Vinnige feite

  • Biko was die derde kind van vier kinders. Die oudste se naam is Bukelwa, sy ouer broer is Khaya en sy jonger sussie is Nobandile. Saam vorm hul name die sin: “Hayi ukuBukeka kweKhaya laBantu aBandileyo” wat “Ons bewonder die uitgebreide familie” beteken. 14
  • In 1967 is Biko tot die Universiteit van Natal se studenteraad verkies. ʼn Studenteraad word saamgestel uit ʼn paar studente wat verkies word om namens hulle die universiteit te verteenwoordig en besluite namens die ander studente te neem. Hy word deur die universiteit se Nusas-tak gestuur om ʼn landwye Nusas-konferensie by die Universiteit van Rhodes in Grahamstad (Makhanda) in die Oos-Kaap by te woon. Hy gaan egter op ʼn eetstaking toe die swart studente nie dieselfde huisvesting as die wit studente kan deel nie en ook nie saam met mekaar mag eet nie. 1
  • Biko het die bekende frase “Black is beautiful” begin gebruik, wat vinnig na ander lande in die wêreld versprei het. Hy het hiermee bedoel: “Jy is oukei net soos wat jy is. Begin na jouself kyk as ʼn mens.” 17
  • In die agtien maande voor Biko se dood het 20 ander mense ook in polisieaanhouding gesterf. 13 Hy het bedoel dat Biko se afsterwe hom nie raak nie. “Ek is nie bly nie en ek is ook nie jammer oor mnr. Biko nie. Sy afsterwe laat my koud. Ek kan niks vir julle sê nie. Enigiemand wat sterf … Ek sal jammer wees as ek sterf.” 1
  • Helen Zille, later die leier van die Demokratiese Alliansie (DA) en voormalige burgemeester van Kaapstad, is een van die joernaliste wat ondersoek ingestel het na Steve Biko se dood en uitgevind het dat hy nie weens ʼn eetstaking dood is nie. 16
  • Biko se afsterwe was die inspirasie vir verskeie liedjies, ook vir kunstenaars buite Suid-Afrika, soos Tom Paxton en Peter Hammill. Die Britse sanger en liedjieskrywer Peter Gabriel het die liedjie “Biko” vrygestel, wat ʼn treffer in 1980 was. Die liedjie is kort daarna in Suid-Afrika verban. 18
  • Die standbeeld van Biko in Oos-Londen is moontlik gemaak deur skenkings deur die akteurs Denzel Washington en Kevin Kline, sanger en liedjieskrywer Peter Gabriel en die Virgin-entrepreneur Richard Branson. 14
  • Die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) het nie amnestie toegestaan (gegee) aan die vyf polisielede wat by Biko se dood betrokke was nie. Volgens die kommissie het hul optrede nie ʼn politieke motief gehad nie en was daar twyfel dat die beamptes die volle waarheid vertel het van wat presies voor Biko se afsterwe gebeur het. 16
  • Dr. Mamphela Ramphele was in 2000 die besturende direkteur van die Wêreldbank. 19
Foto: iStock

Terwyl stryders (vegters) teen apartheid soos Nelson Mandela op Robbeneiland agter tralies was, het ʼn jonger geslag aktiviste (mense wat verandering teweeg wil bring) na vore getree. Steve Biko was ongetwyfeld een van die invloedrykste leiers van hierdie beweging én tydperk in ons geskiedenis.

Die jong Biko se strategie (plan) om teen apartheid op te staan, het ietwat verskil van die leiers voor hom: vir hom was dit belangrik dat mense eerstens sielkundig bevry moes word. Hy het gevoel dat swart mense ná jare se onderdrukking eers in hulself moes glo. Met sy Swartbewussynsbeweging het hy op die “sielkundige verlossing” (of sielkundige bevryding) van swart mense gefokus.

Dié beweging het geglo dit is eers wanneer iemand se menswaardigheid (die besef dat jy as ʼn mens belangrik is) herstel is, dat daardie persoon genoeg selfvertroue en ʼn sterk selfbeeld het om ʼn stelsel soos apartheid in die openbaar te beveg (teen dit op te staan). [Lees meer hier oor selfbeeld.]

Biko se grusame (wrede) dood op 30-jarige ouderdom was nie verniet nie. Hy het ʼn voorbeeld vir latere apartheidsaktiviste geword. ’n Stryder wat nie ingegee óf opgegee het nie. Sy grootste bydrae was vir seker die idees en gedagtes van menswaardigheid wat hy onder die volgende geslag aktiviste gevestig het.

Steve Biko-huis

Die “groot reus” ontwaak

Bantu (“Die een vir die mense”) Stephen Biko is op 18 Desember 1947 in Qonce (King William’s Town) in die Oos-Kaap gebore. 1

Tydens Steve se kinderjare het die gesin baie rondgetrek as gevolg van sy pa wat ʼn polisielid was en gereeld na ander polisiekantore in die provinsie verplaas is. Met sy geboorte het sy pa by ʼn polisiekantoor in ʼn klein dorpie buite Queenstown gewerk en sy ma was by hul huis in Tarkastad. Hy was die derde kind van Mzingaye en Alice Duna Biko. Sy sussie Bukelwa en broer Khaya is onderskeidelik in 1942 en 1944 in Queenstown in die Oos-Kaap gebore. Twee jaar ná Steve se geboorte verwelkom die Biko-gesin nog ʼn dogtertjie – Nobandile. 2

In 1948 bedank sy pa as ʼn polisielid en begin as ʼn klerk (iemand wat baie papierwerk doen of administrasie hanteer) vir die regering werk. Die gesin verhuis na die Ginsberg- informele nedersetting (township) naby Qonce. Daar het ongeveer 800 gesinne in Ginsberg gewoon. Die huise het nie lopende water of spoeltoilette gehad nie. Elke vier gesinne het ʼn toilet en ʼn kraan gedeel.

Bruin mense het ook in dié township gebly waar die inwoners Afrikaans, Engels en Xhosa gepraat het. In hierdie tyd het Biko se pa vir ʼn regsgraad deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) ingeskryf. 3

Ongelukkig sterf Mzingaye aan ʼn onbekende siekte toe Steve skaars vier jaar oud was. Sy ma was skielik die enigste broodwinner (die persoon wat die geld verdien waarvan ʼn gesin lewe) en moes op haar klein salaris as ʼn kok (iemand wat kos maak) by die plaaslike hospitaal vir ʼn gesin van vyf sorg. 2

Biko was ʼn baie toegewyde leerder en het gereeld met die beste punte in die klas op sy rapport gespog. In 1963 ontvang hy ʼn beurs (geld wat ʼn mens ontvang om aan ʼn instelling te gaan studeer) om by die Lovedale-kollege net buite Alice in die Oos-Kaap skool te gaan. Sy ouer broer Khaya was reeds ʼn leerder aan hierdie toonaangewende hoërskool. 2

Steve was skaars drie maande in die skool toe hy geskors word as gevolg van die ouer studente se stakings (weier om klas toe te gaan). Hoewel die skool later bevind het dat hy nie deel van die stakings was nie, is hy steeds saam met sy broer geskors omdat Khaya een van die studenteleiers was. 1

Bantoe Stephen Biko, derde kind van Mzingaye Mathew Biko en Alice ‘Mamcete’ Biko

Die Biko-broers is ook nie toegelaat om enige ander skole in die omgewing by te woon nie. Steve kon gelukkig weer plek kry in ʼn ander vooraanstaande skool in Mariannhill, KwaZulu-Natal, maar die onregverdigheid van die skorsing het hom bygebly. 1

Khaya het later gesê: “Steve het nooit omgegee vir die politiek nie, maar dit het alles verander toe hy uit Lovedale geskors is. Dit is toe die groot reus wakker gemaak is.” 1

Terwyl hy in Mariannhill op skool was, het vrae oor Christenskap en apartheid hom begin pla. Hy kon nie verstaan hoe die kerk die diskriminasie (iemand benadeel op grond van hul velkleur/ras of geloof) en onregverdigheid van apartheid ondersteun nie. Hy het briewe met sy vrae aan sy ma geskryf. Priesters (soos ’n dominee of predikant) van sy ma se kerk het hierdie briewe beantwoord, wat gelei het tot ʼn lewenslange vriendskap tussen Biko en, onder andere, Aelred Stubbs, wat hy reeds by die Lovedale-kollege ontmoet het. Stubbs publiseer later Biko se skrywes ná sy dood in ʼn boek, I Write What I Like. 1

Steve Biko-hospitaal

ʼn Nuwe soort bevryding

Ná matriek ontvang Biko ʼn beurs om aan die Universiteit van Natal (KwaZulu-Natal) medies te studeer (om ʼn dokter te word). Hoewel hulle afsonderlik van die wit studente gestudeer het, was die Universiteit van Natal een van die min universiteite in die land wat ʼn groot aantal swart, bruin en Indiër-studente gehad het. 1

Kort voor lank het Biko aan die studentepolitiek begin deelneem en by die Nasionale Unie van Suid-Afrikaanse Studente (Nusas) aangesluit. Hierdie organisasie het uit wit én swart studente bestaan wat teen apartheid in opstand gekom het. Biko en ʼn paar ander lede was egter skepties oor ʼn organisasie wat meestal uit wit liberale studente bestaan het. Hy het gevoel dat wit mense nie besef het hoe dringend verandering nodig was nie, omdat hulle nie self deur apartheid benadeel is nie. Soos Biko dit beskryf het: “Blacks are tired of standing at the touchlines to witness a game that they should be playing. They want to do things for themselves and by themselves.” 1

In 1968 verlaat Biko en ʼn paar ander studenteleiers Nusas en stig die Suid-Afrikaanse Studenteorganisasie (Saso). Hierdie organisasie het net swart, waaronder bruin en Indiër-persone ook getel het, toegelaat. Wit mense is nie toegelaat nie omdat die leiers gedink het hul lidmaatskap aan die party sou die bevryding van swart mense in die wiele ry (verhinder). 4

Die organisasie wou swart mense op ʼn sielkundige en politieke vlak bevry. Die sielkundige doelwit van die Swartbewussynsbeweging, waarvan Biko een van die leiers was, was hoofsaaklik om swart mense ʼn gevoel van menswaardigheid te gee. Die proses van Suid-Afrika se kolonisasie deur Brittanje aan die begin van die twintigste eeu het as ’t ware alle Suid-Afrikaners van hul menswaardigheid beroof. Kinders van alle bevolkingsgroepe moes byvoorbeeld in Engels skoolgaan. Ongelukkig is die proses, om mense minderwaardig te laat voel, voortgesit toe die beleid van apartheid ingestel is. Hierdie keer was die mening dat sekere mense se kultuur, taal en selfs hul voorkoms beter is as ander mense. 5

Biko, wat as die vader van die Swartbewussynsbeweging in Suid-Afrika beskou word, het geglo dat swart mense slegs teen onderdrukking kon opstaan as hulle ʼn trots begin ontwikkel – ʼn trots op hul taal, kultuur en voorkoms. Hulle moes begin glo dat hulle nie minderwaardig aan enigiemand is op grond van hul ras nie en dat dit nie nodig is om hulself met ander te vergelyk nie. Die politieke deel van die beweging het daarop gefokus om mense te laat glo in die mag wat daar is as mense saamstaan en as een teen onderdrukking en apartheid baklei, aangesien daar baie meer swart as wit mense in Suid-Afrika is. 4

In 1971 het Saso vergaderings met swart kerke, jeug- en kultuurorganisasies begin hou om die mag, wat in getalle is, tot voordeel van die apartheidstryd te gebruik. Die plan was om ʼn verenigde Swartbewussynsbeweging te vestig. Nie almal in Saso het egter soos Biko geglo dat die lede nog nie genoeg selfvertroue het om in die openbaar op ʼn georganiseerde wyse hul teen die staat te verset nie. ʼn Paar lede van Saso wat ongeduldig was, stig later daardie jaar die Black People’s Convention (BPC). 4

Die stigting van die BPC was die laaste strooi vir die universiteit en Biko word geskors. Hy besluit om al sy aandag aan die politiek te wy. 6

Dit was duidelik dat Biko ongetwyfeld die grootste denker en skrywer van die Swartbewussynsbeweging was. Hy was ook die redakteur van die swart publikasie Black Review, tot dit in 1973 verbied is. Daarna het hy steeds onder die skuilnaam Frank Talk vir ʼn Engelse koerant geskryf. 4

Bedrywighede tydens inperking

Die Suid-Afrikaanse regering het Biko al meer as ʼn bedreiging (gevaar) teen apartheid beskou. 3 Vanaf 1973 is Biko saam met sewe ander Swartbewussynsleiers verban en gedwing om na afgeleë (ver weg van stede) plekke te verhuis. Die staat het gedink dat hulle die leiers se stemme sou kon stilmaak as hulle nie met die publiek of die media kon praat nie. Biko moes na sy tuisstad Qonce gaan en mag nie die dorp verlaat het nie. Hulle mag nie meer aan politieke bedrywighede deelgeneem of openbare toesprake gelewer het nie. Biko het hom egter nie hieraan gesteur nie. Hy het, onder meer, gehelp om ʼn mediese kliniek en kleuterskool in Ginsberg, waar hy grootgeword het, te begin. Hy het verskeie keer doodsdreigemente ontvang en is dikwels deur die veiligheidspolisie aangehou en ondervra. 6

Selfs met Biko onder inperking het Saso en die BPC in September 1974 ʼn groot samekoms in Durban gehou om Frelimo se oorwinning teen Portugese kolonialisme te vier. Frelimo was die vegters wat teen Portugal vir Mosambiek se onafhanklikheid baklei het. Muntu Myeza, die leier van Saso in daardie stadium, het geglo dat Frelimo se oorwinning oor Mosambiek se regering hoop vir Suid-Afrikaners se stryd gee. As Frelimo dit kon regkry, kon apartheidstryders in Suid-Afrika dit ook regkry, het hy geglo.

Ten spyte daarvan dat Jimmy Kruger, die destydse minister van justisie en polisie, die byeenkoms verban het, het mense in hul massas opgedaag. 7

Die polisie het gereageer deur die skare van meer as 5 000 mense aan te val, hulle te slaan en honderde in hegtenis te neem. 8 Nege Saso- en BPC-leiers is maande lank sonder verhoor (om in die hof te verskyn) aangehou. Hulle is uiteindelik ingevolge die Wet op Terrorisme aangekla. 9

Volgens die Terrorismewet van 1967 kon die polisie mense vir lank in die tronk hou sonder dat hulle voor ʼn hof verskyn as hulle vermoed het die persoon het ʼn daad van terreur gepleeg, of het beplan om ʼn daad van terreur te pleeg.

Donald Woods

Onder terreur is só baie goed ingesluit: selfs ʼn daad wat net gelyk het of dit vyandigheid tussen wit en swart kon bevorder. Tydens hierdie tydperk is aangehoudenes (mense in die tronk) dikwels gemartel (seergemaak) in die hoop om antwoorde uit die gevangenes te kry. 8

Biko is in Mei 1976 geroep om tydens die hofsaak te getuig. Dit was die eerste geleentheid wat hy gehad het om in die openbaar te praat sedert hy in 1973 verbied is om te reis, of om skrywes aan koerante of tydskrifte te stuur. Sy toespraak in die hof is beskryf as “ ʼn kursus oor swart bewustheid”. Sy getuienis het gelei tot die Soweto-opstand, ʼn reeks betogings deur hoërskoolleerders in Suid-Afrika, wat die oggend van 16 Junie 1976 begin het. Die polisie het baie gewelddadig gereageer en honderde jongmense is dood. 10

Geen wonder oudpresident Nelson Mandela het Biko later die “vonk wat ʼn veldbrand in Suid-Afrika begin het” genoem nie! 11

Sterfte in aanhouding

Dit is onder die einste Terrorismewet dat Biko tydens ʼn padblokkade op 18 Augustus 1977 in Port Elizabeth (Gqeberha) in hegtenis geneem en sonder verhoor deur die veiligheidspolisie aangehou is. Die veiligheidspolisie was ʼn spesiale tak of deel van die polisie wat veral op sake gekonsentreer het wat volgens die regering Suid-Afrika se veiligheid bedreig het. Baie van hul aktiwiteite is in die geheim gedoen. 1

Ná byna drie weke van aanhouding, is Biko op 6 September 1977 van die Walmer-polisieselle na die veiligheidspolisie geneem vir ondervraging. Volgens die Waarheid-en-versoeningskommissie se latere verslag het Biko ʼn kopbesering tydens die ondervraging opgedoen. Hy het “vreemd opgetree” en het nie sy samewerking gegee nie. Die dokters wat hom ondersoek het, het aanvanklik tekens van ʼn breinbesering geïgnoreer. Biko was kaal, hy het op ʼn matjie gelê en was geboei. 11

Steve Biko-huis

Teen 11 September was Biko half bewusteloos en ’n tronkdokter het aanbeveel dat hy na ’n hospitaal geneem word. Hy word egter sowat 1 200 km ver na die Sentraal-Gevangenis in Pretoria vervoer. Tydens hierdie rit van 12 uur lank word Biko kaal en geboei agter in ’n Land Rover gehou. Hy sterf op 12 September, koud en alleen op die vloer van ’n tronksel. 12

Biko se familie woon die volgende dag die nadoodse ondersoek by waartydens ʼn dokter probeer vasstel wat die oorsaak van ʼn persoon se dood was. Die minister van polisie, Jimmy Kruger, het gesê Biko is dood weens ʼn eetstaking, maar die mediese verslag is nooit openbaar gemaak nie. Die Biko-familie het nie hierdie bevinding aanvaar nie. 13

Biko was die twintigste persoon wat in aanhouding gesterf het, en aangesien die regering steeds ontken het dat Biko tydens sy aanhouding aangerand is, het ʼn paar koerante hul eie ondersoeke begin doen. Hulle het ontdek dat Biko weens breinbeserings dood is. Nadat iemand ʼn foto van Biko in sy doodskis in die geheim na Brittanje gestuur het, was dit duidelik dat Biko aan breinbeserings gesterf het nadat hy aangerand is en sonder enige mediese behandeling na Pretoria gestuur is. 14

Standbeeld van Steve Biko, Oos-Londen

Waarskynlik as gevolg van druk, onder meer van die buiteland, het die Suid-Afrikaanse regering ’n ondersoek na die voorval van stapel gestuur. Tydens die hofsaak het die vyf betrokke polisielede beweer dat daar ʼn struweling (bakleiery) met Biko tydens ondervraging ontstaan het en dat hy moontlik op sy kop geval het. Die mediese verslag wat toe bekend gemaak is, het bewys dat dit baie meer as net ʼn stampie teen die kop was. Daar was verskeie kopwonde en Biko het ʼn gekraakte skedel en gebreekte ribbes gehad. Die polisie het wel erken dat hulle Biko kaal en geboei op die vloer van ʼn voertuig Pretoria toe geneem het. Magistraat (regter van ʼn plaaslike of streekhof) Martinus Prins het bevind dat Biko as gevolg van verskeie breinbeserings gesterf het, maar dat die polisie nie verkeerd of onwettig opgetree het nie. Al vyf polisielede is op aanklagte van aanranding vrygespreek. 15

Steve Biko-plein

Begrafnis en persoonlike lewe

Steve Biko is op 25 September 1977 naby Qonce begrawe en mense is in busse aangery om die begrafnis by te woon. Met meer as 20 000 begrafnisgangers was dit Suid-Afrika se eerste massa- politieke begrafnis. Daar is vir meer as vyf uur hulde aan Biko gebring. 12

Gebrandskilderde venster deur Daan Wildschut in die Sint Annakerk, Heerlen, Nederland

Verskeie bekende persone het Biko se begrafnis bygewoon, soos diplomate van die Verenigde State van Amerika, Brittanje, Duitsland, Frankryk en ander Westerse lande. 10

Biko het vyf kinders by drie verskillende vroue gehad. Hy was vanaf 1970 met Ntsiki Mashalaba getroud. By haar het hy twee seuns gehad: Nkosinathi (gebore 1971) en Samora (gebore 1975). Hy het ook talle buite-egtelike verhoudings gehad en hul huwelik was op die rotse. Hulle sou geskei het as Biko nie gesterf het nie. Nog voor hy met Ntsiki getrou het, het Biko as student die sakevrou en politikus Mamphela Ramphele ontmoet.

Steven Bantu Biko se graf in King Williams Town

Dié twee was reeds tydens hul studentejare verlief, maar Mamphela het besluit om met Dick Mmabane te trou. Mamphela en Dick se huwelik kom ná ʼn jaar tot ʼn einde, en sy en Biko hervat hul verhouding. In 1974 skenk Mamphela geboorte aan sy eerste dogter Lerato, wat ongelukkig net twee maande leef voor sy aan longontsteking sterf. Mamphela was swanger met Hlumelo toe sy pa in 1977 dood is. Lorraine Tabane is die ma van sy dogter Motlatsi wat in 1977 gebore is. 16

Oor sy pa het Nkosinathi later geskryf: “Toe ek 30 jaar oud geword het, dieselfde ouderdom waarop my pa oorlede is, was dit een van daardie jare waar ’n mens terugkyk oor jou lewe. Hy het soveel op so ’n jong ouderdom bereik. Hy is iemand wie se lewe deur die hele wêreld weerklink, veral onder jong Suid-Afrikaners.” 1

Die ingang na die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria

Woordbank

aangerand Met geweld aanval/seermaak. 20
aktiviste Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale/politieke verandering teweeg te bring.
amnestie ʼn Amptelike bevel deur ʼn regering dat iemand wat iets verkeerds gedoen het, nie vir sy/haar dade gestraf of vervolg sal word nie.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948–1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in kleur-/rassegroepe geskei is.
bewussyn Die idees, gevoelens en gedagtes van ʼn individu/groep.
diskriminasie (Onbillike) onderskeid by behandeling.
eetstaking Weiering om kos te gebruik, uit protes of om ʼn eis af te dwing.
kolonisasie Uitbreiding van die politieke, ekonomiese en maatskaplike beheer van ʼn moondheid oor ʼn landstreek of volk.
liberale Ten gunste van individuele vryhede en geleidelike sosiale en politieke hervorming en vooruitgang.
gemartel Iemand moedswillig (aspris) baie seer maak.
nadoodse ondersoek Geregtelike ondersoek wat plaasvind nadat iemand op onnatuurlike wyse dood is, byvoorbeeld om die oorsaak van dood vas te stel of die skuldige vas te trek; lykskouing.
onderdrukking ʼn Groep mense onregverdig of wreed behandel en hulle nie dieselfde regte gun as wat ander mense in die gemeenskap het nie.
studentepolitiek Idees en aktiwiteite wat verband hou met die verkryging en gebruik van mag, meestal in ’n land of stad.
publiseer Inligting, ʼn verhaal, gedigte, ens. in ʼn boek/tydskrif/ens. laat druk sodat mense dit kan lees.
selfbeeld Die dunk/opinie wat jy omtrent jouself het, veral wat jou vermoëns, karakter en voorkoms betref; iemand se mening omtrent watter soort mens hy/sy is.
sielkundig Die onsigbare/geestelike/emosionele/
intellektuele deel van ʼn mens.
geskors (As straf) iemand ’n tyd lank nie toelaat om na sy/haar werk/skool/ens. terug te keer nie.
skuilnaam ʼn Naam wat ʼn skrywer gebruik in plaas van sy/haar regte naam.
staak Tydelik ophou werk in ʼn poging om jou werkgewer oor te haal om aan jou eise te voldoen.
toonaangewende Leidend; besonder goed; hoogstaande.
township Stedelike woongebied met lae-inkomstebehuising buite die gevestigde stedelike gebiede opgerig, vroeër uitsluitlik vir swart inwoners.
vrygespreek Vry/onskuldig verklaar.
in die wiele ry Belemmer; verhinder; dwarsboom; teëwerk.

Lees hierdie om meer oor Steve Biko te leer

Kyk hierdie om meer oor Steve Biko te leer

Steve Biko se lewe in ʼn neutedop

Mamphela Ramphele verduidelik die Swartbewussynsbeweging

Steve Biko se begrafnis

Luister na Peter Gabriel se liedjie “Biko”

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Oktober 2022 | Bygewerk op 8 November 2023