Vinnige feite

Strijdom, Malan en Sauer
  • Sy vrou, Mary Cloete, was die dogter van Henry Cloete, een van die voorste families in die Kaap, wat Groot Constantia tussen 1789 en 1885 besit het. 4
  • Hy was die eerste persoon om ʼn Afrikaanse toespraak in die Kaapse parlement te maak. 4
  • Sauer het ʼn moeilike verhouding met die Afrikanerboere gehad, omdat hulle teen sy beleid teenoor wit en bruin mense gekant was. Om hulle afkeur in hom te wys, het ʼn groep boere van sy kiesafdeling ʼn afbeelding van hom verbrand. Sy reaksie daarop was: “Liewer só as dat ek vir ewig in die hel brand.” 4
  • Sy vermoë as spreker is een van die dinge wat hom sy prominente posisie in die parlement besorg het. 1
  • Sauer het twee ridderskappe van die hand gewys. 4
  • Volgens sy seun, Paul Sauer, het hy al sy korrespondensie (persoonlike briewe) vernietig. 1

Jacobus Wilhelmus (J.W.) Sauer (25 Oktober 1850 tot 24 Julie 1913) was ʼn Kaapse politikus en Uniekabinetsminister. Hy was veral bekend vir sy liberale idees in die jare rondom die draai van die 19de eeu (1800’s).

Vroeë jare

J.W. Sauer is in Burgersdorp in die hedendaagse Oos-Kaap gebore, die derde kind en oudste seun van Johannes Jacobus Sauer, ʼn Vrystaatse landdros – ʼn regter in ʼn hof wat oor minder belangrike sake besluit – en sy vrou, Susanna Magdalena Elizabeth Wilhelmina Kotzé. 1

Hy het sy kinderjare op plase in die omgewing van Burgersdorp en Aliwal-Noord deurgebring. Hy het die South Africa College School in Kaapstad bygewoon, en besluit om ʼn loopbaan in die regte te volg. 1

Loopbaan as advokaat

In 1871 het hy as advokaat in Aliwal-Noord begin praktiseer, en spoedig naam gemaak as ʼn begaafde spreker. Hy het alreeds hier tyd begin wy aan openbare kwessies – sake wat die hele gemeenskap raak. So was hy byvoorbeeld vroeg al ʼn voorstaander van verantwoordelike bestuur: die idee dat mense in Suid-Afrika hulself sonder Britse invloed kon regeer. 1

Vroeë politieke loopbaan

In 1874, op slegs 24-jarige ouderdom, is hy verkies as LWV (Lid van die Wetgewende Vergadering, oftewel die Kaapse parlement) vir Aliwal-Noord. Dit was die begin van ʼn veertigjaarloopbaan in die parlement. Hy het na Kaapstad verhuis, waar die parlement vergader het, en ʼn vennoot (een van die eienaars) in die regsfirma Sauer en Standen geword. In 1881 het hy sy eerste kabinetspos aanvaar, en sy regspraktyk laat vaar. Hy het in dieselfde tyd die plaas Uitkyk naby Stellenbosch gekoop. Hy het die res van sy lewe op Uitkyk gewoon en sy vrye tyd daar deurgebring. 1

Uitkyk, Stellenbosch

Sauer se politieke loopbaan is sterk beïnvloed deur sy sogenaamde liberale – ʼn beleid wat geleidelike verandering ondersteun – Bantoebeleid. (Bantoe is vantevore gebruik om na swart en bruin mense te verwys. Hoewel dit vandag as ʼn rassistiese term beskou word, is dit só in die verlede gebruik, en daarom word dit hier in die konteks van die beleid gebruik.) Hy was ten gunste van regverdigheid vir alle groepe. Hy was ten gunste van stemreg vir swart en bruin mense, omdat hy dit beskou het as die beste manier om die swart en bruin mense op te voed en hulle teen onderdrukking te beskerm. Hy het ook geglo dat swart en bruin mense se reg om grond te besit, beskerm moes word. 1

J. Gordon Sprigg

Dit is egter belangrik om te noem dat Sauer ten gunste van politieke gelykheid was, maar nie sosiale gelykheid nie. 2 Hy wou met ander woorde nie gehad het dat daar sosiale vermenging van verskillende rasse moes wees nie.

Aan die begin van sy politieke loopbaan het hy die Kaapse eerste minister, J. Gordon Sprigg, ondersteun. Hulle paaie het egter gou geskei omdat Sprigg ʼn meer konserwatiewe Bantoebeleid (ʼn beleid wat téén verandering en nuwe idees was) voorgestaan het. Daarna het Sauer hom geskaar by ander liberale politici, soos Saul Solomon en John X. Merriman. 1 Hulle het hulself die “friends of the natives” (vriende van die swart mense) genoem. Swart en bruin mense wat op daardie stadium in die Kaap stemreg gehad het, het vir húlle gestem. 3

John X. Merriman

Die liberales het kwessies soos die paswette (wette wat swart en bruin mense forseer het om identiteitsdokumente by hulle te dra), wette wat tot segregasie – die beleid waarvolgens mense op grond van ras en etniese groepe geskei is – gelei het, en die swak administrasie van die swart en bruin mense se regstelsels, aangespreek. 3 Sauer het op ʼn stadium vir Merriman genader om ʼn politieke party te stig om Sprigg se besluite teen te staan, maar daar het niks van gekom nie. Ten spyte van Sauer en Merriman se beste pogings kon hulle egter nie die diskriminerende wetgewing – wat swart en bruin onregverdig behandel het – keer nie. 1

Loopbaan tussen 1881 en 1890

In 1881 was daar ʼn nuwe eerste minister, T.C. Scanlen, en dié het vir Sauer gevra om as sy minister van naturellesake te dien. 1 Sauer was toe maar 31 jaar oud. 4 Hierdie kabinet het net tot in 1884 gehou, en van 1884 tot 1890 was Sauer nie deel van die kabinet nie, maar in die opposisie – die belangrikste politieke party wat nie deel van die regering is nie. Hy het ʼn hegte vriendskap met Cecil John Rhodes gesluit, en vir Rhodes aangemoedig om polities meer aktief te word. 1

Verhouding met Cecil John Rhodes

In 1890 het Rhodes die eerste minister geword, en Sauer is aangewys as koloniale sekretaris. Rhodes se kabinet was egter konserwatief, en Sauer en Merriman was dus weer die liberales in ʼn konserwatiewe kabinet. Hulle kon dit nie regkry om hul doelstellings deur te voer nie. In 1892 het hulle die Wet op Stemreg en Stemming teengestaan (omdat die wet die aantal swart en bruin mense wat stemreg gehad het, wou verminder), maar hulle was onsuksesvol. In Oktober 1892 was daar ʼn skandaal in die kabinet, en toe Sauer weier om sy steun te verleen aan dit wat hy as knoeiery beskou het, het Rhodes hom en Merriman in 1893 uit die kabinet gelaat. Sauer was persoonlik baie geheg aan Rhodes, en dit was vir hom ʼn groot slag. Die finale verwydering het egter gekom met die Jameson-inval van 1895. Rhodes was deel van ʼn poging om die Transvaalse regering omver te werp, en dit was vir Sauer onaanvaarbaar. Hy het vervolgens ook ʼn prominente rol gespeel in die komitee wat die inval, en vir Rhodes, veroordeel het. 1

Cecil John Rhodes

Loopbaan tussen 1895 en 1899

Die Jameson-inval het Sauer sterk anti-imperialisties (wanneer lande ander wil regeer) gemaak. 1 Sy afsku vir Britse imperialisme het hom nader aan die Afrikanerbond van J.H. (“Onze Jan”) Hofmeyr gebring. (Hy het hulle vroeër nie ondersteun nie want hy het nie saamgestem met hulle Bantoebeleid nie.) 3 [Lees hier oor imperialisme.]

Jan Hofmeyr

In die aanloop tot die 1898-verkiesing was hy betrokke by ʼn snaakse insident waar hy aangekla is daarvan dat hy kiesers wou omkoop deur komberse uit te deel. Hy is onskuldig bevind aan korrupsie, maar skuldig bevind aan onbesonnenheid – oorhaastige, dom optrede. 1

Ná die verkiesing is hy deur die W.P. Schreiner, die nuwe eerste minister, as minister van openbare werke aangestel. 1

W.P. Schreiner

Die Anglo-Boereoorlog

Die Anglo-Boereoorlog het in 1899 uitgebreek, en Sauer was van meet af uiters krities daaroor. Hy het sy veroordeling van die oorlog baie ver gevat, veral vir iemand wat as Kaapse burger ʼn Britse onderdaan en boonop ʼn minister in ʼn Britse kolonie was. Hy het byvoorbeeld in ʼn toespraak in die parlement verklaar: “Hierdie oorlog is die grootste misdaad van die eeu!” 4

Ná die uitbreek van die oorlog is hy na die noordelike distrikte van die Kaapkolonie gestuur om die Kapenaars te oortuig om lojaal te bly aan Brittanje en nié saam met die Boere te gaan veg nie. Sy pogings was grootliks tevergeefs, en die meeste mense in die grensdistrikte hét sogenaamde Kaapse rebelle geword – Kaapse burgers, en dus Britse onderdane, wat aan die Boerekant gaan veg het. Omdat hy so uitgesproke teen die oorlog was, het mense hom daarvan beskuldig dat hy nie regtig die rebelle wou stop nie, maar eerder aangehits het. Dit het nie gehelp dat sy broer, W.J. Sauer, wat op Barkly-Oos geboer het, by die Boere aangesluit het nie. 1

Boere by beleg van Ladysmith

Schreiner se regering was nie baie stabiel nie. Die kabinet is hoofsaaklik aanmekaar gehou deur mense wat pogings tot vrede én pogings om die Kaapkolonie uit die oorlog te hou, voorgestaan het. Die kwessie van die Kaapse rebelle het die kabinet in 1900 in twee geskeur. Sauer en Merriman het gevoel dat slegs die leiers van die rebelle gestraf moes word, en dat die res amnestie (amptelike bevel deur die regering dat hulle nie gestraf sou word nie) moes kry. Schreiner en andere het egter besluit dat die rebelle deur spesiale howe verhoor moes word, en vir ʼn paar jaar ontkieser (van hulle stemreg ontneem) moes word. Daar was soveel onenigheid dat Schreiner in Junie 1900 as eerste minister bedank het, en Sauer is nie in die volgende kabinet opgeneem nie. 1

Vir die volgende jaar was Sauer saam met Merriman weer in die opposisie. In debatte gedurende hierdie tyd het Sauer baie kans gehad om met skerp antwoorde en briljante sarkasme sy punte te maak. As deel van die opposisie kon hy egter nie werklik die Kaapse beleid beïnvloed nie. Terwyl die bitterheid tussen die pro-Britte en pro-Boere faksies (groepe mense wat hul eie belange binne ʼn groter groep wil bevorder) in die Kaap laat toeneem het, is Sauer en Merriman Engeland toe om ʼn oplossing te soek. Hulle kon nie ʼn afspraak met die Britse regering kry nie, en Sauer het boonop siek geword. Die beste wat hulle kon doen, was om mense in Engeland oor die saak toe te spreek, om simpatie vir die Boererepublieke te wek. 1

Ná Sauer in Julie 1901 teruggekeer het Kaap toe, het hy uit die politiek teruggetrek en op sy plaas Uitkyk gaan woon. Hy het eers weer ná die oorlog aan die politiek deelgeneem. 1

Betrokkenheid tussen 1904 en 1910

In die 1904-verkiesing het Sauer sy setel (die reg om die parlementsverteenwoordiger vir mense in ʼn sekere gebied te wees) in Aliwal-Noord verloor omdat die rebelle – wat meestal sy ondersteuners was – ontkieser was. Hy het toe die setel in George gewen. Ná die ontkiesering beëindig is, het hy weer Aliwal-Noord se setel gewen, en hy het die setel gehou tot met sy dood. 1

In 1908 het Merriman hom as minister van kroongrond en openbare werke in sy kabinet aangestel. Hy was een van die Kaapse afgevaardigdes by die Nasionale Konvensie, waar hy waardevolle diens gedoen het. 1

Botha-regering, 1910

Hy wou die Kaapse stelsel van stemreg vir almal (insluitende die swart en bruin mense) na die ander kolonies uitbrei, maar sy poging was onsuksesvol. 5 Hy was ʼn geesdriftige ondersteuner van uniewording, en was die eerste persoon wat die benaming “Unie van Suid-Afrika” gebruik het. 4

Nasionale Konvensie, 1908

Lid van Botha se kabinet

Sauer is deur generaal Louis Botha, die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika, aangewys as minister van spoorweë en hawens. Sauer het egter vasgesit met H.C. Hull, die minister van finansies. Dit het gelei tot Hull se bedanking en ʼn herskommeling van die kabinet. Tussen Junie en Desember 1912 was Sauer die minister van landbou, en daarna minister van justisie en naturellesake. 1

Generaal Louis Botha

Die Wet op Naturellegrond van 1913

Sauer is veral bekend vir die Wet op Naturellegrond van 1913, ʼn wet wat soms na verwys word as “Sauer se Grondwet”. 1 Dié wet is egter nie deur hom opgestel nie, maar deur generaal J.B.M. Hertzog, en hy dit teësinnig deurgevoer. 4

Die wet was veronderstel om probleme rakende die “nieblankes” (ʼn term wat ons nie meer vandag gebruik nie, maar wat in daardie tyd na swart en bruin mense en Indiërs verwys het) – soos die gebrek aan beskikbare grond vir alle rasse, die plakkerprobleem en die noodsaaklikheid vir meer effektiewe wetgewing vir die “nieblankes” oor sterk drank, passe, arbeid en belasting – op te los. Die gevoel was dat dit makliker sou wees om te doen, indien die “nieblankes” in spesiaal afgebakende gebiede gewoon het. 1

Wat ook al Sauer se doel was met die wet, dit was een van die steunpilare vir die beleid van segregasie – die voorloper van apartheid. 6 Indien Sauer beplan het om verdere wette te maak om sy gebiedskeiding aan te vul met reëlings om die lot van die swart groepe binne en buite die reservate te verbeter, het hy nie die kans gehad om dit te doen nie. Inderdaad is daar tot kort voor die Tweede Wêreldoorlog geen stappe gedoen om die ongelykheid van grondbesit aan te spreek nie. Daarom het die swart groepe, veral die swart leiers wat hom as ʼn vriend van die “nieblankes” beskou het, gevoel hy het hulle verraai, en hy is in hulle pers beswadder, oftewel sleggesê. 1

Laaste jare

Sauer het van jongs af aan asma gelei. In 1913 is hy Duitsland toe vir behandeling. Ná sy toestand verbeter het, het hy teruggekeer na Suid-Afrika om as minister van justisie aandag te gee aan die probleme wat geskep is as gevolg van die mynwerkerstaking van 1913. 1 Terwyl hy besig was daarmee, is hy op 24 Julie 1913, op 62-jarige ouderdom, in die tuig dood. 4

Evaluasie

Sauer was nie ʼn baie goeie administrateur nie, maar hy het meestal gesonde oordeel gewys. Hy het nie die kalklig gesoek nie, en was ʼn eenvoudige, onopgesmukte (onpretensieuse) man. 4 Sauer was ʼn uitstekende parlementariër. Buiten Merriman was hy waarskynlik die beste spreker in die politiek, en hulle het die Kaapse en Unievolksraad oorheers. 1

Sauer was ʼn puik redenaar. 4 Hy het die vermoë gehad om die swakhede uit te snuf en hom daarop toe te spits. Hy was bekend vir sy bytende sarkasme. Hy het ʼn merkwaardige skerp geheue gehad, en het alles onthou wat sy teenstanders gesê het. Sy invloed in die parlement het meer op vrees as persoonlike aanhang berus – mense was bang vir sy vermoë as vernietigende kritikus. Hy het dus baie vyande gemaak in die parlement, al was hy in persoon algemeen gewild. 1

Persoonlike lewe

Sauer was een van nege kinders. Sy een broer was Dr. Johannes (Hans) Sauer, ʼn geneesheer en myndirekteur. 1

Hy het in 1884 met Mary Cloete getrou. Hulle het twee dogters en ʼn seun gehad. Sy jongste dogter, Magda Sauer, was die eerste vroulike praktiserende argitek in die Unie van Suid-Afrika, en sy seun, Paul Oliver Sauer, was ʼn politikus, parlementariër en kabinetsminister. 1

Sauer se vrou was betrokke by komitees wat gedurende die Anglo-Boereoorlog gestig is om Boerekrygsgevangenes, weduwees en wesies te versorg. Sy het vrouevergaderings toegespreek wat in die Paarl en Kaapstad gehou is om teen die afbrand van plase te protesteer. 1

Sauer was van middelmatige lengte, en in sy latere jare taamlik geset. Vroeg in sy lewe is hy as ʼn modegek gesien, maar later het hy totale onverskilligheid in sy kleredrag getoon. 4 Iemand het opgemerk dat dit lyk asof sy klere nooit nuut was nie. Die redakteur van The Cape Times het hom die bynaam “The Bumbler” gegee, as gevolg van sy kleredrag en sy gewoonte om in die parlementsgebou rond te hang en hier en daar ʼn knypie snuif (tabak wat gesnuif word) te neem. 1

Sauer het Engels gepraat sonder ʼn sweem van ʼn aksent, en Hollands, van die Afrikaanse soort. 1

Woordbank

amnestie ʼn Amptelike bevel deur ʼn regering dat iemand wat iets verkeerds gedoen het, nie vir sy/haar dade gestraf of vervolg sal word nie.
beswadder Slegte dinge oor iemand sê of skryf.
diskriminerende Die tref van onderskeid deur een groep anders as ʼn ander groep te behandel (veral op ʼn onbillike/onregverdige manier).
imperialisme Wanneer ʼn staat ander gebiede onder sy mag of invloed wil neem.
in die tuig dood Sterf terwyl jy nog in diens is.
konserwatiewe Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie.
landdros Iemand, gewoonlik ʼn regsgeleerde (prokureur/advokaat), wat in ʼn plaaslike hof as regter werk en uitspraak oor minder ernstige misdade en regsake gee.
liberale Wat geleidelike politieke en sosiale veranderings toelaat en ondersteun.
onbesonnenheid (Oor)haastig en dom/gevaarlik.
onderdaan Inwoner van ʼn land wat onderworpe is aan die regering van daardie land.
ontkieser (Van) hulle stemreg ontneem.
opposisie Die belangrikste politieke party wat nié deel van ʼn land se regering is nie.
rebelle Iemand wat teen sy/haar land se wettige regering veg.
reservate Gebied wat vir ʼn spesiale doel opsy gesit word.
segregasie Beleid waarvolgens rasse, klasse en/of etniese groepe geskei word.
setel ʼn Bepaalde gebied (en die mense wat daar woon) wat deur iemand in die parlement verteenwoordig word.
snuif Fyn tabakpoeier wat in die neus opgetrek word.
vennoot Een van twee of meer eienaars van ʼn besigheid/onderneming. 7
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Oktober 2022 | Bygewerk op 7 Maart 2024