Vinnige feite
- Sowat 80% van die Joodse mense wat in Suid-Afrika woon, se voorouers het van Litaue af hierheen gekom. 12
- Die huis waar die Gavronsky-gesin in Parktown gebly het, is deur die bekende argitek sir Herbert Baker ontwerp. 1 Baker was ’n Britse argitek wat tussen 1892 en 1912 ’n groot invloed op Suid-Afrikaanse argitektuur gehad het. Hy het, onder meer, die Uniegebou in Pretoria ontwerp, en van sy geboue is ook in die VK, Indië en Kenia te sien. 13
- Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het 10 000 Joodse mans en vroue van Suid-Afrika aan die oorlog deelgeneem. Altesaam 357 van hulle het gesterf, 327 is gewond en 94 is met toekennings vir dapperheid vereer. 14
- Suzman wou hê ander lande moes weet wat in Suid-Afrika aangaan en het aanhoudend vrae in die parlement gevra. Toe ’n LP haar op ’n dag aanvat en sê dat al dié vrae Suid-Afrika verneder, het sy geantwoord dat dit nie haar vrae is wat vernedering veroorsaak nie, maar die NP se antwoorde wat Suid-Afrika in die skande steek. 6
- Ná haar aftrede is ’n portret (skildery) van Suzman in een van die gange van die parlement gehang. Dit was die eerste keer dat ’n persoon, wat nie ’n kabinetsminister was nie, op dié manier vereer is. 7
- Suzman se telefoongesprekke is dikwels afgeluister toe sy ’n LP was. Wanneer sy dit agtergekom het, het sy kliphard met ’n fluitjie in die gehoorstuk geblaas! 1
- Helen was 55 jaar oud toe sy vir die eerste keer ’n foto van haar ma, Frieda, gesien het. 1
- Mosie en Helen se dogters was ook baie suksesvol in hul beroepe. Frances het ’n kunshistorikus geword en Patricia ’n mediese spesialis. 4
- Suzman het langs oudpres. Nelson Mandela gestaan toe hy die Grondwet in 1996 onderteken het. 4
Vroue in die politiek is nie ’n alledaagse gesig nie, nóg minder was dit ’n paar dekades gelede. Dit was eers toe Margaret Thatcher haar stempel as die eerste vroulike eerste minister van die Verenigde Koninkryk (VK) afgedruk het, dat die glasplafon werklik vir vrouepolitici wêreldwyd oopgebreek is.
Thatcher is dalk die Ystervrou genoem, maar Suid-Afrika spog ook met ’n besonderse vurige voorvatter (leier), naamlik Helen Suzman. Sy het nie net politieke grense vir vroue verskuif nie, maar op haar unieke, stil manier ’n geskiedkundige bydrae gelewer tot die demokratiese Suid-Afrika wat ons vandag ken.
Hoewel Suzman uit ’n welgestelde Joodse familie gekom het, het sy haar lewe daaraan gewy om die belange van minderheidsgroepe te beskerm. Sy was vir baie jare die enigste verteenwoordiger van die Progressiewe Party (PP) én vir ses jaar die enigste vrou in die parlement. Haar 36 jaar as parlementslid (ook genoem ’n LP) is ’n rekord wat respek verdien! 1
As ’n voorstander van gelyke regte vir almal en die oppergesag van die reg, het Suzman onder meer bygedra tot die afskaffing van die doodstraf, beter omstandighede in die land se tronke bewerkstellig, en verseker dat mense saans sonder pasboekies in wit woonbuurte kon rondbeweeg. Sy is twee keer vir die Nobelprys vir Vrede benoem én spog met 27 eredoktorsgrade agter haar naam.
’n Demokratiese leier wie se werk en wese wêreldwyd weerklank gevind het. Haar nalatenskap leef vandag nog voort danksy die Helen Suzman-stigting.
Immigrantekind met “drie ma’s”
Helen se ouers, Frieda en Samuel Gavronsky, was deel van ongeveer 40 000 Joodse immigrante wat tussen 1840 en 1920 van Litaue in Oos-Europa na Suid-Afrika gekom het om ’n beter lewe vir hul gesinne te bou. Samuel se agt broers het ook vir hulself ’n tuiste in Suid-Afrika kom skep. 1
Samuel was 16 jaar oud toe hy die lang reis van Litaue na Londen, en van daar na Kaapstad aangepak het. Hy sluit kort nadat hy in Kaapstad aangekom het by sy broer Oscar in Johannesburg aan. In Johannesburg werk die broers aanvanklik op die goudvelde en begin later jare om vleis in grootmaat (baie vleis op ’n keer) te verkoop en in eiendom (soos geboue en grond) te belê. Dit is egter hul uiters suksesvolle seepfabriek wat groot finansiële welvaart skep. 1
Helen Gavronsky is op 7 November 1917 in Germiston (in vandag se Gauteng) gebore as Samuel en Frieda se tweede dogter. 2 Helen se ma sterf egter kort ná haar geboorte. Haar dood was waarskynlik as gevolg van swak nageboortesorg (mediese sorg vir die ma nadat sy geboorte geskenk het) en die invloed van die dodelike Spaanse Griep-pandemie wat in daardie tyd miljoene lewens geëis het. 1
Ná Frieda se dood trek Samuel en sy twee dogtertjies (Helen het ’n vierjarige sussie Gertrude gehad) by Oscar en sy vrou Hansa in Germiston in. Hansa staan ook háár sussie aan die dood af, en dié se tienerdogters trek ook by Hansa en Oscar in. Hansa, wat nooit haar eie kinders gehad het nie, was baie geheg aan Helen. Sy het Helen van haar geboorte af soos haar eie kind versorg. Helen se sussie en niggies het egter niks van dié gekloek om Helen gehou nie en haar eenkant toe gestoot. Die hele familie verhuis in 1921 na Berea in Johannesburg en Helen begin reeds op vierjarige ouderdom haar skoolloopbaan by die St. George-skool. 1
In 1927 het Helen se lewe weer ’n wending geneem toe haar pa met Debbie, ’n geskeide Engelse vrou, trou. Hulle verhuis boonop na ’n ou steenhuis in Parklands, Johannesburg. Helen het tot en met haar huwelik in dié huis gewoon. Dit moes vir Helen swaar gewees het om nie net haar biologiese ma te verloor nie, maar ook vir Hansa, die vrou wat haar vir tien jaar soos haar eie grootgemaak het! 1
Van student tot lektor
Helen matrikuleer op 16-jarige ouderdom aan die Parktown Convent. Haar onderwysers by dié privaat skool, waarvan die meeste Rooms-Katolieke nonne was, het haar as ’n bogemiddelde leerder beskryf wat in sportsoorte soos swem en duik uitgeblink het. 1
In 1934 word Helen die eerste persoon in haar familie wat universiteit toe gaan en skryf vir ’n BCom-graad aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg in. 3 Hoewel sy beplan het om ná die verwerwing van haar BCom-graad ook ’n regsgraad te behaal, verloop dinge anders. In haar tweede jaar verloor Helen belangstelling in haar studies en besluit om die boeke vir eers eenkant toe te skuif. 1
Haar paaie kruis tydens perdrylesse met dié van Moses (Mosie) Suzman, ’n dokter wat veertien jaar ouer as sy was. Dié twee se gedeelde liefde vir perde en dans lei hul in 1937 tot voor die kansel. 4
Die egpaar verwelkom hul eerste dogter, Frances, in 1939, net ’n paar weke ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. As Jood wou Helen baie graag aan die oorlogspoging teen Duitsland deelneem, maar omdat sy pas ’n kind gehad het, word sy nie toegelaat om aan die oorlog deel te neem nie. Sy gebruik dié tyd om haar graad te voltooi. 1
Toe sy in 1941 weer probeer om deel van die Suid-Afrikaanse weermag te word, word sy as ’n statistikus by Suid-Afrika se Raad vir Oorlogsvoorrade aangestel, waar sy tot aan die einde van die oorlog werk. 5
In 1943 is Helen en Mosie se tweede dogter, Patricia, gebore. 2 Mosie is dié keer nie daar om Helen by te staan nie, en bevind hom in Egipte as deel van Suid-Afrika se mediese korps. Die mediese korps is ’n deel van die weermag wat uit dokters en verpleegsters bestaan. Hulle werk is om soldate te versorg wat tydens die oorlog gewond is. Mosie het ook in die oorlogshospitaal gewerk. 1
Ná die oorlog keer Mosie terug na Johannesburg waar hy sy eie mediese praktyk (’n spreekkamer waar ’n dokter pasiënte sien) op die been bring. 1 Ook met Helen se loopbaan gaan dit baie goed. Sy word in 1945 as ’n lektor (iemand wat by ’n universiteit klas gee) in ekonomiese geskiedenis by Wits aangestel. Sy het dié pos tot in 1952 beklee. 6
Politieke saadjie ontkiem
As lektor in ekonomie het Helen al meer in die politiek begin belangstel. Toe die Nasionale Party (NP), wat meestal uit Afrikaners bestaan het, die algemene verkiesing in 1948 wen, sluit Suzman by die Verenigde Party (VP), wat uit Afrikaans- én Engelssprekendes bestaan het, aan. 5
Die Suzman-gesin was baie tuis in die gegoede woonbuurt Houghton in Johannesburg waar hulle gewoon het. Die inwoners was oorwegend Engelssprekend, wat beteken het dat die meerderheid kiesers in dié gebied eerder vir die VP as die NP sou stem. Die kans dat ’n VP-kandidaat (’n persoon wat ’n politieke party verteenwoordig) ’n wyksverkiesing (verkiesing in ’n spesifieke dorp of gebied) sou wen, was dus baie groot. 1
In 1953 gee Suzman ’n groot politieke sprong toe sy as die verteenwoordiger van die VP in Houghton verkies word. Sy bly Houghton se LP tot in 1989 toe sy amptelik uit die politiek getree het. 5
Suzman en ’n paar van haar VP-kollegas het egter nie met alles wat hul party aangepak of hom voor beywer het, saamgestem nie. Een strydpunt was die VP se weiering om meer grond aan swart mense af te staan. Dit het Helen en 11 ander meer liberale LP’s genoop om hul eie party te stig. In 1959 word die Progressiewe Party (PP) gestig en ondanks groot planne, is Suzman die enigste kandidaat wat haar setel (met ’n skrale meerderheid van 564 stemme) in die volgende verkiesing wen. 7
Vir die volgende paar jaar was Suzman die enigste PP-lid op een van die 160 stoele in die parlement. 8
Stem in die woestyn
Tussen 1962 en 1974 het Suzman, as haar party se enigste parlementêre verteenwoordiger, haarself op ’n eensame plek bevind en dikwels alleen gevoel. Wanneer sy iets in die nasionale vergadering sou sê, was daar niemand om haar te ondersteun nie. Inteendeel, sy het baie kritiek van ander partye se LP’s ontlok. As die ander LP’s tussen vergaderings saam sou eet, het sy haar toebroodjies alleen in haar kantoor geëet. 1
Die feit dat net wit mense in daardie stadium kon stem, was vir Suzman ’n bitter pil om te sluk. Sy het, al die kritiek ten spyt, volhard om haar mening hieroor te lug. En al het sy soos die enigste LP gevoel wat bereid was om hiervoor te veg, het sy haar nie van stryk laat bring nie. 1
Een van die maniere wat sy ingespan het om die aandag op dié kwessie te fokus, was om aanhoudend vrae hieroor in die parlement te vra sodat die media en die buiteland hiervan te hore kon kom. 9
Suzman het ook gereeld besoeke aan tronke in Suid-Afrika gebring om haar van die gevangenes (mense in die tronk) se omstandighede te vergewis. Sy het selfs Robbeneiland besoek waar politieke gevangenes soos oudpres. Nelson Mandela aangehou is. 4
Gelukkigste politieke dae
Tydens die algemene verkiesing van 1974 word ses ander lede van die PP tot die parlement verkies. Suzman het dié tyd as “van die gelukkigste dae in my politieke lewe” beskryf. 1 Die Progressiewe Party se naam word na die Progressiewe Federale Party (PFP) verander en dié party word in 1977 die amptelike opposisie (die tweede grootste politieke party in die land) van die regerende Nasionale Party (NP). 10
In die 1970’s en die 1980’s het die PFP gepoog om stemreg vir almal in die land te bewerkstellig. Hulle het ook die regering aangemoedig om van die tuislandbeleid af te sien. Die tuislandbeleid het bepaal dat swart mense slegs in sekere gebiede mag woon. 9
Danksy ’n stewiger span PFP-parlementslede kon Suzman ook op ander menseregtekwessies begin fokus. Van hierdie kwessies was die afskaffing van die doodstraf en vroueregte. Sy was gekant teen die regering wat nie die Kommunistiese Party wou toelaat nie, want volgens die demokratiese beginsels waarin sy geglo het, het almal die reg gehad om aan die politiek deel te neem. 4
In 1983 het die Nasionale Party (NP) die driekamerparlement ingestel. Volgens hierdie regeringstelsel kon bruin mense en Indiërs ook aan die politiek deelneem en parlementêre verteenwoordigers hê. Elke groep het egter ’n afsonderlike kamer (raadsaal of vergaderplek) in die parlement gehad en nie gesamentlike besluite geneem nie. 11
Al was Suzman baie bly dat Indiërs en bruin mense by die politieke landskap ingesluit is, was die uitsluiting van swart mense uit die driekamerparlement vir haar onaanvaarbaar. 8 Die PFP het egter geleidelik begin om stemme te verloor en in 1987 ontsetel die Konserwatiewe Party (KP) die PFP as die amptelike opposisie. In 1989 smelt die PFP met twee kleiner partye saam om die Demokratiese Party (DP) te vorm. 9
Uittrede, nié aftrede
Die einde van die PFP het ook die einde van Suzman se politieke loopbaan in 1989 ingelui toe sy ná 36 jaar as LP bedank. Sy het nie saamgestem met die manier waarop die DP gevorm is nie (sy het gevoel dat die PFP-leier die leier van die nuwe DP moes wees) en wou glo uittree voordat mense van háár ontslae wou raak. 1
Haar uittrede op die ouderdom van 71 jaar was geensins die einde van haar politieke betrokkenheid nie. Hoewel sy nie met die vorming van die DP saamgestem het nie, het sy steeds vir dié party bly werk. Sy was ook deel van die veelpartyonderhandelings tussen die verskillende partye voor die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika. 7
Ná haar uittrede was sy, onder meer, president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings en ’n lid van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) wat seker maak dat verkiesings in Suid-Afrika vry en regverdig plaasvind. Suzman was voorts ’n hele paar jaar lid van die Menseregtekommissie (MRK) waar sy haar lewenslange ideaal van gelyke regte vir almal en die oppergesag van die reg prakties kon uitleef. 4 Sy was ’n gewilde spreker en het gereeld kommentaar oor sake van die dag in briewe aan die media gelewer. 6
Helen se gesondheid het in 2007 begin agteruitgaan toe sy geval en haar been gebreek het. Tydens ’n besoek aan haar strandhuis in Plettenbergbaai in November 2008, het sy voorspel dat dit haar laaste besoek sou wees. ’n Paar dae nadat sy ’n oogoperasie ondergaan het, ontvang sy op 31 Desember 2008 ’n bloedoortapping. Sy gaan terug huis toe, maar sterf op 1 Januarie 2009 op 91-jarige ouderdom in haar slaap. Haar jarelange versorger, Betty, en dogter Frances was langs haar bed. 1
Woordbank
Afrikaners | ’n Persoon wat Afrikaans is deur geboorte of afstamming. Mense wat hulle vereenselwig met die Afrikaanse taal. |
Algemene verkiesing | ’n Verkiesing is wanneer mense stem watter persoon hulle in die parlement moet verteenwoordig. Tydens ’n algemene verkiesing stem die hele land se inwoners vir die politieke party van hul keuse. |
argitek | ’n Persoon wat geboue beplan en ontwerp. |
demokratiese | ’n Regeringsvorm waar alle mense in die land gelyke regte het en almal stemreg geniet. |
doodstraf | Straf wat iemand se lewe eis. |
glasplafon | Houdings en praktyke wat verhinder dat iemand (bv. ’n vrou of iemand van ’n bepaalde groep) in ’n hoë pos aangestel word. |
Grondwet | Wet wat in hooftrekke die regeringsvorm van ’n staat, die funksies van staatsorgane en die verpligtinge en regte van die burgers bepaal; konstitusie. |
immigrante | ’n Persoon wat sy of haar geboorteland verlaat om permanent in ’n ander land te gaan woon. |
Joodse | Mense wat Joodse voorouers het of tot die Joodse geloof behoort. |
gekloek | ’n Ophef maak van iemand; jou ontferm (soos ’n hen om haar kuikens). |
korps | ’n Groep of span. |
liberale | Vrydenkend. ’n Liberalis is iemand wat oop is vir ander/nuwe idees. |
menseregte | Regte wat elke mens kan en moet hê, soos die reg op kos en veiligheid. |
Menseregtekommissie | Kommissie/raad wat hom beywer vir die regverdige en gelyke behandeling van alle mense, sodat almal vry kan leef. |
nonne | Vroulike lid van ’n godsdienstige groep wat ’n belofte van kuisheid/toewyding afgelê het en gewoonlik in ’n klooster woon. |
genoop | Gedwing word, verplig voel om iets te doen. |
onderhandelings | Mondeling of skriftelik ’n bespreking of handeling aangaan met ’n ander party of partye om tot ’n ooreenkoms te (probeer) kom. |
oppergesag van die reg | Alle besluite moet volgens wette/wetgewing gemaak word; hoogste gesag. |
parlement | Lede van verskillende politieke partye wat besluite oor die land neem. |
pasboekies | Die verkorting van paspoort; amptelike dokument wat jou die reg gee om êrens heen te gaan. Tydens apartheid moes swart mense te alle tye ’n pas by hul gedra het. |
politiek | Manier en beginsels waarop ’n land regeer of bestuur word. |
politieke party | ’n Groep mense wat dieselfde politieke idees of ideale het. Tydens ’n verkiesing probeer politieke partye setels wen/inpalm wat dan deur hulle in die parlement verteenwoordig word. |
Progressiewe | Vooruitgang. Om vooruit of vernuwend te dink. |
setel | Plek, buurt of dorp wat deur ’n parlementslid verteenwoordig word. |
Spaanse Griep | Die Spaanse Griep was ’n verwoestende wêreldwye pandemie tussen 1918 en 1920. Byna 500 miljoen mense het siek geword, en tussen 50 en 100 miljoen mense (amper 5% van die wêreldbevolking) is hieraan dood. |
statistikus | Kenner van die statistiek; iemand wat met statistieke werk. |
stemreg | Die reg om te stem wat elke volwasse burger in die land het. |
voorvatter | Leier; aan die roer van sake staan. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Die Helen Suzman-stigting
- ’n Maklike verduideliking van demokrasie
- Die wette waarop apartheid gegrond was
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Die Joodse geskiedenis in ’n neutedop
Joernaliste vertel van hul belewenis van Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing
’n Huldeblyk aan Helen Suzman, 100 jaar ná haar geboorte