afmetings wat hy gegee het, is soos volg:

Deursnee/middellyn: Ongeveer 50 000 ligjare

Vertikaal/diepte: Ongeveer 10 000 ligjare

Kapteyn kon slegs ʼn deel van die Melkwegstelsel waarneem omdat daar plek-plek digte gas– en stofwolke voorkom. Hierdie wolke absorbeer die lig van die sterre wat verder agtertoe lê sodat hulle nie sigbaar is nie.

Ligjare

Wat presies is ’n ligjaar en hoe ver is ’n ligjaar? Sterre lê ontsaglike groot afstande van mekaar versprei. Daardie afstande is so groot dat ’n mens dit nie in kilometers kan voorstel of uitdruk nie. 4

Die aarde is gemiddeld 149 600 000 km van die son af en dit neem die son se lig bietjie meer as 8 minute om die aarde te bereik. Ons sê dus dat die son 8 ligminute weg is. Die afstand wat lig in 1 minuut aflê, is ongeveer 18 miljoen km. Die snelheid van lig is ongeveer 300 000 km per sekonde. Die lig van die volgende naaste ster aan die aarde, Proxima Centauri, bereik die aarde eers ná 4,3 jaar!  Daarom gebruik sterrekundiges ligjare om afstande in die ruimte aan te dui – een ligjaar is dus die afstand wat lig in ’n jaar se tyd aflê. 5

Verskillende vorms

Die Melkweg is slegs een van ongeveer 100 000 miljoen sterrestelsels. Elkeen van hierdie stelsels bestaan uit miljoene sterre en newelvlekke. Sterrestelsels het verskillende vorms. Die Melkweg en sy naaste groot buurman, die sterrestelsel Andromeda, is spiraalvormig. Ons sien van die aarde af nie die Melkweg se spiraalvorm nie, omdat ons ons eie sterrestelsel van die sykant af sien.

Sommige spiraalsterrestelsels het ’n soort staaf van sterre en gas wat deur die middel daarvan loop, en hulle word staafspirale genoem. Ander sterrestelsels is weer ellipties. Hierdie stelsels is onder die grootstes in die heelal. Ander stelsels het weer geen vaste vorm nie en word onreëlmatige sterrestelsels genoem.

Hoe is die Melkweg saamgestel?

Navorsers aanvaar dat die oudste sterre in die middel is, terwyl die jonger sterre in die arms van die spiraal is. Die son, wat een van sowat 100 000 miljoen sterre in ons sterrestelsel is, lê in ’n vertakking van een van die arms, wat die Orion-Cygnus-arm genoem word. Die posisie van die son is ongeveer twee derdes van die middelpunt af. 6

Die naaste bure van die Melkweg is twee kleiner sterrestelsels wat die Magellaanse Wolke genoem word. Hierdie sterrestelsels is gedurende die 17de eeu vir die eerste keer deur die Portugese ontdekkingsreisiger Fernando de Magellan beskryf. Vandaar die naam Magellaanse Wolke. Hierdie twee sterrestelsels kan in die Kaap met die blote oog gesien word, selfs sonder ’n teleskoop. Om hierdie rede en omdat hulle soos dowwe wolke lyk, word hulle ook die Kaapwolke of Kaapse Wolkies genoem.

Twee miljoen ligjare ver lê die baie groot Andromeda-stelsel.

Sterrestelsels kom in groepe voor. Die Melkweg en Andromeda, saam met ongeveer dertig ander sterrestelsels, vorm die groep wat as die Plaaslike Groep bekendstaan. Ons groep is klein in vergelyking met ander groepe wat selfs meer as 2 500 sterrestelsels kan bevat. Sulke groepe word swerms en soms superswerms genoem. 7

Hoe word ’n ster gevorm?

’n Ster ontstaan uit ’n newelvlek wat begin krimp. Die stof en gas in die newel word deur swaartekrag saamgetrek om ’n bal te vorm. In die kern van hierdie bal word dit baie warm en dig. Uiteindelik word daar kernreaksies in hierdie kern aan die gang gesit en die gas begin gloei. Lig en hitte word uitgestraal en ’n ster ontstaan! Jy sal in graad 9 meer van die geboorte en sterfte van ’n ster leer.

Rotasie in die Melkwegstelsel

Aan die einde van die 1920’s het die navorsers Lindblad en Oort uitgevind dat die Melkwegstelsel roteer. Kapteyn het ook reeds vasgestel dat die sterre nie sommer deurmekaar beweeg nie, maar in twee teenoorgestelde sterstrome in die Melkwegstelsel wentel. Die bane waarin hulle beweeg, is min of meer sirkelvormig.

Die sterre in die Melkwegstelsels word deur swaartekrag bymekaar gehou. Al die sterre draai rondom die gemeenskaplike swaartepunt in die kern. Die Melkwegstelsel roteer nie as een liggaam nie. Sterre nader aan die kern se baan is baie korter as die baan van sterre wat verder van die kern af is. Ons son het ongeveer tweehonderd en twintig miljoen jaar nodig om een sirkelroete om die kern van die Melkwegstelsel te voltooi!

Woordbank

baanbreker Iemand wat nuwe dinge ontdek of doen, of nuwe ondernemings begin. Ander woorde wat byna dieselfde beteken, is voortrekker of pionier. 8
mites Oorlewering van idees wat met gode, godsdiens of kulturele waardes te doen het. Dit word dikwels as die waarheid voorgehou.
roteer Wanneer ’n voorwerp om ’n as of sentrale punt draai.

Lees hierdie om meer oor die Melkweg te leer

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

ʼn Visuele voorstelling van die Melkweg

Onderneem ‘n besonderse virtuele reis deur die Melkweg

Hoe groot is die heelal?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 1 Desember 2021 | Bygewerk op 1 Februarie 2024