Vinnige feite

  • Plato se stiefpa, Pirilampes, was sy pa se broer.
  • Plato was ’n stoeier toe hy ’n kind was.
  • Die naam Plato was moontlik ’n bynaam wat verwys het na sy breë skouers en groot liggaam. Hy was fisiek ook ’n indrukwekkende man.
  • Tussen 409 v.C. en 404 v.C. was Plato ’n soldaat in die Peloponnesiese Oorlog. Hy het vir sy tuisstaat Athene teen Sparta se leër geveg; Athene het uiteindelik die oorlog verloor.
  • Ná sy diens in die weermag het Plato dit oorweeg om ’n politikus te word. Maar ná Sokrates se dood in 399 v.C., het hy besluit om eerder ’n filosoof te word.
  • In die jaar 529 het keiser Justinianus I Plato se Akademie gesluit. Hy was bang dat die dinge wat studente daar leer ’n bedreiging vir die Christelike geloof sou wees. Die Akademie was byna ’n duisend jaar oud toe dit gesluit is.
  • Plato se oorskot is ná sy dood by die Akademie begrawe, maar argeoloë kon dit nog nooit opspoor nie.
  • Daar is ’n paar teorieë oor hoe hy gesterf het. Die bekendste weergawe is dat hy in sy eie bed dood is terwyl ’n musikant fluit gespeel het. 6
  • Een van die skilder Raphael se bekendste skilderye, “Skool van Athene”, beeld Plato en Aristoteles in gesprek uit. Hulle is in die middel van die skildery, en om hulle is filosowe uit die verlede en (Raphael se) hede. Die skildery is in die Stanza della Segnatura, ’n kamer in Pous Julius II (1443-1513) se privaat woongedeelte in die Vatikaan. Toeriste wat die Vatikaanstad besoek, kan na hierdie skildery gaan kyk. Dit word beskou as een van die belangrikste kunswerke van die Renaissance. 7
Foto: iStock

Het jy al ooit gehoor dat daar van mense as “platoniese vriende” gepraat word? Dit beteken hul verhouding is baie heg en hulle gee baie vir mekaar om, maar hulle is nie verlief op mekaar nie. Daardie woord “platonies” is ’n afleiding van die naam Plato.

Plato (428/427 v.C. tot 348/347 v.C.) was ’n filosoof in Antieke Griekeland. 1 Hy was waarskynlik een van die belangrikste figure in die Westerse filosofie en menslike geskiedenis. Sy belangrikste werk was sy leerstellings oor hoe die wêreld en verhoudings werk, en hy het verskeie belangrike geskrifte geskryf wat vandag nog bestudeer word. Sokrates was sy onderwyser en Aristoteles was sy bekendste student. 2

Vroeë lewe

Die geskiedenis oor Plato se lewe is onvolledig, en geleerdes stem nie saam oor hoe presies sy kinderjare, opleiding en latere lewe verloop het nie. Ons is wel seker oor die volgende:

Plato se ouers was Ariston en Periktione, gesiene en ryk lede van die Atheense elite. Plato is in Athene gebore terwyl die Peloponnesiese Oorlog gewoed het – ’n oorlog tussen twee stadstate, Athene en Sparta, wat Athene later verloor het. In die tyd toe Plato gebore is, was Athene ’n baie sterk en welvarende stadstaat, en dit was nog in die sogenaamde Goue Tydperk. 3

Plato se regte naam was eintlik Aristokles, en hy het verskeie broers en susters gehad, insluitend Adeimantus, Glaukon en Potone. As jy sy boeke lees, sal jy hierdie name weer opmerk. Sy pa is dood toe hy nog jonk was, en sy ma is weer getroud met Pirilampes, ’n baie bekende en invloedryke politikus. 3

Die bekende filosoof Sokrates was sy leermeester, en Sokrates se dood (hy is gedwing om selfdood toe te pas omdat hy die “jeug gekorrupteer” het), het ’n baie groot invloed op Plato gehad. Hy het toe besluit dat hy nie ’n openbare figuur wil wees nie, en hy het gereis om sy eie horisonne te verbreed. 1

Die Akademie

Nadat hy deur Griekeland, Egipte en Italië gereis het, het hy teruggekeer na Athene en daar ’n opleidingsentrum gestig. Die naam van die sentrum was die Akademie, en dit was die voorloper van die universiteite wat ons vandag ken. Ons woord “akademie” kom van die naam van hierdie opleidingsentrum af. Griekeland se slimste mense is by hierdie akademie opgelei, onder andere Aristoteles. 1

Plato se bekendste geskrifte

Terwyl hy as jong man gereis het, het Plato begin skryf. Sy skryfwerk is in die vorm van ’n gesprek (ook: dialoog) waarin verskeie karakters met mekaar debatteer en kwessies bespreek soos reg en geregtigheid, en hoe dit tot die mens se geluk bydra. 4 Van die karakters in hierdie debatte was sy broers. 2

Sy bekendste werke is: 2

  • Charmides: In hierdie dialoog bespreek Sokrates selfbeheersing met twee ander karakters: ’n jong man genaamd Charmides en sy mentor, Kritias.
  • Crito: Die meeste van Plato se dialoë handel oor Sokrates se verhoor, skuldigbevinding of dood. In Crito skryf Plato oor die tyd ná Sokrates se skuldigbevinding.
  • Euthyphro: In hierdie werk skryf Plato oor die Euthyphro-dilemma: Is iets heilig omdat die gode dit goedpraat, of praat die gode dit goed omdat dit heilig is?
  • Gorgias: ’n Dialoog tussen Sokrates en ander leermeesters tydens aandete waarin hulle die ware definisie van retoriek
  • Hippias Major en Hippias Minor: In hierdie twee dialoë skryf Plato oor skoonheid en wat presies dit is.
  • Ioon: In een van Plato se kortste dialoë bespreek hy poësie en of die vermoë om poësie te skryf van die gode kom.
  • Lysis: Hierdie werk handel oor vriendskap. Sokrates is weer hierin die hoofkarakter.
  • Phaedo: In hierdie vroeë werk bespreek Plato en Sokrates etiek. Hierdie dialoog vind plaas ná Sokrates se verhoor en skuldigbevinding, en dit is ’n soort verweerskrif waarin Sokrates die geleentheid kry om sy saak te stel.
  • Phaedrus: Hierdie werk handel oor erotiese liefde, platoniese liefde en die waarde van retoriek.
  • Philebus: In hierdie werk definieer Plato die konsepte van fisieke plesier, of hedonisme, en hoër plesier.
  • Protagoras: In hierdie geskrif bespreek hy die begrip deug. Sy argument is dat dit aangebore is en daarom nie geleer of aangeleer kan word nie.
  • Meno: Hierdie werk handel oor meetkunde.
  • Die Republiek: Waarskynlik die bekendste van al sy werke. Hierin ontleed hy die konsep van geregtigheid en hy vra die vraag of ’n regverdige persoon ’n gelukkiger lewe het as iemand wat ’n lewe van ongeregtigheid lei. Plato bespreek ook verskillende vorme van heerskappy, van oligargie tot demokrasie, en stel uiteindelik ’n ideale stadstaat voor onder heerskappy van ’n filosoof-koning. Plato se Republiek bevat baie allegorieë, onder andere Atlantis. Sy bekendste allegorie oor die Grot illustreer die rol van opvoeding in ’n persoon se begrip van die fisieke wêreld.
  • Simposium: In hierdie dialoog is daar ’n kompetisie van toesprake tussen verskeie karakters, Sokrates ingesluit.
  • Theaetetus: Plato kritiseer hierin die materialistiese filosowe van sy dag, met die argument dat baie werklike dinge nie sintuiglik waarneembaar is nie.
  • Timaeus: Plato skets die dele van die siel en waar hulle in die liggaam bestaan ​​– eetlus in die bolyf, die gees in die bors en rede in die kop.

Nalatenskap

Plato was nie die eerste of enigste denker of skrywer wat ons vandag ’n filosoof noem nie. Maar sy bydrae oor wat die filosofie is en hoe daar oor dinge gedink behoort te word, was baanbrekerswerk. Dit was ook blywend, want sy opvattings en leerstellings word vandag nog aan studente geleer. Ons kan met reg sê dat die vak filosofie – ʼn streng en sistematiese ondersoek van etiese, politieke, metafisiese en epistemologiese kwessies – sy uitvinding is. Min ander skrywers in die geskiedenis van Westerse filosofie het filosofiese ondersoeke gedoen met dieselfde diepte en omvang as Plato. 5

Plato en Aristoteles

Afgesien van al sy wonderlike geskrifte, is daar drie dinge wat ons vandag nog het, wat ons van Plato gekry het:

  • Akademie: Plato se Akademie was ’n instelling van hoër onderwys wat gratis en oop was vir die publiek. Alhoewel dit nie ’n formele stelsel van onderwysers en studente gehad het nie, beskou geleerdes dit as die grondslag van moderne onderwys.
  • Teorie van vorme: Plato se bekendste filosofie het gegaan oor die idee van die materiële wêreld. Dit het nie te doen met materialisme nie, dit het te doen met die werklikheid wat ons kan waarneem. Geleerdes voor sy tyd het oor die algemeen al hul leerstellings op materialisme gegrond, want hulle het geglo dat permanente materiële voorwerpe ons lewe die diepste beïnvloed. Plato se skryfwerk het hierdie idees verwerp en ’n nuwe teorie van metafisika voorgestel – met die argument dat die materiële wêreld bloot ’n kopie van die ware werklikheid is, en dat hierdie ware werklikheid saamgestel is uit konkrete en abstrakte Geleerdes verwys hierna as Plato se teorie van vorme.
  • Etiese oortuiging: Plato se werke het gepleit vir morele intellektualisme – die idee dat geen mens bewustelik kies om sleg te doen nie. In Plato se siening is die enigste manier om slegte gedrag te stop deur epistemologie, of kennis van die goeie. 2

Woordbank

platoniese Gewoonlik gesê van vriende. Dit beteken hulle is baie geheg aan mekaar, maar hulle is nie verlief nie.
filosoof ’n Denker wat besin oor die lewe en kwessies wat die mens raak.
filosofie ’n Vakrigting wat kwessies bestudeer wat die mens raak.
stadstate ’n Stad met ’n eie regering.
gekorrupteer Sleg of korrup maak.
debatteer Op ’n sistematiese en gestruktureerde manier onderwerpe bespreek.
retoriek Die vermoë om ander deur debatvoering van jou standpunt te oortuig.
etiek Die deel van kennis wat handel oor morele beginsels.
verweerskrif ’n Dokument waarin ’n beskuldigde die geleentheid het om sy/haar saak te stel.
hedonisme Die najaag van fisieke plesier.
oligargie Regering deur die rykes.
allegorie ’n Storie wat eintlik ’n ander “dieper” storie vertel.
materialistiese In die filosofie, ’n benadering wat op die sintuiglik waarneembare werklikheid konsentreer.
metafisiese Vertakking van die filosofie wat die grondbeginsels van alle dinge – fisiek en abstrak – ondersoek.
epistemologiese Kennis van die goeie.
horisonne te verbreed Om jou reeks belangstellings, aktiwiteite en kennis uit te brei.
opvattings Sienings, menings.
leerstellings Grondbeginsels.
sistematiese Stelselmatig, metodies
konkrete Tasbare.
abstrakte Nie met die sintuie waarneembaar nie; teenoorgestelde van abstrak.
etiese Morele, korrekte, sedelike.

Verbreed jou kennis met hierdie twee artikels

Kyk ook hier

Kort biografie oor Plato

Plato se lewe en nalatenskap

Plato se idees

Die allegorie van Die Grot

‘Die Republiek’

9 Lewenslesse deur Plato

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 November 2023 | Bygewerk op 8 November 2023